Lovelyn Chidinma Nwadevi

  • 1

Lovelyn Chidinma Nwadevi het haar mening oor die Universiteit Stellenbosch se pogings tot verandering verlede week op LitNet verwoord.

Die eerste wat opval van Lovelyn is dat sy hoogs intelligent is, haarself kan verkoop, haarself goed kan uitdruk en – dis nie 'n woord waarvan sy sal hou nie - selfs slu kan wees. Sy weet hoe om simpatie vir haarself en “verontregtes” te verkry.

Aansienlik later kom sy by die punt dat “veral wit Afrikanermense moet 'n eerlike gesprek met hulleself hou.” As sy eerlikheid van “ wit Afrikanermense” verwag behoort sy ook aan hierdie vereiste te voldoen. Ongelukkig is daar twyfel hieroor. Met eerlikheid verstaan 'n mens nie net letterlik waar nie, maar dat as jy bv twee keer in drie jaar die k-woord gehoor het, dit nie reg is om voor te gee dat dit algemeen gebruik word nie. Heelwat oneerlikhede is ter sprake:

“Being called kaffirs in Stellenbosch, being told by lecturers we don't belong here because we made the mistake of asking for a word to be translated in a class, not being allowed to share rooms with white girls/guys in residences because white and black don't mix, being told that we don't deserve to be at Stellenbosch …” Dit lyk na vier leuens in een sin. Om net op een punt uit te brei: as 'n dosent dit sou waag om te sê swart mense hoort nie hier nie, sal hy/sy vinnig waai.

Die “skakels”-storie gaan oor “white boys” en swart en wit vroulike studente, sonder dat swart mansstudente in die prent kom. Die uiterste en openlike onbeskoftheid wat hier beskryf word, klink onwaarskynlik.

Sy vergelyk haar onderdanigheid teenoor die bestaande orde met: “It was like helping an abusive partner understand why their being abusive to you was wrong while you were bleeding ...” Verregaande vergelyking en dit raak erger.

“Why did I keep quiet … little by little in subtle and overt ways my dignity was being stripped off of me? Were cookies and coffee in the admin building really enough to keep me quiet?” Op 'n ander plek skryf sy: “It blinds me to think that dialogue and conversation is enough.” Haar bewering dat die US praat sonder pogings om verandering te bewerkstellig is verregaande – 'n leuen? Mens wonder wat sou prof Botman (indien hy nog hier was), in wie se kantoor sy aansienlik tyd deurgebring het, van hierdie belediging dink?

“Whiteness is the norm in Stellenbosch; white Afrikaans-ness is the norm. Thus spaces, offices, shopping malls, classrooms all reaffirm norms …” Dis nie waar nie. Stellenbosch se stedelike gebied lyk soos die res van die Wes-Kaap. Die meerderheid personeel van instellings is feitlik altyd mense van 'n donkerder kleur (meestal bruin) en vroue is meer as mans. Gevalle waar wit manlikes oorheers sal ver voor gesoek moet word. Miskien sal US voorbeelde oplewer.

Die groot probleem met US is skynbaar: “this place was established to keep some out and welcome others in …” Die skrywer het probleme met selfs godsdienstige uitsluiting. Die punt wat sy mis is dat dit nie die instelling is wat mense uitsluit nie. Jy hou nie van alkohol nie en jy bly weg uit drinkplekke. Jy is nie 'n Christen nie en sluit jouself uit die kerk uit – as jy wel sou belangstel sou jy aanvaar gewees het. Mense sluit hulleself uit en dit sou verkeerd wees as 'n instelling mense uitsluit, behalwe geregverdigde toelatingsvereistes. Dat US mense op grond van kleur uitgesluit het is 'n historiese feit maar dis nie meer die geval nie. Uitsluiting tov Afrikaans is vir haar ernstig. Die feit dat die drie ander nabygeleë universiteite Afrikaanssprekendes uitsluit of dwing om in Engels onderrig te ontvang, word nie genoem nie. Afrikaans was ook die Universiteit Wes-Kaapland se taal en dit is nou Engels. Hierdie uiters onregverdige afdwing van Engels en onreg teenoor plattelandse studente wat sukkel met Engels gaan natuurlik onvermeld verby. Met 50% van die Wes-Kaapland se bevolking wat Afrikaanssprekend is, behoort minstens twee van hulle universiteite Afrikaans te wees. Nou is daar nul, maar US probeer om tweetalig te wees. Terwyl US sterk probeer om vir twee tale voorsiening te maak en die ander drie universiteite Afrikaans ignoreer behoort Lovelyn se ontsteltenis eerstens oor die ander instellings te gaan, maar dit sal nie gebeur nie. Stel jou 'n vroulike student voor wat by UCT wil studeer en sy word weggewys want sy wil klasse in Afrikaans loop. Lovelyn huil saam met die wit meisie.

Blykbaar wil Lovelyn geen Afrikaans op universiteit hê nie, maar sy sê dit baie versigtig: “Where we have 11 official languages in SA, English is indeed our best compromise in academic spaces to maintain our international standing as graduates. The alternative is unsustainable and impracticable.” As die feit dat die opheffing van Afrikaans tot 'n akademiese taal vir meer as 100 jaar groot inspanning geverg het en dat hierdie reg in die grondwet verskans is, nie vir haar belangrik is nie, is die aandrang op Engels net 'n poging om haar doel vinniger te bereik, nl 'n US sonder Afrikaans. Die amptelike spreekbuise van Open Stellenbosch kies hulle woorde uiters versigtig maar die gewone lede stel dit duidelik dat Afrikaans moet waai. Haar verwysing hierna by “RAU, UP, Kovsies etc” bevestig hierdie houding.

Daarna stel sy dit weer duidelik: “That again (limited access) is why an academic space that facilitates exclusion through language needs to be eliminated [behalwe as dit Engels is – sal die oorheersende taal in die “limited access” areas nie meestal Engels wees nie?]. Dat Engels, noodwendig, ook mense uitsluit is skynbaar geen probleem nie, want swart mense verkies Engels.

Om selfs sekuriteitspersoneel van ernstige bevooroordeeldheid teen swart te beskuldig is erg. Wit studente kom weg omdat hulle wit is. Dis nie waar nie.

Oor “Coloured students” is haar beswaar dat variante van die taal nie die nodige erkenning kry nie. In terme van akademiese instellings wêreldwyd is die standaardisering van die taal essensieel en dit geld vir Engels, Duits, Nederlands of enige taal wat akademiese aansprake het. Dat daar hiernaas ook plek vir streektale is en dat dit 'n interessante studiegebied is, spreek vanself. Dan kom nog: “ … they still have limited access to certain spaces in the town ...” Vertel dan vir die universiteit van die probleme!

Aan die einde is daar skynbaar nog 'n onwaarheid: “... verbally abusive white drunk boys are not excused because they are drunk in res, while black boys are given disciplinary action.” (Hier is 'n fout – die “not” moet weggelaat word.) Kan van US se studente ons hieroor inlig?

Lovelyn het 'n geslaagde brief geskryf. My reaksie is die eerste kritiek. Afgesien van politieke korrektes wys die kommentaar van naïewe Afrikaanssprekendes hoe suksesvol sy was.

  • 1

Kommentaar

  • George, jou analise is goed gedoen. Wat by US deur sekere swart studente (ek dink nie eers dit is die meerderheid nie) is maar eenvoudig niks anders nie as goed-gemaskerde lefko-fobie. (anti-wit haat). Hierdie motiewe was ook agter die gedwonge verengelsing by ander universiteite, soos RAU (nou UJ) en Unisa. Daar is 'n twee-voudige plan van aksie teen hierdie aanval, naamlik:
    1. Wit Afrikaanse of Afrikaners (hoe jy hulle ook wil noem) moet hulle eie, private universiteite stig waar Afrikaans gebesig word. SolTech is 'n belowende perd in die wedren. 2. Wit Afrikaanses/Afrikaners moet die universiteite wat verengels eenvoudig boikot deur na private, Afrikaanse universiteite te gaan, soos byvoorbeeld die genoemde SolTech. Die boikot kan selfs wyer uitgebrei word deur die borge van die universiteit ook te boikot. Al wat kort is die politieke wil en ek glo dit is besig om te ontwikkel. Stadigaan begin 'n desperate gatvolheid onder witmense ontwikkel wat hulle gaan dwing om iets definitiefs te doen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top