Love bites van lastige pylsterte en ander aandenkings en oordenkings uit Versindaba 2010

  • 0

Versindaba 2010
Saamgestel deur US Woordfees
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869194017
Prys: R140.00


 

Versindaba 2010 is ’n klein vakansie in die Suid-Afrikaanse digkuns van die afgelope jaar – ’n Kontiki-toer deur die diglandskap. Mens stop vinnig (soms té vinnig) by elke plek, maar jy kry die idee. Dis veral perfek vir ’n eerste besoek: veilig, gestruktureerd en gebalanseerd.
 
Die voorwoord (deur Nicol Stassen) en inleiding (deur Louis Esterhuizen) is ’n nuttige manier om die toeris in die landskap te oriënteer. Feite, statistieke en menings skep ’n begrip vir die klimaat en omgewing waarbinne die skryfwerk verskyn en vir die politieke onderstrominge wat die landskap help vorm. Stassen voer aan dat die tyd van nasionale poësieë verby is, dat Afrikaanse digters in die wêreldpoësie belese sal moet wees om in die vervolg ’n meer blywende indruk op ons eie en die internasionale boekemark te maak. Dit is ’n tydige en welkome stelling, en dit sal interessant wees om te sien watter impak hierdie fokusverskuiwing in die toekoms gaan hê.

Maar eers terug by ons huidige toer.

Die reisprogram is besig: tien bekende plekke waaroor jy al heelwat gehoor het, en agt nuwe besienswaardighede waarvan jy net sal weet as iemand jou gesê het. Aan die einde van die 18 stoppe het jy ’n geheelbeeld gesien wat met breë kwashale geverf is. Jy kan sê: Ek was daar. Ek weet hoe dit in 2010 in die Afrikaanse digkuns gelyk het. Jy sal geselsies kan maak oor die stemme en die onderwerpe en die inhoud en die algemene gevoel; jy sal vir seker weet by watter bestemmings jy aanklank vind en waarvan jy nie gehou het nie. En jy sal waarskynlik weet waarheen jy wil terugkeer, watter plekke jy beter wil leer ken.

Ek is self nie eintlik die Kontiki-tipe nie, maar ek het heelwat van hierdie reis af teruggebring. Klein flentertjies papier met versreëls daarop geskribbel, poskaarte van vreemde stede, veertjies, bierdoppies, foto’s en kaartjie-teenblaadjies. ’n Handvol lukrake voorwerpies wat ek in my sakke kon druk om my aan spesifieke oomblikke op die reis te herinner, oomblikke waarin ek lewendig en méns gevoel het, oomblikke waarin ek geweet het waarom ek van reis hou, selfs al is dit soms ongemaklik.

Soos dit maar met sulke toere gaan, is dit onmoontlik dat alles in almal se smaak gaan val. Sekere besoekpunte is baie toeganklik, en hoewel daar nie veel met die bouwerk skort nie, is daar net nie genoeg in die ontwerp om hierdie besoeker se aandag vir lank te hou nie. Dit spook nie. Daar is niks wat dae later nog skielik weer teen jou ruggraat af seil nie.

Maar hierdie plekke is min. Die meerderheid verse in die bundel bied heelwat geheime stegies en donker hoekies, en in die beste plekke voel ’n mens iets sonder naam in jou nek asemhaal.

In verse van (oa) Louis Esterhuizen, Joan Hambidge, Tom Gouws en Kobus Lombard word die leser op reis geneem na plekke buite ons eie land se grense. In Esterhuizen se vers “Weerkaatsings” word die visuele weerkaatsings pragtig in die herhalende frases gereflekteer, en mens voel jouself staan op ’n brug oor ’n grag met ’n stad wat flonker in die water. Tom Gouws dool weer in vreemde ruimtes om die eie oorsprong te vind en te verstaan, terwyl Joan Hambidge se gedigte oor die VSA soos driedimensionele satellietfoto’s lees waar ’n mens kan inzoem en na eie wil op miniatuur-besonderhede in die geheel kan fokus.

Om hierdie poskaarte van besoeke aan die buiteland te lees is egter nie net om saam met die digters op reis te gaan nie, maar ook om te besin oor die konteks waarin die boodskappe gelees word. Dit is konfrontasies met realiteite van ons eie omgewing deur die blootstelling aan ander ruimtes.

In Johan Lodewyk Marais se gedig “Suidelike pylstert” word die kommersialisering van die natuur op ’n pittige wyse bevraagteken:

want nou het alles net ’n spel geword
vir toeriste wat jillend watertrap
en tuis trots aan ’n bobeen die love bite
van ’n lastige pylstert kan gaan wys (p 38).

Ek kry sommer nóg ’n literêre love bite om vir mense by die huis te gaan wys uit Melt Myburgh se vers “waterslang”, waar hy skryf:

in jou verwoestende aantog
ontheg reiers ... (p 40).

Koos Oosthuizen se vertaling van Bulelani ZaNtsi se prysdig is een van my gunsteling-oomblikke op die reis. Nie net omdat dit my onmiddellik terugneem na die ongelooflike voordragte deur hom en Antjie Krog tydens die Versindaba op Stellenbosch nie, maar omdat hier ’n deur oopgaan na ’n plek waartoe mens nie aldag toegang het nie: die digkuns van ’n ander taal. Oosthuizen het meegewerk aan die vertaling van die verse in Krog se bundel vertalings Met woorde soos met kerse, en die enkele vers van hom wat opgeneem is in Versindaba 2010 is net genoeg om ’n mens lus te maak om ’n langer besoek af te lê. (Sy bundel 20 verse in vertaling het vroeër vanjaar verskyn.)

Hier en daar word dit duidelik dat ons hier deur ’n landskap reis wat geteister word deur politieke onrus. Waar dit op plekke onder die oppervlak borrel, is dit die besliste botoon van Marlene van Niekerk se vers “Vir president Motlanthe”. Ek het altyd gehoor dat die poësie en die politiek nie bedmaats maak nie, maar soos Van Niekerk se ander politiese verse wat aanlyn en in die pers verskyn het, laat hierdie vers mens weer hieroor dink. Dit is skerp, fyn waargeneem, en by plekke skreeusnaaks:

jy styf jou ore vir die kameras
jou baard
is bok, jou kraag
is kraak. (p 45)

Haar ander vers in hierdie versameling, “ek berei ’n slaai voor die oê van my vader” (p 48), was nog ’n hoogtepunt van my reis, maar ek sal dit nie bederf met my eie indrukke nie. Ek raai jou aan om self te gaan belees/beleef.

MM Walters se lang vers “Act of faith” (p 50) rig ’n woord-monument op ter herdenking van Jan Hus. Hier het ons weer eens ’n geval waar die standbeeld in die konteks van die omgewing gelees moet word waarin dit staan. Dis ’n vers oor ’n 14de-eeuse priester en filosoof wat op die brandstapel gesterf het, wat diep resoneer met temas van mag, geweld en miskenning in die Suid-Afrikaanse en globale konteks.

Hierna kom die nuwe bestemmings aan die woord, en dis opwindend, soos onbekende plekke gewoonlik is. Van sommige van hulle sou jy dalk al gehoor het – Fourie Botha, Lou Ann Stone en André Trantraal het vroeër vanjaar in Nuwe Stemme 4 gedebuteer – maar dis grootliks ongekarteerde terrein.

Pieter Odendaal se “noord-namibië” is my persoonlike hoogtepunt in hierdie afdeling, ’n vers wat soos ’n klip in die keel kom lê, ’n klip wat jy later in jou hand vind, waaroor jy onbewustelik dink terwyl jy tussen jou vingers daarmee speel.

Dis altyd lekker om plekke te besoek wat nog nie doodgeskryf is deur reisgidse nie, en ek gaan die res van die nuwe stemme onbeskryf laat en die vreugde van die eerste besoek vir jou bewaar.

Die algemene indruk van my Versindaba 2010-toer: Dis lekker. Nie so lank dat jou boude seer raak nie, nie so kort dat dit voel of jy ingedoen is nie. Daar is heelwat om jou aan te verwonder, en as jy ’n opgaarder is, sal jy heelwat daarvan kan terugbring huis toe.

Jou ervaring sal alles afhang van een vraag: Watter tipe reisiger is jy? As die stoppe vir jou te kort voel, en jy hou van lang solo-togte na die diepste hart van die land wat jy besoek, dan is Versindaba 2010 ’n goeie padkaart om jou eie reis mee af te skop.

Hiermee my poskaart vir jou, ’n aandenking van my reis. Voor is ’n foto van ’n leë landskap waarin klein besonderhede net-net sigbaar is, ’n landskap wat oop is vir verkenning, ’n landskap wat wag vir jou om spore daarin te kom trap. Agterop is daar ’n oop spasie vir jou om jou gunsteling-reëls uit die bundel in te vul, en in swart ink, vier woorde: Wens jy was hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top