Los my, laat ek huis toe gaan

  • 0

Dit was seker nog altyd maklik gewees om die kwessies van die dag as grondslag te neem en dan ’n hele gedoente daaroor te skryf. Sommige mense sal daarmee saamstem en ander sal verskil; sommige sal hul kommer oor die inhoud van die waagstuk van ’n mening met vreemde mense deel, en ander sal die skryfstuk oordeel en vergeet. Dis nou maar die gevaar wat jy loop wanneer jy jou kop se bedenkinge en jou hart se ervarings, op ’n vel papier neerstip.

 Ek ken ’n paar mense wat op die oomblik, of ten minste in die afgelope dae en weke, met die doodsengel ’n tweegeveg gehad het. Die meer filosofiese wesens onder ons regop-lopers sou egter die stelling kon maak dat die ontmoeting met die dood en sy trawante enige oomblik ’n werklikheid kan word en dat ’n gestoei daarmee uiteraard vir iedere elk van ons asemhalers ’n onvermybare werklikheid is. Selfs vir visse, motte en varke.

 Derhalwe en in aansluiting by ’n intense gesprek oor die morele en regsvraagstuk agter die moontlike wettiging van “hulp met selfdood, genadedood ens die afgelope week op die draadloos ( lees RSG ), was my aanvanklike reaksie tot die wettiging daarvan, ja. Wanneer my liggaam gedaan is; opgelewe is, dan moet dit tog toegelaat word om te sterf. Hoekom voortsukkel in 'n sinlose bestaan en die onvermybare uitstel?

 Hordes luisteraars het van hulle laat hoor en sien. Kundiges het gepoog om, spreekwoordelik, die punt van die kruintjie van die Kambro plant raak te sien en raak te vat.

Daar was veral twee interessanthede uit al die standpunte wat vir my opvallend was. Twee feite wat eintlik amper bevrydend was; juis omdat mens soms oor jou eie saligheid en verstandigheid wonder.

Die een was die gesprekdeelnemers se vrymoedigheid om hul lewenservarings te deel. Mense wat vertel van ’n ouma, oom of oupa wat vir jare deur die genade van verdowingsmiddels, masjiene en die mediese fonds aan die lewe gehou is. Om dan, ná die struikelstryd oor die grofste pynlikste deel van hul lewenspad, tog te sterf.

 Ek wonder of die medisynemense en hul huisverbandpaaiemente die mas sou kon opkom indien die middels en masjiene liefs afgeskakel gebly het?

 Die ander meer treffende onthulling uit hierdie openbare gesprekke tot dusver, was dat die slim mense beweer die gemiddelde Jan- en San Publiek is nou meer ten gunste van genadedood as wat hul ouers was. Wanneer mense dus gevra word om hul oorwegings rakende die toepassing en wettiging van hierdie aanhelp na die graf te boekstaaf, of ’n vraelys daaroor in te vul, is daar ’n al hoe groter deel van die gemeenskap wat eerder die doodsengel stotterend sonder suurstof sal tegemoet sweef, as om die trein na die ewigheid stadig maar seker die stasie te sien insukkel.

 Ek sou self ook eerder die Boeing as die trein wou “huis” toe vat!

 Die Skrif gefundeerdheid vir hierdie noodlotdilemma, is net so redeneerbaar soos die aanklag dat homoseksuele mense nie hemel toe gaan nie, maar dronkaards en vroueslaners in die kerk wél. Enersyds is ek nie teologies bekwaam genoeg om waardige feitlike argumente uit die godsdiens aan te haal nie, maar andersyds, is ek wel wakker genoeg om te besef dat daar meriete vir oorweging in elke besluit moet wees. Hierdie grysgebied het tog nie net wit woonbuurte en net swartbuurte nie; hier is geleentheid vir waarheid beide kante toe.

 Na die onlangse rubriek op die draadloos ( lees steeds RSG ) en terwyl ek nog warm langs my beste helfte se lyfie op die kooi sit, het ek spontaan net weer vir haar bevestig; amper as ’t ware vir haar my laaste wil en testament gegee: “Moenie dat masjiene my aan die lewe hou nie. As en wanneer hierdie liggaam van my op die punt kom dat hy klaar is, dat hy opgelewe is en sy ringe uitgesak en sy enjin nie meer wil nie, moet my dan nie aan die lewe hou nie."

Daar was net een Lasarus en dit was so met ’n doel.

"Los my, laat ek rus en laat my toe sodat ek kan huis toe gaan."

 Sondag ná Sondag is daar lyste van mense vir wie toetreding in gebed gevra word. Mense wat die een of ander lyding het en vir wie voorbidding gevra word. Mense met die geloof dat die onomkeerbare en die onherstelbare wel moontlik is en wel kan plaasvind; waarin ek as geloofsoortuigde geen twyfel het nie, behalwe dat mens tog vir die eindprys ook mag vra, naamlik...

"Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees."

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top