Lonely connect
Die smart phone is my Psalm drie-en-twintig
niks sal my ontbreek nie:
I am connected ge-wifi op elke dating site
ge-3G Voosboek Grinder Gaydar-mobiel
ek slyp my profiel soos ’n skeerlem
my foto’s geneem in goeie lig
my About Me skerp verkoopskopie.
Ek probeer mooipraatjies maak
lieg bedrieg my tong plat soos ’n rinkhals
die tande gevyl sinne in silwer pakkies
toegedraai jy kry gevleuelde woorde
my tale staan vir niks verkeerd nie.
(Later sal ek my lyf inspan ’n stuk bloudraad
die vel en been tot brug gebuig my ribbes
kraak onder jou stomp stewels ek maak
my arms en vingers lank soos slange
omvou jou soos kreukelpapier.)
Maar tot dan kreun ek dieselfde ou deuntjie
vir ewig en ewig my bloederige duime amen.

