Lojaliteit

  • 3

“Sommige filosowe beweer dat dit slegs moontlik is om lojaal te wees teenoor ‘n ander persoon en dat dit streng interpersoonlik is.”

Ek en Bert het ons eerste dag op skool saam beleef. Ons het dieselfde van gedra en dit het ons, met die begrip van kinders, in lojalitet gebind.

Ons in Sub A is soggens op die vloer om die klavier groepeer en die juffrou het voorgesing.

Toe die lou stroompie vanuit Bert se broekie onder my winterboudjies insypel het ek my keel in skrik na alkant toe gerek in ‘n kreet van verontwaardiging. Die arme Bert is onmiddellik deur sy ma kom haal en kort daarna het die gesin die dorp, verlaat.

Ernest (met die tweede e), my lojale vriend (ek het nooit op hom ‘gesplit’ nie en hy ook nie op my nie), het my die eerste skuif ooit aan ‘n sigaret gebied tussen die leë petroldromme agter die ‘garage’ — dat ek daarvan opgegooi het was ‘n voorspel.

Die merry-go-round het jaarliks by ons dorp aangedoen. Daar was ‘n heen- en weer- swaaiende skuit wat deur die man wat die kaartjies verkoop het met ‘n flambojante sprong en wegspring aan die brand (swaai) gestoot is. Die swaaimoment is aan die gang gehou — en selfs verbeter — deur die twee uitbundige passasiers wat om die beurt aan ‘n dik veseltou getrek/hang het.

Gelaai met ‘lemonade’ en ‘n ‘hot dog’ was dié inspanning een te veel en het ek met die bo-draaislag my maaginhoud oor Ernest uitgestort. Later het vegvlieëniers van uitskietstoele gebruik gemaak — ek het bloot die tou gegryp en die donker ingespring.

Ernest het by alle geleenthede veel vinniger as ek gehardloop maar nie daai aand nie Dit was die einde van ‘n lojale vriendskap.

Elkeen het hul eie stories oor interpersoonlike lojaliteit wat so maklik kan omsit in afkeer tot haat. Die koerante is vol oor mislukte huwelike, weduwee en kinders om pa se testament — vuil wasgoed by die hope.

Geloof en godsdiens: twee entitete, met godsdiens aan lojalitet gekoppel. ‘n Eenvoudige voorbeeld: “Ek gaan nie Sondag kerk toe nie want ou Coen preek en hy het niks vir my te sê nie.” En ‘n week later: “Pappa, ek sien dominee Willie preek Sondag. Wat ‘n pragtige man, ek wil nie sy preek mis nie …”

Verdere voorbeelde sal my aan die lot van die godsdiens-ate?s-agnostikus-bende blootstel.

Elkeen wat om die beurt aandring dat jy volgens sy/haar voorskriftelikheid jou lewe moet inrig/verander. Soos ‘n ou grammofoonplaat wat haak en nie van groef kan verander nie — gaan dit aan, aan en aan.

Geloof is geloof en niks anders nie.

“Ek glo in God, die Skepper van Hemel en Aarde.”

Niemand kan ontken (“bewys”) dat ‘n gelowige nie gelowig is nie — daar is wel vele wat “ek is ‘n gelowige” aanwend tot eie voordeel.

Baie word heel gemaklik uitgevang. Die probleem is of jy self weet of jy gelowig is of nie — jy kan geen kwitansie toon nie. Deur die gebooie streng te onderhou, goeie werke te doen en streng volgens die Goue Reël te lewe, skep ‘n voortreflike mens — maar slegs diep in die hart waar niemand kan bykom nie sal die siel van ‘n gelowige wees. ‘n ‘Wete’ uitsluitlik tussen jou en God.

Bestaan God? Die debat word deur diegene bemagtig tot die hoogste vlakke van filosofie-logika-teologie - oorheers “Wetenskaplike” bewys, word vereis. Ek as ‘n Jan Alleman, is beswaard hieroor. Almal wat die reg het om deel te neem aan die debat is nie betrek nie.

Die geloofsbelydenis lees “God die Skepper van Hemel (sic) en Aarde.” Die perspektief is belangrik. Om enigsins uitsluitsel oor die vraag te kry benodig die debat insette uit die Hemel — nie die Hemel in ons gedagtes nie, maar die Hemel as fisiese entiteit (noem dit die Heelal, Kosmos of wat ookal). Die dwingende vraag is wie en waar is diegene in die Heelal wat insette mag hê. Miljarde dollars word daaraan bestee om buite aardse lewe op te spoor — tot dusver met geen noemenswaardige sukses nie. Maar om dit plat te stel: die dryfkrag bly — "ons weet julle (intelligente weses) is daar en ons sal ons bes doen om julle te vind".

Presies dieselfde drang kan verwag word met betrekking tot die aanvanklke vraag: “Bestaan God ?”

‘n Aardgebonde debat is eenvoudig nie goed genoeg nie. Aardse Intellektuele Olifante mag dalk Kosmiese Intellektuele Muggies blyk te wees.

Naas Viljoen

  • 3

Kommentaar

  • Soos altyd is Naas se briewe pitkos. Daar is egter net een probleem, en dit is die konsep van die hemel, alhoewel jou begeerte om dit te verwyder van die aardgebonde debat, is die probleem juis dat al die konsepte, "god", "hemel", "hel" het juis sy oorsprong in die mens se eerste denke gehad en was nog nooit apart van die mens se vormingsinvloed daarop nie. 
     
    Indien die konsep van "hemel" en "hel" werklik volledig gevorm, as net twee voorbeelde uit dogma, teologie en religie, dan kon die hunkering na 'n debat in die hemel dalk verstaan word, maar ongelukkig is al daardie konsepte diep gesetel in die mens en nie 'n platoniese werklikheid in 'n suiwer abstrakte bestaan nie. 
  • Wouter, dankie vir jou inset.  Ek het geen begeerte om  in die 'aardse debat' betrokke te raak nie.  Ek wil net die perspektief stel dat die mens ver bo sy gewig probeer boks -- en dit volgens die reëls deur homself (deur die eeue) gemaak in die waan dat hy die finale arbiter sal wees-- en dit met die nodige arrogansie--oor iets wat heeltemal bo sy vuurmaak plek is.  Jammer dat die "goue Era" se deel IV (nog) nie geplaas is nie.  Ek lees graag jou bydraes.

  • Dankie Naas en doen so voort met jou siklus van briewe. Die probleem is egter dat die model van Aristotles dalk meer toepaslik bly, die hier en nou en dit wat hier ter plaatse kan bevestig word en beteken die mens se vormingsinvloed op hierdie konsepte kan nie ontken word of vermy word nie.

     
    Maar tog is dit leersaam om te sien hoe die onderliggende drywer van jou denke platonies is en ek my tot 'n groot mate dan skaar by Aristotles. 
     
    Net soos jy egter is ek nie te gretig vir die "aardse debat" nie, want wat sal die slotsom wees wat ooreenstemming betref. 
     
    Wat wel waardevol in my bestaan is, is die geskiedenis van idees en hoe dit oor die afgelope 5000 jaar ontplooi het en vorm gee aan die werklikheid van vandag. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top