Ronel
Ek is onseker hoe om jou brief te beantwoord, want dit is duidelik dat jy onder ’n wanindruk verkeer. Ek gaan die bitsige toon in jou brief ignoreer en poog om jou op ’n sagte wyse op die korrekte feite te wys. Vir die skrywe van hierdie brief, sal ek aanneem en vertrou dat jy die ware Jakob is.
Ronel, ek is bewus van dat van julle die spot dryf met my noemnaam. Snaaks dat jy die eerste een is wat hier die konneksie maak tussen die liedjie en my noemnaam. Daar was in die laat sewentiger jare ook ’n Afrikaanse film, sover ek onthou, wat die liedjie as tema aangeneem het. Dit is in daardie jare wat my familielede en nabye vriende my so begin noem het, omdat my eerste naam Aletta is. Daar is niks sinister aan die naam nie, en ek beskou diegene wat dit in daardie lig probeer sien, as kinderagtig. Ek steur my maar min aan onvolwassenheid. Ek het self twee seuns groot gemaak, en mansmense kan maar simpel wees. Gelukkig ontgroei meeste van hulle daardie fase op so vyf en twintig. Jammer ’n paar wat al diep in hulle vyftigs is, gaan nog so tekere.
Ek wil jou daarop wys dat Cornelius wel die gesprek met Jan Rap in ’n anti-Godstienstige rigting gestuur het. Lees weer sy briewe en veral die minagtende wyse waarop hy “Anglo”, Protestante en Calviniste aanspreek. Verdere verduideliking sou nie nodig wees vir enige Ware Christen nie. Die hele bohaai rondom Cornelius se poging om my identiteit by my gemeente te bekom, is mos nou al ’n geruime tyd gelede ter ruste gelê. Indien jy weer die ou wonde wil oopkrap, laat gerus weet dan sal ek weer sy aksies in detail bespreek. Ek sal jou egter maan om dit maar eerder te laat staan, aangesien dit glad nie goed sal reflekteer op Cornelius se karakter nie.
Kom ons reflekteer nou maar eerder op die positiewe aspekte van jou brief aan my. Ronel, jy verkeer beslis onder ’n wanindruk van my as jy glo dat ek jou sal kasty oor jou gesin se uitlewing van julle Geloof deur middel van Lofprysing. Wierook is mos deel van die Christelike boodskap. Die wyse manne het juis wierook aan die Jesuskind oorhandig tydens sy geboorte. Hoekom dan nie wierook brand as jy aanbid nie? Ek onthou self hoe ek en my gesin, veral gedurende die Kerstyd, lofgesange tot eer van die Here gebring het. Ja, mens mag hande klap, dans en sing. Ek het nog nooit die teendeel gepredik nie, so jou aantygings laat my verward.
Ek is so dankbaar dat die Heilige Gees ook in jou huis teenwoordig is, en dat jy sodoende ’n Christelike fondasie vir jou twee dogtertjies kan lê! Hoekom kan jy nie hierdie lofprysing meermale doen en afsien van die simple mites oor meerminne en sulke gedrogte nie?
Ronel, ek weet dat jong moeders baie beterweterig is, en glo dat hulle altyd die regte ding doen vir hulle kroos. Ek sal jou ook nie verder daaroor aanvat nie. Ek pleit egter by jou dat jy maar sover as moontlik naby aan die Woord lewe en ook daardie voorbeeld aan hulle stel.
Groete
Tant Alie

