Loammi Wolf se verhandeling oor Bok se treffer: Enkele opmerkings

  • 0

Gerhard Venter se brief oor die konsentrasiekampe het my aandag gevestig op hierdie storie van Dr Wolf wat sy so 5 jaar enige maande gelede geskryf het.

Hier, beginnende by woord 540 rond, sê sy "Stereotyping has definitely started resurfacing."  Dit sê sy na aanleiding van haar waarneming dat daar neerhalende aanmerkings gemaak word oor die 'ander', daardeur sou hulle uiting gee aan hulle frustrasie met die heersende hoë misdaad en onbekwame administrasie. Hoe anders?  Daar is dan wanadministrasie en misdaad soos sy self erken. En van wanneer af is kritiek stereotipering?  Of, anders gestel, kan 'n hemelhoë positiewe korrelasie afgemaak word as stereotipering?

'n Entjie verder sê sy "Afrikaans speakers are no longer ashamed to use their language in public places."  Hier is sy heeltemal verkeerd.  Daar is wel die wat skaam was maar nie uit hoofde van 'n skuldgevoel oor die verlede nie maar 'n minderwaardigheidskompleks; Engels is vir hulle die taal van blink liggies, prag en praal.  Diesulkes is nog steeds met ons.

Verderaan wonder sy "… why this song has struck the right chord. And why specifically now, more than ten years into the new democracy?" Die antwoord is voor-die-hand-liggend:  Teen daardie tyd was dit duidelik, aan die hand van die moorde op plase, die naamsveranderinge en die heksejag op Afrikaans en Afrikaners dat hulle volk non grata in die NSA was (en nog steeds is).  Hier was dus iets wat hulle weer laat besef het daar IS iets om trots op te wees.

Sy maak nogal groot gewag van sangers soos onder andere Roof Bezuidenhout se afkeer van Bok se liedjie.  Dit is nogal eienaardig dat sy vertroud is met begrippe soos transgenerasie- en epigenetiese invloede maar nie met die ou begrip van GSD nie, naamlik 'gewone suur druiwe'.  Hierdie jaloesie was veral sterk onder die reik-uit-en-hef-op-, ons-is-almal-broers-, ons-is-so-jammer- en saam-gaan-ons-as-engelssprekende-reënboognasie-nou-hand-aan-hand-die-toekoms-in-sangers en sanggroepe, beter bekend as, onder andere, Voëlvry.  Alhoewel nie musici nie, en dus nie Voëlvry-artieste nie, geld hierdie afkeer in enige manifestasie van Afrikanerskap ook natuurlik vir diegene wat liggelowig genoeg was om Engelse propaganda te sluk, mense soos Max du Preez en Antjie Krog en 'n hele menigte Kaapkoerantjoernaliste.

Sy tref 'n ooreenkoms tussen die Afrikaners en die Oos-Duitsers.  Die Oos-Duitsers ly aan die sogenaamde Ossi-sindroom wat daarin bestaan dat hulle stres ondervind omdat hulle nou skielik ongekende vryheid het en moet aanpas om nou op die vinnige baan te beweeg. "They were so much better off now, but were still suffering on a psychological level."

Hoe kan sy so 'n vergelyking tref as die werklikheid hier net mooi die omgekeerde is?  Afrikaners het nie ongekende vryheid nie; hulle kan nie eers meer hulle eie taal praat nie. Hulle word verguis as hulle trots is op hulle eie geskiedenis, soos juis hierdie storie van Loammi wys.  Ook is daar nie sprake van aanpassing op 'n vinnige baan nie, inteendeel. Pos, telefoonoproepnavrae, lisensie-aansoeke, alles, neem net mooi twee- tot driemaal die tyd wat dit voorheen geneem het.  Reise neem langer want die paaie is moer toe, polisie-reaksie neem 'n ewigheid of gebeur glad nie want die voertuie is stukkend ens ens. Alles goeds het verlangsaam, net slegte goed soos misdaad en verval het versnel.  Daar is dus nie sprake daarvan dat die Afrikaner nou moet vingertrek om by 'n viriele pasaangeër te bly nie, inteendeel, hy kan maar vinger-indruk want die pas het verstadig.

Op hierdie manier is die vergelyking met die Wessi-effek ook betekenisloos:  Die Wessi's kla oor die remmende effek wat die Ossi's op hulle pad na welvaart het waar die Afrikaners afgesleep word na verval, tot so 'n mate dat hulle al hul Engelssprekende landgenote se voorbeeld gevolg het om die land in swerms te verlaat.

Loammi gee te kenne dat sy besef die oneindige opheffingsprojekte het 'n negatiewe invloed op die land se welvaart maar, soos vele (sogenaamde) liberales, regverdig sy hierdie negatiewe praktyk deur daarop te wys dat dit ook in die vorige bedeling voorgekom het.  Brandende biblioteke en spoorwegwaens word 'in konteks geplaas' deur daarop te wys dat Terre’Blanche se aangetroude agterkleinniggie se aangenome kind 'n melkbottel op die dominee se stoep met sy kettie stukkend geskiet het.

Verwoerd sou glo allerhande opheffingsprojekte aan die gang gehad het om die armblanke probleem aan te spreek.  Dit is natuurlik onsin; die armblanke probleem, wat aan die gang gesit is met die verskroeide aarde-strategie in die Engelse oorlog, was al grootliks opgelos in Verwoerd se tyd.  Ek haal haar aan: "The problem with most social engineering projects is that they distort the market. Verwoerd had all sorts of social engineering schemes to alleviate the poor white problem when the economy was still growing at a rate of six percent per year, but the chickens came home to roost in Vorster’s time when the economy practically came to a standstill."

Sy verwar hier oorsaak en gevolg:  Die ekonomie het juis gegroei teen 6 % omdat die armblanke probleem eintlik nie meer 'n faktor was nie.  Hier maak sy asof die land dit kon bekostig om die armblanke probleem aan te spreek omdat die ekonomie gesond was en verder gee sy dan te kenne dat juis dit die ekonomie geruïneer het.  Hierdie soort van verwringing is vuilspel en oneerlike uitbuiting van buitelanders se beperkte kennis oor SA se geskiedenis (wat nog geskiedenis, daar is vandag nog DUITSERS, van alle mense, wat dink Suid-Afrika is een groot plakkerskamp).

Later is sy weer op arme Bok se rug oor sy veelbesproke liedjie: "The song is a rather crude glorification of how brave Boers fought the mighty British Empire and how unfair the methods were that the British used to win that war."  Wat sê sy nou eintlik hier?  Dat daar minder kru maniere is om die Boerestryd op te hemel?  Of dat die Engelse se metodes nie so onregverdig was nie?  As sy 'n verhandeling oor Bok se patriotiese liedjie kon skryf behoort sy 'n ensiklopedie oor die ANC se "Kill the Boer" proteslied te skryf.

Nog 'n slenter is hoe die misdaad ook swartes tref (hoe anders, daar's dan hope swartes in die land). Loammi sê " ... another trend has crystallised which shows an increasing willingness in attackers to use violence and even torture, which was not the case a few years ago. If one recalls the violence in townships during the 1980s, it is possible that some of that traumatic stress was passed on to babies who are now the next young generation. Their mothers lived under conditions where vigilantes often took the law into their own hands to such an extent that a human life did not have any value. How many women faced necklace murders or became the victims of violence?"

Bogenoemde is slegs 'n halwe waarheid; die implikasie is dat plaasmoorde maar net gewone misdaad is en die Boere en boere het niks om oor te kla nie want misdaad tref swartes ook.  Die feit is geweld en marteling is van Mandela se bewindoorname al die patroon, dis glad nie 'n 'nuwe' neiging nie.  Daar is statistiek wat toon dat die aantal moorde en aanvalle in die eerste 9 maande van Mandela se bewind van die hoogste ooit is. 

Dan is daar die absurde regverdiging vir die feit dat swartes hierdie geweld pleeg – post-traumatiese stres; die moontlikheid is glo daar dat dié aan hulle oorgedra sou wees deur hulle moeders wat onder misdaad in die townships in die 80's gely het.  Dus, swart vigilantes het swart vrouens geterroriseer en dit het tot gevolg dat swart aanvallers mense op plase gewelddadig vermoor?  Quatsch.

Verder, halssnoermoorde was hoofsaaklik toegepas op die wat as meelopers (wat die Amerikaners 'Uncle Toms' noem) en verraaiers beskou is en vrouens het oor die algemeen nie in hierdie groep geval nie.  Dit voel so al asof Loammi die kans vat dat die oningeligte die gevolgtrekking sal maak dat wittes die vigilantes was en swart vrouens met die halssnoermetode vermoor het.

Loammi gee 'n skewe prentjie.  Daar is 'n veel eenvoudiger model van die werklikheid; die Afrikanerregering het toegegee onder buitelandse druk en die gevolg is 'n mislukte staat. Dit pas die Boere nie, vandaar hulle ongelukkigheid maar dit pas die ouens wat die diamante (soos Duitswester ook uitgewys het) en ystererts, chroom, renosterhorings en aluminium soek. Hierdie model verklaar dan ook artikels soos dié van Loammi; Boerebashing sus die gewetens van die wat vir suckers gevang is – maak nie saak hoe sleg dit nou gaan nie, 'vryheid' is kwansuis beter as lewensgehalte.  Die ironie van die saak is dat niemand nou vry is nie, ons is 'n Anglo-Amerikaanse kolonie.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top