LitNet Akademies-resensie-essay: Soos die “groot outydse digters” – Karnaval en Lent, TT Cloete

  • 0

Titel: Kanaval en Lent
Outeur: TT Cloete
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624067740
 

Koop Karnaval en Lent by Kalahari.com

Drie jaar na sy vorige digbundel met die veelseggende titel Onversadig (2011), verskyn in die jaar waarin die geliefde Afrikaanse digter TT Cloete 90 jaar oud word, sy tiende bundel, Karnaval en Lent (2014). Dit is ’n gedugte werk gegewe die verstommende prestasie wat Cloete hier lewer om op so ’n gevorderde leeftyd nog die grense van sy/die digkuns te verskuif en waarlik vars en verruimende perspektiewe op die skepping, menswees en die poësie te lewer. Dit is ’n omvangryke werk van 160 bladsye, bestaande uit sewe afdelings waarin Cloete hom steeds bewys as voortreflike “komponis” en bundelbouer, kenmerke van sy oeuvre waaraan Bernard Odendaal (2013) onlangs ’n verhelderende artikel gewy het.

Karnaval en Lent, waarvan die titel verband hou met Pieter Brueghel de Oude se skildery Die geveg tussen Karnaval en Lent (1569), volg op die hakke van Cloete se omvangryke literêr-filosofiese boek Die ander een is ek (2013), waarin hy sy poëtika, ingebed in sy ryk en rype lewensvisie, uiteensit. Uit hierdie werk is heelwat af te lees van die talle lewens wat Cloete in terme van jare en onversadigbaarheid geleef het. Hier is iemand aan die woord wat konstant bly én homself telkens vernuwe. Hy stel dit in Die ander een is ek dat die digkuns dit vir die individu moontlik maak om sigself te transendeer, om op te gaan in ander dinge en mense en in die abstrakte en die onsigbare. Dit maak ons “transliggaamlik en transpersoonlik” (Cloete 2013:12) en ook deel van die verbysterende samehange van die skepping wat deur die wetenskap in toenemende besonderhede en akkuraatheid beskryf word. In hierdie verband het Cloete (2013:12) die woord “oorlywing” gemunt, waarin “lyf” en “oorlewing” oor mekaar skuif. Dis volgens Cloete deur die digkuns en die liefde dat mens ’n ander een kan word; vandaar die titel van die boek.

"Die geveg tussen Karnaval en Lent" deur Pieter Brueghel de Oude

In “Die onsigbare sprong”, die sesde en vir my miskien die mooiste afdeling van Karnaval en Lent, word aan waarlik uiteenlopende persone (Adam Small, Helmie, Joan, Heilna en Johann de Lange) kort gedigtereekse gewy, werke waaruit boonop ’n diep peiling van hierdie individue se menswees spreek. En meer nog: dit blyk dat in hierdie persone iets van die beginsel dat die ander een ook ek is, waar geword het. “die onvoltooide vrou”, die eerste gedig van “vir Heilna”, begin so: “sý// is een van dié wat meer as een mens is”. Iets soortgelyks word oor Johann de Lange beweer. In die derde gedig aan hom, “onontsyferbare syfers”, word aangetoon dat “1 lewe te min” is vir al die manifestasies van die getal 6 in die natuur, en eindig soos volg:

hierdie vreemde verwante wonders koggel almal
met dieselfde 6 dieselfde sprokies-
herhaalverhaal onderling
vir mekaar dieselfde terggetal

“vir joan” bestaan uit twee besonder passende gedigte, “the erotics of reading” en “oorlywing”. In laasgenoemde, wat inspeel op onder meer die jouissance- en reismotief van Hambidge se werk, gaan dit oor die swerf van en met kunstenaars soos Van Gogh (wat leef op “karige kos”) en “die magiese Mozart/ in Parys tussen honger bedelaars”, die eensame tuisgaan in “gastehuise vol vlooie” en in herberge op soek na musiek “in smerige Londen se bruin/ Teems en modderige strate” as “antibiotika teen griep en pokke”, en die (on)volkome troos van/aan die kuns. Die slot van hierdie gedig, waarin uit JC Bloem se “De gelatene” aangehaal word, is aangrypend omdat daarin die eensaamheid van “joan”, digter en leser saamgebundel word:

in ’n ysige herberg
lê jy kouelik in die pynlike troos en peins
’t had zoveel erger kunnen zijn

Daar is iets oortuigend-akkuraat en modern, selfs modernisties, in hierdie bewustheid van “reisende” assosiasie en disassosiasie met die ander een, met ander lewens. “oorlywing” kan gelees word saam met ’n gedig soos Ingrid Jonker se “vyf lewens” uit haar debuutbundel Ontvlugting, want Cloete se Karnaval en Lent en Die ander een is ek pleit vir die raaksien van ook hierdie soort korrespondensie en interpenetrasie en transfigurasie:

Met die eerste wit John Collins
is ek ’n kunstenaar uit die renaissance

Jy is die mona lisa van my hart
en ek bekend met ’n da vinci-smart

Ek sien in spieëls ’n karmeliete vader
wat draai en draai en my gedurig nader

Teerheid en tering speel in sy oë saam
dis ek, dis ek, wat in die spieël staan!

Toe loop ek op my tone op ’n draad
’n sierlik, pagel-sirkus akrobaat

Ek spoed die lug in om te voel
die dood hang aan my slingerstoel!

Die voetval wat deur ster-nat strate klink
die maer gelaat wat in bierglase blink

Die man wat hurk in Roelandstraat
wat sterf van honger is my skadu-maat!

Die vyfde Collins maak my nugter
Die papie roer en ek word digter ...

Daar is dan ook weer korrespondensies (veel talryker!) tussen hierdie gedig en “De wandelaar”, die openings- en titelgedig van Martinus Nijhoff se debuutbundel van 1916, waarin die moderne subjek van die vroeë 20ste eeu, danksy die groter toeganklikheid en uitgebreidheid van historiese kennis toe reeds, in die gees deur vervloë eeue kan reis en persone uit verskillende tydperke “besoek”. Dit is opvallend dat in hierdie gedig en die reeds aangehaalde “Vyf lewens” van Jonker die loop- en straatgegewe sentraal staan, dat gedeeltelik ooreenstemmende tydperke en persone (geestelikes, kunstenaars en straatarmes) ter sprake kom, en dat die spieëling in die ander ook die spieëling van die ek word:

Mijn eenzaam leven wandelt in de straten,
Langs een landschap of tussen kamerwanden.
Er stroomt geen bloed meer door mijn dode handen,
Stil heeft mijn hart de daden sterven laten.

Kloosterling uit den tijd der Carolingen,
Zit ik met ernstig Vlaamsch gelaat voor 't raam;
Zie menschen op een zonnig grasveld gaan,
En hoor matrozen langs de kaden zingen.

Kunstenaar uit den tijd der Renaissance,
Teken ik 's nachts de glimlach van een vrouw,
Of buig me over een spiegel en beschouw
Van de eigen ogen het ontzaglijk glanzen.

Een dichter uit den tijd van Baudelaire,
Daags tusschen boeken, 's nachts in een café
Vloek ik mijn liefde en dans als Salome.
De wereld heeft haar weelde en haar misère.

Toeschouwer ben ik uit een hoge toren,
Een ruimte scheidt mij van de wereld af,
Die 'k kleiner zie en als van heel ver-af
En die ik niet aanraken kan en horen.

Toen zich mijn handen tot geen daad meer hieven
Zagen mijn ogen kalm de dingen aan:
Een stoet van beelden zag ik langs mij gaan,
Stil mozaïekspel zonder perspectieven.

In die derde- en tweedelaaste strofes van hierdie gedig word gesinspeel op die wêreldvreemdheid van die simbolisme, wat in die twee slotstrofes transmuteer in en ineenvloei met die epistemologiese en eksistensiële problematiek van die destyds nuut-ontwikkelende modernisme.

Wat die werk van Cloete, óók Karnaval en Lent, betref, kan aangevoer word dat hy die klem plaas op die korrespondensies in die skepping, in die menselewe en die kunste, ’n tema wat dan ook sentraal staan in die simbolisme. Ofskoon die ivoortoringhouding van die laat 19de-eeuse simbolisme by Cloete ontbreek, asook die aanbidding van die skoonheid en menslike makers daarvan, soos Hein Viljoen (2009) met verwysing na Anna-Marie Bisschoff aantoon, is Cloete volgens Viljoen (2009) tog deeglik ’n simbolis, soos hy oortuigend demonstreer in sy ondersoek na Cloete se moderniserende en deologiserende verruiming van die simbolisme. Viljoen (2009) maak byvoorbeeld duidelik dat Cloete nie slegs heelheid en korrespondensies verken nie, maar ook die pynlike afwesigheid van relasie, die gebrokenheid van die mens, ensovoorts, wat trouens deurgaans in Karnaval en Lent, maar veral in die afdeling “Antroposeen” onder die loep kom. Die relasionele word in hierdie bundel ondersoek in terme van kontrasterende manifestasies daarvan: enersyds die karnaval met sy feestelikheid en selfs uitspattigheid ten opsigte van eet en drink, en andersyds Lent, die vas- en reinigingstyd. Eet staan in Karnaval en Lent in verband met kommunie met die skeppingsgeheel.

"Feesmaal van die gode" deur Hendrik van Balen

Cloete se reeds genoemde gedig “oorlywing” begin met ’n ineengestrengelde, en betreklik ongewone, metafoor en vergelyking, wat dan in die daaropvolgende strofes van die gedig bekragtig en aanneemlik gemaak word. Die begin van die gedig lui:

musiek skilderye
en gedigte is oorlywing
is soos koïtus
maar sonder die vlugtige vinnige
jouissance

Let daarop dat hier gesê word dat musiek, skilderye en gedigte nie net oorlywing is nie, maar ook soos koïtus, en vanweë die plasing van “oorlywing” staan daar óók: “... oorlywing/ is soos koïtus”.

Cloete (2013:11) spreek hom in Die ander een is ek tereg negatief uit oor “literatuurkundiges wat so graag hokkies en hoekies maak”. Sy eie Karnaval en Lent bewys hoe heerlik vloeiend die poësie is. Ons het reeds gesien dat Cloete in bepaalde opsigte waarlik ’n simbolis is, maar die gedig “oorlywing” kan óók as verwant aan die metaphysical poetry van die 17de eeu beskou word! Die ongewone metafoor en vergelyking waarmee hierdie gedig begin, kan naamlik as ’n gevatte en vindingryke conceit beskou word – eintlik ’n dubbeldoor-conceit. Helen Gardner (1985) wys daarop dat metaphysical poetry gekenmerk word deur wit (vernuf; geestigheid), veral dan in die vorm van conceits wat in die verloop van die gedig verder “uitgehamer” word, en dit is hierdie retoriese “‘hammering out’ by which a difficult join is made” (Gardner 1985:20). Sy stel dit heel duidelik: “Argument and persuasion, and the use of the conceit as their instrument, are the elements or body of a metaphysical poem” (Gardner 1985:22). Kragtens die betoog wat in die gedig gevoer word, “the metaphysical conceit aims at making us concede justness while admiring ingenuity” (Gardner 1985:21).

Die benaming metaphysical poets (voortaan: metafisiese digters) het te make met die intellektuele lading van hierdie soort poësie, ’n gegewe wat sterk met Cloete se werk korrespondeer. Deel hiervan is sy vermoë tot besonder gesofistikeerde abstraksie en abstrahering. In Karnaval en Lent spreek die betogende trant ook reeds uit die breë bundelsamestelling: dit bestaan naamlik uit ’n verduidelikende voorwoord, gevolg deur ’n losstaande gedig, “Vooraf”, waarna sewe oordeelkundig betitelde en afgebakende afdelings volg. Die bundel sluit met die eweneens losstaande “Agteraf”.

Cloete is ten opsigte van die artistiek-intellektuele voorts bewus van die uitdagende en vernuwende aard van deurlopende en meer onlangse fokuspunte van sy eie digterlike projek, soos hy dit stel in Die ander een is ek: “Ek het nêrens ’n verklaring daarvan gekry nie dat my liggaam – water, vlees, bloed, gebeente, murg, chemikalieë – sigself kan abstraheer en vinniger as die spoed van lig kan transendeer in abstrakte, onsigbare, onliggaamlike gedagtes, gevoelens, ’n wil, ’n gewete en selfs ’n ander liggaam” (Cloete 2013:9). Hierdie komplekse gedagte, wat op die eerste bladsy van Die ander een is ek geformuleer word, word dan in daardie boek verder uitgewerk. En dit bly nie by beskoulik en wetenskaplik “praat” nie, want in Karnaval en Lent slaag Cloete inderdaad poëties daarin om nie net hierdie kerngedagte van sy digterlike onderneming aanneemlik te maak nie, maar ook die grense van ons weet en verstaan verplaas te kry – wel net ’n aks of twee, maar wie kry dit in vandag se kennisryke wêreld nog reg? Cloete is hiertoe in staat juis omdat hy “oorlywend” in meer as net sy eie lewe opgaan en uit baie lewens en lywe put. Inderdaad, moet ons toegee: “oorlywing/ is soos koïtus”.

Gardner (1985:28) wys daarop dat die metafisiese digters selfs die mees gewone temas op ’n intens individualistiese manier hanteer en juis daardeur akuut tuisgebring kry, soos byvoorbeeld George Herbert wat in sy gedig “Mortification” met empatie en teerheid en ironie ons verstaan van sterflikheid uitbrei. “The metaphysical style heightens and liberates personality,” sê Gardner (1985:28). Dit is juis hierdie skryf vanuit die persoonlike denkwyse, met ’n volstrek eie stem, wat digters soos Herbert en John Donne vandag nog toeganklik maak. Dit voel asof mens met hulle sou kon praat, al skei ’n paar eeue ons. By uitstek leen die metafisiese digters hulle tot die gedagte dat die ander een ek is! En so ’n digter is ook Cloete: vanuit die eerlike en onverskrokke vertrekpunt van die ek strek sy belangstelling in ander mense en die res van die skepping. Hy skryf oor sy eie liggaam, vanaf sy brein en mond tot by sy anus; hy skryf oor sy eie dink en sien, waarin die dink en sien van eeue byeenkom.

John Donne en George Herbert

Die dramatiese is by die metafisiese digters ’n belangrike oorweging. Hulle poësie val by wyse van spreke met die deur in die huis: plaas die leser onmiddellik in ’n bepaalde situasie of konfronteer hom/haar, soos reeds gesien, met ’n onwaarskynlike stelling of vergelyking. Wat die direk situasionele aard van hierdie soort poësie betref, kan verwys word na Cloete se “die X van involusie en evolusie”, wat so begin: “my naam is Alexander die Supertramp”; ook die gedig “drie groot outydse digters”, wat open met: “toe ek tot verhaal kom hoor ek/ byna onhoorbaar ’n hees stem lees”. In die gedig “kaalgat” tref ons die digter-spreker hangend in sy krukke voor die ruit aan; hy kyk na die reën en sy gedagtes gaan op loop na verre “plekke”: die Nederlandse digkuns (Leopold) en die onbevange kindertyd.

In “Vooraf”, die openingsgedig van Karnaval en Lent, word metaforiek en conceit uit die staanspoor in die kollig geplaas met verwysing na die “oersop” waaruit lewe volgens die wetenskaplikes sou ontstaan het, waarna die digter-spreker met die strong-lined stelligheid en uitdagendheid van ’n metaphysical poet tot die gevolgtrekking kom:

alle ken en weet
of óntken van die Daarvóór
berus dus op ’n dun slymerige
sopperige metafoor

die metafoor is die hart en siel van die gedig      dus
is dit onbetwisbaar dat alle wetenskap op ’n gedig berus

Hierdie slotsom, naamlik dat die poësie ’n sentrale gegewe is, óók in die wetenskap, skakel met kernidees van Cloete se werk, naamlik dat daar ’n Skeppergod agter die bestaande sit en dat Hy boonop Digter is. Opvattings soos hierdie geniet in die huidige tydsgewrig nie algemene ondersteuning nie en vertoon daarom alreeds iets van ’n conceit.

Cloete beargumenteer hierdie onderliggende idees in die onderhawige bundel en in spesifieke gedigte soos “kat”, waarin hy die hooffiguur van die metafisiese digters, John Donne, aanhaal, en in “ploeg”, net soos hy in sy vorige bundels gedoen het met behulp van nou reeds bekende retoriese strategieë soos assosiatiewe bondeling (op die vlak van terme en idees sowel as byvoorbeeld by reekse gedigte), en die enumerasietegniek, soos Odendaal (2013:3) aandui.

Die titel van die eerste afdeling van die bundel, “Gedigte wat ek nie graag wou skryf nie”, suggereer dalk dat die digter hier ’n paar stappe verder gaan as wat hy tot dusver gewaag het, dat hy digterlik (sy eie) grense verskuif, moontlik dat hy hier die ander een laat saamskryf.

Die komplekse reeks “die drie stadia”, wat oor ses bladsye strek en waarvan die eerste weer verdere ingewikkelde onderverdelings bevat, sit ’n argument voort wat in die daaraan voorafgaande gedig, “die eerste maaltyd”, aan die orde gestel word, naamlik die deurlopendheid van eet in die mens se persoonlike bestaan, vanaf die baarmoeder en “’n dwingeland as ons later selfstandig/ van ons moeders leef”. In gedig “EEN” van “die drie stadia” word hierdie idee verder uitgehamer in “andoelie kom eerste”. Andouille is varkwors. By sommige variëteite daarvan word van die vark se totale spysverteringskanaal, dus van voor tot agter, gebruik gemaak. In hierdie gedig word die deurlopendheid van eet ook aan ’n veel omvattender tydsbestek as die persoonlike gekoppel, naamlik die Begin en die Einde, deur af te skop met “honger was ons eerste versoeking” en soos volg te sluit: “uiteindelik sal ons sterf met vet om ons lippe/ en vleis tussen ons tande as die armageddon kom ...”. Die volgende gedig van “EEN”, “eskatologie a”, begin met: “jy glo met jou maag”. Daarna word ingegaan op hoe die liggaam die voedingstowwe nie net omskakel in vleis en gebeente en spiere nie – dis ou nuus – maar óók:

dan ná dié omlywing
            in ’n raptus mentis
blom my maaltye van kool en ’n stuk varkvleis
of van ’n vis bo alle begrip úit
in ’n tweede geheimsinnige onvleeslike omwentel
in eteriese ekstatiese musiek en in
skilderye en gedigte

"Slagterstalletjie met die vlug na Egipte" deur Pieter Aertsen

Inderdaad is ook hier ’n belangrike kenmerk van die metafisiese digters aanwesig, wat skakel met die reeds genoemde situasionele aard daarvan, want by die gewoon-alledaagse eet van kool en vleis of vis het die digter-spreker ongewone bepeinsings. In hierdie verband merk Gardner (1985:24) op: “A reader may at times exclaim ‘Who would ever think such a thought in such a situation?’ He will not exclaim ‘Who can imagine himself in such a situation?’ Dryden praised Donne for expressing deep thoughts in common language. He is equally remarkable for having extraordinary thoughts in ordinary situations.”

Die reeds genoemde gedagte met betrekking tot die “hoër” omskakeling van kos word verder uitgewerk in “eskatologie b”, met spesifieke verwysing na Mozart wat “uit sy so skerpsinnig beplande/ buik” musiseer. Strofe drie lui:

hoe indrukwekkend is daardie krop ontwerp
met sy ensiem            pepsien          sy meesterlike skeil
sy voue en kurwes    sure en bakterieë

Die betoog word in die ander dele van hierdie reeks voortgesit en keer herhaaldelik, en telkens anders belig of verder uitgebrei, terug in die bundel. Sentraal in hierdie verband, ook vanweë die aansluiting by die bundeltitel en die visuele interteks van Brueghel, is “Brueghel bestry Descartes en Kant”. Hierdie gedig is gebou rondom die aweregs-ondermynende stelling:

ek éét
dáárom is ek

In die slotafdeling, “The words will be its body”, word die argument beklink. “hierdie sigbare gedig” het as motto die volgende woorde van Helen Keller: “But if I write what my soul thinks,/ then it will be visible,/ and the words will be its body.” Daar word bevestigend gestel: “hierdie gedig is geskryf/ met die bloed van my are wat vinnige riviere/ loop deur my ganse lyf tot in my oorlelle/ (vlesige afkoellappies soos die olifant se ore)”, waarna die betoog in die daaropvolgende strofes uitgehamer word. In hierdie opsig is die gedig sowel ’n tipiese Cloete-werk as ’n metafisiese gedig, want laasgenoemde word gekenmerk deur ’n hegte, doelmatige struktuur, ook wat betref die neiging tot kompakter reëllengtes en funksionele rym (Gardner 1985:19) en die feit dat die gedig die leser nie toelaat om by sekere passasies aan ’t mymer te raak nie. Gegewe die argumentgedrewe aard daarvan, “metaphysical poetry demands that we pay attention and read on” (Gardner 1985:17). “hierdie sigbare gedig” hamer die hoofpunte van die argument uit met die herhalende “hierdie gedig is geskryf met”- en die effens korter “– is geskryf met”-konstruksie, asook die opnoemtegniek in “met my kiestande en lippe/ my vingernaels en hare/ my snorbaard my tong/ my adamsappel skryf ek”. Daardeur haas die betoog sig na die gevolgtrekking:

– van my skedel af tot by my groottone
en voetsole is hierdie gedig geheimsinnig
geskryf in die mees ongryplike sublieme efemeros
van ’n pynlik gebakkelde lyf

Anatomiesketse deur Leonardo da Vinci

“Agteraf” trek al die drade van die bundelargument sekuur saam en besluit in die opening- en slotstrofe, met spesifieke verwysing na die kerngegewe, naamlik die gedig:

op sy beurt is die gedig omvattend geïnteresseer
in die beleefbaar eksistensiële benoembare
en vermoedelike onnaspeurbare Onbenoembare

[...]

die gedig wil die geveg tussen karnaval en lent
in ’n onbesliste gewapende stilstand op die ou end
in taal besweer

 

 

Bibliografie

Cloete, TT. 2011. Onversadig. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2013. Die ander een is ek. Plettenbergbaai: Pooka.

—. 2014. Karnaval en Lent. Kaapstad: Tafelberg.

Gardner, Helen (red.). 1985. The Metaphysical Poets. Londen: Penguin Books.

Jonker, Ingrid. 1956. Ontvlugting. Kaapstad: Culemborg.

Nijhoff, Martinus. 1966. Lees maar, er staat nie wat er staat: Keuze uit de oorspronkelijke gedichten. Den Haag: Bert Bakker.

Odendaal, BJ. 2013. Eenheid-in-veelheid as struktuurstramien in die poësie van TT Cloete, met klem op bundelbou. Literator, 34(1):1–10.

Viljoen, Hein. 2009. Kreolisering van die Simbolisme in die poësie van TT Cloete. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4):568–89.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top