LitNet Akademies-resensie-essay: Melk ondermyn magstrukture

  • 0


 

 

Melk (Herdruk 2011)
Elsa Joubert
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN: 9780624051688
Prys: R150.00
Klik hier om Melk by NB Uitgewers te koop

 

Inleiding

Met die verskyning ’n Wonderlike geweld (2005), Elsa Joubert se jeugherinneringe en die eerste deel van haar tweedelige outobiografie, het ’n nuwe vlaag belangstelling in Joubert se oeuvre opgevlam en verskeie van haar werke is weer beskikbaar. Ons wag op die kaptein (1963) verskyn (in NB se Klassiek-reeks) in 2005, die skooluitgawe van Poppie: Die drama (1984) in 2008 en ’n heruitgawe van Die reise van Isobelle (1995) in 2011. Daar was ook herdrukke van Die swerfjare van Poppie Nongena (1978, 2006) en Twee vroue (2002, 2006). Reisiger, die tweede deel van Elsa Joubert se outobiografie, verskyn in 2009 en verower die UJ-prys vir letterkunde, die Recht Malan-prys vir nie-fiksie asook onlangs die Louis Hiemstraprys vir nie-fiksie. Dit is verblydend dat hierdie versameling beskikbare werke van Joubert verlede jaar ook aangevul is met Melk (2011), Joubert se eerste kortverhaalbundel wat oorspronklik in 1980 verskyn het. ’n Verwerking van een van die verhale in hierdie bundel, “Die sendeling se dood”, is boonop by verlede jaar se Suidoosterfees opgevoer as die verhoogproduksie Sendeling.
 

Elsa Joubert is hoofsaaklik bekend vir haar romans en novelles, veral die opspraakwekkende Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), en daarnaas ook Ons wag op die kaptein (1963), Die Wahlerbrug (1969), Bonga (1971), Die laaste Sondag (1983), Missionaris (1988), Die reise van Isobelle (1995) en Twee vroue (2006). Sy is ook bekend vir haar reisboeke Water en woestyn (1957), Die verste reis (1959), Suid van die wind (1962), Die staf van Monomotapa (1964), Swerwer in die herfsland (1968), Die nuwe Afrikaan (1974) en Gordel van smarag (1997). Deur die jare is verskeie van hierdie boeke bekroon, herdruk, vertaal en akademies bestudeer.

Joubert se twee kortverhaalbundels, Melk (1980) en Dansmaat (1993), het tot dusver minder aandag gekry. Omdat kortverhaalbundels waarskynlik nooit met die roman sal kan meeding in terme van populariteit, lesersgetalle, produktiwiteit en akademiese aandag nie, wonder ’n mens wat die uitgewer laat besluit het om juis een van Joubert se kortverhaalbundels te herdruk en nie eerder nog een van haar langer prosawerke nie. Hierdie besluit moet waarskynlik beskou word binne die konteks van die posisie van die kortverhaalgenre die afgelope paar jaar. Die herdruk van Melk is dus nie net van belang binne die groter konteks van Elsa Joubert se oeuvre nie, maar ook relevant as ’n mens kyk na die publikasie van kortverhaalbundels die afgelope paar jaar. Daar was ’n aantal interessante debute (meestal voltooi onder mentorskap van gevestigde skrywers in die kader van skryfskole),1 nuwe bundels van gevestigde skrywers,2 en ook ’n paar welkome herdrukke en keure uit die werk van kortverhaalmeesters. Dit sluit in Desember (2007) van Petra Müller (’n keur saamgestel deur Rachelle Greeff); André le Roux se Kom ons sit sommer by die tafel (2008) waarin nuwe verhale en ook al die verhale van Sleep vir jou ’n stoel nader (1987) vervat is; die vier kortverhaalbundels van Koos Prinsloo wat in een band verskyn as Koos Prinsloo Verhale (2008); en heruitgawes van Die Judasbok (2008) van Dalene Matthee wat oorspronklik in 1982 verskyn het en Systap onder die juk (1969; 2011) van Dot Serfontein. Belangrike kultuurhistoriese kortprosa is ook nie afgeskeep nie met die verskyning van Dwaalstories (2006) van Eugène Marais – wat ook saam met sy ander tekste opgeneem word in die tweedelige Eugène Marais: Versamelde werke (2006) onder redaksie van Leon Rousseau – en G.R. von Wielligh se Versamelde Boesmanstories 1 (2009) en Versamelde Boesmanstories 2 (2010). Verlede jaar se hoogtepunte was sekerlik Die behoue huis: ’n Keur uit die kortverhale van Abraham de Vries en Vreemdeling: ’n Keur uit die kortverhale van Welma Odendaal.
 

Hoewel die kortverhaal nie so ’n gewilde vorm as die roman is nie, wil dit voorkom asof uitgewers van Afrikaanse boeke die afgelope jare tog moeite gedoen het om die ryk tradisie van die Afrikaanse kortverhaal in stand te hou, uit te brei en ook ouer werke aan ’n nuwe geslag lesers bekend te stel. Die redes vir hierdie uitgeebesluite is waarskynlik uiteenlopend, maar dit hang ook saam met ’n internasionale oplewing in die kortverhaalgenre.3 Deur Melk binne hierdie tendens en saam met die heruitgawes van werke van gevierde kortverhaalskrywers soos Prinsloo, Odendaal en De Vries te laat verskyn, bied dit die leser – veral ’n nuwe geslag lesers – die geleentheid om Elsa Joubert ook opnuut en in ’n ander genre te beleef: nie net as skrywer van Die swerfjare van Poppie Nongena nie; nie net as romansier of reisverhaalskrywer nie, maar ook as een van die voorste kortverhaalskrywers in Afrikaans.

Melk

Toe Melk oorspronklik in 1980 verskyn het, het postkoloniale benaderings nog nie werklik neerslag gevind nie en soos baie ander boeke wat apartheid, Afrikanernasionalisme en verdrukking krities ondersoek het, is die bundel gou as “betrokke” en “aktualiteitsprosa” geklassifiseer. Sedertdien het daar ’n groot aantal studies, internasionaal en plaaslik, oor postkoloniale letterkunde verskyn en is daar met nuwe oë gekyk na werke van verskeie Afrikaanse skrywers, onder andere ook na Die swerfjare van Poppie Nongena.

Op verskeie wyses ondersoek Joubert in hierdie bundel die implikasies van magsverhoudings wat voortvloei uit imperiale en koloniale stelsels. Dit wissel van ’n ommekeer van politiese stelsels en gepaardgaande geweld (“Melk” en “Eetmaal”), die impak van apartheid op menslike interaksie (“Die sendeling se dood” en “‘Beyondness’ in parke”) en op die maghebber se identiteit (“Bloed”, “Kaap” en “Agterplaas”) tot die sosio-politieke implikasies van apartheid op die gesin (“Eli”). Terselfdertyd is daar in ’n paar van hierdie verhale ’n sterk gendergeöriënteerde bewustheid wat hierdie magsverhoudings kompliseer – ’n tema wat dikwels in Joubert se werk voorkom, maar miskien die duidelikste in Die swerfjare van Poppie Nongena, ’n Wonderlike geweld en Die reise van Isobelle na vore tree.

In die titelverhaal, byvoorbeeld, word ’n Portugese vrou herhaaldelik verkrag wanneer sy met haar man en kinders uit Angola na Suid-Afrika vlug en sy word swanger. Haar groeiende twyfel oor die vaderskap van die kind word treffend oor ’n tydperk van vier dae na die geboorte geskets. Sy is verlig om “haar ander babas in vel en gelaatstrek” in die pasgebore seun te herken (9) en tweede dag oortuig sy nog haarself dat ’n pasgebore baba se gelaatstrekke nog nie klaar gevorm is nie: “Die neusie was ook anders, maar nie veel nie, en watter baba se neusie is klaar gevorm?” (10). Na die geboorte neem die kind besit van haar liggaam wat in die beskrywing aan geweld herinner: sy het gevoel hoe die “moedervog wat die kind nog deel maak van die moederlyf uitsyg, pynlik uitgewring word uit die nog onwennige tepel” en die kind se “vingers klou aan haar bors vas dat die vleis opgehewe tussen die vingers uitbol” (10). Uiteindelik versmoor sy die kind wanneer sy besef dat die kind nie dié van haar man is nie, maar van “die man wat haar uit die voorste sitplek van die motor gesleep het, terwyl haar man sit met die loop van die rewolwer teen sy slaap” (12).

Die krag van hierdie verhaal, wat jammer genoeg nie aandag gekry het toe die bundel oorspronklik verskyn het nie, lê vir my in die kontrastering van die man en die vrou se ervarings van die traumas van verkragting en ontheemding. Die aand na die verkragting is dit die vrou wat haar man vertroos:

Met trane wat oor sy wange loop, het sy hande oor haar liggaam gegaan. Sy het haar hare met die grys strepe daarin van haar voorkop af weggevee en sag met hom gepraat: Probeer vrede maak daarmee. Dis verby.

Hy het in haar geskeurde liggaam ingegaan soos ’n man ingaan by sy huis ná ’n brand geblus is. (8).

Sy is egter die een wat met die materiële gevolge van die verkragting moet saamleef terwyl haar man en kinders begin om ’n nuwe lewe in Suid-Afrika te bou: “So lank sy kon, het sy dit verberg, hier in die nuwe huisie in die nuwe aanleg, in die nuwe land. Soggens wanneer die kinders na die nuwe skool vertrek het, die man na die nuwe werk, het sy haar aan die mislikheid oorgegee.” (9) Teen die tyd dat die kind gebore is, het die man kennelik al die trauma verwerk en in die nuwe land begin aanpas:

Sy was bly om sy selfversekerdheid te sien. Sy het gedink aan die nag toe hy oor haar wonde getas het, toe sy lyf vol skuld teen haar ingestoot het, toe die trane by sy wange afgeloop het.
Nou was sy wange skoon en sy hande het stil op die deken van die bed gerus, af en toe haar hand in syne geneem. Hy het vir haar blomme gebring. (11)

Die man se voltrekte rouproses word in die slot van die verhaal gekontrasteer met Maria da Silva se voortgesette trauma:

Daar loop trane oor die wange van die vrou wat op die bed lê, die wit deken oor die geswolle borste opgetrek tot teen haar ken. Die trane kom saam in die hoeke van haar oë, nie mooi oë nie, want daar is kringe om en hulle is oud en moeg en in haar hare is daar strepe grys. Hulle kom in die hoeke saam en loop in strepe oor die wange. Sy vee dit nie af nie.

Haar arms lê breed en bruin en bonkig oor die deken. Die haarwrong met die streep wit daarin lê aan haar linkersy. Dit lê soos ’n dooie donker dier langs haar (13).

Hierdie tema van ongelyke magsverhoudings tussen mans en vroue in ’n postkoloniale situasie kom dikwels voor in Joubert se oeuvre.4 Geweld, die ommekeer in politiese stelsels en die impak daarvan op die gesin word ook in “Eetmaal” ondersoek, ’n apokaliptiese verhaal wat aan Karel Schoeman se Na die geliefde land herinner en ook aansluit by Joubert se kortverhaal “Volkstaat” wat in Dansmaat (1993) verskyn het. ’n Vrou bly in slegs twee kamers van haar huis na “daardie opstandsnag” (99) terwyl die res van die huis ingeneem is deur mense wat op mekaar skreeu “in daardie swart taal wat sy nie ken nie” (100). Met beperkte middele probeer sy ’n eetmaal soos van ouds vir haar twee seuns en susterskind (wat in die nuwe regime handearbeid verrig) voorberei. Die hoogtepunt van die maaltyd is ’n “doekpoeding van donkerbruin deeg, koeëlrond, klam, met korente wat soos kroesies daarin steek” (107), wat vir die vier tafelgenote ’n simbool van hulle onderdrukkers word. Die “slag” van die poeding word dan die enigste vorm van verset wat hulle hulself kan veroorloof: “Hulle eet gulsig, nie uit hongerte nie, maar uit drif … Hulle stoot deur die lag hulle borde na vore en sê: ‘Nog. Nog. Ons slag hom.’” (107). Hierdie simboliese daad van verset gaan by die vrou oor in ’n aktiewe verset wanneer haar kinders weg is en die een onderdrukker haar ondervra: “Met ’n laaste wilsinspanning, voor sy praat, spoeg sy ’n mondvol speeksel en deeg en korente in sy gesig” (109). In die subtiele genderbemoeienis wat hier na vore tree, word die sterk vrou met haar seuns gekontrasteer. Sy is die een met ’n “slinkse taaiheid” (99), terwyl haar twee seuns selfbejammerend hulle bevoorregte jeug onthou. Die redes vir “daardie opstandsnag” word nooit uitgespel nie, maar die seuns se herinnering aan die verlede en die bevoorregte middelklasbestaan wat daarmee gepaard gegaan het, suggereer ’n situasie soortgelyk aan wit bevoorregting tydens apartheid.

Die gegewe van hierdie twee verhale – die Portugese setlaars se vlugtog uit Angola in “Melk” en die apokaliptiese toekomsperspektief op wat moontlik Suid-Afrika kon wees in “Eetmaal” – is deel van Joubert se groter projek om medemenslikheid in ’n multikulturele Suid-Afrika te ondersoek, soos ’n onderhoud met Joubert in Fair Lady na die verskyning van Die swerfjare van Poppie Nongena aandui: Elsa Joubert watched carload upon carload of Angolan refugees arriving at emergency tent towns … three years ago; people frightened as animals, fleeing before anarchy. She thought: this will happen to us, too. It suddenly seemed inevitable … and she said to herself: we must learn to understand each other in South Africa and accept each other as co-citizens before it is too late.5

In ’n aantal verhale ondersoek Joubert dan ook die impak van rassespanning op die Suid-Afrikaanse samelewing tydens apartheid. In “Die sendeling se dood” wentel die sentrale spanning om die feit dat die wit gemeente waaraan die afgetrede sendeling behoort het, weier om vir die begrafnis ruimte in die kerk af te staan aan die sendinggemeente waar hy al die jare gewerk het. Die dominee se vrou wend haar dan tot die bruin gemeente “oorkant die rivier” (56), wat op hulle beurt ook weier om aan die wit gemeente ruimte af te staan. Hoewel “Die sendeling se dood” een van die gewildste verhale in Melk is, is dit na my smaak effe te didakties in die hantering van die tematiek. Dit veroorsaak ’n aantal probleme rakende die geloofwaardigheid van die karakters en die verhaal sou kon baat by ’n meer subtiele slot. In “‘Beyondness’ in parke” word die tema van kommunikasie oor ras- en kultuurgrense op ’n ligter manier hanteer wanneer ’n meisie bewus raak van haar onvermoë om ’n Indiërseun te leer ken of selfs net raak te sien. Die satiriese toon maak die simboliek meer verteerbaar, maar die verskillende elemente ontwikkel nie tot ’n oortuigende geheel nie.

Veel meer geslaagd is die verhale wat wentel rondom die impak van multikulturele kontak op die maghebber se identiteit, soos “Kaap”, “Agterplaas” en “Bloed”. Veral laasgenoemde verhaal toon heelwat skakels met Joubert se reisverhale in die hantering van Hester se konfrontasie met die postkoloniale ander tydens ’n reis in ’n vreemde landskap. In postkoloniale teorie word die gekoloniseerde subjek as “ander” geëien deur diskoerse soos primitiwiteit om die binêre onderskeid tussen kolonis en gekoloniseerde te handhaaf.6 Hester se indruk van die mense in die reservaat getuig van hierdie koloniale ingesteldheid en vir haar is hulle nou verbonde met die natuur: “Net ’n beweging van ’n arm of hand wat ’n vlieg wegklap, of die stywer bind van ’n doek wat ’n kind op die rug hou, verraai hulle teenwoordigheid, laat hulle loskom uit die donker van die skaduwee, breek die verbintenis tussen hulle en die grond. So onbeweeglik is hulle, so vergroeid met die skaduwee, dat die katoenklere wat om hulle gebind is, los van hulle voorkom” (p. 28).

In die dag wat hulle by die boshospitaal vertoef, gaan Hester deur ’n proses waartydens die afstand tussen haar as Westerse vreemdeling en die mense en die ruimte kleiner word. Sy word gekonfronteer met sluimerende seksuele ondertone in die besoek aan ’n sterwende swart man. Wanneer sy later die dag vir hom moet bloed skenk, getuig haar onwilligheid en selfs vrees van die gebrek aan mededoë vir ’n ander persoon. Dit is eers wanneer sy langs hom lê en bloed skenk dat sy hom as medemens kan beleef: “Sy hoor die gesteun van die swart man naby haar. Sy voel die swaar intrek van asem en dan die verslapping waarmee die kreun uitgepers word. Sy voel hoedat haar bors daarmee saam op en af beweeg. Sy probeer haar verset daarteen, maar sy swaar asemhaling wat uitloop op ’n gesteun, het verenig met die asemhaling in haar bors, trek die asem uit haar longe met hom mee” (p. 37). In die slot van die verhaal word die proses voltrek wanneer Hester haar met die oerbos en ook met die ander mense in die reservaat identifiseer. Ten spyte van die tema van menslikheid oor ras- en kultuurgrense is hier ook sprake van ’n koloniale ingesteldheid wat veral gemoeid is met die eksotiese “ander”, tuis in die natuur en juis deel van hierdie “oerbos”. Hierdie aanwesigheid van beide koloniale en postkoloniale elemente kom ook voor in die res van Joubert se oeuvre.7

Joubert ondersoek verder die impak van menslike interaksie oor grense heen in drie verhale waarin bediendes ’n prominente rol speel: “Agterplaas”, “Kaap” en “Die bouer”. Daar is al heelwat navorsing gedoen oor die uitbeelding van swart arbeid in die Suid-Afrikaanse prosa en ook spesifiek oor bediendes. In die ouer Afrikaanse letterkunde is swart arbeiders dikwels as komiese stereotipes, gedienstige aanhangers of kinderlike afhanklikes uitgebeeld en word hulle selde karakters in eie reg.8 Binne hierdie konteks is bediendes ook dikwels ’n afwesige stilte, met Die swerfjare van Poppie Nongena as een van die min uitsonderings.9 Hierdie “stilte” in die uitbeelding van bediendes vorm ook ’n integrale deel van die werkgewer-werknemer-verhouding, soos Margaret Lenta opsom:

[T]he mutual “knowing” which occurs between employer and servant is of a particular kind which involves as much – perhaps more – wilful ignorance as knowledge. The intimate knowledge which the employee has of the employer’s private life is something which she is required to conceal, while the employer, though she admits her employee into her home, must deny her the status of a family member and usually refuses or neglects to find out about her life and obligations elsewhere.10

Binne hierdie konteks kan “Agterplaas” gelees word as ’n tipe terugskrywing teen hierdie stilte. In ’n sikliese verhaalverloop vertel ’n wit vrou hoe haar “lewe beweeg op die periferie van ’n bestaansvlak wat ek nie ken nie” (79), met die verteller wat bewus is van die stilte tussen die twee vroue: “Sy is nader aan my as ’n suster, ken my intieme lewe op ’n dieper vlak as wat ’n suster my sou ken. Maar ek ken haar nie” (79). Die verteller doen self mee aan die proses om ’n afstand tussen haar en haar bediende te bewerkstellig; die kamer in die agterplaas is “afgepen” en sy plant struike om die agterkamer te verberg. Tog besef die verteller dat sy afhanklik is van haar bediende, nie net om die huis netjies te hou nie, maar ook om die verteller se huis ’n lewendige ruimte te maak – en dit is dus ook ’n selfgesentreerde ervaring van hierdie gedeelde lewe: “Sonder dié lewe is ek soos ’n liggaam wat nie skaduwee maak nie, is my werf, my huis vir my verlate, dwaal ek deur my huis, verlep die blomme in my vase en gee die spieël teen die mure vir my ’n dowwe beeld terug” (p. 80).

Stelselmatig leer die verteller deur haar interaksie met haar bediendes meer oor hierdie bestaansvlak: “En somtyds, in die intimiteit van my voortuin waar ek blomme natspuit, groet ek dié wat wegsluip, en hulle groet my. En hulle kry vertroue en hulle waag dit uit hulle donker wêreld en kom my wêreld binne en sê, met oë wat knipper teen die lig: Help my” (81).

Soos sy die agterplaasgemeenskap leer ken, gaan haar oë ook oop van die probleme waarmee hulle te kampe het en wat veral in Die swerfjare van Poppie Nongena aangespreek word. Flora en haar broer kom soek hulp dat hy nie weggestuur moet word vir dwangarbeid weens ’n verkeerde pas nie: “Hy lag omdat hy geslaan moet word, met die handvatsel van die graaf. Sy dik, oopgebarste lippe trek oop sodat die sagte rooi vleis binnekant wys en die geel wortels van sy groot ry tande. Hy lag en skud sy kop vir sy eie domheid” (82). Hierdie beeld herinner aan soortgelyke stereotiepe beelde in die ouer prosa, maar eerder as om ’n blote herhaling van koloniale persepsies van die komiese of kinderlike werker te wees, word hierdie beeld ironies aangewend. Sy probleme met sy pas is nie as gevolg van nalatigheid of luiheid of domheid nie, maar ’n gevolg van die stelsel: hy kan nie lees nie (83).

Net so is daar Flora se oom, wat die verteller vra om in te gryp sodat sy kleinkind Kaap toe kan kom al het sy nie ’n pas nie. Maar ook haar papiere is nie reg nie, want sy het twee verskillende name Nhlanda Rhoda en Patience, ’n probleem wat die verteller vroeg reeds identifiseer as een van die redes waarom sy op die “periferie van ’n bestaansvlak” beweeg: “Selfs die naam waarop ek haar aanspreek, is ’n gebruiksnaam, is na willekeur gekies, het nie die binne-verbintenis met haar wat mý naam met mý het nie. Haar eie naam word my nie verstrek nie; my tong sou dit nie kon hanteer nie” (79). En daar is Rosy wat drink omdat haar kind moet hang, en nog ander, en later Nhlanda, Patience, wat sonder pas gekom het en swanger is. Die kind bied hoop vir vroulike solidariteit oor ras- en klasgrense met die verteller, haar skoonmoeder en dogters wat bereid is om te help: “Ons sal die kind wegsteek as hulle hom soek. Ons sal die kind stilmaak met melk as hy skree. Ons sal hom klere aantrek as hy koud kry en ons sal hom was as hy vuil is” (91). Maar oplaas bly die kloof tussen die twee wêrelde te groot. Selfs wanneer “wilful ignorance” afgebreek word, is die ruimte wat die agterplaas skep nie voldoende om werklike begrip en hulp toe te laat nie.

In “Kaap” het die Volksraadlid se interaksie met sy bediende meer tasbare gevolge wanneer hy haar as mens leer ken. Adija en haar dogter met die Ierse grootjie en rooi hare is die katalisator vir die Volksraadlid se nuwe beskouing van bruin mense. Die gemoedelike, patroniserende verhoudings met bruin mense wat die Volksraadlid voorheen geken het, elke keer wanneer hy vir “ou Moos” gaan kuier “om ’n stukkie twak in sy hand te gaan druk” (65) word onmoontlik gemaak wanneer hy Adija leer ken en leer van die probleme waarmee haar kind met die rooi hare te kampe het. Ook hier is die seksuele ondertone opvallend in sy ervaring van Adija as die eksotiese ander: “Vir eers was daar haar naam, Adija. Dit het swaar oor die tong gekom as hy haar moes roep of iets moes vra, veel swaarder as die Mietjie of Lena of Klaartjie waaraan hy gewoon was. Adija. Dit was … hoe durf hy dit sê … die naam van ’n vrou, ’n misterieuse vrou. Somtyds het hy hom betrap dat hy die naam onhoorbaar herhaal, asof hy wil proe daaraan, gewoond wil word daaraan” (67).

Ook die Volksraadlid se vrou beskou Adija nie meer as ’n bediende nie, maar as ’n gelyke: “En sy vrou het geleidelik in die gewoonte gekom om met Adija te gesels. Met ’n ander stem as met die vroue by die huis. Meer soos … soos met Johanna. Maar dit mag hy nie sê nie, want Johanna is sy vrou se suster” (68). In die proses word die bruin gemeenskap vir hom mense van vlees en bloed en is hulle nie meer bloot die identiteitlose werkers op die periferie van sy bestaan nie. Uiteindelik kulmineer hierdie insig in ’n fragmentering van die Volksraadlid se persoonlikheid met net Adija wat oomblikke van troos kan bied.

In “Die bouer” is dit uiteindelik ook die bediende wat die rol van trooster en versorger vervul wanneer die bouer na aanleiding van ’n ongeluk sy skuld van die verlede onthou. Hierdie verhaal en “Kafee” het wel nie dieselfde trefkrag as van die ander verhale nie, maar help tog om die deurlopende motief van erotiek as lewegewende drif verder te deurgrond. ’n Ander hoogtepunt in Melk is gewis “Eli”, wat met erotiese ondertone ’n Oedipusverhaal in ’n Suid-Afrikaanse konteks van geweld en armoede word. Die psigologiese ontwikkeling van die kind word in die kort bestek van hierdie verhaal oortuigend uitgebeeld en word veral versterk deur die sober toon en die besonder sterk slot.

Hoe is Melk relevant vir ’n hedendaagse gehoor?

Vir gevestigde lesers van Elsa Joubert se werk bied die herverskyning van Melk ’n geleentheid om die bundel binne die res van Joubert se oeuvre te lees. Dit is byvoorbeeld baie interessant om te sien hoe merkwaardig die beskrywings in “Bloed” met die beskrywing van ’n rit in Natal in ’n Wonderlike geweld (275-279) ooreenstem en hoe Joubert se ervarings van die “oerbos” ook in die res van haar oeuvre neerslag vind. “Beyondness” eggo ook die sentrale kwessies van die eksotiese ander en die impak daarvan op ’n mens se identiteit soos Hussein in Die reise van Isobelle en Mahmoed in Reisiger ’n belangrike proses van selfondersoek by die vroue aan die gang sit. Ook die wyses waarop “Agterplaas” die kwessie van verhoudings tussen wit en swart vroue tydens apartheid wat in Die swerfjare van Poppie Nongena aan bod kom vanuit ’n ander perspektief benader is insiggewend, en ook hoe dit saam met “Eli” en “Telefoon” uit Dansmaat ’n betekenisketting vorm.

Toe Melk oorspronklik in 1980 verskyn het, was dit binne ’n heel ander sosio-politiese konteks.’n Skeptiese leser sou ook kon vra hoe hierdie verhaalbundel meer as dertig jaar later gelees moet word met hierdie betrokkenheid in gedagte. Is Melk bloot deel van die literêre “geheue”, ’n rekord van ’n literêre bemoeienis met ’n geskiedenis wat bepaald verby is, soos die burgeroorlog in Angola wat in “Melk” aan bod kom of die rasseskeiding van “Die sendeling se dood”? Of is Melk nog steeds aktueel? Vir my is baie van die boustof van Melk steeds relevant. Of ’n jong leser nou spesifiek kennis dra van die situasie in Angola in die sewentigerjare of nie, die temas van verkragting, kindermoord en vadermoord in “Melk” en “Eli” bly aktueel, al is dit binne ’n ander konteks van MIV/Vigs, gesinsgeweld en armoede. Selfs verhale soos “Die sendeling se dood” resoneer ironies met onlangse nuusgebeure soos die polemiek rondom die Belhar-belydenis.

Die herverskyning van Melk binne die konteks van die huidige belangstelling in die kortverhaalgenre is ’n geleentheid om Elsa Joubert ook as kortverhaalskrywer te herwaardeer en te sien hoe sy aansluit by die werk van voorste Afrikaanse kortverhaalskrywers sedert die sewentigerjare wat betref die ondermyning van ’n aantal magstrukture. Die geweld wat in Melk aangetref word, word toenemend in die tagtigerjare oopgeskryf in wat Joubert “grensliteratuur” genoem het,11 terwyl sy ook hiermee ’n vroeë bydrae lewer tot die verskeidenheid van vrouestemme in die Afrikaanse kortprosa wat in die negentigerjare ’n hoogtepunt bereik. Dit is ’n welkome bundel vir lesers van aktuele prosa, kortverhale en Elsa Joubert.

Elsa Joubert se toespraak tydens die bekendstelling van Reisiger in 2009. Video verskaf deur NB Uitgewers.

Bibliografie

Ashcroft, B., Griffiths, G. en Tiffin, H. 2007. Post-colonial studies: The key concepts. Oxon: Routledge.

Clayton, C. (red.). 1989. Women and writing in South Africa: A critical anthology. Marshalltown: Heinemann.

Cox, A. 2011. Introduction. In Cox (red.) 2011.

Cox, A. (red.). 2011. Teaching the short story. Hampshire: Palgrave Macmillan.

Gerwel, G.J. 1988. Literatuur en apartheid: konsepsies van “gekleurdes” in die Afrikaanse roman tot 1948. Kasselsvlei: Kampen.

Ibáñez, J.R., Fernández, J.F. en Breyones, C.M. (red.). 2007. Contemporary debates on the short story. Bern: Peter Lang.

Jansen, E. 2005. “Ek het maar net saam met die miesies gebly.” Die representasie van vrouebediendes in die Suid-Afrikaanse letterkunde: ’n steekproef. Stilet, 17(1):102-133.

Lenta, M. 1989. Intimate knowledge and wilful ignorance: white employers and black employees in South African fiction. In Clayton (red.) 1989.

Maunder, A. 2007. The Facts on File Companion to the British Short Story. New York: Facts on File.

Smuts, D. Portraying Poppie. Fair Lady, 11 April 1979, p. 93.

Van der Spuy, A. en Van Vuuren, H. 2007. Elsa Joubert as postkoloniale skrywer: ’n herwaardering, Stilet 19(1):115-132.

Van Heerden, E. 1989. 80: Die onwillige dekade. Stilet, 1(1):3-5.


1 Soos Op ’n plaas in Afrika (2007) van Helena Gunter (in 2011 opgevolg met Met koffer en kaart), Die dag toe ek my hare losgemaak het (2008) van Willemien Brümmer, Maal (2010) van Nicole Jaekel Strauss, Op reis met ’n hond (2010) van Anna Kemp en onlangs ook Alfabet van die voëls (2011) van S.J. Naudé.

2 Byvoorbeeld Palazzo van die laaste dans (2006) van Rachelle Greeff, ’n Vreemdeling op deurtog (2007) en Die huis van die digter en ander liefdesverhale (2009) van Hennie Aucamp, Newelig (2007) en Bloujare se stories (2007) van George Weideman, Glas (2007) van J.M. Gilfillan, Die wind staan oos (2007) van E. Kotze, Alle paaie lei deur die strand (2008) van Corlia Fourie, In die mond van die wolf (2008) van Paul C. Venter, Landskap met diere (2009) van Welma Odendaal, Katvoet (2009) van Riana Scheepers, Verbeel jou dis somer (2009) van Abraham de Vries, Oulap se blou (2009) van Chris Barnard, Skrywersblok (2009) van Jaco Fouché, Plante kan praat (2010) van Jeanne Goosen, Kruispunt (2010) van P.J. Haasbroek en Die sneeuslaper (2010) van Marlene van Niekerk.

3 Sien byvoorbeeld Maunder 2007:vi; Ibáñez, Fernández en Breyones 2007; en Cox 2011 vir beskouings oor die oplewing van die kortverhaalgenre as internasionale fenomeen.

4 Sien Van der Spuy en Van Vuuren 2007:120.

5 Smuts 1979:93.

6 Ashcroft, Griffiths en Tiffin 2007:154-155.

7 Sien Van der Spuy en Van Vuuren 2007.

8 Gerwel 1988.

9 Ena Jansen (2005:107) noem in hierdie verband: “Poppie het weliswaar een van die mees geartikuleerde stemme van swart vroue in die Afrikaanse literatuur, maar die vorm van die boek bepaal duidelik dat sy die stem kry danksy die indrukwekkende orkestrasie van ‘oral history’-onderhoude deur Elsa Joubert en danksy die gesofistikeerde romanskryfster se onmisbare intermediêre rol om Poppie hoegenaamd hoorbaar te gemaak het.

10 Lenta 1989:238.

11 Van Heerden 1989:4.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top