
Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat
Anemari Jansen
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624070276
Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat (2015, Tafelberg) lê al lank op my bedkassie, voorblad diskreet na onder gedraai – so asof ek by voorbaat iets probeer wegsteek en vermy – voor ek dit optel en begin lees. Ek koester onbewustelik ’n onheilige vrees dat dit my weer sal dompel in die era van die Bosoorlog (1966 tot 1989), waaroor ek ’n 26-episode-reeks vir M-Net vervaardig en geredigeer het. Die skrywer van Sluipmoordenaar van die staat, Anemari Jansen, skryf tereg dat dié era verdoesel is in “’n newelwêreld waarin die definisie van reg en verkeerd vervaag het”. Ondersoek jy hierdie era met toegewyde fokus, kan die emosionele skrapnel wat in jou psige agterbly, dalk selfs metaalverklikkers tydens roetineondersoeke by lughawens laat skel.
Jansen verleen ’n intense blik op “Prime Evil” se loopbaan by die “berugte polisie-eenheid, Koevoet” en daarna as “ysterhand by die polisie se Vlakplaas moordbende”. In 306 bladsye lê daar sekerlik stof tot nadenke vir elke Suid-Afrikaner. Jansen skryf immers: “Uiteindelik moet en het Eugene pa gestaan vir al sy keuses. Maar was hy alleen verantwoordelik daarvoor? Is hy die enigste een wat hierdie las moet dra? In watter mate is sy seniors en politieke hoofde medeverantwoordelik? Moes iemand help keer het?”
Die plofbaarheid van historiese gegewens rondom die agente van apartheid is nog vars in die geheue na die media storm wat om Alistair Sparks gewoed het as gevolg van sy onderdeurdagte “positiewe” verwysing na Hendrik Verwoerd. Terwyl Jansen die historiese gegewe van De Kock se verhaal opdiep en laat herleef, slaag sy egter in dié verband om ’n fyn balans te handhaaf (aanvanklik met naïewe grasie) sonder om van De Kock ’n held te probeer maak. In die proses kry sy dit ook reg om haar “ongeleefde lewe” te herdefinieer.

Laat 2005 besoek ek Chicago, min wetende dat die besoek maar net die inleiding sou wees tot ’n groter tema wat my lewe vir vyf jaar sou oorskadu, toe ek verskeie onderhoude met oorlogveterane van die Grensoorlog sou doen. Die reeks is later as Bush War in Engels vertaal en vertoon – ’n indringende blik op die tyd toe elke boetie moes “border” toe om die landsgrense van Suid-Afrika se vyfde provinsie, Suidwes-Afrika, vandag Namibië, te verdedig.
Voor die reeks sou afskop, en op die vliegtuig onderweg na die VSA, lees ek Robert Pape se boek Dying to Win, the Strategic Logic of Suicide Terrorism – ter voorbereiding vir ’n onderhoud met die bekende medeprofessor van politieke wetenskap aan die Universiteit van Chicago. Die onderhoud is bestem vir M-Net se Carte Blanche.
Terwyl ek nou en dan opkyk na die skouspel van sag-wit wolke wat verby my venster skuif en my daarna weer verdiep in die boek, word daar terselfdertyd ’n ander soort venstertjie in my kop oopgemaak, genaamd “perspektief”. Gereken as een van die voorste kenners van “suicide bombers” in ons hedendaagse konteks, is een van die akademikus Pape se gevolgtrekkings vir my op daardie stadium stof tot nadenke: “Every suicide terrorist campaign has had a clear goal, that is secular and political: to compel a modern democracy to withdraw military forces from the territory that the terrorists view as their homeland.”
Twee jaar later sou ek dikwels aan die aanhaling (wat die verskynsel van selfmoordbomaanvalle anderkant Islamitiese fundamentalisme gaan soek het) terugdink. Dit terwyl ek besig is met onderhoude met vryheidsvegters (destyds bekend as terroriste) in Namibië. In die bosoorlog-era is al hul aksies onder die vaandel van die “kommunistiese gevaar” verdoem.

*****
In 1950 was feitlik die hele Afrika nog tussen Europese magte verdeel. Oor die volgende twee dekades het die prentjie dramaties verander. Waar die koloniale heersers wou briek aandraai teen vryheidsbewegings, was die reaksie van die plaaslike bevolking een van opstand.
In die middel-sestigs groei Plan, Swapo se gewapende vleuel, met talle vrywilligers wat anderkant die grens en oorsee militêre opleiding ondergaan om die Suid-Afrikaanse juk af te gooi en vir die onafhanklikheid van hul tuisland te veg.
Die gees wat toe in Namibië en Suid-Afrika geheers het, was, ironies genoeg, so oud soos die mensdom, wat dikwels in tydperke van insurgensie-oorloë moes oorlewe. Julius Caesar (100–44 vC) verwoord dit so: “There is no fate worse than being continuously under guard, for it means you are always afraid.” (The Concise 33 Strategies of War)
In die Suider-Afrikaanse konteks was dit ongetwyfeld waar vir beide kante van die politieke spektrum.
In Suid-Afrika moes alle blanke mans tussen 18 en 55 jaar oud vanaf Januarie 1968 verpligte militêre opleiding en diens ondergaan. Hierdie eenjaar-dienstydperk is gou tot twee jaar verleng, met daaropvolgende kampe. Weiering om diensplig te doen het ses jaar tronkstraf beteken. “Geen keuse” was die wagwoord. En om insurgente te stuit was die opgelegde taak van die troepies. Nietemin was spesialis-teeninsurgensie-eenhede soos 32 Bataljon, 101 Bataljon, die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se Valskermeenheid en Spesiale Magte en die SAP se Koevoet (en in die 1980’s die manne van 61 Gemeganiseerde Brigade in Angola) deurlopend aan die skerpkant.
In dieselfde jaar toe diensplig verpligtend word, word De Kock, as lid van die SAP, na Rhodesië gestuur vir sy eerste teeninsurgensiekursus. Hy was een van talle jong manne wat hom tuis in die militêre idioom gevoel het. Hy tree aanvanklik toe as ’n klein onbenullige spelertjie in ’n groter geheel, deel van ’n oorlog binne-in ’n oorlog. Eugene se bykanse verslawing aan “diep en donker geheime” van aksie en adrenalien begin vroeg-vroeg.
Asook sy passie om insurgente te stuit.
Jansen gaan haal die storie van hierdie “komplekse individu” by sy vormingsjare – en laat geen steen onaangeroer (deur onderhoude met naasbestaandes en ander tydgenote) om ’n treffende beeld te skets van ’n man wat, ironies genoeg, na die skrywer Eugene Marais vernoem is nie, maar altyd soldaat wou word. Reeds as kind was sy drang altyd na die swaard, nie die pen nie.
Jansen breek deur die skulp van die tydskonteks wat hom as kind omhul – in breë trekke skets sy die era wat haar ook as mens gevorm het: ’n era van “God, die volk, patriargie en die Broederbond” wat, soos Max du Preez dit gestel het, “in mekaar se sakke leef”.
Sy onthul ’n onverwags roerende prentjie van ’n kind wat waarskynlik begin hakkel nadat ’n bullebak-onderwyseres hom gedwing het om as linkshandige regs te skryf. So herken hierdie “sondebok” die verniel van ander mense in liggaam en gees in die naam van die ideologie van die tyd. Hy self sal uiteindelik bitterlik “verniel” word deur die sisteem wat hom help skep het.
“Niks is eenvoudig waar dit Eugene de Kock aangaan nie,” skryf Jansen in die hoofstuk wat met sy inhegtenisname verband hou. Hy is op 129 aanklagte wat wissel van bedrog tot moord, aangekla. Die omvang van die vergrype van die veiligheidsmagte word deeglik ondersoek, asook De Kock se morele verval van soldaat na laksman. De Kock word geteken as “’n lewende simbool van die afgryse en vergrype van Apartheid”, maar dit is hoe hy as mens agter dié simbool te voorskyn kom wat die boek se sterkpunt is.
Daar is geweldig min ligte oomblikke in die boek. Ek glimlag ten minste een keer toe ek lees dat De Kock beplan het om eendag ’n Nataniël-vertoning by te woon.
Wêrelde verwyder van ’n Nataniël-vertoning tree De Kock as ’n geskikte kandidaat na vore om teen die laat 1970’s te help om “’n oplossing te vind vir Swapo se toenemende bedreiging in Ovamboland”. Operasie K (Koevoet) neem in 1979 ’n aanvang en word die kodenaam vir die Suidwes-Afrika Polisie se teeninsurgensie-eenheid.
Ek het sommer gou-gou in my Bosoorlogprojek vasgestel dat militêre eenhede van die destydse SAW hul neus opgetrek het vir Koevoet (min wetende dat hierdie snobisme, wat net so wel wedywering kon wees) omgekeerd ook van toepassing was. Dat die 3 000 man waaruit Koevoet gewoonlik bestaan het, hoofsaaklik swart was, met ’n aantal wit Suid-Afrikaanse offisiere aan bewind, was vir my nuus. Ek het dus van hierdie voormalige swart soldate opgespoor en aan die gesels geraak.
’n Swart Koevoet met die naam van Moses (wat, soos die meeste ander lede, ’n Ovambo was) het sonder ’n sweem van ironie tydens ’n onderhoud aan my gesê: “… as ons kontak slaan … as die skote klap … en ons skiet terug en almal skiet … dit is wanneer ons dit baie geniet daarso … ons het daai mense geskiet tot hulle daar kom lê het … dan het almal ons mekaar se hande gegroet en so …”
Later sou die hoë selfmoordsyfer onder Koevoetlede vir my duidelik wys hoe hard kontakslaan jou in jou latere jare kon terugslaan – die bruis van adrenalien blyk nie vir ewig te hou nie. Inteendeel. ’n Bekende gewese Koevoet, Francois du Toit, het onlangs aan my bevestig dat twee van sy vier kamerade wat saam met hom in Koevoet gedien het, reeds selfmoord gepleeg het. Daar is vele ander. En dit is Du Toit wat my die eerste kyk gegee het in die Koevoet-fenomeen wat vandag onverstaanbaar is. Hy het aan my gesê: “Dit was soos om Springbokkleure te hê in kontakslaan.”
Koevoet was om verskeie redes hoogs omstrede. Een daarvan was dat hulle per kop (of dooie liggaam) betaal is. Die gewelddadige dood van ’n Namibiër wat tot die gewapende stryd toetree, is met rand en sent ontsmet deur die monetêre goedkeuring van die onderdrukker.

****
Een van die eerste tegnieke wat ek moes aanleer tydens my Bosoorlogdokumentasie, was om myself terug te plaas in ’n ander era. Die tydsgees bly die sleutel in die vertolking van die gegewe wat jou kant toe kom. Konteks dryf alles.
In die proses om terroriste te beveg beken De Kock in Sluipmoordenaar van die staat: “Die ANC is gesien as kommuniste en erger as wilde diere (hulle is gekriminaliseer). In die proses word jy self ook ’n terroris.” De Kock verwoord hiermee die paradoksale dualisme wat ek in dosyne onderhoude teëgekom het.
Daar is geen twyfel nie dat dit korrek is om te sê dat soldate aan beide kante die risiko geloop het om “self gemartel, vermoor of vermink te word”. Wie skiet eerste? Jy moet óf ’n “goeie jagter” word (soos Eugene) óf gejag word.
Mense soos die voormalige Walvisbaaise dokwerker en vryheidsvegter Helao Shityuwete was in 1966 deel van die eerste twee groepe Namibiërs wat (aan die kant van Swapo) tot die stryd oorgegaan het. Ek is net ’n paar jaar daarna in dieselfde land gebore, maar die dobbelsteen het vir my nooit so geval dat ek ’n sneller hoef te getrek het in die naam van ’n ideologie nie. Ek wou met Helao gesprek voer. Bykans vier dekades na my geboorte sou ek dus ’n “terroris” nader om ’n onderhoud aan my toe te staan.
Vir ’n breukdeel van ’n sekonde – toe ek voor sy deur stilhou – word ek weer die bang blonde dogtertjie wat met heldeverering opkyk na die weermagmanne wat uit die militêre basis in my tuisdorp, Walvisbaai, ry om terroriste te gaan keer teen die kaplyn in die noorde. En my hart klop in my keel.
Shityuwete, skrywer van Never Follow the Wolf (1987, Mayibuye Books; outobiografie van ’n vryheidsvegter) ontmoet my informeel in sy woonkamer in Windhoek. Voor my staan ’n man wat aan Mandela herinner: ’n vlymskerp intellek, met kenmerkende grasie en ’n deernisvolle hart. Dit lyk op sy laat leeftyd onmoontlik dat hy ooit ’n wapen sou opgetel en tot geweld sou oorgegaan het in die naam van ’n ideologie. Daar hang ’n buitengewoon groot prent van Robbeneiland teen die muur in sy sitkamer. Ek vra hom daarna en hy kyk na my met ’n onpeilbare uitdrukking in sy oë: “But Linda, why won’t I keep and frame this print, it was after all home for 20 years …” Ek onthou spesifiek dat ek (onkant gevang) sy oë vermy het. Gelukkig het Cookie, sy kwetterende geelgroen budjie, namens my die gesprek voortgesit.
Ek was tot stilte gedwing toe die feite by my insink. Shityuwete is gevange geneem en gemartel. Hy is een van 32 Namibiërs wat onder die “Terrorism Act of 1967” 20 jaar tronkstraf opgelê is. Soos Eugene, betaal hy met baie lewensjare agter slot en grendel vir ’n ideologie waarin hy geglo het. Jansen het De Kock in die tronk besoek. Soos Shityuwete, het De Kock ook die dal van doodskaduwee binnegetree en die gevolge vir die onderskeie individue lê baie naby aan mekaar.
John ya Otto Nankudhu was die bevelvoerder van die eerste groep van ses gewapende vryheidsvegters wat in 1966 die Namibiese grens (oftewel die destydse “kaplyn”) oorgesteek het. Tydens ’n onderhoud met hom voor sy dood (hy is in Junie 2011 oorlede) sien ek ’n dapper man wat veg vir dit waarin hy glo, “with all means at my power”. ’n Man wat duisende kilometer gestap het (van Tanzanië na Namibië), voor hy sy eerste skoot by Omugulugwombashe (ook Ongulumbashe) kon aftrek. Hy het die oorlog, marteling, ’n doodsvonnis en 17 jaar op Robbeneiland oorleef. My kort onderhoud met John ya Otto is die enigste regstreekse dokumentasie van hierdie merkwaardige individu se deelname aan ’n stuk geskiedenis wat die begin van die bloedige stryd gekenmerk het.
Dit is hoekom die perspektiewe wat die boek bied, so waardevol is. Dit omseil of betwyfel nooit die vraag dat De Kock verantwoordelikheid moet aanvaar nie. Ruimte word geskep vir ’n groter inklusiewe gesprek wat onvoltooid is en deel van ons gesamentlike geskiedenis vorm.
Ek het die sielkundige Pumla Gobodo-Madikizela, skrywer van die merkwaardige A Human Being Died That Night (2003; onderhoude met Eugene de Kock) vlugtig besoek tydens my navorsing oor die grensoorlog. Haar ondersteuning was sag-bemoedigend: “What you are doing is important. You have to tell both sides of the story.” Teen daardie tyd was my begroting lankal op en moes ek die reeks befonds deur trouvideo’s te maak. Makliker gesê as gedaan.

Op ’n manier gesels Gobodo-Madikizela en Jansen se boeke met mekaar – ’n swart en wit vrou wat met dieselfde man in die tronk gaan praat – elkeen plaas verskillende perspektiewe op die geskiedenistafel. So skryf Gobodo-Madikizela eenvoudig en treffend:
That one is not confronted with the choices de Kock could have or could not have made, that one was not a member of the privileged class in apartheid South Africa are matters of sheer grace. There is wisdom and insight in what Pulitzer Prize-winner Tina Rosenberg says, that we “who interview and write and judge, we are clear-eyed about the system’s evil … we know how we would have behaved. It is [our] extreme good fortune that we will never face this test.’”
Jansen, weer, vra op ’n stadium aan De Kock om ’n beskrywing van die psige van die argetipe soldaat. Die boek bied geen ware antwoord hierop nie, net vlietende indrukke. Wie is Eugene De Kock? Wie was Eugene de Kock? Wat is die waarheid?
Vandag sien ek ’n man soos Eugene de Kock wat met bloedbevlekte hande uit die bladsye van ’n boek opstaan wat ook op sy manier gesê het: “We shall not submit, we shall hit back by all means in our power.”
Sou ek ook bly sit het vir ’n onderhoud met De Kock soos met die vryheidsvegters?
Of sou ek vir ’n breukdeel van ’n sekonde ’n vrou word wat “gedeprogrammeer” is om met afsku na dieselfde wapendraers te kyk, wat, soos De Kock dit stel, “moes toesien dat wit Suid-Afrika snags veilig kon slaap”? Na aanleiding van haar onderhoude met De Kock stel Gobodo-Madikizela dit so: “He stood for every white man with a whip or torch or gun … and now he was defeated … abandoned.” Daardie klein spelertjie wat toetree tot sy eie verhaal in 1966 – en uiteindelik die ononderhandelbare waarheid van ’n geweerloop verkies – word skielik die simbool van ’n ideologie se vergrype. Sy naam staan in bloed geskryf.
Op soek na die ontwykende waarheid in die kwynende lig van die verlede word boeke soos Jansen s’n ’n uiters belangrik bron van inligting op die tog na versoening, vergifnis en ’n gebalanseerde waarheid. Sun Tzu (544–496 vC) het gesê: “All warfare is based on deception.” Op sy beurt word Hiram Johnson (Amerikaanse politikus, 1866–1945) dikwels aangehaal: “The first casualty, when war comes, is truth.” Johnson is, ironies genoeg, dood op 6 Augustus 1945, die dag toe die Amerikaners die atoombom op Hirosjima laat val het.

****
In enige mens se lewensboek het De Kock ’n hoë prys vir sy sondes te betaal, ’n prys wat selfs tot in ’n volgende generasie sy tol gaan eis. Die onmenslike werklikheid wat De Kock se jare by Koevoet kenmerk, word voortgesit tydens sy tyd by die Vlakplaas-moordbende. Morele skeidslyne vervaag gaandeweg en hy word ’n moordenaar wat, met ’n goedkeurende kopknik van die staat, nog meer bloed op sy hande plaas. Daardie hande het sy twee seuns laas vasgehou toe hulle pikkies was. Hy het sy vrou en seuns in 1994 landuit gestuur voordat hy in 1995 aangekla is.
“The children are not the father. My seuns is onskuldig,” sê hy aan Jansen.
Hoe verstaan en aanvaar jy jou pa as jou pa Eugene de Kock is? Dalk probeer jy verstaan en lees jy ’n boek oor ’n “sluipmoordenaar van die staat” om uit te vind dat jou pa na Johnny Cash luister, dat hy van Kit-Kat-sjokolade hou, dat hy na die gekwetter van voëltjies in die natuur luister, en dat hy altyd sy klere apart van sy familie gewas het om hulle van sy wandade te “vrywaar”. Dalk, net dalk, skraap jy die moed bymekaar om ’n foon op te tel en ’n gesprek te begin.
Want hierdie boek is nie net ’n gesprek en ’n reis tussen ’n skrywer en ’n moordenaar nie. Daar is ’n onvoltooide hoofstuk wat elke Suid-Afrikaner wat die boek lees (en in daardie tydvak gebore is), vir hom- of haarself moet voltooi.
In die tagtigs het hierdie bevrydingstryd oorgespoel vanaf die kaplyn in Namibië na die voorstoep van letterlik alle Suid-Afrikaners. Hier het dinge vir De Kock begin ontspoor. Sy blinkgepoleerde soldatestewels val af en sy opdraggewers sit hom skoueroptrekkend op ’n sneltrein na die hel (dalk was De Kock se opsie op daardie stadium een van twee: moord of selfmoord).
De Kock is uit die Koevoet-eenheid geskuif terug “States” toe, soos Suid-Afrika op daardie stadium binnelands bekend gestaan het onder dienspligtiges wat in “Nam” diens gedoen het.
(Hierdie terme is deur dienspligtiges oorgeneem van Amerikaanse veterane van die Viëtnam-oorlog wat na Viëtnam as “The Nam” en die VSA as “The States” verwys het.) Een van sy oudkollegas openbaar dat De Kock graag flieks oor Viëtnam gekyk het.
Volgens luit-kol Dave Grossman (PhD, voormalige lid van die Amerikaanse Spesiale Magte en skrywer van On Killing: The Psychological Cost of Learning to Kill in War and Society) was Viëtnam:
an American nightmare that has not yet ended for veterans of the war. In the rush to forget the debacle that became our longest war, America found it necessary to conjure up a scapegoat and transferred the heavy burden of blame onto the shoulders of the Vietnam veteran. It has been a crushing weight for them to carry. Rejected by the nation that sent them off to war, the veterans have been plagued with guilt and resentment which has created an identity crisis unknown to veterans of previous wars.
Hierdie aanhaling kon net so van toepassing wees op De Kock se lewensverhaal. Teen die tyd dat hy Koevoet verlaat het, het hy bykans 200 kontakte in die noorde van Namibië oorleef. Ten spyte van die feit dat daar aanbevelings was dat hy nie weer aan gevegsituasies blootgestel moet word nie, verplaas die SAP-owerhede hom na die veiligheidstak. Eugene de Kock sou sy binnelandse aanwending afsluit as bevelvoerder van C1, die SAP se teeninsurgensie-eenheid wat op Vlakplaas gehuisves was. Hy was daar aan diens van Junie 1983 tot 1993.
Tydens die amnestieverhore van die Waarheid-en-Versoeningskommissie staan nóg sy eertydse “brothers in arms”, nóg sy opdraggewers by hom. Jansen skep ’n fel beeld van “verraad” en hoe “vuil” De Kock terselfdertyd gevoel het.
Weer eens is konteks belangrik om die kookpot waarin De Kock hom nou bevind, te verstaan. Adriaan Vlok, minister van wet en orde (1986–1991) het die vlambare binnelandse situasie in die middel-tagtigs so aan my verduidelik:
Toe begin onluste binne Suid-Afrika kop uitsteek. En dit het moeiliker geraak … nou veg jy nie teen die vyand wat in Angola sit nie, jy veg nou teen die vyand wat in Suid-Afrika is … nie regtig ander raad gehad nie … en die polisie moes keer, hulle was te min gewees.
Hier word De Kock en makkers ingespan om die vyand op eie bodem te beveg.
Vanaf Oktober 1984 is ook dienspligtiges op groot skaal binnelands aangewend om die opstande te help blus. Die townships was skielik ’n tweede front.
Ek dink vandag nog met deernis terug aan die verslete leertassie (wat waarskynlik ’n leeftyd se geheime dokumentasie gesien het) wat Vlok by hom gehad het tydens ons onderhoud. Meer insiggewend was hierdie stelling van hom:
As jy by jou kantoor kom, en op jou lessenaar lê bladsye en bladsye verslae van onluste wat verlede nag landswyd plaasgevind het, raak jy so geslaan dat jy dink “wat maak ons nou?” … ons het geglo – dit is die basis waarop ons gewerk het – dat hulle misbruik word deur die kommuniste, hulle word ingespan om die kommunistiese doelwit te verwesenlik in Suid-Afrika. Maar dit het onmeetbaar moeiliker geword, vir ons by die politiek en ook vir die troepies self om binnelands op te tree. Want dit is mede-Suid-Afrikaners.
****
Twee jaar terug besoek ek Rwanda, ten einde (soos baie ander toeriste) die gorillas in noordwes-Rwanda se Volcanoes Nasionale Park te sien. Ek gaan ook besoek aflê by die Kigali Genocide Museum wat gewy is aan die meer as ’n miljoen Rwandese wat gedurende 1994 wreed vermoor is. In laasgenoemde museum word kopbene van die slagoffers uitgestal en grafiese verwysings na hakskene wat afgesny is, vertoon. Die eindtonele van mense wat in putte gegooi is om lewend te sterf, word aangebied. Binne-in my groei daar die “infinite sadness” waarna daar in Jansen se boek verwys word. Dit is wat De Kock beskryf hy in sy ma se oë gesien het toe hy, trots, sy eerste voëltjie geskiet het.
Ek hou ongeveer ’n kwartier in die museum. My medereisiger, ’n man met die gepaste naam van Innocent, is gedurende ons reis deur Rwanda die sonnigheid vanself. Ek en hy drafstap egter letterlik saam uit die museum om weg te kom van die realiteit van Rwanda se donker verlede.
Toe ons uitstap, huil hy soos ’n kind – ook hy het familielede in dié menseslagting afgestaan. “Linda, why do people do this?” vra hy. En oor hom trek ’n wolk van trane, so donker dat ek my arm om die snikkende man sit net en dan vind dat ek self huil. Maar my trane sluit aan by ’n groter verdriet wat in die vier jaar wat ek die Bosoorlogverhale opgeneem het, in my opgedam het.
Dis soms makliker om oor ’n ander land se bloedige geskiedenis te huil as oor jou eie.
Jansen skryf oor haar ervaring tydens die skryf van die boek: “Die dinge wat ek lees en waarvan ek hoor, is uiters ontstellend. Die langdurige blootstelling aan stories van wrede moorde en brutale geweld dompel my in ’n spiraal van depressie.”
In Rwanda vind ek, ironies genoeg, ook ’n heel ander perspektief vanuit ’n onverwagse oord. Ek begin ’n gesprek met George Nkosinati Tswala, Suid-Afrika se ambassadeur in Rwanda, bloot oor die manier waarop hy my kamera se driepoot dra. Ek merk onmiddellik in sy liggaamshouding en die manier waarop hy dit soos ’n wapen oor sy skouer sit, dat hy militêre opleiding ontvang het. Ek vra hom later daarna.
Ons begin ’n fassinerende gesprek wat my terugneem na 16 Junie 1976. Daardie dag het 20 000 studente Soweto se strate ingevaar in protes teen Afrikaans as taal van onderrig. Talle sterf toe die owerhede die protesoptog met geweld onderdruk. Hul slagspreuk: “Liberation before education”.
George Tswala deel met my sy ervaring van die dag en vertel hoe hy daarna deel geword het van wat later bekend sou staan as die June 16 Detachment. Soos baie ander studente sluit hy aan by Umkhonto weSizwe (MK), die ANC se militêre vleuel. Soos Eugene kies ook hy die swaard bo die pen en ontvang militêre opleiding in Oos-Duitsland. Hy was een van dié wat hierdie optogte gereël het: “All we wanted to do was to pick up arms and come and avenge those who died to assist in liberating the country.”
Hy beskryf in besonderhede hoe hy sy eerste AK 47 vasgehou het in Soweto kort voor sy vertrek. “Suddenly to see a Soviet-made gun in SA, in Soweto – the liberation was here!”
Dit is op mense soos Tswala dat De Kock jag gemaak het toe hy in Suid-Afrika werksaam was. In Tswala sien ek weer eens ’n man wat in ’n tydvak beland het wat alles van hom gevra het – en wat swaar dra aan die spoke uit sy verlede. En ek wonder stilweg, soos oor Eugene, wie hy vandag sou gewees het as hy in ’n ander era gebore was. Ek besef dat iemand soos Tswala nog steeds rou oor hy voel sy jeug is by hom gesteel. “Those [June 16] children are now adults of today. They also have children. They did not have a childhood. The trauma continues.”
Teen die tyd dat ek Tswala se hand skud en terugreis, het ek ’n kosbare gespreksreis afgelê. Twee Suid-Afrikaners van verskillende eras en leefwêrelde groet mekaar op die bodem van ’n vreemde land. Ek kan nie sê of ons nader aan verstaan is nie, maar ons het beide ten minste ewe hard probeer luister.
Ek gaan wel terug met ’n nuutgevonde insig dat die 1994 wat die Rwandese gesien het, ’n bloedbad was wat ons oningeligte wit Suid-Afrikaners naelskraap gemis het. Presies hoe lank wil mens saam met Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie van die tagtigs) bly sing: “Sit dit af, sit dit af”? Dit is ons geskiedenis, dit is wat dit is.
“Ek tel nooit weer ’n wapen op nie, nie vir enige land nie,” sê De Kock vandag. Maar deur Jansen se boek word Eugene letterlik weer eens opgeroep om in diens te bly staan van ’n ander stryd wat groter is as hy self, ’n broodnodige proses van versoening en waarheid in die ware sin van die woord. Hy het talle liggame van slagoffers help vind en van aangesig tot aangesig met die moeders van sy slagoffers gestaan om die “infante sadness” in hul oë waar te neem. En in teenstelling met baie het hy nie probeer ontken of weghardloop van die museum van tragedie wat hy help oprig het nie. En behoede diegene (aan beide kante van die kaplyn) wat genoeg beleef en gedoen het en wat nou gedoem is om die rolprent van hierdie grafiese deel van ons geskiedenis te moet terugspeel in hul eie koppe – dag na dag, na dag.


Kommentaar
Linda. Dankie dat jy ruimte skep vir gesprek.
Daar is soveel kere dat jy wens jy kon vroeër iets gesê het ivm met 'n saak wat klaar sy loop geneem het. Eugene was saam met my op skool te HS Voortrekker Boksburg. 'n Stil beskeie vredeliewende vredemaker wanneer daar enige konfrontasie was tussen leerlinge. Wat is dit wat so 'n minsame mens in so 'n absurde onwaarskynlike loopbaan sou dompel? Die feit dat hy stil was het in alle waarskynlikheid te doen gehad daarmee dat hy skaam was oor hy 'n effense hakkel in sy spraak gehad het. Sy optrede, aanvaarding en deurvoer van die loopbaan wat hy gevolg het moes na my mening die gevolg wees van totale breinspeling deur die bevelvoerders bo hom wat later te lafhartig was om saam met hom die skuldlas te dra. Weereens 'n bewys van die integriteit om nie weg te hardloop van die skulderkenning van deelname in die dade asook die berou wat dit tot gevolg het nie. In teenstelling met sy opdraggewers wat hulle rug op hom gedraai het en hom alleen laat kruisig het. Ek lig my hoed vir Eugene wat soos enige vryheidsvegter ook gedoen het wat hy geglo het is reg omdat hy so groot gemaak was en verblind was deur die waansin van sy werkgewers wat hulle idiologie op elke jong Suid Afrikaner van die tyd wat homself beskikbaar gemaak het afgedwing het. Die enigste een wat skuld erken het en sy oë die wat hy benadeel het se oë ontmoet het om te sê hy is jammer. Dit is hoe ek hom geken het op skool.
Linda, 'n Puik weergawe van ons geskiedenis ... Voorspoed en Sterkte.
Goeiemore Linda de Jager,
Ek het verwag om die gebruiklike een bladsy resensie van die boek oor Eugene de Kock te sien en hier lees ek 'n innerlike reis van die mens wat 'n wapen moes opneem ter wille van 'n ideologie. Knap gedoen.
Puik weergawe oor die werklikheid van die verlede!
Die boek van Eugene de Kock het my diep geraak, en soveel van my broer verklaar wat maar 18 jaar oud was toe ’n noodtoestand in Suid Afrika verklaar was. Die polisiekollege het my broer-hulle, voordat hul klaar was met opleiding, in Katlehong en Langa ontplooi. My broer het geweld beleef wat hom sou bybly vir die res van sy lewe. Die totale ontnugtering van die verlede was vir hom doodeenvoudig te veel en het veroorsaak dat hy as ’n dwelmverslaafde lank voor sy tyd gesterf het. Ek kon die boek nie neersit nie, en soos ek gelees het, het die stories wat ek onthou my broer aan my vertel het by my begin spook. Alhoewel hy glad nie alles wat gebeur het bekend gemaak het nie kan ek onthou hoe dit my ontstel het wanneer hy vertel het van ondervragingstegnieke wat deur mede-polisiemanne gebruik is, en hoe hy dit vertel asof dit vir hom ook snaaks was. My broer kon nie met sy eie hartseer en nagmerries saamleef nie, en die gevolg was ’n oorgee aan ’n dwelmhel. Ek is vandag dankbaar dat my seuns nie ooit diensplig hoef te doen nie, en vir vryheid van spraak en pers. Hierdie boek is goed geskryf met begrip en eerlikheid wat tref, hartseer gemeng met pyn en verslaenheid. Dit laat mens besef dat niemand net goed of sleg is nie. En of jy dit wil erken of nie, laat dit jou tog wonder wat jy self onder die selfde omstandighede sou doen?