LitNet Akademies-resensie-essay: Die jongste Perspektief & Profiel – lywig, gewigtig en gesaghebbend

  • 0

penp

1. Inleiding

Op die webtuiste van die uitgewer Van Schaik verskyn die volgende gegewens oor die eerste en tweede uitgawes van Perspektief & Profiel:

Eerste uitgawe: JL van Schaik

PERSPEKTIEF & PROFIEL DEEL 1
Van Coller, HP
Bladsye: 752
ISBN: 9780627023460
Publikasiedatum: 1998
Prys: R429.00
PERSPEKTIEF & PROFIEL DEEL 2
Van Coller, HP
Bladsye:
832
ISBN: 9780627024061
Publikasiedatum: 1998
Prys: R429.00
PERSPEKTIEF & PROFIEL DEEL 3
Van Coller, HP
Bladsye: 543
ISBN: 9780627025914
Publikasiedatum: 2005
Prys: R429.00<

 

Tweede uitgawe: Van Schaik

PERSPEKTIEF & PROFIEL DEEL 1 2/E
Van Coller, HP
Bladsye: 912
ISBN: 9780627031045
Publikasiedatum: 2015
Prys: R429.00
ePub: R386.10
PERSPEKTIEF & PROFIEL DEEL 2 2/E
Van Coller, HP
Bladsye:
1091
ISBN: 9780627031052
Publikasiedatum: 2016
Prys: R509.00
ePub: R458.10
PERSPEKTIEF & PROFIEL DEEL 3 2/E
Van Coller, HP
Bladsye: 1146
ISBN: 9780627031069
Publikasiedatum: 2016
Prys: R549.00
ePub: R494.10

 

Al drie die substansieel bygewerkte dele van die tweede uitgawe van Perspektief & Profiel (hierna P&P) is in die loop van 2015 (Deel 1) en 2016 (Deel 2 en 3) deur Van Schaik Uitgewers in gedrukte sowel as digitale vorm vrygestel. In vergelyking met die eerste uitgawe is die drie boeke van die tweede uitgawe nie net lywiger as gevolg van ’n toevoeging van iets meer as 1 000 bladsye nie, maar ook letterlik en figuurlik gewigtiger.

“Die verskyning van hierdie monumentale werk sou ’n besondere prestasie in enige taal wees, maar in Afrikaans in die huidige (s)t(r)ydperk grens dit aan ’n wonderwerk.”

Die verskyning van hierdie monumentale werk sou ’n besondere prestasie in enige taal wees, maar in Afrikaans in die huidige (s)t(r)ydperk grens dit aan ’n wonderwerk. Publikasies van hierdie aard is nie net uitsonderlik gesien die toenemende eise wat aan akademici gestel word in ’n veranderde en steeds veranderende akademies-politieke omgewing nie, maar ook die ekonomies-remmende faktore waarop uitgewers bedag moet wees speel mee. Die redakteur stel dit reeds ten opsigte van die vorige uitgawe dat ’n kombinasie van verminderde belangstelling in die studie van Afrikaans op tersiêre vlak, gekoppel aan geldtekorte by onderwysdepartemente en staatsbiblioteke, “’n heruitgawe van Perspektief en Profiel onwaarskynlik [maak]” (Woord vooraf, Deel 2, 1999:x), maar dat die moontlikheid van toekomstige aanvullings op CD-ROM wel ondersoek sal word.1 ’n Dekade na die verskyning van die laaste deel van die eerste uitgawe (Deel 3, 2005) vermag die uitgewer en borge nogtans die bykans onmoontlike om ’n publikasie van hierdie aard en omvang óók in druk (gelyktydig met die e-publikasie) te laat verskyn.

In haar ondersoek na die uitgewersbedryf sê Francis Galloway onder meer die volgende oor die nuutgestigte privaat uitgewery van Johannes Lambertus van Schaik (wat vanaf 1914 sy eie besigheid besit): “Uitgeebeslissings is nie soseer op winsbejag of treffer-najaging gebaseer nie, maar eerder deur ’n begeerte om die Afrikaanse kultuur te bevorder en om baanbrekerswerk die lig te laat sien” (Galloway, Deel 3, 380)

Hennie van Coller

Hennie van Coller

Inderdaad lyk dit asof hierdie beginsel steeds moes gegeld het in besluitneming oor die heruitgee van die nuwe Perspektief & Profiel.

Afgesien van die verpolitisering van die akademiese omgewing, word voortgesette navorsing in Afrikaans toenemend moeiliker in die lig van die hedendaagse klem op navorsingsuitsette en die gepaardgaande druk op dosente om in nasionaal geakkrediteerde en/of internasionaal geïndekseerde akademiese tydskrifte – by voorkeur in Engels – te publiseer. Die substansiële bywerking van bestaande navorsing – in Afrikaans – oor die Afrikaanse letterkunde maak van die nuwe P&P daarom ’n waardevolle naslaanwerk.

In sy inleidende opmerkings (Deel 3, viii-xiv) stel die redakteur dit dat benewens ’n “oorhoofse hersiening, bywerking en herrangskikking van perspektiewe en profiele”, daar gepoog is “om ’n veel meer omvattende blik te gee op die hele Afrikaanse literêre veld” (Deel 3, viii) deur die insluiting van bykomende perspektiewe oor die uitgewersbedryf (Galloway en Venter, Deel 3, 365–560), literêre tydskrifte (Kleyn, Deel 2, 234–95) en kinder- en jeugliteratuur (Van der Westhuizen, Deel 2, 377–428). Van die nuwe perspektiewe wat genoem word, verteenwoordig die afdelings oor die uitgewersbedryf en literêre tydskrifte beslis ’n beduidende uitbreiding van die “literêre veld”.

Francis Galloway

Francis Galloway

Die uitgebreide, glashelder gerapporteerde en noukeurig gedokumenteerde fokus op uitgewery-ondersoek (’n onderdeel van boekgeskiedenis), waardeur aandag geskenk word aan “die materiële voorwaardes waaronder boeke geproduseer en versprei word en aan die sosiale en ekonomiese invloede op die produksie daarvan” (Galloway, Deel 3, 365), dra beslis by tot ’n beduidende verbreding van inligting oor produksieprosesse. Terselfdertyd bied dit ’n onontbeerlike insig in faktore wat bepalend is vir die voortbestaan van die (Afrikaanse) letterkunde deurdat dit fokus op die tot dusver grotendeels verwaarlooste produksiedimensie van fiksie in bestaande Afrikaanse literatuurgeskiedenisse (Galloway, Deel 3, 367).2 Sonder twyfel kan byvoorbeeld Roos se ingeligte uiteensetting van die sosiopolitieke agtergrond in haar oorsig oor die Afrikaanse prosa baat by ’n verdere dimensie, naamlik die funksie van uitgewers en uitgewerye in die produksie van skryfwerk.

Ook Leti Kleyn se interessante inligting oor die tydskrifwese funksioneer verhelderend wanneer bepaalde tendense in literêre produksie bekyk word.

pep2-3

Nuwe profiele sluit onder meer Louis Esterhuizen, Tom Gouws, Koos Kombuis, Deon Meyer, Dan Sleigh en Eben Venter in. Ten spyte van dergelike toevoegings, is dit onvermydelik dat daar so te sê gelyktydig met die verskyning van so ’n omvattende werk onmiddellik ook weer identifiseerbare leemtes aangedui sal kan word. Aangesien die afsnypunt in die perspektief oor die Afrikaanse prosa 2010 is, is daar byvoorbeeld uiteraard geen vermelding van Willem Anker se roman Buys (2015) nie. Intussen is aan hierdie merkwaardige werk reeds verskeie literêre pryse toegeken, insluitend die Hertzogprys vir prosa van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Helgaardt Steyn-prys vir letterkunde, onderskeidelik in September en November 2016.3

Hopelik kan dergelike onvermydelike “agterstande” in die toekoms vinniger ondervang word deur gebruik te maak van deurlopende digitale bywerking van perspektiewe en profiele. Die gelyktydige publikasie van die jongste P&P (digitaal en gedruk) is alreeds ’n stap in die regte rigting, maar daadwerklike onderlinge samewerking tussen uitgewers van digitale en gedrukte publikasies hou opwindende moontlikhede in. Byvoorbeeld: Wat daarvan as medewerkers sou kon onderneem om die gedeeltes waarvoor hulle verantwoordelik was, soos en wanneer nodig, deurlopend by te werk en eers op LitNet te publiseer en later, indien nodig, af te rond wanneer ’n bygewerkte P&P dalk ’n volgende uitgawe beleef? Of: Wat daarvan as Van Schaik sou kon onderneem om jaarliks of tweejaarliks dergelike bywerkings en aanvullings tot tyd en wyl ook as supplemente uit te gee?4

“Die waarde van die jongste Perspektief en Profiel is steeds grotendeels te vinde in die verskeidenheid ingeligte, maar ook simpatieke lesers, wat ernstige bemoeienis maak met die literatuur en uiteindelik deur hulle leesverslae ’n belangwekkende en onskatbare diens aan medelesers en liefhebbers van die Afrikaanse letterkunde bied.”

Nietemin: die bywerkings en toevoegings in sowel nuwe as bestaande perspektiewe en profiele dokumenteer die leesverslae van ’n verstommende getal navorsers oor iets meer as ’n eeu se literêre produksie in Afrikaans. Die waarde van die jongste Perspektief en Profiel is steeds grotendeels te vinde in die verskeidenheid ingeligte, maar ook simpatieke lesers, wat ernstige bemoeienis maak met die literatuur en uiteindelik deur hulle leesverslae ’n belangwekkende en onskatbare diens aan medelesers en liefhebbers van die Afrikaanse letterkunde bied. Etienne van Heerden gee pertinent erkenning aan die leesaktiwiteite van akademici (die “getuienis van kundige lesers” – flapteks, 2016) wat, om ’n vroeëre tipering van Elize Botha aan te haal, tot ’n “geskakeerde oorsig van die Afrikaanse literatuur” lei (Flapteks, 1999).

2. Perspektiewe

Van nader beskou, val die perspektiewe uiteen in onderskeibare kategorieë, naamlik aandag aan die drie hoofgenres, prosa, drama en poësie; bykomende gegewens oor spesifieke skrywers of skryfsoorte, wat nie beperk is tot een genre nie (vroueskrywers en kinder- en jeugliteratuur); bepaalde kwessies rondom die Afrikaanse letterkunde (vroegste Afrikaanse en Nederlandstalige letterkunde asook buitekanonieke praktyke); en bykomende velde wat ’n invloed op literêre produksie het (literêre tydskrifte en die Afrikaanse uitgewersbedryf).

Siegfried Huigen

Siegfried Huigen

Vernon February

Vernon February

Hein Willemse

Hein Willemse

Dit is interessant dat in sommige perspektiewe byna teenoorstaande menings oor dieselfde gegewens gehuldig word – so byvoorbeeld maak Siegfried Huigen ’n saak daarvoor uit dat sommige van die geskrifte tussen 1652 en 1925 getuig van Nederlandse eerder as “vroeë Afrikaanse” tekste soos aangevoer deur Vernon February oor die “aanvangsfase” van die Afrikaanse letterkunde. Huigen voer onder meer aan dat Benigna van Groenekloof of Mamre (1873) ’n Nederlandstalige teks is wat verkeerdelik voorgehou word as die eerste Afrikaanse novelle of roman. Hy weerlê dus February se aanprysing daarvan as tekenend van ’n hardnekkige misverstand “wat te make het met polemieke oor die aandeel van bruin mense in die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans” (Deel 1:61). Hein Willemse se kritiese opmerkings in “buitekanonieke praktyke” oor kanonisering in die algemeen word, soos dié van February en Huigen, onveranderd herhaal in die tweede uitgawe. Dit is vir die leser om te bepaal of, en indien wel, in watter mate die ongewysigde standpunte steeds geldig is en of daar nie ten minste bepaalde reaksies was wat intussen gerapporteer kon of moes word nie.

3. Bywerking van kernperspektiewe

Soos uit die opsomming hieronder blyk, word die toevoegings om kreatiewe werke tot 2010 te dek, verskillend gehanteer vir die drie genres.

Poësie

Perspektief op die Afrikaanse poësie – Die poësie van voor 1900 tot 1960 – Heinrich Ohlhoff (Deel 3, 3–242)

Die Afrikaanse poësie 1960 – 2012 – BJ Odendaal (Deel 3, 243–364)

Drama

Perspektief op die Afrikaanse drama 1906–1989 – Rob Antonissen, André P Brink en Louw Odendaal (Deel 2, 3–128)5

’n Oorsig van die Afrikaanse drama en teater van 1990–2010 – Johan Coetser (Deel 2, 129–232)

Prosa

’n Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu tot 2010 – Henriette Roos (Deel 1, 92–274).

In die perspektiewe oor poësie en drama gaan dit om bykomende gegewens ná die afsnypunt van die vorige uiteensettings en dit word deur ander literatore behartig. Die leser het hier dus die geleentheid om binne dieselfde perspektief met verskillende werkswyses en uitgangspunte kennis te maak. In teenstelling hiermee bly Henriette Roos alleen verantwoordelik vir die verslag oor die prosa in albei uitgawes.

Vervolgens word die aanbieding van hierdie perspektief van nader bekyk.

Twee ordeningsbeginsels word in die bestekopname van meer as ’n eeu se Afrikaanse prosa gevolg. Die eerste vyf hoofafdelings (wat grotendeels ooreenstem met die oorsig in die eerste uitgawe)6 is hoofsaaklik chronologies ingedeel, en die opeenvolgende fases word soos volg benoem: koloniale literatuur, nasionalistiese letterkunde, vernuwing in die prosa, littérature engagée en verkenning en ontvoogding. Vir Roos is kennisname van bepaalde sosiopolitieke gebeure noodsaaklik om “die samehang tussen die Afrikaanse literatuur en ’n groter Suid-Afrikaanse samelewing duidelik te verreken” (Deel 1, 92 – my beklemtoning). Sonder om die bepalende faktor van sosiopolitieke gebeure uit die oog te verloor, verskuif sodanige chronologiese aanbieding enigsins in die drie toegevoegde hoofafdelings vir die tweede uitgawe van P&P deurdat sistematiese tendense in prosapublikasies van die afgelope twee dekades geïdentifiseer word. Hierdeur verkry die bygewerkte hoofafdelings ’n bykomende waarde, omdat veel meer gebied word as slegs ’n op datum bring van die beeld van die onlangse Afrikaanse prosa (afdeling 6.5).

In die slotafdeling van die bygewerkte perspektief oor die Afrikaanse prosa relativeer Roos (Deel 1, 258) nietemin haar aanbieding:

Goeie boeke en groot outeurs kan nie in kampe ingedeel word nie; enige kategorisering van literêre tekste berus op ’n verskeidenheid van pragmatiese en arbitrêre riglyne, en ’n literêr-historiese oorsig bespreek ’n seleksie van tekste wat gedurende ’n bepaalde periode verskyn het – dit kan geen volledige of finale oordeel lewer nie.

Sodanige relativerende uitspraak doen geen afbreuk aan die geloofwaardigheid van Roos se uiteensetting nie, maar laat wel die moontlikheid oop vir alternatiewe sistematiserings.

Koos Prinsloo

Koos Prinsloo

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Karel Schoeman

Karel Schoeman

ingridwinterbach200

Ingrid Winterbach

Herman Charles Bosman

Herman Charles Bosman

In ’n poging om die bostaande relativerende uitspraak te kontekstualiseer word vervolgens gekyk na enkele aspekte van Roos se weergawe van die Afrikaanse prosa tot 2010. Belangrik is uiteraard die drie bygevoegde afdelings: 6 Anderkant die wonderwerk, 7 Die Afrikaanse prosa: Ons maak onsself en 8 Die Afrikaanse prosa: Wat het met ons gebeur? Roos het kennelik ook die eerste vyf afdelings herbekyk en waar nodig veral onlangse literêr-kritiese werke van die afgelope twee dekades bygevoeg. So byvoorbeeld word die leser benewens onder meer Koos Prinsloo, Karel Schoeman en Hennie Aucamp as verteenwoordigers van ’n “romanties-estetisisties-dekadente lyn” (ibid, 105), verwys na ’n onlangse studie waar “die onteenseglike spoor van die darwinisme en fin de siècle” (ibid, 105) daarop dui dat ook Ingrid Winterbach se werk beskou kan word as deel van die voortsetting van ’n estetisistiese tendens in Afrikaans.

Op ’n soortgelyke wyse word die leser ingelig oor die omvang van Herman Charles Bosman se skryfwerk in Afrikaans deur te verwys na Leon de Kock (samesteller) se Verborge skatte (2011) – ’n versameling van Bosman se tekste wat in Afrikaans geskryf is. Ook die gedeelte oor Karel Schoeman word bygewerk met verwysing na Willie Burger en Helize van Vuuren (redakteurs) se Sluiswagter by die dam van stemme (2002), ’n huldigingsbundel wat volgens Roos (ibid, 139) “’n besonder informatiewe en oorsigtelike beskouing van Schoeman se werk tot en met 2002” gee. Aan die einde van die afdeling oor die feministiese tendens word verwys na ’n onlangse studie deur Jessica Murray (2013) waar “die stereotipering en vervreemding in die uitbeelding van lesbiese verhoudings” (ibid, 173) in Marlise Joubert se Klipkus en Emma Huismans se Requiem op ys bespreek word.

Soms word ’n afdeling afgesluit met die toevoeging van ’n agternaperspektief of hertaksering van ’n bepaalde tendens. Grensvertellings het byvoorbeeld volgens Roos nie verouderd geraak nie, omdat skrywers steeds tot nog in die tweede dekade van die volgende eeu sou terugkeer na “hierdie klaarblyklik traumatiese tydperk vir land en letterkunde” (ibid, 162).

4. Raakpunte/oorvleueling met ander perspektiewe – vroueskrywers

In haar literêr-historiese oorsig en kategorisering van skrywers en werke gee Roos deurentyd in ’n aantal onderafdelings aandag aan vroueskrywers. In die eerste uitgawe van P&P verskyn Annemarié van Niekerk se perspektief oor vroueskrywers, getiteld “Die Afrikaanse vroueskrywer – van egotekste tot postmodernisme (18de eeu – 1996) (Deel 2, 1999:305–444). Ten spyte van Van Niekerk se volle perspektief gewy aan vroueskryfwerk, kan Roos se deurgaanse aandag aan vroueskrywers gelees word as ’n kontekstualisering en interpretasie van, en selfs korrektief op, Van Niekerk se uitvoerige inventaris van vroueskrywers se bydrae tot ontspanningslektuur (onder meer in tydskrifverhale) en ook meer ernstige literatuur. Ten spyte van veel meer inligting op bepaalde vlakke (loopbane van skrywers, lys van vroueskrywers se verhale en romans) is Van Niekerk se bydrae daarom nie noodwendig ’n betekenisvolle aanvulling tot Roos se deurlopend-sporadiese aandag aan vroueskrywers se werk nie. Laasgenoemde se verwysings na vroueskryfwerk is soms aanvullend tot ’n tendens op ’n bepaalde stadium, soms gestel as teenstellende standpunt tot manlike outeurs se uitgangspunte oor ’n bepaalde samelewingskwessie en soms as tekenend van veral vroeëre miskenning in resensies of literatuurgeskiedenisse.

Van Niekerk se perspektief op die vroueskrywer in die Afrikaanse letterkunde (Deel 2, 3–128) is ’n grotendeels onveranderde weergawe van haar bydrae in die eerste uitgawe. In ’n voetnoot tot haar bydrae in die tweede uitgawe verduidelik sy dat dit nie nodig was om die “agterhaalproses” tot 2010 aan te durf nie, omdat daar sedert 1997 veel meer geregverdigde aandag aan die werk van vroueskrywers gegee word. Ek lei af dat Van Niekerk meen dat haar doel om die aandag te vestig op die grotendeels geminagte bydrae van die vroueskrywer, daarmee bereik is. Soos hopelik sal blyk uit die vergelyking hierna, is dit tog jammer dat sy nie in die lig van Roos se uiteensetting in die eerste uitgawe (1998) sekere aanpassings in die aanbieding van die goednagevorste magdom van gegewens oor vroueskryfwerk aangebring het nie.7

Ironies genoeg funksioneer Van Niekerk (1999 en 2016) se uitgesponne inventaris van inderdaad ’n baie groot aantal vroueskrywers en hulle korter (tydskrifverhale) en langer (romans) werke eerder versluierend as verhelderend ten opsigte van hulle onontkenbare bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Deurdat haar navorsing aangebied word as ’n volledige lys van vroueskrywers wat op bepaalde datums gepubliseer het, vervaag die onderskeid tussen enersyds vroueskrywers wat ’n regmatige plek sou kon opeis in toekomstige literatuurgeskiedenisse en andersyds vroue wie se bydrae, alhoewel nie noodwendig sonder verdienste nie, beperk gebly het tot ontspanningslektuur. Bowendien word die bydraes nie vergelyk met die werk van manlike skrywers op dieselfde tydstip of gesitueer binne sosiopolitieke strominge in die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Alhoewel die bespreking van vroueskryfwerk binne die konteks van ander vroueskryfwerk veronderstel is om onderlinge beïnvloeding te kan aandui, verduidelik Van Niekerk ongelukkig nie wat die aard van sodanige beïnvloeding sou wees en waar en hoe dit waargeneem kan word nie.

Dergelike leemtes word gevul in sowel Roos se chronologies-historiese verslag oor skryfwerk deur vroue (1998 en die eerste vyf afdelings van 2015) as die sistematiese bespreking in die tweede uitgawe (2015). Enkele voorbeelde ter illustrasie:

Na haar uiteensetting van skryfwerk oor die armblankevraagstuk en die ontstaan van die plaasroman as “ruimtelike en ideologiese teenpool” (Deel 1, 96) in die vorm van ’n romantiese, nostalgiese perspektief in die prosa van CM van den Heever en DF Malherbe, merk Roos op dat hierdie skryfwerk die tekening van by uitstek patriargale wêrelde was “waarin rasse generasies en geslagte volgens tradisionele hiërargieë optree (ibid, 197). Hierteenoor verwys sy pertinent na die werk van vroueskrywers soos Marie Linde en Meg Roos (kyk Van Niekerk, Deel 2, 97) wat eweneens skryf oor destydse sosiopolitieke bakens soos die Rebellie en die Eerste Wêreldoorlog en die 1918-griepepidemie, “maar die geëmansipeerde, selfbewuste vrouekarakters word binne ’n gesofistikeerde stadsmilieu uitgebeeld” (ibid, 97). Roos merk verder op dat hierdie werke in besonder groot oplae gedruk is en blykbaar ’n veel groter populêre leespubliek as plaas- en armblankeromans het. Bowendien is hierdie werke ook aanvanklik deur vooraanstaande kritici geloof.

DF Malherbe

DF Malherbe

CM van den Heever

CM van den Heever

Miemie Louw Theron

Miemie Louw Theron

Anna de Villiers

Anna de Villiers

Elizabeth Vermeulen

Elizabeth Vermeulen

Hierdie gegewens, wat berus op ’n vroeëre studie van Roos (1992a), word feitlik verbatim deur Van Niekerk (Deel 2, 97) herhaal. Laasgenoemde verwys in hierdie verband instemmend na Roos (1992a) se skerp korrektiewe lesings van “damesromans”, maar laat ongelukkig na om deurgaans die impak (of noodsaaklike hertaksering) van dergelike skryfwerk aan bod te stel.

In haar bespreking van klein realisme en die werk van DF Malherbe en CM van den Heever wat deel vorm van nasionalistiese literatuur, kontrasteer Roos (ibid, 110) weer eens die werk van vroueskrywers soos Anna de Villiers, Miemie Louw Theron en Elizabeth Vermeulen as “minder toegespits op ’n kultuurideaal en met die aksent meestal op ’n vrou se spesifieke belewenis van ’n bepaalde historiese moment” (ibid, 110). In Van Niekerk (Deel 2, 81) kan die leser meer besonderhede kry oor die statuur van Anna de Villiers as openbare figuur, maar nie meer inligting oor haar romans met ’n historiese agtergrond nie. Van Niekerk (Deel 2, 82) verskaf wel meer inligting oor Elizabeth Vermeulen se prosawerke, toegelig met ’n karakteriserende samevatting:

Vermeulen se romans is meestal geïnspireer deur die plaaslewe en gebaseer op historiese stof. Veral die patriargale geskiedenis van die Noordweste, soos aan haar oorvertel deur haar grootmoeder, is ’n belangrike bron in haar latere skryfwerk (Van Niekerk, Deel 2, 82).

Roos (ibid, 111–3) bespreek ook die werk van prominente vroueskrywers, soos MER en Elise Muller, in samehang met Johannes van Melle.8 Sy haal Kannemeyer (1978:351) instemmend aan in sy evaluering van hierdie skrywers as “die prosahoogtepunte gedurende die eerste halfeeu van die twintigste-eeuse Afrikaanse letterkunde” (ibid, 112). MER se werk word getipeer as die verbeelding van “’n ontwikkelde, deernisvolle vrou se perspektief op algemene lewensprobleme binne ’n aktuele sosiopolitieke opset” (ibid, 112). Ten opsigte van Elise Muller haal Roos (ibid, 112) teenoorstaande standpunte deur Van Wyk Louw (neerbuigend) en Hennie Aucamp (waarderend) aan. Van Niekerk (Deel 2, 42–4) gee ’n vollediger uiteensetting van MER se werk as joernalis en skrywer en haal eweneens Kannemeyer (1983:11) se positiewe beoordeling van MER se unieke bydrae tot die “kleinrealistiese prosatradisie in Afrikaans” (ibid, 42) instemmend aan. Interessant is hier Van Niekerk se vermelding van miskenning van MER se werk deurdat sy byvoorbeeld deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1946 en 1949 oor die hoof gesien is en die Hertzogprys eers in 1953 ontvang het.

In die nuut bygewerkte afdelings bespreek Roos onder meer die omverwerping van hiërargie en konvensie in tekste wat sedert die negentigerjare deur en vir vroue geskryf word. In aansluiting by Van Niekerk se aantekening hier bo, wys Roos daarop dat die gewysigde geringskattende houding oor vroueskryfwerk duidelik blyk uit die stortvloed van nuwe, vroulike debutante en hoë verkoopsyfers van die werk van onder meer Jeanne Goosen, Elsa Joubert, Dalene Matthee en Marita van der Vyver. In hierdie verband is die baanbrekerswerk van Elsa Joubert noemenswaardig, want verskeie vroue sou daarna “kontesterend, ondersoekend en innoverend die politieke strydgebied beskryf” (ibid, 172). Voorts is die sogenaamde feministiese kode ook af te lees uit byvoorbeeld Wilma Stockenström se Abjater wat so lag (1991), waar die “introverte, onaantreklike, maar selfgenoegsame middeljarige vrou as hooffiguur” (ibid, 172) volgens Roos ’n skeptiese blik op tradisionele geslags- en gesagsverhoudings bied.

5. Nuut bygewerkte afdelings

Na ’n bondige skets van veranderinge in die naoorlogse Oos-Europa en die “etniese stryd, droogte en hongersnood” (Deel 1, 163) wat bydra tot gewelddadige konflik op die Afrika-kontinent in die laaste dekade van die 20ste eeu, skets Roos kortliks die radikale ommeswaai in Suid-Afrika ná die bewindsverandering in 1994. Interessant beskryf sy hierdie proses van “verandering, oorgang, verwarring, demokratisering” as “dalk die laaste en mees gekompliseerde vorm van dekolonisasie” (ibid, 163) in Afrika. Veranderinge in Afrikanerkringe op politieke en kerklike gebied (die stigting van die Konserwatiewe Party en die Afrikaanse Protestantse Kerk) dui op grondliggende verskille oor, aan die een kant, aanpassing by veranderde omstandighede teenoor verset teen verandering, die afstaan van regte en voorregte en ’n teruggryp na wat was aan die ander kant.

Ten spyte van die afskaal van Afrikaans op alle vlakke verskyn daar volgens Roos nietemin “’n stortvloed van nuwe publikasies” (ibid, 168). In hierdie verband gee die inligtingsontploffing (media en internet) aanleiding tot ’n nuwe besef oor kultuur in die algemeen en letterkunde in die besonder. Die postmodernistiese tendens – ook in skryfwerk in Afrikaans – vind onder meer uiting in kenmerke soos: geen strewe na samehang in die aanbieding van verhaalelemente nie; deurbreking van die grense tussen literêre genres en vorme; opheffing van die skeidslyne tussen feit en verbeelding; verheerliking van die alledaagse; beklemtoning van die speelse en die absurde; ontkragting van simboliek en ondermyning van die gesag van die outeur (Roos, Deel 1, 169).

Na hierdie bondige, dog heel duidelike, uiteensetting van postmodernistiese tendense identifiseer Roos (Deel 1, 169–70) André Letoit en Koos Prinsloo as postmodernistiese skrywers. Eersgenoemde se Suidpunt-jazz is byvoorbeeld ’n ondermyning van die eietydse geskiedenis en terselfdertyd volgens André Brink ’n radikale werk weens sy “uitgelate eksploitasie van postmodernistiese tegnieke” (aangehaal deur Roos, ibid, 170). Maar dit is veral Koos Prinsloo se eiesoortige verwoording van die postmodernistiese kultuur wat deur Roos uitgelig word. Belangrik is veral die feit dat gemarginaliseerdes en stemloses deur sy verhale spreek, tesame met die uitbeelding van intense private ervarings van ’n eksplisiet homoërotiese aard wat “geformuleer is in ’n hoogs gestileerde artistieke vorm” maar dikwels aangebied word op “’n blatante en brutale toon” (ibid, 170). Gerrit Olivier se profiel van Koos Prinsloo kan as aanvullend tot Roos se bondige karakterisering van sy skryfwerk gelees word. Hy wys daarop dat die veronderstelde grens tussen fiksie en werklikheid verdwyn in “’n tekstuele spel waar fiksie en werklikheid mekaar wedersyds voed en ondergrawe” (Deel 2, 991). Voorts illustreer sy werk die verdwyning van die grens tussen literêr en nieliterêr en tussen “hoë” en “lae” literatuur. Roos merk verder op dat die tema van homoseksualisme veral sedert die negentigerjare met ’n nuwe direktheid voorgestel word. Die teenpool hiervan, die beskrywing van lesbiese liefde binne die konteks van sosiopolitieke betrokkenheid, met name geweld tydens die noodtoestand, word gevind in die werk van Welma Odendaal en Emma Huismans, met ook Marlene van Niekerk se Triomf (1994), as ’n “uitgebreide verhaal van eietydse geskiedenis” (ibid, 173). ’n Nuwe perspektief op politieke betrokkenheid kan trouens in die werk van talle vroueskrywers waargeneem word.

Roos tipeer die verskil met vroeëre skryfwerk deur vroue vir vroue soos volg: Op vanselfsprekende wyse word die vrou se besondere belangstelling as geldige literêre materiaal aanvaar, haar integrale rol in die maatskappy opgeëis, ’n eiesoortige idioom ontgin. Die tradisionele marginalisering van die vrou word beskryf, maar terselfdertyd ook deur die verteltoon en vertelwyse ondermyn (Deel 1, 175).

“Die toenemende marginalisering van Afrikaans (byvoorbeeld as universiteitstaal) word enersyds gelees teen algemene tendense wêreldwyd (oorheersing van Engels in die wêreldekonomie), maar andersyds ook geïnterpreteer na aanleiding van die tipe temas wat in die jongste Afrikaanse letterkunde ontgin word.”

Soos Van Niekerk verwys ook Roos hier na die vervaging van die grense tussen ontspanningsverhale en ernstige letterkunde. Nie alle hedendaagse vroueskrywers ontsnap aan die etiket van “populêre skrywer” (Eleanor Baker, Margaret Bakkes en Maretha Maartens) nie, maar sommiges se werk word op meer as een vlak gelees, as outentieke tydsdokumente, bekroonde literêre tekste en populêre stories, soos byvoorbeeld Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie (1990). Hierteenoor oordeel Roos dat die stortvloed liefdesverhale wat met die ietwat banale term hygroman beskryf word, getipeer sou kon word as “leesbare prul” in die woorde van Schoonees.

Interessant is verder Roos se opmerking dat die bewus wees van gaymotiewe gelei het tot ’n herlees van ouer skrywers soos ID du Plessis en C Louis Leipoldt se werk. Veral veelseggend is egter Roos se oordeel oor die eiesoortige aard van die Afrikaanse postmodernisme deurdat dit juis in die proses van banalisering en/of ’n spottende verteltoon, die aksent op die alledaagse en die “mindere” en die aftakeling van gesagsimbole in die meeste gevalle ’n aktueel-betrokke dimensie verkry.

Ten spyte van aantoonbare verskille, meen Roos dat een aspek van die letterkunde van die afgelope 15 jaar is dat dit steeds ontwikkel “binne ’n dinamiese verhouding met die sosiopolitieke werklikheid (ibid, 181). Temas soos belangstelling in die ekologie, of die hervertelling en herinterpretasie van geskiedkundige gebeure soos die Anglo-Boereoorlog moet gelees word teen ’n verwikkelde agtergrond van onder meer globaliserende magte en invloede op elke denkbare terrein – insluitend die politieke. Die toenemende marginalisering van Afrikaans (byvoorbeeld as universiteitstaal) word enersyds gelees teen algemene tendense wêreldwyd (oorheersing van Engels in die wêreldekonomie), maar andersyds ook geïnterpreteer na aanleiding van die tipe temas wat in die jongste Afrikaanse letterkunde ontgin word.

Met hierdie steekproef van enkele aspekte wat in die jongste Perspektief & Profiel ter sprake kom, hoop ek om die belangstelling van lesers in hierdie omvattende naslaanwerk te prikkel. Koop dit gerus – dit is allesins die moeite werd.

Bibliografie

Van Coller, HP (red). 1998. Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: JL van Schaik.

—. 1999. Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: JL van Schaik.

—. 2015. Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Tweede uitgawe. Deel 1. Pretoria: Van Schaik.

—. 2016. Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Tweede uitgawe. Deel 2. Pretoria: Van Schaik.

—. 2016. Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Tweede uitgawe. Deel 3. Pretoria: Van Schaik.


Eindnotas

1 Vergelyk hier ook Galloway (Deel 3, 492-3) se beskrywing van die negatiewe gevolge van die inkrimping van die voorskryfmark en biblioteekaankope gedurende die negentigerjare van die vorige eeu. Volgens haar het uitbreiding van die algemene mark en ’n strewe na kommersiële selfstandigheid binne hierdie mark “grootskaalse hersiening van uitgewerye se redaksionele beleid geverg en tot rasionalisering in die produsentelandskap gelei”.

2 Galloway wys daarop dat daar wel aandag geskenk word aan die rol van die uitgewersbedryf in die bydraes van Huigen, Roos, Odendaal en Coetser in die vorige uitgawe van P&P. Individuele skrywers se publikasies word egter slegs in polemiese konteks aan spesifieke uitgewerye verbind. Om hierdie rede kan hierdie uitgawe ook nie – ten spyte van die redakteur se opvattings oor die literêre veld – beskou word “as ’n literatuurgeskiedenis wat reg laat geskied aan ’n omvattende beskrywing van die literêre veld, insluitendie die rol van die uitgewery, nie” (Galloway, Deel 3, 368).

3 Anker se roman Siegfried (2007) word wel deur Roos (Deel 1, 231–2) bespreek as ’n voorbeeld van publikasie in die digitale era. Roos (ibid, 196) vermeld ook dat Willem Anker in 2012 die tweede ontvanger is van die Jan Rabie / Marjorie Wallace-prys, “’n som geld wat ’n outeur in staat sou stel om sonder finansiële bekommernisse ’n beplande manuskrip publikasiegereed te kry”. Hierdie prys het Anker inderdaad in staat gestel om die uitgebreide navorsing vir die skryf van Buys te onderneem en die manuskrip gereed te kry vir publikasie. Volgens Beeld (22 November 2016) het Anker hierbenewens ook die volgende pryse vir Buys ontvang: die Universiteit van Johannesburg se prys vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans, die WA Hofmeyr-prys en die KykNet-Rapport-boekprys vir fiksie.

4 In hierdie verband is LitNet, in samewerking met NALN en die ATKV, se omvattende Afrikaanse biografiese ensiklopedie alreeds, soos Francis Galloway tereg opmerk, “’n welkome projek” (Deel 3, 532, voetnoot 14); dit geld insgelyks vir Versindaba se instandhouding van ’n biografie van digbundels.

5 In die eerste uitgawe word hierdie tydperk verdeel tussen die drie skrywers: 1906–1966 (Rob Antonissen); 1967–1977 (André P Brink) en 1977 en verder (Louw Odendaal). In die voetnote by die eerste twee afdelings word gemeld dat Rob Antonissen se oorspronklike bydrae met die hulp van Rike Olivier aangepas is en dat André P Brink se dramas van kommentaar voorsien is deur Tim Huisamen.

6 In vergelyking met die 1998-uitgawe is die enigste weglatings die skrap van enkele onderafdelings waarin na die Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde verwys word. Soos hier onder aangedui sal word, kom betekenisvolle byvoegings, meestal verwysings na belangrike sekondêre literêr-kritiese bronne tot ongeveer 2013, ook aan die einde van sommige paragrawe voor.

7 Roos, daarenteen, gee wel erkenning aan Van Niekerk se aandag aan vroueskrywers in die eerste uitgawe deur hierdie bron op te neem in die bibliografie tot haar bygewerkte bydrae van P&P.

8 Dit is interessant dat die verskyning van Bart Nel, eers in Nederlands en later in Afrikaans vertaal, deur Huigen voorgehou word as aanduidend daarvan dat die Nederlandstalige literatuur na 1925 “geen amptelike basis meer” (Deel 1, 30) in Suid-Afrika gehad het nie. Die verskyning van Bart Nel, de opstandeling (1936) wat in Nederland gepubliseer is, het aanvanklik geen weerklank in Suid-Afrika gevind nie. Dit het eers verander nadat Van Melle sy boek in Afrikaans laat vertaal het (eerste uitgawe 1942) en dit sedertdien deel van die Afrikaanse literêre sisteem geword het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top