Ampie Coetzee deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.
The Shadow of Sirius deur WS Merwin Hoekom is dit so moeilik om oor 'n digbundel te skryf? Soos om dit te resenseer. Hoe kan jy gedigte, goeie gedigte, ontleed en vertel wat die gedig sê as die gedig dit alreeds gesê het? Ontleed jy dit rasioneel, of laat jy dit aan jou verbygaan, sonder dat dit verby gaan? Ek wil nie teoretiseer nie. Maar ek werk aan 'n teorie oor intuïsie. In die bundel van WS Merwin, The Shadow of Sirius (Copper Canyon Press, Port Townsend, Washington, 2009) word jy dikwels gedwing deur metafore of paradokse om intuïtief te lees, soos die titel van die bundel. En hy sê byvoorbeeld in die gedig “A Codex”: ... the poems of daylight after the day without explanation or emphasis Maar ek “verstaan” dit tog, ook binne die konteks van die gedig, en ek kan dit nie rasioneel ontleed nie. En van die bundel kan ek sê die verse daarin is stil, rustig, beeldend – en veral met 'n gedurige soeke na 'n ars poetica. Ek weet ook dat dit 'n goeie bundel is: die Washingon Post Book World beskryf Merwin as “One of America's greatest living poets”. Maar wat is groot, en wat is goed? 'n Resensent sou byvoorbeeld sê dat die bundel uit 'n aantal afdelings bestaan, dat die gedigte verskeie temas het, veral melankoliese natuurgedigte, liefdesgedigte en gedigte oor die digter se vader en moeder – en oor die dood (!). Dan sou hy een van die “baie mooi” gedigte aanhaal (wat ook net-net aan die intuïtiewe grens): Night with No Moon Now you are darker than I can believe with its denials and pure promises still hearing when there is nothing to hear thinking to walk in the dark together.
|
|
Kaar deur Marlene van Niekerk Oor Marlene van Niekerk se Kaar (Human & Rousseau, 2013), sou 'n resensent kon sê dis 'n magtige bundel, wyd in die interpretatiewe beskrywings van diere, blomme, plekke, mense – met 9 afdelings; en dan sou sy/hy elke afdeling probeer tipeer en temas probeer identifiseer. Miskien ook noem dat die bundel te dik is, te veel gedigte (212 bladsye). Dat mens raak moet lees; en mens moet eintlik rasioneel lees, omdat woorde vervorm word, nuut is, nuutgemaak is; en beelde en paradokse dikwels uitgewerk moet word (soos byvoorbeeld in die gedig “Hollandse landskap”). Maar dis nie oral so nie, want die intuïtief-verstaan sal ook nodig wees in die volgende liefdesgedig, “memo 21 Junie 2009”: klein broed van gaas en geur jou koms kapok en soeks en turbulent. (31)
|
|
Einstein and the Poet deur William Hermanns Oor die intuïtiewe “kennis” soek ek al lankal; en wat was my verbasing toe ek op hierdie boek afkom: Einstein and the Poet, met die pretensieuse subtitel In search of the Cosmic Man, deur William Hermanns, uitgegee deur Branden Press Inc, Brookline Village, MA. In 'n reeks van vier gesprekke (vanaf 1930 tot 1954) vra hy vir Einstein allerlei vrae (selfs oor sy “geloof” in God!). Ek het gehoop dat ek hier iets sal kry oor intuïsie. Die groot wetenskaplike teenoor die digter, die rasionele wetenskap teenoor die intuïtiewe. Maar Hermanns kom nie daarby uit nie. Hy vra byvoorbeeld vir Einstein of hy saamstem dat geloof 'n misterie is, en of hy geen geloof het in 'n lewe wat gaan kom nie. Waarop Einstein antwoord: “No, I have faith in the universe, for it is rational … And I have faith in my purpose here on earth. I have faith in my intuition, the language of my conscience, but I have no faith in speculation about Heaven and Hell” (94). Op 'n ander keer sê hy: “One never goes wrong following his feeling … I don't mean emotions, I mean feeling, for feeling and intuition are one” (95). Miskien moet mens intuïsie ernstig opneem – veral in die lees van poësie. Want skryf die digter nie dikwels vanuit die intuïtiewe nie?
|
Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter