LitNet Akademies: Elzette Steenkamp in gesprek met Henriëtte Loubser

  • 0

Die uitbeelding van sogenaamde “sterk” vroue in videospeletjies, strokiesprente en manga (Japannese strokiesprente) vir kinders (soortgelyk aan die prenteboek in die sin dat hier ook ’n versmelting van woorde en illustrasies plaasvind) is gereeld gekoppel aan die erotiese. Dink maar aan vrouehelde soos Lara Croft en Wonderwoman. Hulle mag as vegters is grotendeels gebaseer op hulle seksuele mag, en sodoende word die idee van ’n sterk vroulike held ondermyn deur die uitbeelding van die vroulike liggaam as objek. Willemientjie is natuurlik anders, omdat sy baie jonger is, tog dui jy wel op ’n erotiese aspek in jou artikel. Voel jy dat Willemientjie se jeugdigheid dien as ’n manier om hierdie tipe stereotipering te omseil?

As daar na Lara Croft en Wonderwoman verwys kan word, is die voorstelling van die sensuele vroulike liggaam juis dit waarop gekonsentreer word. Nêrens word Willemien in hierdie boek as wulps en sensueel aangebied nie. Waarskynlik omdat sy nog ’n klein dogtertjie is, maar al sou ek haar as ouer voorstel, sou sy kwalik kwalifiseer as ’n femme fatale. Al word sy voorgestel as “in beheer” en “in ’n magsposisie”, val die klem nie op haar sensualiteit nie en ook nie op haar vroulike “bates” nie, maar eerder op haar persoonlikheid wat getuig van uitdaging, beheer oorneem en selfhandhawing. Alhoewel ek op ’n soort magsbesitname van bykans erotiese afmetings dui, word dit gedoen met die Bakhtiniaanse nosie van die karnavaleske as vertrekpunt en nie met die voorstelling van die protagonis as sensuele objek nie. Die klem is op humor en ’n gelag. Willemien se jeugdigheid kan waarskynlik gesien word as ’n poging tot onderbeklemtoning van die erotiese, maar belangrik in hierdie boek is die voorstelling van die vroulike hoofkarakter sonder enige beklemtoning van liggaamlikheid of sensualiteit.

In Figuur 6 van jou artikel “word die leser uitgedaag deur ’n oorgrote voorstelling van ’n gillende, groteske Willemien”. Jy let veral op “haar oopgesperde mond, ontblote tande, tong en kleintongetjie, en die oorheersing van die kleur rooi in hierdie illustrasie”. Dit is dieselfde tipe onbeheerste aggressie en liggaamlike “oorvloed” wat Brontë se Bertha Mason in die dakkamer laat beland het. Meer as ’n eeu en ’n half later voel dit vir my asof daar steeds ’n baie fyn lyn is tussen gesonde aggressie en disfunksionele histerie as dit kom by die uitbeelding van vroulike karakters. Hoe sou jy hierop reageer?

Willemien gee wel grensloos uiting aan haar lewenslus. Sy is aktief, selfversekerd en uitdagend. Sy gil nie noodwendig van woede nie, maar eerder van genot. Die grens is egter, met reg gesê, vaag en daar bestaan die moontlikheid van oorgawe aan onbeperkte emosie. Tog sou ek sê dis eerder ’n geval van gesonde aggressie as disfunksionele histerie, aangesien dit in hierdie boek gaan om ’n weergalose lewensgenieting eerder as dat die uiting van Willemien se intense emosies op die stereotipering van die “histeriese vrou” dui.

Ek stel veral belang in die uitbeelding van Willemientjie as kind van die natuur. Sy is gemaklik op die rug van ’n gemsbok, is vriende met ’n leeu, en red haar dierevriende van ’n wrede jagter. Die kind as figuur van ekologiese verantwoordelikheid verskyn dikwels as motief in kinderverhale. Het Die Avonture van Wilde Willemientjie enigsins ’n ekologiese boodskap?

In hierdie boek is daar nie ’n bewustelike ekologiese boodskap nie. Of dit kom nie so duidelik na vore soos byvoorbeeld in Scheepers se boek Arbortta, die heks met die groen hare (2008) nie. Tog speel die natuur, die liefde vir die natuur en die beskerming van diere ’n belangrike rol. Dit is grootliks die omgee vir haar dierevriende wat hier ontgin kan word en deel kan uitmaak van ’n baie suksesvolle ekologie-les.

Jy verwys vlugtig na Elizabeth van der Merwe se gedig “Ballade van Hestertjie Haarnaald” uit DJ Opperman se Die Klein Verseboek (1959) en noem dat Hestertjie Haarnaald “waarskynlik ’n eerste voorbeeld van ’n feministiese kinderteks in Afrikaans” is en dat “die karakter van Wilde Willemientjie beskou [kan] word as ’n soort nuwerwetse Hestertjie Haarnaald”. Kan jy verder hieroor uitwei? Hoe vergelyk hierdie twee karakters in terme van gedrag en voorkoms?

Hester Haarnaald is avontuurlustig en dapper, baie soos Willemien. Nie een van die twee meisies skroom om alleen op ontdekkingsreise te gaan nie. Albei hierdie karakters se weetgierigheid en lewenslus noop hulle om grensoorskrydend op te tree. Soos Willemien, is Hester ook ’n beheervraat en gee sy opdragte hot en haar. Die “skipper” word byvoorbeeld onderwerp aan haar sterk wil, waar hy haar bevele moet gehoorsaam. Wat voorkoms betref, is dit onregverdig om die enkele twee pensketse wat daar van Hester bestaan, te vergelyk met die vele kleurryke en “ontploffende” illustrasies van Willemien, maar tog opvallend is dat Hester ook uitgebeeld word as onopgesmuk en sonder die kurwes van ’n Wonderwoman. Al gun sy haarself in Kaapstad die luukse van ’n hoed, wat haar volgens die “klerk” “goed pas”, is fisieke voorkoms en gendervoorstelling, soos met Die avonture van Wilde Willemientjie en in Ballade van Hestertjie Haarnaald (deur Elizabeth van der Merwe) ook ondergeskik aan die voorstelling van ’n onbeperkte, onverskrokke karakter.

Elizabeth van der Merwe se gedig verskyn ook natuurlik in ’n tydperk waartydens ’n (nie net rassistiese nie, maar ook) patriargale regime aan bewind is. Sou jy kon spekuleer oor hoe die groei van die feministiese beweging in Suid-Afrika en groter regte vir vroue as gevolg van ’n liberale grondwet bydra tot die verskille tussen hierdie twee karakters?

Daar is min verskille tussen Hester Haarnaald en Willemien, behalwe dat Hester ’n bietjie ouer is en dat sy meer verantwoordelik is en voorbereid op haar reis vertrek (met ’n koffer, kos en ’n hoed). Hester laat haar nie stuit deur enige patriargale reëls van destyds nie. Of dit nou gepas was vir ’n meisie om sonder ’n chaperone alleen saam met ’n wildvreemde man op reis te gaan of nie. En of ’n meisiekind nou so voor op die wa mog wees of nie, Hester het haar staal reeds voor vroueregte en ’n liberale grondwet hier in Suid-Afrika gewys. Willemien is ’n produk van die nuwe bedeling, waar vroueregte erken word. Sy is dus ’n hedendaagse voorbeeld van die onbeperkte vrou wat Hester toentertyd reeds was. Tog is die doel van Die avonture van Wilde Willemientjie waarskynlik juis die voorstelling van ’n karakter wat ongeag geslag presteer. Die Suid-Afrikaanse feministiese beweging het dus weinig invloed op verskille al dan nie tussen hierdie twee karakters.

Weet jy van ander kinderverhale/prenteboeke tans beskikbaar in Suid-Afrika wat tradisionele genderrolle op ’n soortgelyke wyse bevraagteken? Of is Die Avonture van Wilde Willemientjie uniek in hierdie opsig?

Die bevraagtekening van genderrolle in Afrikaanse prenteboeke vir kinders kom bitter selde voor. Daar is wel enkele, veral vertaalde, werke in Afrikaans beskikbaar, soos As ek jy was, oorspronklik geskryf deur Richard Hamilton en vertaal deur Jaco Jacobs (2008). In hierdie boek word rolle omgeruil en die dogtertjie neem beheer oor, terwyl haar pa in ’n pienk tutu as die kastig hulpelose een voorgestel word. Van die min voorbeelde deur Afrikaanse skrywers is Kobus se blom deur Hester Heese (1982), waar die seun in die verhaal toegelaat word om sy sensitiwiteit en andersheid uit te leef. ’n Voorbeeld van die oorskryding van die tradisionele voorstelling van manlikheid word gevind in Wendy Maartens se Drie hoera’s vir Denver (2009), waar ’n seuntjie ontvlugting van seksuele teistering in sy sangtalent vind. Gestereotipeerde geslagsrolle word ongelukkig egter steeds ruimskoots aan karakters in Afrikaanse prenteboeke toegeken. Dieselfde humoristiese, alternatiewe diskoers tot dominante genderideologie as in Die avonture van Wilde Willemientjie het ek nog nie raakgelees nie.

Klik hier om Henriëtte Loubser se LitNet Akademies-artikel "Transgressie in die voorstelling van gender in Die avonture van Wilde Willemientjie deur Riana Scheepers en Vian Oelofsen" te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top