’n Vrag wees-sinnetjies en hul opskrif het op my skerm gearriveer. Die horlosie se wysers was houtlepels. ’n Wit jas het hulle ontvang vir inspeksie. Elkeen het ’n blou knapsak gehad. Almal is versoek om hulle darlings te oorhandig vir bewaring. Toe is hulle van hulle beste klere gestroop en aangestuur vir spesiale behandeling.
Die doringdraadrelings aan weerskante van die weg tot die hemel was onsigbaar en die klap van tonge soos swepe het die kaal woorde voort gedryf.
Hulle is in hierdie paragraaf ingeprop, die deur toegemaak en die lot vergas.
Later is die deur geopen op verwronge posture met bytmerke en afgeskeurde ore, hier en daar het ’n wesie nog aan ’n laaste asempie geroggel. Die woorddoders het die reste na die putte en roosters van ’n brief karwei, al singende:
Kyk reguit vorentoe, braaf en verheug, na die wêreld. Die span marsjeer werk toe. Al wat nou saak maak is Publikasie. Dit is ons roeping. Dis hoekom ons een geraak het met Publikasie in ’n oogwink. Ons ken slegs die opdrag van ons Skrywer. Ons ken slegs gehoorsaamheid en plig. Ons wil dien, en daarin volhard tot ’n bietjie geluk ons diensskap halt. Hoera!
Adriaan

