Lisensietyd

  • 0

Ek was twaalf toe ons op die grusame ongeluk afgekom het. My elmboog was teen die deur gestut toe ek die halwe man regs van my sien lê het. Dit moes net gebeur het. Die polisie het nog nie eers die pad kom afsper nie. Loeiende sirenes sou net daarna opklink deur die siedende hitte wat swaar oor ons gehang het. Desembermaand in die Karoo. Stof en saai en neerdrukkend. My mond was droog soos die landskap rondom my.

Ek wou my lyf wegdraai van die makabere beeld, maar was nie in staat daartoe nie. Die man se kop was na my gekeer, sy oë oop asof in ongeloof. Amper pleitend asof sy gees nog bietjies in sy liggaam was. Ek het gesidder en hoendervleis uitgeslaan. ʼn Paar treë verder het sy onderlyf gelê. Een skoen was weg en die kous het potsierlik halfpad uit die voet gehang. ’n Stuk staal het verfrommeld teen die draad gelê. Ons sou later hoor dat dit die motorfiets se oorblyfsels was. Ek het geweet die spektakel wat voor my afspeel, gaan my nagmerries gee. Dit het ook. Vir lank.

ʼn Eienaardige mannetjie met ’n boggelrug sou met ʼn kruppelstappie na my toe hinke-pink in die angsdrome wat sou volg. Hy sou sy mankemente liggaam ruk en trek asof hy op dreef wou kom. Ek was bang vir sy verinneweerde lyf wat so wanordelik langs die blink motorfiets vertoon het. Sy kieriebeentjies was in ʼn kortbroek geklee. Hy was te lelik om jammer te kry. Ek het net vrees in die vorm van beklemming in my kakebeen gevoel.

Die klanke uit sy keel, het soos boggomgeluide uitgekom. Ek het verskrik geretireer. Freneties omgespring en na ons kar gehardloop so vinnig my bene my kon dra. Met die snaakse mannetjie in aller yl agterna. Ek sou poegaai neersak nadat ek deur die venster geduik het. Op die agtersitplek gaan lê, kop onder my arms om die blafgeluide by die venster te probeer verdoof.

Wanneer ek eindelik my kop sou lig, sou ek die tandelose grimas agter die venster sien. Gillend sou ek wroet en draai en uitmergelend ontwaak uit die droom. My ma se sagte hande strelend op my rug voel speel.

”Dis net ʼn droom my kind, ontspan maar nou.” Sy sou sag begin neurie om my te kalmeer. Haar stem ’n sublieme en vredige klank. Sy kon so mooi sing. Later sou ek weer droom, maar dan van haar. As ʼn triomfantelike engel op ʼn kerktoring waar sy vir my staan en sing asof sy ʼn hele engelekoor verteenwoordig. Surreëel sou ek wegsak in die hemelse musiek totdat die swart nag my knus toevou in ʼn diepe slaap.

My broek bewe behoorlik toe ek voor die verkeersbeampte staan. Vandag is toevallig my agtiende verjaarsdag en ek moet myself voor hierdie man bewys. Dis nou as ek ʼn bestuurslisensie wil hê.  Die teoretiese deel was spotmaklik, maar helaas, dit is het einde nog niet.

Die man knik ’n groet na my. Ek snak behoorlik om genoeg lug in my gorrelpyp te kry. Dit sukkel maar. Die oomblik wat ek die stuurwiel omklem, verskyn die boggelman op die paneelbord voor my. Koggelend knipoog hy waaragtig vir my. Ek sien hom in die spieëltjie, ek sien hom agter die sonskerm, ek sien en hoor hom oral in die kar. Blaf-blaf-blaf.

“Rinus, jy moet ʼn sielkundige gaan sien, ek het jou jare gelede al gewaarsku. Mens kan nie alleen oor so ’n vrees kom nie. Jy is seker al seun op jou ouderdom wat bang is om te bestuur.” Ma was geïrriteerd met my. Dis my eie hardkoppigheid dat ek weier om haar raad te volg. As my maats eers hoor ek was by ʼn sielkundige, om watter rede ook al, hoor ek nooit die einde nie.

Rukkerig trek ek weg met die man-in-uniform langs my. Verbeel ek my of huiwer daar ʼn geamuseerde glimlag om sy mondhoeke? Solank hy in ʼn goeie bui is, is die saak reg. Ek sukkel vorentoe en agtertoe om in die klein parkeerplekkie te kom. Weer die trek om sy mond. Ek bloos en kyk weg. As ek net nie so gebewe het nie.

“Jy doen oukei sover, ontspan gerus, ek kan sien jy is op jou nerves.”

Regtigwaar? Nie eintlik breinchirurgie nodig om dit uit te figure nie, of hoe? Ek byt op my lip en dwing my hande tot sekerte. Sowaar, die trillings bedaar. Dit werk om myself so aan te praat.

Die res van die rit verloop voorspoedig genoeg. Ek voel in my element. Sommer pis en paraffien, hierdie besigheid. Te gou het ek koning gekraai, want by die laaste draai, verskyn die duiwel homself voor my in die pad. Al wat kort is sy vurk en rooi fakkel op sy kop. Ek rem verskrik. Knip my oë. Die beeld begin blur. Ek vryf met die agterkant van my hand oor my gesig, ek kan nie lekker sien nie. Vervaard kom ek tot stilstand. Die man in die motor ruk saam langs my. Gelukkig het ek gesê hy moet sy veiligheidsgordel aansit.

“Wat’s dit nou, Boet?” vra hy. Die glimlag is weg.

Ek sluk. Hoe kan ek vir hom sê Boggelman sit op die stuurwiel en trek gesigte vir my. Hy sal my uitlag. Sweet slaan op my uit, al kry my arms vriesend koud.

“Ekskuus vir die skielike stop. Ek wil net graag hierdie laaste draai stadig vat en geniet,” lieg ek gladweg soos ʼn tandetrekker. “My pa gee nie sy kar elke dag nie,” mompelend en kastig ontevrede.

Die glimlag vlieg terug na sy gesig. Ek trek skewebek vir Boggelman. Anything you can do, I can do better. As ek net vandag agter die rug kan kry … suksesvol agter die rug kan kry. Ek sweer ek sal iemand binnekort oor hierdie probleem gaan sien, as ek net vandag kan pass. Ma is reg, dit gaan weer en weer gebeur as ek nie die sakie aanspreek nie. Dis ʼn belofte aan myself. So kan ek nie aangaan nie. As die fantoom op vol spoed voor my verskyn, wat gaan dan gebeur? Dan is ek in my moer, dis gewis.

Die blafgeluide is nou oorheersend in die kar. Boggelman hits my aan.

“Spin, maak die man ʼn bietjie skrik,” maak ek tussendeur uit. Ek gee gehoor. Hou my regtervoet plat op die brandstofpedaal. Pomp die koppelaar met my linkervoet. Op en af, op en af. Die motor brul soos ʼn woedende leeu. Ek laat die koppelaar skiet, maar my regtervoet bly stewig weggetrap op die silwer voetstuk in die hoek. Ons hop en skiet soos twee zoemende bye deur die lug. Ek en die uniformman. Hy is wasbleek, kneukels voor hom platgestryk op die paneelkissie. Dat ʼn jongman nou vir ’n oom moet wys hoe ’n mens behoorlik wegtrek om die bloed in jou are te voel bruis. Ek gooi my kop agtertoe en skater dit uit. Ek knik vir Boggempie en hy lag saam met my. Ons vorm nou ʼn span, ek en hy.

Die spietkop het uitgespring. Hy is van woorde ontdaan. Waar hy so pas nog spierwit om die kiewe was, knetter nou ’n vlammende rooi. Bultende are in sy nek. Klein ogies wat vuur spu so ver mens kan sien.

“Is jy befok? Wat het in jou gevaar?” kry hy dit eindelik uit. My bors en my maag is seer gelag. Sien die suur drol dan geen snaaksigheid hierin nie?

Ek voel hoe my skouers ruk. Heen en weer word ek gepluk. Dis my ma. So hardhandig, waar is die sagte strelende deuntjie nou?

“Jy het weer gedroom, Rinus. Wakker word. Vandag is die groot dag wat jy vir jou bestuurslisensie moet gaan. Ek het vir jou lekker oats gemaak vir krag en fokus vir die belangrike belewenis.” Ma du my op.

“Toe toe toe, en onthou wat ek gesê het van konsentreer. Moenie dat jou aandag weer afgelei word deur allerhande nonsens nie.” Ma smyt die lakens van my lyf af. Trek my ferm orent. Ek voel asof in ʼn waas. Alles was so werklik. Vir ʼn oomblik wonder ek of ek nie dalk my pa se kar gestamp het met die skelm oefenlopie gisteraand nie.  Ek wou net seker maak ek is goed voorbereid vandag.

“Moenie worry nie, Ma. Vir Rinus is dit bloot ’n oefenlopie.” Ek glimlag selfversekerd.

“Pasop vir jou! En moenie probeer spin of rev of iets nie. Die spietkop is nie jou speelmaat nie.” Ek luister afgetrokke na haar, ruik die hawermoutwalms wat in die gang afstoom na my. Ek glimlag en sien uit na die dag. Rinus op oats is ʼn gevaar om mee rekening te hou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top