Ek lees Tiens se ervaring met die lisensiehernuwing.
Soos elke storie mos maar is, daar is altyd iemand wat ook 'n storie te vertelle het. Skoonpa se liksens moet hernu word. Skoonpa is twee en taggantag. Ek word deur die twee dogters, waarvan een met my getroud is, opkommandeer om skoonpa vir sy hernuwing te neem.
Die datum en tyd is afgespreek en ek daag toe daar op. Skoonpa bring sy "maatjie" saam. Sy moet ook hernu word. Maatjie is vyf en taggantag. By die lisensiekantoor aangekom maak ek hulle in die bank sit waarop daar "musical chairs" gespeel word. Een staan op en almal skuif mos een aan. Die toetsbeampte sien toe my stryd want skoonpa dra nie (sy bosluisies) gehoorapparate nie, en albei sy kniege is van titanium. Sokkel om op te kom. Sy roep toe die senior burgers nader en een sit by haar en maatjie sit by 'n ander toetsbeampte. Tjoef tjaf is maatjie getoets, gevingerafdruk en getjap. Sy staan by die betaaltoonbank. Ek gaan soek toe vir skoonpa. Sy lip hang. Hy het sy oogtoets gedop en word dorp toe gestuur vir 'n oogtoets. Ek kon dit toe nou wragtag nie glo nie. Hy dra tog 'n sterk genoeg bril en op die oog af lyk hy redelik bekwaam om te sien. Ons gaan laai toe maatjie af en beur deur na die oogkundige in die dorp.
Los skoonpa en na 'n ruk kom hy uit. Sien net tanne. Daar is niks met sy sien verkeerd nie. Nou vir wat moes ons toe nou oogtoets laat doen. Nee seg hy, hy kon hoor toe die vrou met hom praat. Hy kon nie die toetsbeampte lekker hoor nie.
Ek noem dit toe aan die susters waarop hul toorn toe op hom losgelaat is oor die bosluise wat hy nooit dra nie.
Hy het al genoem dat hy sy testament 'n paar keer al verander het.
Reusedwerg


Kommentaar
Reusedwerg
Met hierie skrywe het jou jouselwers oortroffe!