Ek skryf my rubriek vanuit ‘n reën- en mis-deurdrenkte Duitse landskap op die Franse grens. Buite kondig voëltjies verheug die koms van lente aan. Die gras en plante is harlekyngroen, die dennebome van die woud agter ons huis ‘n donkerder, natter bottelgroen, en die veld waar ons gister die seisoen se laaste tulpe gepluk het, ‘n meer subtiele liggroen. Agter my het ek ‘n gejaagde Johannesburg gelaat waar die herfsblare na son en stof ruik, die karre aanhoudend beweeg en mens nie ná donker snags dit ooit buite sal waag nie. Maar die oorweldigende groen en mistige lug van die landskap om my maak die reuke, klanke, gevoel van die plek wat ek agterlaat, meer wasig.
Hoe kyk mens as skrywer van hier af, vanuit die verte, terug op die plek wat jy agterlaat? Sien mens dit meer objektief? Meer nostalgies? Met ‘n wasigheid wat bekoor? Of dalk juis skerper?
Dit laat my veral dink aan Isobel Dixon. En haar blik op geografie – wat as deurlopende tema in haar werk beskou kan word.
Dixon se The Tempest Prognosticator laat mens diep op soek gaan na verhulde betekenisse. Die titel verwys na ‘n knap masjien wat in 1850 deur ‘n persoon met die gepaste naam van George Merryweather ontwerp is – heel gepas is sy van, omdat hierdie konstruksie ontwerp is met die doel om storms te voorspel. Dit bestaan uit twaalf glasbottels in ‘n kring met ‘n klok wat bo dit hang. In die nek van elke bottel is ‘n stukkie walvisbeen, gekoppel aan ‘n hamer. In elke bottel is daar ook ‘n bloedsuier wat bo die glas uitkruip wanneer die lugdruk daal (en ‘n storm naby is). Die stukkies walvisbeen word op dié manier ontwrig, wat veroorsaak dat die klok aan die lui gaan. Mens sou kon sê dat Dixon se bundel ‘n taalmasjien is wat, soos die werklike “tempest prognosticator”, van beide organiese én tegniese “materiale” gebruik maak om oor ‘n metaforiese onheil of gevaar van ‘n aankomende storm te waarsku. Hierdie naderende onheil word egter versluier deur daardie selfde materiaal – die fyn-gekonstrueerdheid en vindingrykheid van die taal wat sy gebruik.
Is daardie onheil die motte wat deur die lamplig na die stoep getrek word, soos in die gedig “Moth storm” beskryf word, of is dit iets groters en meer onheilspellens wat die huis met sy inwoners rondslinger? Die huis self word in hierdie gedig as “a lit hulk lurching/ to the clefted hill” beskryf. Die sagte konsonante en liriese toon van so ‘n strofe verbloem vir my die dreigende gevaarte waarna die betekenis van daardie woorde, soos “hulk”, “lurching” en “clefted” moontlik verwys.
Ook die voëltjie hoopoe in haar gedig “Upapa Epops” versteek agter sy fyn veertjies en netjiese kuif, sy kaneel en kastaiingbruin kleed, sy vietsheid en lewendigheid, verskeie sondes. Hy word as ‘n “dandy priest” en ‘n “vaudevillian” beskryf wat daarvan hou om konsert te hou op die telefoondrade – en in die agterplaas te spog en die gek te skeer. Tog is hy ook die verpersoonliking van die dood wat met sy snawel as sekel die onderwêreld induik op soek na wurms, miere, spinnekoppe en goggas om te vreet. Hy is die een wat ander skepsels met sy sis verjaag. 
Maar dit is juis hierdie paradoks van betowerende, melodieuse woorde en suggesties van onheil van Dixon wat my fassineer. Haar gedigte wys dat taal ‘n konstruksie is wat ‘n pragtige liriese wêreld kan skep, met daaragter die werklike wrede realiteit wat dreig om deur te kruip.
Twee weke gelede het Dixon twee gedigte aan LitNet gestuur – “Age of Blossom” en “Acacia Karroo”. Hierdie twee gedigte maak deel uit van ‘n samewerking van Dixon met die Skotse kunstenaar Douglas Robertson. Hulle het saamgewerk aan die projek deur op verkillende poëtiese wyses op DH Lawrence se Birds, Beasts and Flowers (1923) te reageer.
Dixon se “Age of Blossom” verwys direk na ‘n gedig uit bogenoemde bundel van Lawrence, genaamd
“Almond Blossom” (lees dit gerus hier). In hierdie gedig verwonder die spreker hom oor bloeisels wat uit die harde yster van amandelboombas spruit:
This is the iron age,
But let us take heart
Seeing iron break and bud,
Seeing rusty iron puff with clouds of blossom.
Hoe reageer Dixon op die ystertyd wat oorgedra word deur Lawrence? ‘n Ystertyd wat mens sou beskou as verwysend na die vernoetiging van die Eerste Wêreldoorlog. Sien sy die ruïnes, die geweld raak van die wêreld waarin sy haar begewe? ‘n Wêreld met ‘n gesplete moraliteit? Teenoor sy “ystertyd” is haar tydperk ‘n tydperk van bloeisels. Na die geweld wat teen ‘n vrou aangerig is, vind sy hoop. Selfs ná die yster van die winter,
a rain-slaked garden
blossom’s unquenchable heart.
Is Dixon se blik versagtend? In die onderhoud wat ek met haar gevoer het, beweer sy dat sy, wanneer sy elders is, met skerper fokus terugkyk na die plekke wat sy agtergelaat het. Maar is haar blik nie eerder versagtend, salwend, vertroostend, liries nie?
In ‘n essay met die naam “The Poetry and the Present” (1919), staan DH Lawrence ‘n poësie aan wat die lewende, direkte, huidige weerspieël – in teenstelling met poësie wat die verlede en die toekoms vasvang. Die laaste vorm van poësie, beweer hy, het betrekking op poësie van perfekte simmetrie en gekonstrueerde finaliteit – ‘n pragtige, vernuftige taalmasjien. Die eerste tipe poësie, daarenteen, word die beste oorgedra deur die vryeversvorm te gebruik – ‘n vorm waarmee hy veral in Birds, Beasts and Flowers (1923) eksperimenteer.
Wanneer skrywers terugkyk op ‘n landskap wat hulle agtergelaat het, sou mens kon sê hulle poësie probeer die landskappe van die verlede en moontlike toekoms weerspieël. Probeer Dixon, soos Lawrence in Birds, Beasts and Flowers die hede eis? Of is haar gedigte vol liriese nostalgie soos wat Hambidge beweer in haar reaksie op Dixon se debuutbundel Weather eye (2001)? Indien laasgenoemde, is haar woorde heel gepas versagtend en verbloemend. Dit kyk vorentoe en kyk terug, maar het min met die huidige landskap te make. Of moontlik wys dit net weer: daar is nie iets soos ‘n objektiewe of werklike landskap nie. Daar is net lense waardeur daar na daardie landskap gekyk word. Sommiges skerp, sommiges meer wasig.

