Met sy aanloklike beelde van diere en ’n vasteland met wilde lewende wesens en wonderlike skepsels het The Tempest Prognosticator (2011) van die Suid-Afrikaanse digter Isobel Dixon, met wie ek verlede week ’n onderhoud gevoer het, my hierdie week in vervoering gehad. Die gedigte in hierdie bundel is bewys daarvan dat sy ’n digter met ’n besondere gevoel vir liriek en klank is. Haar gedigte is sintuiglik, volgepak met verwysings wat al vyf sintuie prikkel. Ook gebruik sy Engels besonder vernuftig en konstrueer haar gedigte sensitief.

“Beetle, Fish & Fetish” is ’n gedig wat Dixon vir Mary Kingsley geskryf het – ’n Engelse etnograaf, wetenskapskrywer en een van die eerste vroulike ontdekkers wie se reise deur veral Wes-Afrika legendaries is. In die tyd van Kingsley was die enigste vroue van Europa wat Afrika besoek het, die vroue van sendelinge, ontdekkers en regeringsamptenare. Mary Kingsley was egter sélf ’n ontdekker wat veral Europese persepsies van Afrika-kulture en Britse imperialisme hervorm het. Dixon, daarenteen, is ’n Suid-Afrikaanse digter wat in die Karoo (Graaff-Reinet) grootgeword het, maar wat al die afgelope dertig jaar in Engeland woon – en graag oor Afrika skryf.
Hoe skryf sy dus hierdie gedig wat opgedra is aan Mary Kingsley? Sy begin haar gedig met ’n reël uit Kingsley se Travels in West Africa (1897): “Look, my mouth and it be sweet,
so palaver done set.” Palaver kan verwys na bespreking, onderhandeling of redekaweling, maar ook na vleitaal – ’n heuning-om-die-mond-smeerdery. Kingsley se mond is soet in haar onderhandelings met die Ajumba-mans wat haar met hulle kano’s na Rembwe vervoer.
Om ’n woord soos palaver te gebruik in haar onderhandeling met die Ajumba-mans, is vir my die ironie van Kingsley wat Dixon baie goed in haar gedig vasvang: die ironie om oor Afrika te skryf deur mooi-gekonstrueerde Engels te gebruik – die ironie om na die brutaliteit van ’n geografiese gebied te kyk deur die oë van ’n welopgevoede dame wat heuning om die monde van die Ajumba-mans smeer.
Dixon verwys na Kingsley se reise deur Afrika deur van liriese taal gebruik te maak. Reëls soos “the all-asideways-tiptoe comic pomp of crabs/ the Handel-Festival-sized choruses of frogs” vertoon hierdie blik van Kingsley op Afrika – met beelde wat sy vergelyk met Europese prag, praal en dramatiese musiek. In Dixon se gedig is die diere en skepsels wat Kingsley gedurende haar reise teëkom, opgevoed en gesofistikeerd. Die neushoringsvoëls redeneer oor onsedelikhede (“hornbills confabulating scandal”), die krieke beland saans in ’n geskil (“crickets at their vesper-hour controversy”) en die krokodille gee hoeserige sugte, soos mens jou kan verbeel ’n mismoedige man met ’n nat hoes in ’n reënerige Londen sou doen.
Die uitheemse, vir aar eksotiese landskap word ook telkemale vergelyk met Europese verwysings. Die rooi sandbanke van ’n verre rivier gloei soos “Nibelungen gold” (verwysend na die epiese opera van Richard Wagner, Der Ring des Nibelungen); die woude (“owing to the effects of sun and mist”) is “Turneresque” (verwysend na die Engelse romantiese landskapskilder Turner); en die nuwe diere wat ontdek word – “one absolutely new snake, three absolutely new fish/ and a lizard” – is iets wat dr Günther, ’n vername reptiel-taksonoom van die Britse Museum, vir laasgenoemde instansie goedgekeur het. 
Mens sou ook die gebruik van die woord Fetish as ’n eufemisme kon beskou. Kannibalisme is gedurende die Victoriaanse era as ’n fetisjisme beskryf. Mary Kingsley het in 1894 na Afrika teruggekeer met die idee om die godsdienstige praktyke van kannibalisme te ondersoek. Wat in die gedig dus skyn bloot fetisjisme te wees – die kenmerk van godsdienstige of mistieke eienskappe wat aan lewelose voorwerpe gegee word, verwys dus, in die konteks van Mary Kingsley, na die doding en verorbering van werklike lewende mense. Dixon gebruik die Engelse taal en mooi-gekonstrueerde klanke om die wreedheid van die kontinent waarin Kingsley haar bevind het, te versoet.
Maar wat is liriek? En wat beteken dit om liries te raak oor ’n onderwerp in ’n gedig? Liriek is een van die tradisionele genres in die literatuur: liriek, epiek en dramatiek. Oorspronklik, in die Griekse poësie, het dit gedui op ’n gedig wat met begeleiding van die lier gesing is. Vandag word dit egter algemeen gebruik om ’n gedig aan te dui waarin ’n spreker sy/haar idees, gedagtes en veral gevoelens op ’n persoonlike, dikwels verbeeldingryke, manier weergee.
Dixon se liriese stem word gebruik om in hierdie bundel sekere hooftemas te ondersoek: vestiging, geografie, ontdekking en identiteit. Om haar werk te lees, is om die invloed van geografie op ’n identiteit te ontvou. Plekke op die kaart van haar identiteit word aangedui – haar kinderjare in Suid-Afrika en haar grootmenslewe in Brittanje. Persoonlike ervarings in ’n verskeidenheid van, dikwels brutale, landskappe. Om die genre van liriek te gebruik om oor ’n plek of landskap te skryf, beteken dus om intense emosionele en persoonlike gevoelens op daardie landskap te projekteer. Dit is nie die werklike landskap of geografiese plek wat tel nie, maar die persoonlike bril waarmee na daardie landskap gekyk word wat dit sy kleur, sy glans, sy melodie gee.

Met Dixon se bundel in my handbagasie het ek self hierdie week vertrek van die vasteland waaroor Dixon in hierdie gedig en in hierdie bundel skryf. Ek gaan vir drie maande in Duitsland woon en kyk of die geografiese ruimte van Europa ook vir my, soos vir Dixon, ’n moontlike liriese of versagtende blik op Afrika kan bied.
Volgende week skryf ek weer oor dieselfde bundel en meer oor liriek, maar dan vanuit ’n ander vasteland.
(word vervolg)

