Liriekfabriek: Toast Coetzer

  • 0

Wat maak die lirieke van ’n liedjie goed?

Vir my moet ’n goeie liriek dinge in my kop laat draai wat selfs sterker as die tune self is. Dit moet in kort sinne my gedagtes aan die gang sit sodat ek die liedjie op my eie kan verteer, my eie kan maak, in my lewe kan voeg soos Disprin in water, tamatiesous oor chips, shampoo in my hare.

Watter vyf albums behoort elke musiekliefhebber op sy/haar rak te hê?

Dit hang af waarvan jy hou, maar albums wat vir my musiek en lirieke op ongewone, sielvolle wyses saamsnoer, is Chris Letcher & Matthew van der Want se Low Riding, Massive Attack se Blue Lines, Radiohead se OK Computer, Tom Waits se Swordfishtrombones en Gnarls Barkley se St Elsewhere. Daar is baie ander ook, maar dié vyf sal nog vir lank waardeer word. (Ek sou ook nie sommer ’n lewe sonder ’n Oliver Mtukudzi-CD in jou versameling aanmoedig nie.)

Is die skryf van lirieke die digkuns van die nuwe geslag? Is daar tegniese vaardighede wat bemeester moet word om 'n goeie liriekskrywer te wees?

Ja, en nee op die eerste vraag. Dit is tans makliker, of dalk meer fashionable, om ’n album op te neem en uit te gee as wat dit is om ’n versameling gedigte uit te gee. Ek dink dit is fantasties dat baie jong liriekskrywers (soos byvoorbeeld Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar) sulke uitsonderlike lirieke skryf, en dat hulle musiek vir beide die tunes en die lirieke aangehang word. The more the merrier. Ek sal my nie self voorhou as iemand wat oor die tegniese vaardighede beskik om goeie lirieke te skryf nie, grotendeels omdat my band (The Buckfever Underground) se musiek grotendeels baie ongewone struktuur het en nie op die gewone verse-chorus-etc-formule staatmaak nie. (Met ons musiek probeer ek bloot die woorde op ‘n soortgelyke ritme laat voortstu as wat die musiek dikteer – maar dit moet ook op hul eie kan staan, met ander woorde, as ek die liedjie “Die Woord” – hier onder aangeheg – voorlees sonder musiekbegeleiding, dan moet dit steeds "musiek" wees, die volgorde van die woorde moet maak dat hulle mekaar beïnvloed, dit moet kan roggel en kabbel, priem en doodmaak.) Maar om werklik tight pop songs te skryf, moet jy verstaan hoe musiek en liriek mekaar ontmoet. David Kramer is ’n ekspert; ek sou mense aanraai om heeldag David Kramer te luister (of Bob Dylan) as hulle iets hieroor wil leer.

Oor die wisselwerking tussen musiek en lirieke: Kan die regte musiek lirieke goed maak, of benodig musiek goeie lirieke om dit suksesvol te maak? Hoe het die een die ander een nodig?

’n Puik tune het nie altyd die beste liriek nodig nie, want jy kan met moord (veral radiomoord) wegkom as die melodie sterk genoeg is. Baie Beatles songs het maar simpel lirieke, maar dit maak nie van hulle slegte songs nie. Simpel liedjies is ook pret (’n album soos The Flaming Lips se Soft Bulletin slaag daarin om beide diep emosioneel en lekker laf te wees, met iets soos spinnekopbyte aan die drummer wat tot iets heel heiligs verhef word). Ek dink soms wil mense te ernstig raak oor lirieke, en dan verval hulle in clichés of in geforseerde angst of existential crises wat net eenvoudig nie bestaan nie. Dit is veel beter om rond te neuk soos Butthole Surfers (sien die album Locust Abortion Technician, of enigiets van Ween) as om drek soos Nickelback uit te druk (soos puis op die gespuis – wyk, Satan!). Probeer jou werklikheid beskryf in jou liedjies, selfs al gaan dit dan nou oor jou vuil wasgoed (het gewerk vir Shakira) en hoe kak sigoreikoffie smaak. Met lewenservaring sal daar wel meer en meer stof vir sterk lirieke kom. Afhangend van die tipe musiek wat jy wil maak, sal die lirieke ook beïnvloed word. Dis ’n heel ander manier van dinge doen as jy rhymes vir ’n hip hop song skryf, net soos ’n dance track anders is en ’n pure pop classic soos Britney Spears se allemintige “Toxic” iets anders vereis. Wat dance tracks betref, iets soos Brother Brown se classic “Under The Water” lees op papier dalk simpel, maar vind dit jou oor en lyf in ’n klub iewers, is dit pure poetry van ’n ander kleur en geur (veral die Deep Dish remix). ’n Betowerende stem alleen (soos Bjork s’n), kan gemiddelde lirieke tot kuns verhef. Selfs instrumentele tracks, soos Benguela se hele ouvre of Aim se onoortreflike snit “Cold Water Music”, praat op onsigbare wyse in woorde. Woorde is nie alles in die lewe nie. Driekwart van musiek se magic gebeur in jou kop, waar jy dinge vir jouself uitpluis, interpreteer, projekteer.

Is die skryf van lirieke vir jou 'n emosionele of ’n logiese ding? Het jy met ander woorde eers inspirasie nodig om te kan skryf? Wat dryf jou om lirieke te skryf?

Vrye tyd dryf my om kreatief te skryf, en dis ongelukkig ‘n beperkte kommoditeit. Maar dit beteken nie inspirasie kan bespreek of ingeslot word in ‘n spreadsheet nie. Lines kom gedurig by my op – terwyl ek langafstand ry, in verkeer vassit, na ander musiek luister, droom, braai. Ek probeer dit neerskribbel en later swel dit dalk groter uit tot ‘n volwaardige stuk teks wat in ‘n song vir my band kan ontaard. Ek dink daar moet dus eers ‘n snars inspirasie kom voor ek kan skryf, of ten minste iets wat die moeite werd is kan skryf. Die gaan sit voor die rekenaar is logies, maar die skryf van iets goeds moet uit ‘n eerlike, emosionele put kom, anders voel dit vir my soos tydmors. May as well DStv kyk.

(Mense kan enige van ons recorded tunes se lirieke op ons website gaan lees. Click net op “Dokumente”.)

Foto: Annie Klopper

<< Terug na Liriekfabriek <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top