Wat maak die lirieke van 'n liedjie goed?
Ek het geen idee nie. Die eerste ding wat ’n mens opval is seker die tema. As die lirieke jou emosies verwoord of jou opinies deel, is die kans groter dat jy van die song gaan hou. Dis hoekom liefdesliedjies so populêr is en lofgesange aan Satan minder gewild is.
Elemente wat gewoonlik my aandag trek, is slim woordspel, verbeeldingryke beskrywings en ongewone temas.
Wat my ’n kramp gee is wanneer ’n sin in ’n vers ingeforseer word deur die sanger omdat dit te veel woorde of klinkers bevat. Maar ongeag laasgenoemde literêre lompheid, solank die woord bokkie nie gebruik word nie en fire, higher en desire nie met mekaar gerym word nie, is ’n liriek in my opinie al klaar 100 persent minder sleg.
Watter vyf albums behoort elke musiekliefhebber op sy/haar rak te hê?
Argg, net vyf?! Maar OK, ek neem aan dit het hier spesifiek betrekking op lirieke.
- Alice Cooper: Welcome to my Nightmare
- Pink Floyd: Dark Side of the Moon
- KOBUS: 100% Skuldgevoelvry
- Koos Kombuis: Bloedrivier
- Deicide: Deicide
Is die skryf van lirieke die digkuns van die nuwe geslag? Is daar tegniese vaardighede wat bemeester moet word om 'n goeie liriekskrywer te wees?
Nee, want die ratio tussen intelligente en breinlose lirieke is vandag omtrent dieselfde as 50 jaar gelede. Die grysstof-gebrekkiges besit steeds 90 persent van die mark. Indien enigiets behoort jy ten minste eers ‘n basiese begrip te hê van wat die woord kwatryn beteken voor jy toegelaat word om jou kinderlike liefdesodes en geniale tienerangstighede te ontketen op ’n niksvermoedende Word®-dokument.
Daar hoort ’n wet te wees.
Oor die wisselwerking tussen musiek en lirieke: Kan die regte musiek lirieke goed maak of benodig musiek goeie lirieke om dit suksesvol te maak? Hoe het die een die ander een nodig?
Musiek sal nóóit lirieke swakker of beter kan maak nie, maar ek glo as die musiek goed is (uit ’n tegniese oogpunt óf as dit bloot catchy is), kan dit wel jou aandag aflei van ’n swak liriek. So jy kan (vir ’n wyle) nog wegkom met ’n crap liriek, maar nie met crap musiek nie. Hierdie reël geld natuurlik nie vir enigiemand wat hul album op SABC2 adverteer nie. Hulle kom weg met beide crap musiek en nog crapper lirieke.
Uiteindelik luister verskillende mense op verskillende maniere na ’n song. Dis ’n ding waaroor jy nooit ’n konsensus gaan bereik nie. “One man’s meat is another’s poison”, soos die spreekwoord lui. Iemand wat meen Nicholis Louw se lirieke is briljant kon moontlik dink Koos Kombuis s’n is stront en vice versa.
Musiek behoort die tema/gevoel van ’n song, die inhoud van die liriek te weerspieël en ondersteun.
Is die skryf van lirieke vir jou 'n emosionele of ’n logiese ding? Het jy met ander woorde eers inspirasie nodig om te kan skryf? Wat dryf jou om lirieke te skryf?
Ek kan nie dink dat enigiemand met ’n goeie liriek vorendag gaan kom as die skryf daarvan nié met inspirasie gepaard nie.
Ek het geen idee wat my dryf om te skryf nie, maar ek vermoed dat die neiging/drang waarskynlik iets in jou DNS is, nie ’n talent wat jy kan aanleer in ’n na-uurse studiegroep as byvak nie.
Behalwe as jy lirieke vir die usual suspects in die kultuurfeestent wil ontlas.
Die Swart – Francois Breytenbach Blom ’n verkyker, ’n spieël my verkyker kyk en kyk ek kyk maar weer terug na die oë in die spieël |
Foto's: Annie Klopper