Liefde op papier: Brandende liefde

  • 0
Hierdie blad bevat erotiese literatuur en illustrasies. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

 

Brandende liefde

die nag is donker, pikgitswart soos die dood
takke krap soos zombies op die dak
die wind ruk en pluk soos ’n inbreker aan my venster
die gordyne stoot weg asof ’n spook wil inklim
en ek trek die kombersie stywer om my lyf;

trane kolk in my oë, my lippe prewel ’n gebed:
onse Vader wat in die hemel is, verlos ons tog van die bose

ek sien jou soos ’n trol my kamer inwaggel
die vloer kraak spookagtig onder jou gewig
sakkies hang soos donderweer onder jou oë
die eierwit bloedrooi
met sigbare aartjies wat soos weerligstrale die iris aanval,

’n sigaret dans soos ’n vuurvliegie in jou mond
jou vinger krul om die Beretta se tongetjie
slaggereed om die demone in jou kop vir ewig stil te maak;
jy kniel langs my bed, kus my soos Judas op die kop
jou lippe koud soos ’n geweerloop

ek hoor God bulder:
dit is My seun in wie ek ’n welbehae het

nie vanaand nie, ook nie ooit hierna nie
tog,

die vuurvliegie het op my kussing agtergebly,
nesgeskop en eiertjies gelê
en terwyl die slaap jou oorrompel
klim vlamme uit die hel
en strek hul vlerke oor my kamer

vasgevang in angs sidder ek:
my God, my God, waarom het U my verlaat?

miskien moes jy my geskiet het
dan het die weeshuismense my nooit kom haal nie
dan was ons saam, in die hemel of die hel.

 

 

Klik hier vir kompetisie–besonderhede

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top