| Hierdie blad bevat erotiese literatuur en illustrasies. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately. |
Afstandfotografie
(vir Esther – Junie 2003)
Jou foto is geensins sigbaar
in die huis -
nog minder rus dit salig
in my beurs.
Jou lagplooimond vervaag
daagliks in my geheue –
ek kan jou vrougeur skaars meer ruik …
Maar kaap die Kaap se storms my,
vliet buitelynbeelde al skerper,
vlug vergete samesyns voor my verby,
zoem jou vol vreugdes reeds
my aankoms op ’n afstand -
die geur van jou volheid
word ingeskerp as helder fotobeelde
(blywend
bevestigend
in bromide
bewaar)
met volglans
om telkens weer
gaandeweg te verwelk
by my vertrek!

