Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.
- Klik hier vir die volledige kompetisie-inligting.
- Besoek hierdie blad om nog inskrywings te lees.
- Die kompetisie het reeds gesluit.

Inhoud:
- Annika Pretorius
- Desiré Dannhauser
- Olga Leonard
- Linda du Plessis
- Zalman S Davis
- Riëtte Salzmann
- Michèle Meyer
- Estelle Piek
- Susanne Pike
- Jonine von Wielligh
- Jolene Coetzee
- MM Coetzee
- Ita Froneman
- Annamarié van der Vyver
Annika Pretorius
Wat is liefde presies?
Dis nie net soen en vry
Of hoeveel drukkies jy kan kry
Maar soos ’n skildery
Jy het altyd ’n idee wat om te verf
Maar sukkel om partykeer die kleure te kry.
Dit kan of Mona Lisa-goed wees of ’n totale gemors
Soos blou en rooi wat pers maak
Of alle kleure wat grys raak
So is liefde vir my
Wat deur jou hart kan sny
Daar is die antwoord na ons vraag
Dis skoenlappers in jou maag
Jy voel of warm binne of geskeur
Maar dis iets wat niemand kan keer
Nie om in mekaar se hare te wees nie
Maar om mekaar te wil sien
So wat is liefde
Wel dis eenvoudig
Dis pleinweg
Jou keuse wat jy daarmee wil doen
Is dit sleg of goed
Reg of verkeerd
Maak jou keuse
Want dis ’n reuse
En maak hom reg
Want dis wat liefde is.
Desiré Dannhauser
Soms wonder ek, hoe lief ek jou het?
Ek tel die sand aan die see,
korrel vir korrel,
maar dit raak op ...
Ek gryp elke ster in die hemel
tot ek my hande leeg afbring.
Ek luister na horlosies
hulle raak stil.
Een vir een.
En ek weet ek sal eers weet
as ek ook op is.
Olga Leonard
Liefde is al
My liefste, sing vir my vanaand
en vertel my weer dat jy my lief het,
want iewers tussen sweef en val
in ’n oomblik van besef
is liefde al wat ons het
Woorde is waardevol soos goud
akkoorde raak mense, jonk en oud,
maar iewers tussen doof en stom
in ’n oomblik van besef
is liefde al wat ons het
Die wêreld eggo onsekerheid
met oorloë aan die orde van ons tyd,
maar iewers tussen goed en kwaad
in ’n oomblik van besef
is liefde al wat ons het
Alles hier is tog net tydelik
en eendag hierna sal ons begryp,
maar iewers tussen nou en dan
in ’n oomblik van besef
is liefde al wat ons het.
Linda du Plessis
Liefde is ...
Jesus –
die genade van Bo
die kruis in die middel
om sy gebooie te bewaar
my naaste liewer te hê as myself
my geliefde –
daardie eerste oogopslag
toe my hart se lyngrafiek
uit sy lub-dub spring
my hartklop laat
my are bruis
en my laat drink uit die fontein
vol genot, vreugde en plesier
sleepvoete laat trippeltrap
my vonkel in my oog
my kind – die eerste suig aan my bors
om jou in my arms te troetel
daardie spoegies op jou eina
deurnag by jou siekbed te waak
in die natuur –
in die skyn van die son in die dag
die maan helderder glimlag
sterre speels laat knipoog
wat elke sekonde die suurstof
in my asem laat vloei
om die vuur te laat brand
vir die energie en lewenslus
sodat ek op die vlerke van ’n arend
die hoogste hoogtes kan bereik
Afrikaans – my passie vir jou my taal
om daarin te dink, skryf, praat en dien
die rede vir die gediggie wat ek skryf
in ’n taal wat ek bemin en sonder musiek
op die strand kaalvoet te dans
ek myself –
die mengelmoesbestanddele vir die resep
vir my medemens waarmee ek –
geduld, omgee, respek, teerheid,
mededeelsaamheid, vertroue,
humor, romanse en gawes
van die Gees uitdeel, vergewe en vergeet,
hoop, troos, glo in mekaar,
dra mekaar se laste, sagsprekend,
trots is op ander se sukses,
deernis, begrip,
geloof en hoop uitdeel
die veiligste hawe –
met die lekkerste en langste reis in
’n wêreld en land met goed en kwaad
toevou in onthou-herinneringe
die kosbaarste geskenk van Bo
ja ... liefde is om vir almal te lewe
maar ook om vir almal te sterwe
maar soveel te meer
liefde is jy –
my Valentyn
Zalman S Davis
Jou liefde sal om my verstyf
Liefde vorm wanneer Picasso
sy kwas in rooi doop en die buitelyne
van jou mond op canvas vorm,
die gousblomme op die dorre
Karoo-vlaktes knoop,
En jy, my lam,
wat met jou lyf
in my lêplek nesmaak.
Ek onthou toe jy wieg-wieg
in my arms lê op ’n Guy-Fawkes-aand
op Mosselbaai,
en vir my singend van appelliefies vertel het,
en die skape teen die berg se hange.
En nou’s al jou liefde om my verstyf
wanneer ek die sterre
soos bruin vlinders
vanuit die lug pluk.
Riëtte Salzmann
My beminde is ’n braaivuur
In aandskadu flankeer jy met my.
Sigeunervonkies flenter tussen ons deur.
Jy knetter en skerts
met die druppende vet.
Jou soet-uie en bierbroodgeur
vermeng met hardekool en tjops
bedwelm –
laat my soos 'n verslaafde voel.
In jou rookswepies dans vreemde feë.
Jy knars antieke inkantasies.
Jou gloeiende oë beduiwel my –
ek kan skaars asem kry!
My hande berei die offermaal
soos 'n kneg in jou tempel:
die blindevinkies is lankal gaar
maar ek kan nie ophou staar.
Al taan ons passie tot ’n hopie as,
smeul jy heelweek in my hart.
Op ons getroue sabat
sal ek weer jou altaar bou,
in my godin se warmte baai
en ritueel my vleisies braai.
Michèle Meyer
Vloed
want jy syg al inner my wese deur
tap my boordensvol
versuip of nie, ek wil nie keer
skater soos jou stroom my rol
tap my boordensvol
tog laat ek my wetend sleur
skater soos jou stroom my rol
duik in jou brekers weer en weer
tog laat ek my wetend sleur
deur die deining banger blou
duik in jou brekers weer en weer
lig my anker laggend vir jou
deur die deining banger blou
breek sonlig blink die dag
lig my anker laggend vir jou
al weet ek vloedskade wag
Estelle Piek
sluit die deure dig vanaand
draai grendel in die slot
hoor die wolwe buite huil
stoot windvlaag om die hoek
sien die kersvlam flikker flakker
skadu’s teen die muur
uit hoeke donker wat daar loer
digby in die vuurkring van die vlam
net jy my lam
sprei wyd die velkaros
jou asem teen my keel
weet dat in jou binnekring
ek vir altyd mag skuil
Susanne Pike
liefde is ’n tydbom
per maand per week per dag
per uur
(per se)
het ons passievuur
verskrik verstik
in genadelose terugtik
van kwaliteittyd –
skugter geretireer as ek dit weer
in my kaal arms wou vang
om die bitterallenigheid (bang)
aan die klokwerk van jou hart te hang:
in my toekomsberou
sal ek steeds ons tydloosheid onthou
as ek ons loslyfliefde
nog net één ewige sekonde
in my hartseerhande vas kan hou
Jonine von Wielligh
Die swygtaal van liefde
Trippel-woorde soos hartlam of liefie
tree nie oor die drumpel van jou lippe nie,
jy bring nie gerwe blomme of donker sjokolade huis toe nie,
jy koop Nike-tekkies vir ons seuns
en twee brode as ek vra vir een
Jy trek my kar uit die garage
as ek werk toe moet ry op 'n ongure uur,
stip-betaal die Telkom-data en wanfunksionele munisipaliteit,
dit alles doen jy woordloos vir die huis
Saans vat jy die wasgoed waskamer toe
en sluit ons hekke teen die nag se rower-oë
jou handelinge is ’n endossement van sekuriteit
om te voorsien is hoe jy liefde gee
Jolene Coetzee
Liefde is:
Skyn helder soos roosblare.
Het nie nodig vir spesiale gebare.
Gee nie net met oorgawe.
Maar raak ook aan jou hart se snare.
Lei jou aan die hand.
Deur die see se sand.
Sing vir jou ’n lied in die more.
Vee weg gebroke spore.
Maak die hart nie seer.
Vergewe al is dit teer.
Liefde is bedoel.
Vra jou om te dans.
Gee jou nog ’n kans.
Rooi is sy kleur in ink geverf.
Fluister in jou oor dat hy jou sal bederf.
Staan jou by deur dik en dun.
Kyk na jou al maak als nie sin.
Deel met jou hartsgeheime.
Laat jou loop op reguit lyne.
Vriendelik soos geskrywe staan.
Kom ons Prys ook Ons Koning se Naam.
Liefde is bedoel.
Laat jou hare waai deur die wind.
Bring huis toe nog ’n verlore kind.
Groet jou goodbye met sterre in die oë.
Laat jou aan wonderwerke glo.
Gee jou rede om in die oggend op te staan.
Jou geliefde langs jou te gewaar.
Spreek die Lewe teen negatiewe gebeure.
Verlos is ons wat na Liefde strewe.
Nie net ’n gevoel.
Liefde is bedoel.
MM Coetzee
Liefde is ...
soos gronderosie
hy bring nie altyd troos nie
liefde is soos ink op papier
as dit jou hart vul met plesier
liefde is blind
die emosie kan jou hart vermink
liefde is soos ’n nat koekie seep
glibberig as hy jou hartjie breek
liefde is soos die oseaan
hy's oral waar jy gaan
liefde is my rigtingwyser
as ek na my hartklop luister
liefde is soos kanker
vir baie is dit ’n anker
liefde is ’n gevoel
weet jy wat ek bedoel
Ita Froneman
Liefdesbeloftes
my liefde is ’n borrelende fontein
in klare water wat jou koel oorspoel
my liefde is huppelgras
golwend oor savannas as dansende droomgodin
my liefde is laatsomerreën
lafenis as jy dorstig verlang na swanger beloftes
my liefde is ’n varsgeploegde land
vrugbare rooi sooie omgedolwe
dat ek jou saad kan ontvang en groei
my liefde is herfswinde
goue fladderinge van fluisteringe
in die laat sterrenag
jou stem is golfsuisinge
jou oë die oseaan se bitterblou
jou lippe op myne: ligfletse kristal
jou vingerpunttreë: die sug van maagde
want ons liefde is sonlig
wat oor my skouers vou
in splinterglas-oomblikke
ons liefhê is …
tydloos
matelose voleinding
in seisoene van omgee
Annamarié van der Vyver
Drie-rigting-spieël
Wynrooi romp
wat hang in die kas:
Versmoor
deur ’n plastiekjas.
Die growwe sy se voue
gooi skadu’s
op die verbloemde skeur se las.
Strepies korset
het my opgewonde hart
destyds mooi beteuel.
Nou hang die lap pap, sonder vorm,
die verwagtinge was te veel.
Osbloed-leerskoene,
met gespes om die enkels,
het my nog jare lank gedien.
Min het ek geweet: die skoen sou nie pas nie ...
Hoe kon ek die toekoms in sien?
My ouma se sentimentjuwele
en handsakkie van satyn
was gebêre vir hierdie dag.
Ook haar seemsleer jas teen Karoo se ryp
vir terwyl ek op my bruidegom wag.
Ek doen self my grimering en hare
met valsdiamantknippies en beskeie gipskruid.
Beskou myself in die drie-rigting-spieël,
Min wetend ek’s ’n verkulde bruid.
Vandag as ek blaai deur die album
met foto’s in silwer ink beskryf,
sou ek graag, in liefde wat was,
jou wynrooi, gestreepte das
soos ’n galg om jou nek wou styf.

