Liedjieskrywer wen R50 000 met Sanlam Sing 'it 2013

  • 0

Click here for English

Frans van Wyk, een van die finaliste in Sanlam Sing 'it se liriekskryfkompetisie, het geen idee gehad dat Straatligkinders by sy huis sou opdaag om hom met baie opwindende nuus te verras nie: hierdie sanger-liedjieskrywer se lirieke vir “Plaasvervanger” is as wenner in vanjaar se Sanlam Sing 'it liriekskryfkompetisie aangewys, en het hom R50 000 in die sak gebring!

Vanjaar se Sanlam Sing 'it-kompetisie het op ‘n hoë noot geëindig, met byna 40 000 Facebook-aanhangers wat vir hulle gunsteling-Sing 'it­-liedjie gestem het. LitNet en Sanlam het vroeër Suid-Afrikaners van 18 jaar en ouer genooi om lirieke vir die top Suid-Afrikaanse kunstenaars AKA, The Soil, BlackByrd en Straatligkinders te skryf, en Frans van Wyk, Nothando Zungu, Beulah Harris en Giovanni Coetzee was die vier finaliste wat dinge toe vir die eerste prys moes uitspook.

Luister na die finaliste se liedjies:


 

Frans van Wyk is ‘n 26-jarige sanger-liedjieskrywer van Pretoria. Hy het drie lirieke ingestuur en dit was die eerste keer dat hy aan die kompetisie deelneem. Frans is die voorsanger van ‘n plaaslike groep, Hey, River!.

Straatligkinders het Frans se lirieke uit duisende inskrywings gekies. "Dit was wonderlik om te sien hoe die standaard van liriekinskrywings sedert verlede jaar verbeter het,” het Bouwer Bosch gesê, wat ook deel van die 2011-kompetisie was, toe sy groep, Dans Dans Lisa, ook gewen het.

Frans het agterdogtig geraak toe Bouwer reeds Donderdag by sy huis in Pretoria opdaag. "Ek het geweet julle kondig die wenner eers Vrydag aan,” het hy aan Sing 'it gesê. "Ek het geen idee gehad wat aan die gang is nie."

Frans was op pad werk toe by ‘n plaaslike pizzarestaurant toe die Straatligkinders-voorsanger met ‘n kamera by sy huis opdaag. Frans was heeltemal uit die veld geslaan en het Bouwer hartlik omhels. "Laat ek net gou my baas bel en vir hom sê ek bedank,” het hy grappenderwys gesê.

Frans sal die geld goed benut: dit sal help om sy motor af te betaal, en sy musiekgroep sal ook in die prys deel, omdat hy beplan om ‘n CD met van die prysgeld te maak. "Wie weet, dalk bring ek volgende jaar ‘n album uit." Hy beplan ook een of twee musiekvideo’s.

"Sing 'it is ‘n briljante platform vir mense wat in die liedjieskryfbedryf erken wil word. Dis ook ‘n geleentheid vir soveel aspirantskrywers om hulle lirieke ten toon te stel en nie toe te laat dat hulle talent vermors word nie," het Frans gesê.

As deel van die eerste prys sal Straatligkinders ook ‘n musiekvideo van die wenliedjie kan vervaardig. Frans sal die geleentheid kry om ‘n kameeverskyning in die video te maak, wat vroeg aanstaande jaar eksklusief op MTV (DStv kanaal 130) gespeel sal word.

"Dis baie belangrik vir ons as ‘n groep om deel te wees van ‘n projek wat jong en ontluikende talent ondersteun en dis vir ons wonderik om deel te wees van iets wat niemand anders in Suid-Afrika doen nie," het Bouwer Bosch gesê. "Ons bedank baie graag al daardie Sanlam Sing 'it-aanhangers wat vir ons gestem en die lied afgelaai het. Ons het alreeds groot planne vir die video, maar al wat ons in dié stadium kan sê, is dat dit ‘n snaakse een gaan wees. Ons is ook baie opgewonde dat Frans in die video sal verskyn."

"Die kompetisie het 'n groot bydrae gelewer tot LitNet se projek om aan skrywers en kunstenaars stem te gee," het LitNet se uitvoerende redakteur, Etienne van Heerden, gesê.
"Vanjaar se liedjies is van hoogstaande gehalte, en toon ‘n groot verbetering op lirieke van vorige jare,” het Sanlam se senior borgskapbestuurder, André Kearns, gesê. "Frans se lirieke verdien hulle nommer 1-plek, en ons wil hom baie gelukwens met hierdie groot prestasie."

"Sanlam is trots om projekte te ondersteun wat kreatiwiteit en liefde vir musiek bevorder. Ons wil kulturele verskeidenheid vier deur kuns-en-kultuur-inisiatiewe soos die Sanlam Sing 'it-liriekskryfkompetisie te borg. Vanjaar se kompetisie het weer eens beklemtoon hoeveel musiek in Suid-Afrikaners se lewens beteken. Dit was vir ons ‘n plesier om te kon bydra tot die skep van ‘n platform waar Suid-Afrikaners hulle woorde kon laat leef."

Kliek hier om die onderhoud met Frans en Straaligkinders oor hulle liedjie te lees.

Sluit by die Sanlam Sing 'it-Facebook-gemeenskap aan: www.singit.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top