Foto: Canva
Lied van duiwe
ek hoor nou nog die duiwe se gekoer in Rietkuil se laning
en as ek die gedagte volg is jy daar, êrens aan die anderkant
langs Oupa Ryk wat jy grootoog en kaalvoet gevolg het
op ’n kussinkie sit vryf jy die sere uit sy voete
soos wat ons kleinkinders dit later sou doen
onder die kersboom, kinderdae van onskuld
ek hoor nou nog die duiwe se gekoer in Rietkuil se laning
en as ek die gedagte volg is jy daar, êrens aan die anderkant
saam met Oom Paul wat vir Ma en Ta’mien om en om
en om laat tol in ’n drommetjie onder by die plaasdam
die gelag en geskree ’n herhaling van my hart, en dit wat
sterk na jou toe sou terugkeer in die morfienvisoen-fase
ek hoor nou nog die duiwe se gekoer in Rietkuil se laning
en as ek die gedagte volg is jy daar, êrens aan die anderkant
saam met Pa en Sus in ’n bakkie, Namib-bestemming
om in die kleur van ons samesyn weergebore te word
te drink van die rooi bloed van onse Skepper wat jou
vir ons geleen het, nou die brood van herinnering breek
ek hoor nou nog die duiwe se gekoer in Rietkuil se laning
en as ek die gedagte volg is jy daar, êrens aan die anderkant
in skrynende kleur, die witste lig, sit ek in ’n stootwaentjie
met ons twee, ek en jy, wat winkelvensterreisigers is
op soek na die verlore hemel waar jou siel nou dans
op die ritme van die langspeelplate wat myne sou word
ek hoor nou nog die duiwe se gekoer in Rietkuil se laning
en as ek die gedagte volg is jy daar, êrens aan die anderkant
om vir ons te sê elke ding in die lewe het ’n vaste seisoen
’n ritme, sodat die hart oor kan loop en tot rus kan kom
ook ’n tyd om vir jou blomme te sing, witter as wit irisse
wat nooit sal verwelk in die vensterbank van nou se dae