Die Nederlandse skrywer Tommy Wieringa is onder Afrikaanse lesers bekend vir Joe Speedboot,wat verlede jaar deur Zandra Bezuidenhout vertaal is. In 2006 was Wieringa met Joe Speedboot genomineer vir die Libris Literatuurprys, maar hy het toe die F Bordewijk-prys gewen. Nou het hy die knoop deurgehaak en die Libris Literatuurprys 2013 gewen met Dit zijn de namen, ’n roman oor migrasie en religie.Hy was ook genomineer vir die E du Perron-prys, maar het dit nie gekry nie. Die formele toekenning van die 20ste Libris het op 7 Mei in die Amstel Hotel in Amsterdam plaasgevind. Dit was egter nie die prysgeld van 50 000 euro wat Wieringa in die grag laat spring het nie. ’n Jurie van vyf lede onder leiding van die televisiepersoonlikheid Clairy Polak het Dit zijn de namen beskryf as ’n roman met “stilistische bravoure en taalkundige sierlijkheid”.

Dit zijn de namen begin uit die perspektief van ’n polisieman in ’n fiktiewe grensstadjie Michailopol in die steppe: “Pontus Beg was niet de oude man geworden die hij zich had voorgesteld. Er ontbrak iets aan. Er ontbrak zelfs veel aan” (9). Wat in sy lewe ontbreek, word gou duidelik: geloof, religieuse standvastigheid. As hy ontdek dat hy miskien Joods is, wíl hy ook graag Joods word. Hy gaan steek kers op by die stokoue Joodse rabbi, Zalman Eder, en bestudeer die Tora. Beg se verhaal voltrek hom in die ongelyke hoofstukke. Die roman is duidelik gekomponeer.
Die tweede verhaallyn begin in die volgende hoofstuk. Dit raak later vervleg met Beg se persoonlike soektog. Sewe vlugtelinge is op soek na hulle vryheid en swerf heen en weer oor die steppe. “Vijf mannen, een vrouw en een kind. Ze hadden geen heldere gedachten meer over waarom ze iedere dag weer in beweging kwamen; werktuigelijk als zonnebloemen bewogen ze met de zon mee. Zoals ademhalen, zo liepen ze” (14). Om op die trein te kon klim vir die vlug, moes hulle alle identiteitsdokumente verbrand. Daarom bestaan hierdie groep uit die vrou, die jonge, die lange, die stroper, die Neger, die man uit Asjchabad en Vitaly. Hulle hellevaart word gekenmerk deur ontbering, honger en groeiende agterdog teenoor mekaar. Dis die Afrikaan wat die kwessie van geloof in hierdie kringetjie inbring toe hy die kruis om sy nek soen. Die man uit Asjchabad kon dit nie verdra nie, want: “Nu moest hij de man uit Ethiopië als mens beschouwen” (41). Dis die Afrikaan wat later vermoor word nadat hy verdag gemaak is deur die vrou se stories, maar almal is direk of indirek skuldig. Dis sy kop wat hulle heelpad verder in ’n sak saamdra as ’n soort attribuut van geloof.
Uiteindelik vervleg Wieringa hierdie twee verhaallyne op meesterlike wyse. Dit is ’n “roman over twee explosieve thema’s”, aldus die jurie. Die groepie rigtinglose swerwers wat tussen nêrens en êrens uitgelaai word, herinner aan Herta Muller se Ademschommel. Daarin word Roemeens-Duitse mans en vrouens ná die Tweede Wêreldoorlog Rusland toe vervoer vir die Russiese wederopbou. Hulle ontberinge is mens- en God-onterend, net soos by Wieringa se karakters.
Wieringa was nogal op sy senuwees voor die uitreiking. Vandat hy in 2006 vir dieselfde prys genomineer was, het hierdie prys bekend geword daarvoor dat die gunsteling-kandidate juis nié die prys kry nie. Hy het die vyfgang-dinee direk voor die uitreiking dan ook ervaar as die langste teregstelling wat ’n mens kan beleef. Onder hierdie druk het hy hom voorgeneem om met sy pak en al in die Amstel te spring as hy die prys sou wen. Sy grootste kompetisie was Oek de Jong, wat pas die Gouden Boekenuil gewen het vir Pier en oceaan. Die Gouden Boekenuil is die Vlaamse ekwivalent van die Libris-prys. Twee ander sterk kandidate was Esther Gerritsen met Dorst en Arnon Grunberg met De man zonder ziekte.
Dit zijn de namen is opgedra aan Wieringa se twee dogters. Die wysheid wat hy graag aan hulle deurgee in die motto, pas perfek by die roerende slot van die roman: “Zolang je ouders nog leven, reis dan niet ver weg. Indien je op reis moet, laat ze dan weten waar je naartoe gaat.”
Wieringa is ’n dankbare man. Hy moes ten slotte nog sy voorneme nakom en in die grag spring. Sy grys troupak het hy eers netjies eenkant op ’n hopie gevou. Dit was al na middernag, maar vir Wieringa het die vieringe nog ’n paar dae aangehou.

Tommy Wieringa, fotograaf Merlijn Doomerik
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

