Lewensredder

Foto: Canva
Ek het gesterf in myself
lank voor ek Paternoster gesien het.
In die kom van die klein baai
kyk ek na die kierang-see:
bloubleek water lyk warm en knus
bloubleek water het ys in sy kus
Koud en bitter en alleen soos die beuk van ’n kerk
voel ek
terwyl my voete koers kies na waters waar daar vrede is
“Auntie. Auntie. Auntie...”
’n knoeierkind met ’n skulpehart in sy hand
“dit is joune vir net ’n dertig rand”
ons kan na jou motor loop, is sy antwoord
toe ek verweer ek het nie kontant
dis te donners duur vir dáái, maar hy kom kinderlik nader en fluister vir my:
“Niemand kan twee here dien”
Op Paternoster se wit, wit sand
het ek gelag
vir die bloudraad wat onooglik deur die skulpe loop

