Letterkundige polemiek: woord en wederwoord?
2006

  • 0

I

Die wandelgange druis.

"Het jy gehoor?"

"Nee, regtig?"

In 'n post-postmoderne era vra 'n mens jou af: 'n klag van plagiaat oor dokumente in die publieke domein?

'n Klag van plagiaat oor 'n Ted Hughes-aanhaling uit Country of my skull, 'n vernuftige stuk faction (vermenging van feit en fiksie) en 'n boek waar karakters paradeer as intellektuele poppe namens die implisiete outeur. Hughes het waarskynlik sy siening van mites gekry by Robert Graves en een van sy eerste geskenke aan Sylvia Plath was 'n Graves-boek glo.

"But besides the wench is dead." Om nou sommer 'n motto uit 'n Eliot-gedig te "steel". (Ja, raai watter een?)

'n Polemis het gewys op die onkollegialiteit van Stephen Watson se kritiek op Krog.

Onkollegiaal hoef polemiek nie te wees nie, maar gerugte van 'n versuurde vriendskap word, en passant, genoem, en die gedig "'I think I am the first' - Lady Anne op Tafelberg" kry nou nuwe (psigoanalitiese) duidinge.

Wie was eerste? Wie was tweede?

Hierdie psigodrama - wat die klein Suid-Afrikaanse letterkunde in sy kleine omvang nie heeltemal kan absorbeer nie - het noodwendig 'n kantkiesery tot gevolg.

Wat jammer is. Want die komplekse prosesse word opeen verminder en vernietig.

Boonop: daar behoort vrae gevra te word rondom appropriasie, oorname, myne versus joune; die Afrikaanse letterkunde se vryer, postmoderne spel met intertekste versus die Engelse letterkunde hier te lande se skynbaar "outydse" hantering van tekste.

Die woorde integriteit en custodian is eweneens deur 'n polemis gebruik. Wie besluit oor 'n skrywer se integriteit en wie besluit dat iemand bó kritiek verhewe is?

In die regswese verwys 'n advokaat na 'n persoon wat hy deur baie hofsittinge moes dra en verdedig as "My man". Biograwe raak dikwels besitlik oor 'n onderwerp, en Leon Rousseau, daardie voortreflike biograaf van Die groot verlange, het al ruimskoots verwys na sy obsessie met Marais.

Krog se uitgewers het met regstappe gedreig. Waarop 'n advokaat-vriend opgemerk het: "'n Mens moenie baklei met mense wat hul ink by die liters koop nie."

Hennie Aucamp het in hierdie debat die wyse opmerking gemaak dat 'n simposium, nie 'n hofsaak nie, die wyse stap sou wees.

 

II

In In the Freud Archives, 'n studie van Janet Malcolm, word 'n onverkwiklike lastereis tussen Malcolm en Jeffrey Masson verhaal. Die lastereis het vir elf jaar gedraal en ongeveer elf miljoen dollar beloop. Waaroor het die rusie gehandel?

KR Eissler, hoof van die Freud-argiewe, genoemde Masson se voormalige opvolger en dan verguisde bestuurder van die genoemde argiewe, en Peter Swales, eens bestuurder van die Rolling Stones en dan psigoanalis, se rusie oor wie regte oor die briewe en ander Freud-argiefmateriaal besit, lees soos 'n riller. Malcolm word, nes Eissler, hof toe gesleep.

Die boek is 'n fassinerende verhaal en kan direk van toepassing op Watson en Krog gemaak word. Die slotakkoord in hierdie fassinerende teks is 'n verlore kladboek van Malcolm. Indien sy dit as bewysstuk kon uithaal, dan was die hofsaak wat Masson teen haar gemaak het, onnodig. Op 'n dag - toevallig - ontdek haar kleindogter die notaboek waarin sy elke woord en uitspraak van Masson woordeliks neergepen het.

 

III

Niemand "besit" die Boesman-dokumente nie. Almal kan hieroor skryf, argumenteer en publiseer. Gee erkenning aan mekaar se werk. Selfs in 'n postmoderne leefruimte is erkennings en kopknikke, die "coup de chapeau" waarvan ek, mevrou Lacoste, die bemarker is, 'n nóódsaaklikheid.

Letterkundige etiket sou ten minste vereis het om dalk die antwoord van Krog terselfdertyd te publiseer as Watson se aantygings. En sou letterkundige etiket, waaroor Watson hoog opgee, nie eweneens 'n meer sobere, meer akademiese toon vereis het nie?

Gevra: 'n simposium oor hierdie kwessie met 'n objektiewe, onpartydige voorsitter sodat albei partye gehoor kan word.

 

Bronne

Krog, Antjie. Country of my skull. Random House, Johannesburg. 2002.

Krog, Antjie. Lady Anne. Taurus, Johannesburg. 1989.

Malcolm, Janet. In the Freud Archives. Papermac, New York. 1997.

Rousseau, Leon. Die groot verlange. Human & Rousseau, Kaapstad. 1974.

 

"I think I am the first" - Lady Anne op Tafelberg

skilder kan jy dit nie verf sal faal
in die oploop onder watervalle wat rag
van ravyn en klip onder ons
pootstamp en stuif die berg sag
in die mis alles geborge mekaar by naam
gaan
tog gaan hoekom wag
want smal lyk ineens ons grinterige loopgraaf van taal

maar jou voete minsame bergstapper
in tamatiesokke en klimstewels
beweeg rustig van klip tot klip
vir my bysiende oë word die newels
draderig ons twee figuurtjies strek langs die hang
waar net wasem fyn veeg tussen rots en wang
vlekkerige heideveld proteas soos rugsakke voëls
waar my hande ook al vat jakker

ritssluitertjies kleur. die klim wis
alles tussen ons uit saam kom die slymspoor
van tong wat die berg verwoord
dunner dun klop my bloedspriet soos ons hoër
klim jou sekure voetstap altyddeur voor my
reën wat skedelnat keel-af gly
uit Platteklipkloof boor
die eerste wind om wat smal setlaar is.

Eerste publikasie op LitNet: 14 Maart 2006

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top