Lesotho: Warm herinneringe aan ’n koue land

  • 0

Soos ons die steil tweespoor grond-, nee modderpad probeer klim, bande al glyende, beweeg ons nie veel vorentoe nie. Ons kan ons skaars 10 meter van die kronkelende pad vorentoe sien. My hart klop reeds in my keel. Omdraai is nie ʼn opsie nie. Links - ʼn berg, honderde meters klip, ys en droë bergbossies, hier en daar ʼn verdwaalde bok en kinders wat hoop vir lekkers. Links is geen uitkoms nie. Regs van ons, duisende meters ondertoe vorm die yslike berge massiewe valleie en dale, geysde strome wat vir honderde meters kronkel. Regs is beslis nie ʼn opsie nie. Onverwags gebeur daar ʼn wonderwerk, die voertuig beweeg vorentoe asof die modderige pad in ʼn oomblik opgedroog het. Ek slaak ʼn sug van verlugting. Maar dis nie die einde nie. Die pad maak ʼn skielike draai na links.

Gelukkig bly Luther, die drywer, koelkop in sulke situasies. Hy slaag daarin om die voertuig op die pad, as jy dit ʼn pad wil noem, te hou. Die pad bly bergop kronkel. Voor ons verskyn asof uit die niet ʼn Basotho-wagter en sy hele kudde. Ek besef hier kom moeilikheid, indien ons die voertuig tot stilstand bring, sal ons nie teen hierdie steilte uitkom nie. Ek knyp my oë toe en bid vir die beste. Ek wag op die skreeu van die voertuig se remme of vir die gil van ʼn veewagter wat hier teen die berg af rol. Stilte. Na ʼn oomblik maak ek my oë stadig oop en loer vir Luther, hy is bleekwit. Wonderbaarlik het ons langs die wagter en sy kudde verby gekom. Sonder om die voertuig, die wagter of sy kudde skade aan te rig.

Lesotho is ʼn pragtige land, vol onverwagte sprokiesmooi tonele en paaie wat jou laat snak na asem. Van waar Sani-pas begin en ʼn mens totaal en al omring is deur berge, betower die ongerepte natuurskoonheid jou. Anders as in ander Afrika-lande het ons sonder ʼn gesukkel deur die grenspos gegaan. Slegs ʼn paar kilometers in die bergpas op begin die ystonele. Dit is soos iets uit ʼn kinderfliek. Sonstrale dans oor die vyfmeter hoë solied geysde watervalle. Die gevriesde poele water, strome en mere glinster soos yslike diamante teen die dowwe winterbossies. Hier in die berge vergeet jy van die koue.

Ons roete was onbeplan, want as jy in Lesotho reis kan jou plan elke dag verander. ʼn Pad wat gister begaanbaar was kan vandag toe gesneeu wees. Ons het geweet dat ons vanaf Sani-pas oor die grens sou gaan, deur Lesotho reis, dag 4 by Afriski deurbring en weer by Fouriesburg uitgaan. Die res het ons opgemaak soos ons reis. Uiteindelik het ons vanaf Sani-pas op die A3 ‘snelweg’ (80 km grondpad wat teen die berge op en af kronkel) beland. Dit is waarskynlik die enigste snelweg in Afrika wat jy in 4X4 moet aanpak. Ons het by die Mashai lodge wat skynbaar aan die Lesotho Minister van Vervoer, Mot behoort oornag. Die Basotho-mense met hul warm harte het in die koue Lesotho uit hul pad gegaan om ons verblyf te vergemaklik. Mot het hul rondawel ontruim sodat ons die hele rondawel vir die nag kan benut. ʼn Kragopwekker met geleende brandstof laat loop sodat ons ʼn verwarmer en ʼn paar ligte kan gebruik. Ons kon self hier in die middel van nêrens ʼn welkome warm bad neem.

Die volgende oggend het ons vroeg vertrek met die doel om die majestueuse Katse-dam te besoek. Die pad daarna was ʼn senutergende roete, bergop en bergaf en weer bergop. Die noue ontkomings het my klaar gemaak, maar dit was uit en uit die moeite werd. Katse-dam is onbewoordelik mooi. Ons het ʼn toer bygewoon waar hul jou binne in die damwal neem. Die berge is so goed geplaas dat daar slegs nodig was om ʼn wal te bou om hierdie miljoene liters water binne te hou. Die wal is ʼn ongelooflike 185 meter hoog en 710 meter lank. Die opgevangde water loop deur ʼn uitloop in die rivier in sodat daar regdeur die winter volhoubare water in die riviere is. Die dam is deel van die Lesotho-hoogland-water-projek wat onder meer water verskaf aan Suid-Afrika en ook hidro-elektrisiteit aan dele van Lesotho.

Die aand kamp ons en die koue word net al hoe kouer. Die wind waai nie net nie, dit sny regdeur jou. Hoe hoër ons in die berge op hoe kouer word dit. Daardie nag vries alles. Die ketel vol kookwater, die 10 liter water in die wasbak en ons drinkwater vries tot soliede ysblokke. Skielik is ek dankbaar dat ons in die hartjie van die winter, Juliemaand nie sneeu kry nie.

Die res van ons reis deur die pragtige betowerende landskap gaan maklik tot by Afriski. Die Chinese is besig om die paaie te teer regdeur die bergkoninkryk en plek-plek moet jy van die geriefklike paaie afklim om net weer herinner te word dat jy in Lesotho is aangesien goeie paaie nie so volop is nie. By die ski-reservaat probeer die instrukteur, ʼn pragtige jong Russiese vrou ons tevergeefs leer om te ski. Hierdie boere is gemaak vir loop en glad nie vir ski nie. Na die interessante ervaring, en baie blou kolle opgedoen, is ons noord, nader aan waar ons weer die land verlaat.

Die laaste dag het ons deur die vreesaanjaende Motengpas tot by Lipofung-grotte gereis. Die kultuur van hierdie Basotho's, asook hul voorgangers - die San, is hier bewaar. Abstrakte elande met magiese kragte is dansend teen die rotsmure vasgevang. Wat ʼn kultuurryke ervaring.

Vanaf hier is ons na die Fouriesburggrenspos. Hartseer oor ons avontuur in die bergkoninkryk so vinnig tot ʼn einde moes kom is ons huis toe.

Die kultuurryke, majestueuse bergkoninkryk met al sy geheime is beslis nie vir almal nie. Ons reis was volgepak met avontuur, vriendelikheid kulturele verrassings en beeldskone natuurtonele. Lesotho is beslis ʼn moet vir elke 4x4 geesdriftige.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top