Met sy jongste boek (sy negentiende), Hermann Giliomee: Historikus – ’n Outobiografie, word Hermann Giliomee se plek as ’n vooraanstaande geskiedkundige bevestig; ’n reputasie wat aangevul is deur sy rol as publieke intellektueel waarmee hy met sy leersame besprekings van aktuele sake ’n geslag ingeligte lesers help kweek het.
Hy praat oa oor sy familie agtergrond, sy jeugjare, sy studie in Suid-Afrika en oorsee en sy wydverspreide interaksie (nie altyd gelukkig nie) met toonaangewende, meestal Afrikaner-, maar ook Engelse, akademici. Hierdie interaksie het beduidend bygedra om samewerking met en wedersydse begrip tussen die twee taalgroeperings se voorheen gesegregeerde paradigmatiese sienings van sake te bou. ’n Vergrootglas is egter nie nodig om sy besondere simpatie teenoor Afrikaners, wit en bruin, te bespeur nie. Hy het derhalwe tereg min ooghare vir die neerkyk op Afrikaners vanuit Engelse kringe, en veral ook hul deurlopende neiging om die historiese hoekstene van apartheid uitsluitlik aan Afrikaners toe te dig.
Hy behandel ook ’n wye verskeidenheid ander onderwerpe, soos: die armblanke-vraagstuk; geskiedenis as vakgebied; die rol van NP-leiers; oorlewingsvrae rondom Afrikaans en Afrikaners en die aanloop tot en oorgang na die politieke skikking in 1994 en daarna die agteruitgang in die land waartoe, na sy mening, die ongekwalifiseerde meerderheidsmag bygedra het. Dit is almal onderwerpe waarmee hy oor die jare heen intens gemoeid was en op 79-jarige leeftyd ongetwyfeld gaan voortsit. Sy veroordeling van die patologie van kriminaliteit en korrupsie word nie betwyfel nie, alhoewel sy oorsaaklike verklaring daarvan nie noodwendig geldig is nie. Dit is trouens ook onseker of enige magsdelingsformule veel sou gehelp het om die genoemde patologie af te weer. En sy siening dat ’n sodanige magsdelingsperk met betekenisvolle oorsese ondersteuning wel onderhandel kon gewees het, is hoogs twyfelagtig. Dis prysenswaardig dat Giliomee in sy boek ruimte bied vir Dave Steward, ’n senior regeringsrolspeler in die betrokke tydperk, om volledig sy standpunt te stel dat Giliomee se genoemde siening tot die “collapse of the negotiations and a national and international crisis of catastrophic proportions” sou gelei het.
Giliomee vertoon in hoofstuk 14 met betrekking tot HF Verwoerd ’n voorsmaak vir die spekulatiewe. Hy konstateer dat Verwoerd in 1969 (sou hy dan nog geleef het), in die aangesig van die werklikheid van die swart stroom na die stedelike “blanke”-gebiede, van die NP se tuislandbeleid (met homself as hoof ideologiese argitek) sou afgesien het. Terloops, hierdie stelling bring vir Giliomee in die visier van Bettina Wyngaard. Sonder om Giliomee by die naam te noem, verwys sy in ’n LitNet-artikel in 2017 na die oprysing van ’n “Verwoerd-nostalgie”. Hieroor vertoon Giliomee, in teenstelling met die meeste kommentators wat daarvan sou wegskram, ’n bereidwilligheid om uit oortuiging die toedig van ’n regse kleed aan hom te trotseer. Sy kritiese standpunte rondom die taaldebat op US lei byvoorbeeld vir Max du Preez tot die verregaande slotsom in ’n brief aan Rapport (14 Julie 1992) dat Giliomee die taaldebat as ’n dekmantel gebruik om sy reaksionêre vyandskap teenoor die nuwe demokrasie en sy verlies aan status as Afrikanerman te verberg. Die regse kleed wat hom om die nek gehang is, strook nie met sy ondubbelsinnige stelling in sy huidige boek dat hy hom vir apartheid se vergrype “skaam”, of met sy tipering, in sy Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika (2007), van “Die hartelose toepassing van apartheid en blindheid vir die vernedering en leed wat [apartheid] veroorsaak het” nie. Wat Giliomee se siening van Verwoerd se afsien van die kernaspek van NP-beleid betref, kan egter gelet word op die feit dat Verwoerd self met sy summiere wegwysing in 1955 van die finansiële-ontwikkelingsdimensies van die Tomlinsonverslag en sy weiering om blanke-kapitaal in die tuislande toe te laat, tot die getalleprobleem bygedra het. Daarby het Jan Sadie se demografiese navorsing toe al bewys dat die swart stroom na die stede onkeerbaar was. Maar, soos Giliomee opmerk, het Verwoerd voorheen van koers verander.
Of dit egter koersveranderings was wat vergelykbaar was met ’n omverwerping van die beginselsgrondslag van sy “aparte tuisland-gebonde vryhede”- ideologie, lyk twyfelagtig, veral as dit ’n deur na ’n enigsins aanvaarbare vorm van swart deelname aan landspolitiek sou oopgemaak het. Daarby noem Giliomee in sy Nuwe geskiedenis self ’n aantal gesigspunte wat moeilik met sy siening van Verwoerd se koersverandering te rym is. Hy verwys byvoorbeeld daarna dat Verwoerd in sy laaste jaar as eerste minister in 1966 ’n “onversetlikheid” getoon het, “al sterker gekant [was] teen aanpassings” en sy apartheidsbeleid “kragdadiger as ooit uitgevoer” het. Dat hy slegs drie jaar daarna polities beduidend sou omgeswaai het, oortuig nie.
In hoofstuk 15 besin Giliomee diep en wyd oor die taalstryd op US en kom hy tot die slotsom dat Afrikaans betreurenswaardig op ’n glybaan na uitfasering verkeer met sy toekoms as wetenskaplike taal ewe veel in gedrang – ’n gevolgtrekking waarmee ek saamstem.
Vir huidige doeleindes laat ek ’n bespreking van die ander onderwerpe wat Giliomee dek, daar, en fokus voorts op twee sake waarmee hy, na my mening, problematies te werk gaan.
Ten eerste onderbeklemtoon hy die werklike afmetings van Afrikaners se ondersteuning van apartheid. Sy mening blyk reeds in sy Voorwoord, dat toe hy in 1956 as student by die US aangekom het, het “apartheid ’n mate van respektabelheid geniet”. In werklikheid, soos hier onder aangedui word, het apartheid in die vyftigerjare sowel as tot veel later alles behalwe slegs ’n mate van ondersteuning onder US-studente sowel as Afrikaners in die algemeen geniet.
Giliomee verwys na ’n groep van 29 Afrikaanse akademici (meestal Unisa-dosente) wat ’n openbare verklaring ten gunste van volle burgerskap vir kleurlinge onderteken het. Bygevoeg kan ek noem dat nie ’n enkele personeellid by UP, UOVS of PU vir CHO geteken het nie. ’n Tweede ondersteunende verklaring is kort daarna in die Kaap deur 109 Afrikaners, meestal US akademici (Giliomee inkluis), onderteken. Giliomee versuim egter om te noem dat 1 500 Afrikaner-akademici in 1973 ’n verklaring ten gunste van “afsonderlike ontwikkeling [kleurlinge inbegrepe]” in ooreenstemming met “die beginsels deur die woord van God”, onderteken het. Hulle dokument is toe ook persoonlik deur drie Afrikaanse rektore aan John Vorster oorhandig. Wat die woord van God betref, kan ook gelet word op die feit dat die NGK eers in die tagtigerjare, soos Villa-Vicencio in sy 1986-boek Between Christ and Caesar aandui, van die skriftuurlike gronde van apartheid afstand gedoen het (maar sonder om die apartheidsbeleid as sodanig te kritiseer). Daar kan verder kennis geneem word van die volgende verbatim voorbeelde uit klasnotas onder die opskrif “’n kritiese analitiese oorsig ... van die beleid van afsonderlike ontwikkeling” wat tot so laat as die sewentigerjare by ’n Afrikaanse universiteit aan studente uitgedeel is. In die eerste sinne van die Inleiding staan daar: “Die skeiding van volke op veral sosiale en politieke gebied is nie maar ’n nuwe gedagterigting wat sy oorsprong in Suid-Afrika gehad het nie. In die Bybel word herhaaldelik na hierdie saak verwys ... Dit kan nie nagelaat word om sekere Bybelverse in hierdie verband aan te haal nie [soos] ‘Vervloek is Kanaan, ’n kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers ... Geen baster mag in die vergadering van die Here kom nie, selfs sy tiende geslag mag nie in die vergadering van die Here kom nie.’”
In 1974 rapporteer Lawrence Schlemmer, die bekende navorser en meningspeiler, in Optima dat ondersteuning vir apartheid onder wit Afrikaners nie getaan het nie, maar in wese dat ’n “oorweldigende meerderheid” al die belangrikste beginsels van apartheid steeds bly ondersteun. Giliomee verwys self in hierdie verband in sy Nuwe geskiedenis na ’n studie in die laat sestigerjare wat bevind het dat tussen 83% en 90% van Afrikaners van mening was dat ’n “veelrassige demokrasie nie prakties is nie”. Voorts: in ’n landwye verteenwoordigende meningspeiling deur die RGN sowat 20 jaar later, in 1987, is blanke-respondente gevra om te reageer op items wat betrekking het op hulle verwagtings oor hul toekoms onder ’n swart regering. Die antwoorde (wat nie almal hier figureer nie) in die onderstaande tabel toon resultate wat enige beduidende afname in ’n proapartheidsmentaliteit weerspreek. Hoewel hierdie vrae, suiwer metodologies gesproke, nie direkte aanduiders van steun vir of teen apartheid behels nie, word hier volstaan met die gevolgtrekking dat wat deur die antwoorde sterk gesuggereer word, ’n sterk negatiewe gesindheid teenoor ’n “apartheidlose” toekoms openbaar. Die resultate wys ook terugwerkend na die stelling van CW de Kiewiet (iemand vir wie Giliomee bo alle Suid-Afrikaanse historici plaas) in sy A History of South Africa (1957) dat “prejudice begotten of fear” die ware oorsaak was van die vlaag apartheidswetgewing. Tersydelik bring die resultate in die tabel ook twee interessante bevindings na vore. Eerstens is daar die relatief kleiner as verwagte gaping tussen die antwoorde van Afrikaans- en Engelstaliges. Op die oog af blyk dit dat die “ja”-stem in die 1992-referendum vertolk kan word as ’n aanduiding dat ’n meerderheid Afrikaners hul kommer, soos in die bogenoemde meningspeiling weerspieël, tersyde gelaat het. Giliomee beweer egter tereg in hierdie verband dat die referendumuitslag in 1992 te danke was aan De Klerk se vooraf stelling dat gesorg sou word dat swart dominasie nie toegelaat sou word nie – ’n onderneming wat, soos Giliomee ook tereg op wys, stilweg in die meerderheidsregering politieke skikking van 1994 verdwyn het.
|
Stem saam |
Stem saam |
Verskil |
Verskil |
Afrikaans % |
Engels % |
Afrikaans % |
Engels & |
|
Die lewe sal aangaan soos vantevore |
7 |
10 |
92 |
84 |
Die fisiese veiligheid van blankes sal in gevaar wees |
79 |
70 |
19 |
22 |
Die taal en kultuur en van blankes sal veilig wees |
8 |
14 |
86 |
75 |
Wet en orde sal gehandhaaf word |
12 |
14 |
84 |
73 |
Wit vrouens sal deur swartes gemolesteer word |
85 |
60 |
11 |
27 |
Wit mense se besittings sal veilig wees |
8 |
17 |
87 |
70 |
My tweede probleem met Giliomee se boek kom ter sprake nav sy bewering dat dit eintlik “kritiese” Afrikaner-intellektuele (“skrywers en joernaliste”) was wat die weg gebaan het vir hervormings en die politieke skikking in 1994. Die volgende reeks voorbeelde lewer getuienis in botsing met hierdie siening.
Giliomee noem Johan Degenaar se wekroep tot moreel kritiese Afrikaners om teen apartheid op te staan. Degenaar verwys self in dié verband in sy 1980-boek Voortbestaan in geregtigheid na “Afrikaners wat progressiewe geluide maak, maar binne die raamwerk van apartheid bly”. Die US-filosoof Anton van Niekerk merk in ’n By-artikel (10 Maart 2012) op dat daar min van Degenaar se wekroep gekom het en dat Degenaar eintlik “een van slegs enkele ... stemme was wat hulself verhef het in verset teen ... die onmenslikheid ... van die apartheidstelsel”. Ian Liebenberg praat in sy Ideologie in konflik (1990) van die pogings van diesulkes om “hervorming ... aan die gang te kry sonder om af te wyk van die fundamentele aannames van afsonderlikheid en wit magsbehoud”.
Beyers Naudé vertel hoedat hy in 1960, op aandrang van sy medekerkleiers, ingewillig het om nie uit die kerk te bedank indien selfs so min as tien van hulle bereid sou wees om politieke-hervormingsinisiatiewe openlik te ondersteun nie. Geeneen het na vore gekom nie.
Verder kan gelet word op die feit dat in die honderde artikels en boekresensies wat tussen 1961 en 1980 in Tydskrif vir Geesteswetenskaplike Navorsing verskyn het, nie ’n enkele een, selfs vaagweg, ’n kritiese verwysing oor apartheidsbeleid vertoon het nie. Inteendeel, boeke soos Die bedreiging van die Liberalisme en Die abdikasie van die Witman (wie se outeur ten gunste van swartes se inherente intellektuele minderwaardigheid teenoor blankes betoog het) is met vleiende resensies begroet. Dieselfde geld vir die boek White man think again, wie se outeur beweer het dat blankes “must strive not merely for sheer survival or even spurious co-existence [with blacks] but for outright white world domination”.
Die bekende historikus Albert Grundlingh bespreek in ’n bydrae in Nina Romm en Mike Sarakinsky se Social theory (1994) die geskiedenis van georganiseerde sosiologie en wys op die “historic relationship that had existed and continued to exist between the majority of Afrikaner academics and the Afrikaner nationalist movement” en op die gevolglike beperking, in 1968, van die Suid-Afrikaanse Sosiologie Vereniging (SASOV) se lidmaatskap tot blankes, ’n situasie “[which until 1977] the majority of Afrikaner sociologists saw no need to disturb”. Insgelyks was die lidmaatskap van Unisa se Dosentevereniging op die aandrang van die Afrikaanse lede tot blankes beperk, ’n opset wat eers in die laat sewentigerjare verander is toe die vereniging ontbind is en ’n nuwe oop en baie kleiner vereniging tot stand gekom het.
In sy 2009-boek Die Afrikaner Broederbond: Belewinge van die binnekant verklaar die US-teoloog Nico Smith dat hy eers toe hy in 1980 predikant in Mamelodi word, “met skok” agtergekom het dat sy deelname aan onkritiese AB-debatte ten gunste van regeringsbeleid teen die agtergrond geskied het van “meer as ’n duisend wette” wat die lewens van swart mense gereguleer het. Dit stem tot nadenke dat ’n (voorheen) senior universiteitsprofessor op so ’n laat stadium van die werklikhede omtrent die verrinnewerende afmetings van apartheid bewus geraak het. En dit in weerwil van feite wat al jare lank wyd en syd in die Engelse pers en deur mense soos Helen Suzman onophoudelik openbaar gemaak is; feite, kan ons dan aanneem, wat vir baie Afrikaner-intellektuele sowel as gewone NP-ondersteuners as ’n geslote boek (of dalk as leuens) beskou moes gewees het. Sampie Terreblanche deel ons eweneens mee dat dit sy ervaring as lid van die Theronkommissie wat in 1976 verslag insake kleurlingaangeleenthede gedoen het, geverg het om hom tot ’n besef te laat kom van die “onmenslikheid van apartheid”. Giliomee se (tipies eerlike) eie erkenning in sy boek dui op dieselfde gewaarwording, naamlik dat hy die “absurditeit” van die afmetings van die ontkiesering van swartes eers in 1979 na ’n ontmoeting met Nthatho Motlana begryp het. Louwrens Pretorius kom in ’n resensie van Nico Smith se boek in die African Historical Review in 2011 tot die tersaaklike gevolgtrekking dat die Afrikaanse universiteite se “professoriate ... encouraged an astonishing lack of critical imagination and contributed to the easy submission of both lecturers and students to authority”.
Ten beste het Afrikaner-intellektuele se hervormingsgesindhede in die tagtigerjare “binne die raamwerk”, soos in beperkte Broederbondkringe, geskied, maar buite sig van die breë Afrikaanse publiek; ’n toedrag van sake wat gewone Afrikaanse kiesers grootliks herderloos gelaat het vir soverre dit die noodsaaklikheid van verandering betref.
André du Toit, Giliomee se kollega op US en later by die UK, beskryf die “binne-die-raamwerk”-benadering in Die Suid-Afrikaan (waarvan hy en Giliomee mederedakteurs was) in 1991 as “moreel bankrot en polities visieloos”. Hy skryf vroeër in ’n artikel in Social Dynamics in 1981 dat Afrikaner-intellektuele
... of necessity have a stake in the cause of the Afrikaner but, with the rise of modern Afrikaner nationalism, commitment to that cultural cause has come to be almost inextricably bound up with vested interests in the Afrikaner power structure … a tangled heritage of ethnic loyalties has thus tended to blur the perceptions and enervate the moral courage of Afrikaner intellectuals generally.
In sy hoofartikel in Rapport op 15 Augustus 1976 het Wimpie de Klerk voorheen uit frustrasie sommer platvloers verwys na “sissies” in die geledere van “akademici en predikante en ander groot name in die Afrikaner ‘establishment’ wat te bang is om ... te sê wat hulle dink”. Van Zyl Slabbert het in ’n brief aan Die Burger (12 Augustus 1971) ook sy frustrasie uitgespreek met sy US-kollegas wat hul kritiek op apartheid in privaat gesprekke met hom deel, maar weier om openlik daaraan uiting te gee. Uitsonderings op hierdie klag (merendeels beperk tot die posisie van die kleurlinge) was van vroeg af in die sestigerjare US-dosente soos Nic Olivier, SP Cilliers, Johan Degenaar, Jan Sadie, André du Toit, Wolfgang Thomas, Jannie Gagiano en Giliomee self (van wie ’n aantal, soos Giliomee noem, deur pro-NP-dosente as “Neo-Marxiste” afgemaak is). Ander klagtes was dat hul mense “in linkse dampkringe” en “voorpraters van die ANC” was. Wat ander Afrikaner-akademici betref, kom slegs enkele name te voorskyn, soos J van der Vyver, J Laubscher, J Dreyer, Willem Joubert, Marinus Wiechers en Dawid Bosch. Nic Wiehahn kom ook ter sprake na aanleiding van sy rol in die Wiehahn-verslag in 1980 insake die wettiging van swart vakbonde; ’n verwikkeling waarin hy egter sterk ondersteuning van die betrokke minister, Fanie Botha, geniet het. Of ander akademici ewe beduidend hand bygesit tot die afskaffing van apartheidswetgewing soos die Ontugwet (in 1985), die paswette (in 1986) en die Groepsgebiedewet (in 1992), bly ’n ope vraag.
Giliomee verwys, soos hier bo genoem, by name na die rol wat “joernaliste” gespeel het om die pad na die politieke skikking in 1994 te baan, maar bly in gebreke om dit getuienisgewys te boekstaaf. Inteendeel, hy self wys op sy teleurstelling met Piet Cillié en Schalk Pienaar wat in die sewentigerjare ’n wegbeweeg van NP-beleid tov die kleurlinge geopponeer het. In Die Burger pleit Cillié op 14 Augustus 1971 ten gunste van die “Nasionale beleid van parallelle ontwikkeling” teenoor ’n “gemeenskaplike stemreg vir blank en bruin wat ongekende politieke ontwrigting en rassestryd sal afgee”. Pienaar het op sy beurt in sy Rapport-rubriek enige sprake van bruin-blanke-integrasie in die parlement as “sinneloos” bestempel. Cillié, soos Giliomee ook noem, het selfs die verwydering van duisende kleurlinge uit Stellenbosch ondersteun. Dit kan wees dat die vlaag beriggewing oor kleurlingaangeleenthede in die Afrikaanse pers wat deur die bogenoemde kleurlingverklaring in 1971 ontketen is, kort daarna tot die aanstelling van die Theronkommissie bygedra het. Hierdie verslag het wel ’n verbetering in die lewensomstandighede van kleurlinge bepleit, maar het weggeskram van ’n antwoord oor hul volwaardige politieke regte. Wat Cillié en Pienaar betref, bly Giliomee ook in gebreke om te noem dat hulle nooit enige kritiek gelewer het teen die hoekstene van die NP se skeidingsbeleid tov swart mense nie. In Die Burger van 26 Oktober 1963 verklaar Cillié dat vir swart mense “die hele pad van ontvoogding as ‘t ware uitgestippel [is] ... met aparte vryheid in Bantoestate”. Ondubbelsinnige openbare opposisie teen die rasseskeidingsbeginsels van NP-beleid deur Afrikaanse joernaliste was eintlik beperk tot mense soos Max du Preez en sy kollegas by Vrye Weekblad, waarvan die omset deur die res van die Afrikaanse pers verdwerg was en wat na ’n kort lewe gevou het. Rykie van Reenen (wat ook vir Die Suid-Afrikaan geskryf het) en ander rubriekskrywers het wel by geleentheid, maar sonder om die hoekstene van apartheidsbeleid aan te sny, kritiese klanke geuiter. So byvoorbeeld het sy simpatiek verslag gedoen oor haar ontmoeting met Steve Biko (toe ’n verbanne persoon) in die tronk voor hy in 1976 in die hande van die veiligheidspolisie gesterf het.
Wat betref Giliomee se verwysing na Afrikaanse skrywers is dit waarskynlik waar dat mense soos André Brink, Breyten Breytenbach, Jan Rabie, Elsa Joubert en ander Sestigers hul lesers tot nadenke oor apartheid beïnvloed het. Maar kan dit beweer word dat hulle grondig Afrikaner-koppe teen apartheid gedraai het? Giliomee volstaan hieromtrent slegs met ’n stelling sonder om enigsins stawende getuienis oor die moontlike afmetings van die belangrike veranderingsrol wat hy aan hulle toedig, na vore te bring. In die afwesigheid daarvan kom sy gevolgtrekking dat hulle ook ’n aandeel daarin gehad het om die pad na die politieke skikking in 1994 te baan, oordrewe voor.
Giliomee beweer ook dat Afrikaner-sakemense, en by uitstek Anton Rupert, verandering in Suid-Afrika bevorder het en verwys in hierdie verband na Rupert se kritiese brief aan PW Botha in 1986 waarin hy apartheid as ’n “misdaad teen die mensdom” beskryf. Maar hier kom nou weer die bogenoemde heersende politieke “swygingskultuur” na vore. In die voorafgaande nagenoeg 40 jaar van Rupert se volwasse lewe, wat met die hoogty van die NP se apartheidsbeleid ooreengestem het, het hy, wat ook al sy private oortuigings kon gewees het, tot op sewentigerjare ouderdom in 1986 ’n stilte insake die nadelige uitwerking van die beleid gehandhaaf (behalwe om openlik standpunt in te neem teen Verwoerd se weiering om blankekapitaal in die sg tuislande toe te laat). Selfs dan geskied sy kommer oor apartheid in die vorm van ’n privaatbrief aan PW Botha buite sig en hoorafstand van die publiek. Ebbe Dommisse en Willie Esterhuyse kom selfs sterker as Giliomee in hul biografie van Rupert verkeerdelik tot die gevolgtrekking dat Rupert apartheid vroeg, grondig en deurlopend bevraagteken het. Rupert, moet onmiddellik hier bygevoeg word, het geensins self (soos baie mense hedendaags geneig is om te doen) onregmatig aanspraak daarop gemaak dat hy as ’n kampvegter teen apartheid beskou moet word nie.
Openlike en grondliggende kritiek teen apartheid is vanuit Afrikanergeledere vanaf die middel- tot laat tagtigerjare geopper, maar ook dan oorwegend tot die posisie van kleurlinge en Indiërs beperk. Maar dit het gekom eers nadat dreigende nasionale bankrotskap, bloedige swart opstande, die val van die kommunisme en Thatcher se onttrekking van steun die stempel op die onvermydelike einde van apartheid geplaas het. Daardie gebeure het die pad na die politieke skikking in 1994 met gelyke politieke regte vir almal gebaan. Dat Afrikaner-intellektuele, met inbegrip van skrywers, joernaliste, kerklui, besigheidsmense en akademici, ’n deurslaggewende rol in dié verband sou gespeel het, klop nie met die feite nie. Nader aan die waarheid, soos hier bo aangetoon, is dat spesifiek laasgenoemde vier groepe “tot laat in die dag” met hul aktiewe meerderheidsondersteuning van apartheid of swyging daaromtrent ’n teenoorgestelde rol vervul het.
Kommentaar
"Afrikaners, wit en bruin" - Is daar bruines wat selfidentifiseer as Afrikaners, of eerder Khoi-San? Volgens bekende navorsing is dit immers so dat ou Afrikanerfamilies statisties 93% Europese gene en slegs 7% nie-Europese gene besit. Moet die Afrikaner en die Khoi-San nou polities korrek biologies vermeng en hulself as onderskeibare etniese volksgroepe uitfaseer?