Lesersindruk: Die Sneeuslaper

  • 3

Die sneeuslaper
Marlene van Niekerk
NB Uitgewers
ISBN 9780798151818

Koop Die sneeuslaper van Kalahari.com

Teen hierdie tyd weet elke leser dat ’n skryfstuk deur Marlene van Niekerk spesiaal is – iets wat nie sommer so in die verbygaan gelees en weggebêre kan word nie. ’n Besonderse ervaring is opgesluit vir daardie leser wat bereid is om saam met die skrywer op reis te gaan, ’n verposing te neem wanneer die teks dit vereis, en bereid is om ondersoekend te lees.

Die skrywer beklee in 2008 die eerste Afrika-leerstoel aan die Universiteit van Utrecht. Haar opdrag behels ’n ondersoek na die posisie van die roman en romanskrywer in postapartheid Suid-Afrika waarbinne sy (in haar eie woorde) “die plesier van die teks en die deug van volgehoue vreemdheid van literêre tekste in die vervlakkende slagspreukbesete wêreld” wil beklemtoon. Die sneeuslaper, ’n bundel bestaande uit vier lang kortverhale, kry teen hierdie agtergrond beslag.

Die eerste verhaal, “Die swanefluisteraar”, is Van Niekerk se professorale intreerede aan die Universiteit Stellenbosch, sowel as in Utrecht, waar dit met die titel, “The Fellow Traveller (A True Story)” aangebied is. Die tweede verhaal, “Die slagwerker”, is ’n grafrede. “Die sneeuslaper” is ’n verslag oor daklose mense, en die bundel word afgesluit met “Die vriend” as die Albert Verwey-gedenklesing wat sy op 15 Oktober 2009 in Leiden gelewer het.

Van Niekerk vra aan die begin van haar lesing/verhaal (9):

Wat doseer ’n mens as jy ’n dosent is van Skeppende Skryfkunde? Gaan dit oor die ware, oor die goeie of oor die skone? Betref dit kritiek of fantasie of geloof? Wat is die nut van die letterkunde, die waarde daarvan op die groot doek van menslike inspanninge? En miskien moet ek vra: Is ’n verhaal iets wat ’n mens kan troos?

Wat die leser dus met die eerste oogopslag kan verwag, is ’n kunsteoretiese besinning oor wat letterkunde is, of behoort te wees.

Van Niekerk stel nie teleur nie. Haar gestelde premis dien as basis vir die formulering van verskillende temas in al vier verhale en elkeen word grondig aan die hand van vier narratiewe argumente ondersoek. Mettertyd kom die leser onder die indruk dat die oorkoepelende argument wat uit die vier verhale gekonstrueer word, veel meer omvat as antwoorde op ontersaaklike vrae (9).

Intertekstuele bronne is in hierdie bundel van groot waarde; trouens, sonder deeglike ontginning daarvan sal die uiteindelike gevolgtrekking waartoe Van Niekerk kom, nie behoorlik gesnap word nie. Jacob sê byvoorbeeld dat hy sy hele lewe lank goed waarop Willem die middag gesinspeel het, in die biblioteek sal gaan naslaan as dit sal meehelp om sy vriend beter te verstaan (87). Van Niekerk verwag niks minder van haar leser nie.

Benewens spesifieke temas wat die skrywer in haar bundel ondersoek, is daar ook motiewe wat gebruik word om die temas te ondersteun en aansluit by haar siening dat ’n verhaal uit verskillende elemente opgebou moet word. Sy illustreer hierdie vaardigheid merkwaardig deur gebruik te maak van mitologie, simboliek, verwysings en taal nie alleen om brûe te bou tussen die verskillende karakters en dele van die onderskeie verhale nie, maar ook om die verhale tot ’n unieke eenheid saam te bind. Sy maak mildelik van herhalings as struktuurelement gebruik, maar nie op die gewone manier nie. Sy skep ’n maalkolk oorvleuelende eienskappe tussen mitologiese figure, verwysings, gelowe, diere, kunsvorme, sterrekunde, ensovoorts, en gebruik dit dan op sodanige wyse dat verbande op ’n ongewone manier gelê word waardeur sy sekere gebeure of eienskappe van karakters, of ’n proses, wil beklemtoon.

Een van die belangrikste subtemas in Die sneeuslaper is die idee van vreemdelingskap. Die meeste van die karakters is swerwers, alleenlopers en randfigure – soekende individue na die ware essensie van die lewe. Hierdie eienskappe word gesimboliseer deur die swane in die eerste verhaal. Sommige bereik dit, terwyl andere soekend bly en in die proses vernietig word – so beland Kasper en Helena se pa byvoorbeeld in ’n gestig. Van Niekerk versterk hierdie vreemdelingskap met die bynaam wat sy aan Kasper gee, naamlik meneer Xenos. Xenos is ’n antieke Griekse woord wat onder andere gebruik word ter aanduiding van ’n vreemdeling (’n burger uit ’n ander land); ’n persoon met wie ’n vriendskap oor ’n lang afstand aangeknoop word; ’n persoon wat om die een of ander rede nie lid van ’n bepaalde groep of gemeenskap is nie, of ’n sogenaamde “gasvriend”. Sophocles het die woord gebruik om ’n onsekere verhouding tussen twee karakters aan te dui.

Vanuit hierdie verwysingspunt teken Van Niekerk dan haar karakters. Al hierdie betekenisse vind aanklank met die verhouding tussen die gefiksionaliseerde Van Niekerk en haar (gewese) student, Kasper Olwagen. Al het sy besef dat hy waarskynlik nooit ’n suksesvolle skrywer sal word nie, beding sy vir hom studieverblyf in Amsterdam. Haar optrede nadat sy begin het om sy briewe te lees en pakkies oop te maak herinner aan xenos se betekenis as “gas-vriend”. (Die antieke Grieke het geglo dat ’n mens altyd vriendelik teenoor vreemdelinge moet wees, want hulle is dalk vermomde gode.) Kasper was nie alleen ’n vreemdeling in Amsterdam nie, maar sy lewe lank ’n alleenloper – ’n vreemdeling in die wêreld, ’n randfiguur in sy gemeenskap en nie daartoe in staat om sinvolle en standhoudende verhoudings aan te knoop nie.

Van Niekerk huiwer nooit om te beklemtoon dat skrywerskap ’n eiesoortige individu impliseer nie – iemand wat bereid is om meestal in afsondering homself oop te stel vir alle fasette van die lewe, self persoonlike ervarings op te doen en altyd te strewe na dit wat ver anderkant die grense van die gewone of die aanvaarbare lê. Dit is ’n moeilike reis wat die potensiaal besit om die voornemende skrywer te vernietig, soos wat trouens met Kasper Olwagen en in ’n sekere mate met die fotograaf, Peter Schreuder, gebeur. Die reis van die kunstenaar is met ander woorde niks anders as ’n rite de passage nie – ’n moeisame tog wat hom uiteindelik uitbring by daardie moment waar hy by wyse van spreke die “ou aarde vir die nuwe hemel” verruil. Van Niekerk gebruik die kleur wit om die belangrikheid van hierdie proses in haar verhale en dus skrywerskap te simboliseer en te bevestig. Wit kan aan weerskante van die spektrum staan – dit kan enersyds dui op die afwesigheid van kleur of andersyds op die totaliteit van die spektrum. Dit kan dus óf aan die begin óf aan die einde van ’n proses staan. Die einde van ’n lewe, die sterwensmoment as oorgang tussen die sienlike en onsienlike is derhalwe ’n nuwe beginpunt. Wit simboliseer hierdie oorgang as die rite de passage na die onsienlike wat binne ’n religieuse verwysingsraamwerk verklaar word.

Hierdie oorgangsproses is volgens Van Niekerk se vier verhale gelykstaande aan daardie wit-lig-moment wanneer ’n storie gebore word. Sy ondervang hierdie spesiale moment deur gebruik te maak van die antieke Griekse begrippe Khronos, ook verbind met die Orfiese kosmologie, en Kairos (61). Waar eersgenoemde verwys na die kronologiese opeenvolging van tyd, dui laasgenoemde op daardie moment in tyd waarop iets baie spesiaals gebeur. Wat hierdie spesiale iets is of beteken, hang af van die persoon wat die woord gebruik. In hierdie bundel is die betekenis tweërlei van aard. Eerstens dui dit op daardie moment waar ware kuns gebore word: wanneer persoonlike insidente, insig en lewenservaring ’n versamelpunt bereik en ’n impetus is vir die skepping van ’n kunswerk. Tweedens dui dit ook op daardie moment wanneer ’n kunstenaar (by implikasie die skrywer) of karakter in ’n verhaal onherroeplik verander – daardie oomblik in tyd waarna niks ooit weer dieselfde sal wees nie. Die kunstenaar/karakter het die drumpel oorgesteek waarvoor hy vroeër geweifel het.

Sekere karakters (voornemende skrywers) het reeds die oorgang tussen die ou en nuwe lewe gemaak, byvoorbeeld die swanefluisteraar en die swerwer, terwyl ander, soos Helena, Kasper en Peter Schreuder, dit deur die verloop van die onderskeie verhale doen. Dit wil natuurlik glad nie suggereer dat hierdie nuwe lewe noodwendig aanvaarbaar is vir die burgerlike samelewing nie. Inteendeel, daardie individue wat op die rand van die samelewing huiwer, word dikwels verwerp, behalwe as hulle oor ’n sekere vermaaklikheidswaarde beskik wat die burgerlike samelewing soms laat stop om te kyk of te luister (vgl “Die sneeuslaper”). Van Niekerk voorsien dieselfde verandering in die skryfproses. Nie alleen manipuleer die skrywer sy karakters nie, maar die karakters manipuleer en verander ook die sienswyses van die skrywer.

’n Belangrike skakel tussen die ou aarde en nuwe hemel word nie alleen deur “wit” gesimboliseer nie, maar ook deur die lewerik. Die voëltjie, verbind met warmte, lig en lewe, word in verskillende mitologiese verhale uitgebeeld as boodskapper tussen die ou en die nuwe wêreld (vgl “Die vriend”). Van Niekerk wil hierdeur beklemtoon dat ware letterkunde nie noodwendig ’n droewige geween en ’n gekners van die tande moet wees nie. Die lied van die lewerik herinner die mens om daagliks opgewek en met vreugde te lewe, al is die omstandighede oënskynlik haglik. So het die boemelaar byvoorbeeld in Vondelpark nie eens ’n toilet nie, maar hy vermaak homself met die fotograaf wat hom waarneem en met die briefies wat hy vir Kasper laat. Hy sien selfs kans om vir Helena te begelei en die geraamtes in haar kas te konfronteer om as gesuiwerde persoon voort te gaan met haar lewe. Hierdie gedeelte sluit aan by die liminaliteitskonstruk en dus rite de passage waarna reeds verwys is. Net so leer Willem vir Jacob, en Helena se pa vir haar, om die vreugde van die lewe te ervaar.

Die uitdrukking tremendum et fascinans (16) vorm die belangrikste skakel tussen Van Niekerk se premis en die gevolgtrekking waartoe sy uiteindelik kom. Dit is aanvanklik ontwikkel deur die Duitse teoloog Rudolf Otto in sy boek Das Heilige, wat in 1917 verskyn het. Hy koppel hierdie uitdrukking met die begrip numineus, waarsonder die ware betekenis nie blootgelê kan word nie. Numineus, waarvan die betekenisomvang mettertyd uitgebrei is, omskryf die aanwesigheid van ’n bepaalde goddelike, buitemenslike ervaring wat nie alleenlik in religieuse sin verstaan moet word nie. In religie kan sodanige ervaring beleef word wanneer die teenwoordigheid van ’n godheid aangevoel word, of wanneer die godheid hom op die een of ander manier manifesteer, byvoorbeeld as iemand skielik in vreemde stemme begin praat of siekes genees word. Alle religieë besit die potensiaal om gelykwaardig tot ’n numineus-ervaring aanleiding te gee. Daarom maak Van Niekerk geen onderskeid tussen verskillende gelowe nie (Islam, Boeddhisme, Zen-Boeddhisme, Judaïsme, Christendom) nie; trouens, sy beklemtoon dat daar beduidende ooreenkomste is – vergelyk byvoorbeeld die gedig van Rumi (47-9), ’n Islamitiese heilige wie se werk nie net tot Islam beperk is nie, maar deur lede van verskillende gelowe waardeer word, en die verwysing na die beroemde werk van die 17de-eeuse Spaanse heilige, San Juan de la Cruz, in “Die slagwerker”. Rudolf Otto wys ook daarop dat die individu se ervaring van een numineuse oomblik na die volgende toeneem, wat aansluit by die stappe van heiligwording ooreenkomstig die Zen-Boeddhistiese geloof sowel as die tien stappe wat San Juan in sy gedig “Die donker nag van die siel” uiteengesit het (53).

Die niereligieuse betekenis van tremendum et fascinans hou verband met ’n gevoel van verwondering wat ervaar word wanneer iemand ’n mensgemaakte skepping, byvoorbeeld ’n brug, toring of skildery, aanskou, of na ’n besondere stuk musiek luister. In sulke gevalle kan die belewing van numineus wat die mens se hele verstand en liggaam oorweldig, op geen manier ’n bonatuurlike of heilige oorsprong hê nie. Die blote feit dat die mens geïnspireer word deur sulke belewenisse, verdiep die numineuse ervaring en skep ’n brug tussen die innerlike, emosionele wêreld van die mens en die buitewêreld. Teen hierdie agtergrond moet die verwysing dan verstaan word. Tremendum beteken dat die persoon wat ’n numineus-ervaring beleef, gevul sal word met ’n gevoel van ontsaglikheid (vrees of ongemaklikheid), nederigheid en ’n momentele uitbarsting van energie soortgelyk aan ’n weerligstraal (wit lig). Fascinans handel met die “volkome ander”, as teenpool van ons daaglikse ervarings. Dit is iets wat onverklaarbaar is, buite ons normale ervaringswêreld, en wat die persoon wat die ervaring beleef, totaal oorweldig. Verskillende kunsvorme, byvoorbeeld beeldhouwerk, kuns, musiekwaardering ens, maar veral letterkunde, word in die bundel verbind met die niereligieuse numineus-ervaring. Net soos wat klanke en geluide in die hande van ’n ware komponis musiek word wat vir die aanhoorder ’n diep geestelike ervaring bied eeue nadat dit geskep is, kan brabbeltaal of betekenislose klanke in die hande van die kunstenaar-skrywer ’n letterkundige werk tot stand bring wat met die lees daarvan die potensiaal besit vir die belewing van ’n numineus-ervaring.

Nadat Van Niekerk al die verskillende aspekte van haar aanvanklik gestelde premis behoorlik ondersoek het, kom sy tot die gevolgtrekking dat die vrae wat gewoonlik gevra word wanneer daar oor die artistieke waarde van ’n letterkundige werk besin word, hoewel belangrik, nie ’n toetsmodel vir ware letterkunde kan wees nie. Dit is nie ter sake of die storie gaan oor die mooi en skone van die lewe nie, ook nie of dit maatskaplik verantwoordbaar is nie, of oor die rol wat fantasie en geloof daarin speel nie. Die ware artistieke waarde van ’n geskrewe stuk lê opgesluit in die vraag of dit die potensiaal het om tot ’n numineus-ervaring aanleiding te gee – of die leser ’n ervaring beleef wat aan die goddelike grens en bykans onverwoordbaar is.

Hieruit volg haar tweede afleiding, naamlik dat ware kuns alleen deur toegewyde kunstenaarskap tot stand kan kom. Al is die wil en behoefte allesoorheersend by ’n individu om kunstenaar te wees, al vertrek hy op die moeisame reis deur die lewe en is hy bereid om sy “eie ingewande te kannibaliseer” (134) op soek na ’n goeie storie, beteken dit nie noodwendig dat hy daarin gaan slaag om ’n kunswerk van artistieke waarde te skep nie. Almal kan waarnemers wees, maar nie almal kan skeppend wees nie. Sekere ingebore eienskappe en talente moet teenwoordig wees alvorens ’n professor in kreatiewe skryfwerk enige bydrae kan lewer om van ’n voornemende skrywer ’n kunstenaar te maak. Omdat sy waarskynlik van mening is dat daar nie ’n letterkundige werk bestaan wat aan hierdie vereistes voldoen nie, gaan sit Van Niekerk en skryf ’n bundel verhale as ’n opeenstapeling van numineuse ervarings wat moeilik oortref sal word – ’n voortreflike werk in ’n groeiende oeuvre van een van Afrikaans se belangrikste eietydse skrywers.

Brand, Gerrit. Groot eer vir SA skrywer. Beeld, 12 Desember 2007.
 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 3

Kommentaar

  • 'n Insiggewende nuwe perspektief  op Van Niekerk se werk.

    Sal Die sneeuslaper nou weer gaan lees.

     
  • Renier Ebersohn

    Dis befok. Uiteindelik is die boek vir my oopgemaak. 

    Ek hoop om nog vele sulke artikels op LitNet te sien!
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top