Toe die uitgewers Jonathan Ball my onlangs nader om ‘n “shout” vir die voorblad van Herman Lategan se rubriekbundel te skryf, was ek in ‘n finansiële penarie. Ek het gesê ek sal dit doen vir ‘n duisend rand.
Ek weet die uitgewers was dalk bietjie iesegrimmig toe ek vra vir ‘n duisend rand vir daardie “shout”. Hulle het dalk gedink ek is te groot vir my skoene (of my gehawende Crocs, om meer spesifiek te wees). Net soos die bestuurder van ‘n sekere kroeg in Kaapstad waarskynlik nou steeds vas glo dat omdat ek onlangs nie bereid was om ‘n konsert te kom doen in ruil vir ‘n bottel wyn en ‘n pizza nie, ek waarskynlik net nog ’n ryk p**s is wat sy siel aan Mammon verkoop het en nie meer omgee vir die eenvoudige waardes van protespoësie, tie-dye T-shirts en lentil-aangedrewe winde van verandering nie. “Maar,” soos ek tereg vir daardie selfde kroegeienaar laat weet het, “mens vra nie jou tandarts of jou loodgieter om vir jou ‘n joppie te doen vir ‘n bottel wyn en ‘n pizza nie, so waarom moet ek sulke minderwaardige besoldiging aanvaar?”
Helaas, net soos daardie kroegeienaar, het Jonathan Ball inderdaad nie die fondse gehad om my die duisend rand te betaal nie. Maar omdat ek Herman Lategan vaagweg onthou het uit my koffie-drink-in-die-Kaapse-Tuine-dae dertig jaar gelede, het ek op die ou end tog ingestem. My enigste voorwaarde was dat hulle kyk na ‘n manuskrip wat ek pas voltooi het.
Om ‘n hartseer storie nog hartseerder te maak, hulle het na my manuskrip gekyk, hulle het dit afgekeur, en ek sit toe met die situasie dat ek, sonder die belofte van enige suksesvolle winsbejag ‘n paar uur van my armsalige lewe moes afstaan om ‘n uitgesoekte keur van Herman Lategan se rubrieke deur te lees in ruil vir een sinnetjie wat hulle op die voorblad van sy boek kon gebruik.
Oukei. Erger goed het al gebeur. Daar was die keer toe my kitaar gebreek het tydens ‘n Kulula-vlug. Daar was verskriklike turbulensie oor die Vrystaat daardie dag – waarskynlik veroorsaak deur ‘n dramatiese Cheetah-wedstryd of ‘n stofstorm – so ek het toe ook nie gekla nie. Stront vind plaas.
En daar was troos. Hulle het, soos belowe, slegs ‘n paar van Herman se rubrieke gestuur, maar dit was almal baie goed. “Hierdie stories is seerkry-mooi,” was Koos se eindelike opinie.
Ek het weer eens besef, soos die enkele kere dat ek Herman se koerantrubrieke raakgelees het, dat hy die eienaardige vermoë het om enige gegewe te vat, selfs die mees alledaagse indrukke of gebeure, en dit om te tower in ‘n tapisserie van indrukke, ‘n bisarre fabel, ‘n beeld of ‘n idee wat jou eenvoudig nie kan los nie, wat jou dae later nog bybly soos ‘n verwikkelde en totaal onverwagse spel van absurditeite en byna pynlike deernis.
Om eerlik te wees, ek was baie lus om die res van die boek ook te lees. Ek was bereid om dit kosteloos te doen. Ek het dit nodig gehad soos vitamines. Boggher Tim Noakes, ‘n mens kan nie van braaivleisvet, botter en Binnelanders alleen leef nie! “Stuur vir my asseblief ‘n eksemplaar wanneer die boek verskyn,” het ek die uitgewers gevra. Ek het gehoop hulle kom nie agter hoe desperaat ek skielik was nie.
Toe Herman se bundel eindelik ‘n paar weke later deur die koeriers afgelewer word, so ewe op ‘n Vrydagoggend, met komplimente van Jonathan Ball, het ek besluit ek om die res van die dag af te vat van my besige skryfskedule, en al my aandag aan hierdie skrywer se ryke geesteslewe te wy.
Ek skryf anyway gewoonlik nie vreeslik hard op ‘n Vrydag nie ...
En soos die noodlot dit wou hê, was dit een van daardie rare Vrydae wat tot in die oneindigheid voor my gestrek het. Die Kombuis-gesin het ‘n hele naweek oop gehad, met niks op die sosiale of kulturele radar nie. Geen afsprake nie. Geen dinner-paarties nie. Geen konserte nie. Niemand wat “Ek Haat Sommige Ou Tannies” of “AWB-Tiete” wil hoor nie. Slegs ek, my drankkabinet, en my onstabiele ego. O, saligheid!
Ek het Herman se boek nadergetrek, op die agterstoep gaan sit tussen die hondehok en die veerpyltjiebord, en begin lees. Die hele boek, hierdie keer, nie net die paar uitsoekstukkies wat die uitgewers vir my per e-pos gestuur het nie.
Eers teen Saterdagaand, toe ek vir die eerste keer besef dat ek die wedstryd tussen WP en die Blou Bulle gemis het, was ek klaar.
Dis toe dat my neus onophoudelik begin bloei het.
Benoud roep ek na my vrou uit die toilet uit. “Kannetjie! Kyk gou op die internet wat’s fout met jou as jou neus skielik begin bloei!”
Daar is stilte vir ‘n halfminuut. Toe kom die antwoord terug, uit haar studeerkamer: “Jy’t ebola!”
“Kak!” antwoord ek. “Ek was nie onlangs in Sierra Leone nie!”
“Nou waar was jy dan die hele naweek? Ek het jou nooit gesien nie!”
“Ek het gehuil!” roep ek. “Ek sit nou al die hele naweek op die agterstoep met ‘n glasie wyn en met Binnekring van spookasems!”
“Hoeveel glasies wyn? Hulle sê ook neusbloeding kan veroorsaak word deur medikasie wat die bloed verdun!”
Skielik gaan daar ‘n liggie vir my op. “My hart was seer, toe vat ek ‘n paar Disprins!” erken ek.
Sy klink skielik bekommerd. “Hoeveel Disprins presies?”
“Ek is nie seker nie! My hart was BAIE seer!”
Hoe verduidelik ek aan haar op watter reise hierdie boek my gevat het? Hoe vertel ek haar van al die Seepuntse boemelaars met wie ek gesels het, van die karretjiemense saam met wie ek deur die Karoo gery het, of die liedjies wat ek die Dockside Diva vir die matrose in die Durbanse hawe hoor sing het? Hoe verduidelik ek Herman se stories aan iemand wat te laat gebore was om Die Kaapse Tafel te onthou, iemand wat nog nooit vriende gehad het wat in die Heilsleër se barakke in Kaapstad woon nie, of nog nooit vyfuur in die oggend in ‘n tou in Groenpunt se gemeenskapsgesondheidskliniek gestaan het nie?
Ek was daar! Dertig jaar gelede! Herman het my gehelp om dit alles te onthou! Hy het my herinner aan die tye toe ek finansieel selfs dieper in die kak was as in 2014! Toe ek nog sonder aarseling alles sou los om ‘n konsert te doen as iemand my ‘n bottel wyn en ‘n pizza sou aanbied! Selfs as dit Tassies was!
Toe ek eindelik, later die aand, met twee stukkies opgerolde toiletpapier in my neusgate en ‘n glasie medisyne op my bedtafeltjie (KWV, drie jaar oud) langs my vrou begin insluimer, vra sy my: “As hierdie boek jou so beïndruk het, hoekom skryf jy nie ‘n resensie daaroor nie? Ons het die geld nodig.”
“Ek bag die,” mompel ek. “Daar is klaar ‘n aadhaligh vad by op die voorblad laghs die foto vad Herbad se eed oog.”
“Nou’s ek skielik bly ek het nie daai tampons in jou neus gedruk soos wat ek amper gedoen het nie,” lag sy.
Titel: Binnekring van spookasems
Samesteller: Herman Lategan
Uitgewer: Jonathan Ball SA
ISBN: 9781868426263
Kommentaar
Wonderlike resensie! Al rede hoekom ek comment is net om te sê dat jou boeke/gedigte doen dieselfde aan my, Koos. Ek kan hulle nie lees nie. Die nostalgiese gevoelens voel asof my hart breek. Dit is "te naby" veral as dit Stellenbosch mention (waar ek vandaan is). Anyway, ek dog ek laat jou maar weet dat jy dieselfde aan mense doen as wat Herman aan jou doen. (Dit klink soos 'n insult as ek dit nou vir myself teruglees, maar dit is 'n kompliment.)
Beste Mnr. Kombuis,
Ek hoop die Balls gee jou, jou geld. Wat is 'n R1000 ... mense (jou volgelinge en daar is moer baie van hulle met Rande in hul sakke) vertrou jou opinie en sal die boek koop omdat jy dit aanbeveel het. So JY gaan vir Jonathan Ball geld maak. Sies Jonathan.
Ek weet besils ek gaan dit nou lees omdat dit jou so geraak het.
En soos Niel sê - jou boeke en songs raak ons net so diep, baie diep.
Anyway hoop Mamon glimlag spoedig op jou en jou gesin.
Cheers uit NZ