Kort ná ons tiende huweliksherdenking kondig Lukas aan dat dit tyd is om vir my die wêreld buite Suid-Afrika te gaan wys. Hy was self reeds verskeie kere in die buiteland, maar vir my, ma van drie kleingoed, is dit ’n droom wat op 32-jarige leeftyd eers realiseer.
Ons maak eers ’n draai in Engeland, waar Lukas vir my die Cotswolds gaan wys, ons bring ’n dag in Oxford deur en eet by The Eagle & Child, oftewel The Bird and the Baby soos Tolkien, C.S. Lewis en hulle vriende daarna verwys het. In Stratford-upon-Avon besoek ons Shakespeare se graf in die Holy Trinity Church, en ek verluister my aan die bejaarde toergids wat met soveel entoesiasme en skerpsinnigheid die grafgebeure van hulle dorp se beroemdste inwoner beskryf. Op pad terug na die middedorp oorval ’n reënbui ons en ons gaan soek skuiling in die gedenktuin met die twee Wêreldoorloë se monumente.
Ek kruip onder Lukas se blad in en huil oor rooi papawers tussen die varsgroen graan, oor swart-en-wit houtraamhuise wat meer as vyf eeue oud is, oor katedrale wat onder Henry VIII se bewind gely het, oor Oxford se keisteenstrate waaroor studente drentel asof dit Victoriastraat in Stellenbosch is, oor koorknape wat gaap en aan mekaar karring terwyl hulle met “Evensong” besig is, oor ’n geheime tuintjie langs Tewkesbury se abdy wat ’n soldaat ná die Tweede Wêreldoorlog uitgelê het uit dankbaarheid vir sy lewe, oor die Engelse soet lug. En omdat ek bang is dat ek nooit weer so ’n geleentheid sal kry nie.
Agt dae later land ons op Charles de Gaulle en in vyf warrelwinddae oorrompel die prag en praal van Parys my. Die stad is alles en nog soveel meer as wat ek my ooit kon voorstel, maar dis tog met verligting dat ons die tog na die Franse wynlande in Elsas aanpak.
In Eguisheim voel dit of ons in een van die kinders se storieboeke geklim het. Die goedbewaarde Middeleeuse dorpie is die geboorteplek van Pous Léon IX (1002-1054), wie se standbeeld die fokuspunt van die fontein op die markplein is. Die dorp lê aan die voet van die Vosges-berge en is omring deur wingerde – die streek is veral bekend vir sy Riesling. Geel, lemmetjiegroen, oker, violet, pers en oranje skakelhuisies met ewe veelkleurige hortjiesvensters staan ingeryg langs voetgangerstraatjies wat konsentries rondom die markplein uitgelê is. Rondom elke fontein, oral langs die strate en voor vensters is plantbakke vol blomme.
Skuins bokant die dorp vang my oog die drie kastele – Les Trois Châteaux. In my gedagtes pak ek ’n rugsak met vars brood en kaas en vrugtesap. Dalk ’n vrugtetertjie of sjokolade daarby. Piekniek by ’n kasteel … net soos ’n piekniek in die Tuine van Luxembourg in Parys ook die regte snare sou roer, maar nooit gerealiseer het nie (hoe dikwels bly ’n pragtige prentjie in jou kop net dit, ontbreek die inisiatief, tyd of energie om dit te lééf).
Die pas van my Paryse oorgawe het Lukas teen dag vier amper uit aksie gesit en dis asof dit hom nou op die platteland nog erger tref.
Op die tweede dag in Eguisheim slaan ons middagete oor om plek te los vir ’n stewige tradisionele aandete, maar teen vieruur draai my kop en bui in so ’n mate dat ons tog weer in die dorp na iets ligs gaan soek. Lukas loop al heeldag en kerm hoe lus hy vir gerookte worsies is, en ek wil ’n regte bretzel probeer. Gedagtig aan my niere stof ek maar die soutkristalle af, en saam met snytjies kaas en ’n paar happe van die gerookte wors voel ek hoe die behaaglikheid van hierdie (kinderlose) reis opnuut deur my stoot. ’n Konfyttertjie is die kersie op my saligheid en op die ou end slaap ons dwarsdeur die begeleide dorpstoer wat ons vir die middag beplan het.
Ná sewe gaan soek ons die tradisionele maaltyd op – ons sirkelroete deur die dorp eindig by ’n kleiner dorpsfontein. ’n Goeie keuse, want skaars het ons by ’n tafel ingeskuif of die dorpskoor begin in die skoolgebou aan ons linkerkant oefen. Van hier het ons ook ’n goeie uitsig op ’n ooievaarsgesin se lawaaierige doen en late op ’n huis se skoorsteen.
Elsas is gaande oor hulle cigognes– omtrent elke dorpie spog met ’n park wat uitgelê is om hierdie geveerde burgers te akkommodeer. Toe my Choucroute garnie (Elsas se weergawe van suurkool met vleise daarby) en Lukas se Baeckeoffe (’n aartappelgebak met bees-, vark- en lamsvleis) opdaag, begin iemand op die klavier in die kelder agter ons met die koor en die ooievaars meeding. Ná vier of vyf variasies op die tema van “Baby Elephant Walk” wens ons hy wil liewer sy hoeveelste finale finaal maak en die koor hul oomblik gun.
In die huis aan die regterkant begin die vrou van die huis gereed maak om te gaan slaap – al is dit nog so lig soos sesuur saans in die Kaap, is dit al lank ná nege. Eers word die blomme in die plantbakke voor die vensters natgemaak, dan word die hortjies toegetrek. Wanneer haar man terugkeer van sy wandeling met hulle steekhaarbrakkie, word hy sonder seremonie ’n leer en gieter in die hand gestop om die hangende potplant bokant die voordeur ook water te gee.
Die Blitzkrieg in Parys, die sleg slaap, die groot aandete, die oorstimulasie van een mooier dorp en gebou en monument op die ander, en twee weke sonder drie pare armpies wat gedurig my nek beset, eis vroegoggend van dag drie al sy tol. Die dag word ’n prutpot van emosies en misverstande en eindig in Lukas wat tussen die (oor)aanbod van geskiedeniskanale op TV hop en dan onder die geklank van Hitler se tirades aan die slaap raak. Ek gryp my joernaal en gaan eet alleen.
Ons laaste dag in Eguisheim breek aan. Ek word net ná sewe wakker, en omdat dit nie lyk of Lukas van plan is om vroeg te roer nie, besluit ek om op my eie Les Trois Châteaux toe te stap. Ek pak my rugsak, smeer sonroom aan, onthou ’n appel en ‘n piesang, en laat ’n nota vir Lukas dat ek kastele toe stap. By die kruidenier stop ek vir ’n wegneemkoffie, ’n bottel water en een van my gunsteling- Franse happies – Brioche Pepitas, ’n soetbrood met sjokoladestukkies daarin.
Die eerste stuk van die roete loop by die ooievaarspark verby en dan deur ’n vallei tussen die wingerde. Om vir die eerste keer in twee weke regtig net op my eie te wees, is ’n welkome verligting. Langs die pad kry ek ’n kampie met twee perde en ’n entjie verder ’n paneelwa met twee seuntjies wat soet vir Pa en Ma wag, later ’n verlate piekniekkombers en -mandjie (wat is dit met die Franse wat kind en kos so tussen die wingerd versaak?) Die tweespoorpad verdwyn en slegs ’n voetpad swenk links in die rigting van die woud.
Dit lyk nie of hier onlangs mense was nie en ek wonder vir die hoeveelste maal (senuweewrak uit sonnige Suid-Afrika) of ek nie ’n baie dom ding aanvang nie, maar gee my dan tog oor aan die stilte, my voetval op die sponsagtige swart grond, onbekende voëlgeluide, die spatsels blou lug wat nou en dan deur die blaredak flikker. Ek kan my goed voorstel hoe ridders en soldate 800 jaar gelede te perd hier sou uitry om by die kastele besoek af te lê. Ek haal die bloedrooi appel uit die rugsak en dink ek sal versigtig moet eet sodat ek nie aan ’n stukkie appel verstik nie. Mens sou ’n bisarre kortverhaal kon skryf met die titel “Sneeuwitjie en die drie kastele”!
Ongedeerd kom ek by die drie kastele uit om die uitsig oor Alsace en tot by die Swartwoud aan die Duitse kant van die Ryn te geniet. Die drie kastele, wat dateer uit die elfde en twaalfde eeue, bestaan uit Wahlenbourg (eerste opgerig as woning vir die Graaf van Eguisheim, Hugues IV), Dagsbourg en Vaudémond. Dis in verskillende grade van bouvalligheid en ‘n mens kan nie regtig ’n idee kry van hoe dit oorspronklik gelyk het nie.
’n Weemoedigheid, of dalk eerder ’n bittersoet vreugde, iets waarvoor ek (nog) nie woorde het nie, kom maak nes in my keel. Omdat ek ’n onbekende reis aangepak en by my bestemming uitgekom het? Omdat ek mysélf weer kan voel ná meer as ’n dekade waarin ek my aan man en kinders, ’n huishouding en middelklasbestaan verbind en bevestig het? Ek neem ’n paar foto’s wat ek hoop goed sal lyk in sepia, en pak die terugtog aan.
Dit neem my twee weke om weer lief te raak vir die Kaapse wynlande, ses maande om weer na die vakansiefoto’s te kyk, amper ’n jaar om my reisjoernaal weer oop te slaan. Die drie kastele het ’n uitkykpunt geword van waar ek my drome en verlangens weer kon raaksien – en ook die bereikbaarheid daarvan.

