Leopard's Leap-leesmedalje: Dana Snyman: flitse uit die pen van 'n stil man met wit kneukels

  • 0

Dana Snyman: Anderkant die scrap (Human & Rousseau, 2006)

Die boek, ‘n samestelling van nege-en-veertig kort vertellinge, lees soos vinnige flitse van historiese en hedendaagse werklikhede in ons land en het ‘n dokumentêre tipe kwaliteit. In die tydskrif-rubrieke waarvoor hy bekend is, en waarvan ek enkeles destyds in Huisgenoot en later ook in Weg gelees het, praat die skrywer gewoonlik die taal van braaivleis, rugby, ou karre, nostalgie, koue bier, avontuur en “double cab 4X4’s” met soms ‘n effense knyp aan die stertkant, maar niks wat die lesers te diep sal ontstig nie. ‘n Paar van sy rubriekskrywes is juis in hierdie bundel opgeneem. Vroeg in die lees was my gedagte dus dat hierdie boek ook hoofsaaklik uit ligte indrukstukkies bestaan en die werk waarskynlik beskryf sou kon word as uitstekende vermaak vir die ligte leser, maar vir dié wat meer soek, ietwat sonder pit.

Teen die vyfde vertelling, ‘n aaneenlopende lys van Afrikaner-waarhede en volkspropaganda wat oor verskeie bladsye strek en waarvan ek elke liewe een uit my eie kinderdae herken het, het ek besef dat hierdie skrywer beplan om aan sy leser te krap. En gekrap hét hy, dieper as die gebruiklike enkelvlakkige voorspelbare regime-verwerpings deur voormalige establishment-skrywers wat uiteindelik die lig gesien het en nou hulle nuwe gewaarwordinge aan die volk wil openbaar, selfs ‘n bietjie predik, soos nuutbekeerdes wat hulle geroepe voel om die weg en die waarheid aan ieder en elk uit te wys. Dit was opvallend dat hierdie skrywer nie veel direkte kommentaar lewer nie. Die stories is op die oppervlak uiters vermaaklik en die leser kan so diep kyk as wat hy verkies; altans, dis wat hy aanvanklik glo. Tot by die brief aan Frik Du Preez, volksikoon en rolmodel vir destyds se kinders, na aanleiding van sy beroemde veelgeprese tackle op ‘n All Black (wat hom vandag waarskynlik ‘n rooikaart op die hals sou haal), waarin aan die voorsate skyn gesê te word: kyk, die skade het nie by die onderdruktes geëindig nie, julle het ons, julle eie kinders, ook met julle morele verwrongenheid erg verwond.

Soos iemand wat na tuisgemaakte films oor sy lewe kyk, is die leser vertroud met dit wat elke flits (scene) hom wys. Meeste van ons het die agterlike flentergat armblanke, Louwtjie, wat die oomblik toe sy sitvlak seat-vat, hom tuismaak en oor-familiêr raak, al teëgekom; die besoekende goewermentshoogwaardige, vanselfsprekend van die Natte, by ‘n plattelandse geleentheid destyds; toesprake wat nie toesprake nie, maar “redes” was; voortrekkers en Geloftedag; die kommunistiese gevaar en die Illuminatii wat die wêreld wil oorneem en boonop die Antichris aan boesem huisves; die bosoorlog en sy bosbefokte oudsoldate; volwasse kinders wat buiteland toe emigreer en hartgebroke diep bejaarde ouers agterlaat, soos die arrogante Ben, vir wie ek teen die einde van die vertelling net so kwaad as vir Dana was; irriterende expats wat van oorkant die water hulle verjaarde kennis van die land ten spyt, meteens al die antwoorde vir ons het en die kuberruim daarmee vervuil. Desperate immigrante van elders uit Afrika by stedelike verkeersligte. By die bekkige bedelende coloured se storie waarin hy homself twintig maal in tien sinne weerspreek terwyl hy “nooit lieg nie”, waarvan ons almal een of ander weergawe in ‘n parkeerterrein êrens al gehoor het, het ek ‘n oomblik verpoos om te besin of mens nie vir hom tóg maar die sestig randjie sou wou gee nie.

Ek verkies normaalweg om romans eerder as bundels kortverhale of sketse te lees, maar hierdie boek is anders. Mens wil hom koop en hou vir weerlees, nie sommer net by die biblioteek uitneem, klaarlees en teruggee nie.

Krokodil

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top