
Foto: Canva
Lelies
Vreemd dat ek
vanmôre
aan lelies dink
wanneer jou naam
in my gedagtes dryf.
Die wit en geel,
soos draairoomys
met suurlemoenstroop
op ’n warm somersdag.
’n Groen stingel
hang op genade
aan hoop;
die grond nou brak.
Ek fotosinteer
gist’raand se laaste
oomblikke
tot suurstof opraak
en koolstofdioksied
my laat stik.
Die blare is dood,
die blomblare ook,
selfs die stuifmeel
verdwyn
nes jou hand
op my hart –
wring dit uit,
’n week se vuil wasgoed
op een slag.
Die blompot
vieslik vol
leë beloftes:
Verlepte,
uitgedroogde
lelies
hoort in die asblik.

