Lekkermeisie op perkussie – Vinnig en hard

  • 0

Wanneer die onderwerp van vroulike tromspelers ter sprake kom, duik die name van Karen Carpenter (Carpenters) en die meer onlangse Meg White (White Stripes) onwillekeurig eerste op. Maar selfs Karen Carpenter moes iewers die idee gekry het dat hierdie deel van ’n orkes se ritmeseksie vir die Evas net so beskore is as wat ’n appelboom enige man die kluts kwyt kan maak. En ons hoef nie te ver te gaan soek om te sien hoe dit ook in Suid-Afrika al die geval was nie. In die laat 70’s het Clout die plaaslike toneel oorheers met klipharde Rock-’n-roll van wêreldgehalte. Met ’n tromspeler soos Ingrid Herbst was daar min mans wat hierdie meisies se kerse kon vashou. Hul eerste en grootste treffer “Substitute” (geskryf deur Willie Nelson), was nommer een op al die treffersparades in Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Duitsland, Frankryk, Nederland, Swede, Oostenryk, Denemarke en België. Op hierdie video wys “Ingi” haar slag. Duidelik.

In 1964 het The Honeycombs ’n groot treffer gehad met “Have I the right?”. Die song se sterkste kenmerk was Honey Lantree se unieke ritme op die tromstel. Die effek daarvan is versterk deurdat die hele orkes tydens die studio-opname hul voete in die koorgedeelte saamgestamp het op die studio se houtvloere. Daarby het die opname-ingenieur met ’n tamboeryn direk teen ’n mikrofoon geslaan en met die finale bemeestering die algehele spoed van die hele opname so ’n bietjie aangejaag. Met die resultaat dat die groep die klank nooit by lewendige vertonings kon ewenaar nie. Op hierdie video sien ons hoe Honey Lantree vir al die Dawids na haar wys waar Eva die wortels begrawe het:

Oukei, Millie Small het nou wel niks met die tromstel te doen gehad nie (haar perkussie sit in haar dans en pragtige glimlag), maar ons is nou op so ’n lekker  nostalgiese 60’s roll dat ons net sowel hierdie juweel van ’n kostelike video so ’n bietjie as ’n programvullertjie kan ingooi:

Terug by die meisies op ritme: Karen Carpenter was waarskynlik menige vroulike tromspelers van die modern era se grootste inspirasie. In haar eerste hoërskoolorkes moes sy die glockenspiel speel. Sy het niks daarvan gehou nie en het gevra of sy maar eerder die tromme kon speel. Sy en haar broer Richard het in 1965 hul eerste opnames gemaak. Sy het haarself altyd beskou as ’n “tromspeler wat sing”. Ahoewel sy later in die Carpenters se loopbaan die tromme aan Hal Blaine oorgelaat het om te konsentreer op die vocals, was sy tog alleen verantwoordelik vir die tromme op die album “Ticket to ride”. “Please Mr Postman” is seker een van haar bekendste riffs. Hierdie video gee ’n goeie oorsig oor wat sy vermag het:

Raait. Skip forward so ’n paar jaar. 2001 en verder. Carla Azar. Groot en sterk en mooi en vinnig en hard. Een van die opwindendste musikante van ons tyd.  Sy speel en sing vir Autolux. Ook verantwoordelik vir die tromme op Jack White (White Stripes) se laaste album, “Blunderbuss”. Sy het ook Jack White se all girls-toer in 2012 as deel van The Peacocks met hom meegemaak. In 2005 het sy op T-Bone Burnett se “The true false identity” gespeel. Dan maak sy ook nog klankbane vir films. Haar weergawe van “Tomorrow never knows” in die film  Sucker Punch is groot. Só lyk en klink sy:

Hier kan jy luister na T-Bone Burnett se “Zombieland” – Met Carla Azar op ritme. Die versameling is geniaal:

En dan was daar die meisies met die hare. Heavy metal. Vixen. Met Roxy Petrucci op tromme. Haar eerste band was Madam X.

Vixen was meer in aanvraag. Onder andere as support act op toere saam met Kiss, Ozzy en Deep Purple.

Joan Jett van The Runaways beskryf haar eerstydse kollega Sandy West op tromme as in dieselfde kaliber as John Bonham. Die volgende video illustreer dalk die beste hoe sy so ’n vergelyking kan maak. Hierdie band het die pad vir alle hard rock girl bands ná hulle oopgemaak.

“Cherry Bomb” was een van Sandy West (RIP) se gunstelinge.

Lou Reed en The Velvet Underground sorg vir ’n lekker afkoelnommertjie vir hierdie studie in die skoner perkussiegeslag.  Maureen (Mo) Tucker was sedert 1968 die ritmemeisie vir hierdie Andy Warhol-bestuurde projek, wat allerweë beskou word as een van die mees invloedryke musiekprojekte van die laat 60’s en vroeë 70’s:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top