Leeus met letsels sit gemaklik op al die stoele

  • 0

Leeus met letsels
Fanie Viljoen
ISBN:
Uitgewer: Human & Rousseau

Koop Leeus met letsels by Kalahari.com

Die Afrikaanse jeugboek lê nou al vir ’n dekade of wat op ’n ongemaklike plekkie. Dit wil-wil die kinderskoene ontgroei en iets van groter literêre waarde word, maar hekwagters wat besluit oor wat geskikte leesstof vir tieners is, vra nog dikwels vir daai fraaie boek waaroor ’n mens die kop goedig skuins draai en glimlag.

Die gevolg is dat verdienstelike, “ouer” jeugboeke die afgelope tien jaar deur die krake geval het en nie die erkenning gekry het wat hulle verdien het nie. Hulle het die grense verskuif, maar daar is oor hulle gefrons omdat hulle soms oor "kwessies" gehandel het. Carina Diedericks-Hugo se veel onderskatte Die verdrinking van Josua van Eden, Fanie Viljoen se ontstellende BreinBliksem en Francois Bloemhof se aangrypende Nie vir kinders nie is maar enkeles wat nie náástenby die erkenning gekry het wat hulle verdien nie.

Vir die sogenaamde Afrikaanse “jeugboekskrywer” is daar dus besondere uitdagings. Om iets te bedink wat die hekwagters goedig gaan laat knik, maar waaroor jongelinge nie hulle oë gaan rol nie, is nogal ’n hele hand vol.

Fanie Viljoen se Leeus met letsels sit gelukkig al hierdie stoele gemaklik raak.

Dis ’n heerlike avontuurverhaal wat ouer lesers én jongelinge én die hekwagters se goedkeuring sal geniet.

Interessant van dié boek is dat Viljoen dit op eie houtjie met behulp van ’n uitgewer in Engeland uitgegee het. Met ’n ander voorblad as die plaaslike weergawe het Scarred Lions in 2010 in Engeland die lig gesien en flink verkoop.

Buyi, ’n Zoeloeseun, het die eerste lig in Londen aanskou, waar hy 14 jaar lank by sy ma in ’n woonstel gebly het. Sy ma en pa se lewens het destyds voor Buyi se geboorte in Suid-Afrika geskei, lees ons later in die boek.

Buyi het nooit kontak met sy pa, ’n wildbewaarder in Suid-Afrika, gehad nie, maar weens probleme by die skool en finansiële knyp besluit die ma dit is tyd dat Buyi op ’n vliegtuig Suid-Afrika toe klim en dat sy pa vir ’n slag die verantwoordelikhede moet oorneem.

Só beland Buyi op ’n wildplaas in die Limpopo-provinsie.

Hy is bang vir Afrika en die vele vreemde lewende wesens op land en in die water.  ’n Besondere sterk punt van die roman is die humor. Buyi se vrese en vermoedens oor die gevare in Afrika is snaaks, maar Viljoen skets dit met deernis. (Daar is veral ’n skreeusnaakse toneel wat ’n foefieslide en ’n seekoei met ’n gapende mond insluit.)

Buyi raak bevriend met André en Somoshile, ook kinders van wildbewaarders op die plaas. Hulle word vir Buyi die sleutel tot die geheimenisse van Afrika.

Buyi en sy pa kom nie goed oor die weg nie. Vir Buyi lyk dit asof sy pa hom nie daar wil hê nie, en daar is byna geen kommunikasie tussen die twee nie. Buyi begin huis toe verlang.

Sentraal tot die storie is ’n mensvreterleeu met ’n letsel op die gesig wat alleen op die plaas ronddwaal en mense se veiligheid bedreig.

Uiteindelik is Leeus met letsels ’n storie oor ’n seun en sy pa se reis. Daar is meer as een leeu met ’n letsel in dié verhaal.

Die interessante feite oor Afrika se fauna en flora sou nie net vir Britse lesers interessant wees nie, maar vir vele hier ter plaatse ook. Viljoen weet waar om die streep te trek. Dié inligting word in klein dosisse as deel van die verhaal aangebied sonder dat die leser verveeld raak en die indruk kry dat hy of sy hier ’n rits feite uit Wikipedia beleef.

Die boek kyk na ’n moderne Suid-Afrika en ontwyk die gebruiklike romantiese clichés oor Afrika. Daar is volop humor en avontuur en selfs ’n skoot romanse – die soort boek wat ’n mens hoop ’n tiener wat nie normaalweg lees nie, met ander oë na die leeservaring gaan laat kyk.

Die boek spog voorts met ’n baie aantreklike omslag deur Clive Myburg, Teresa Williams en Anika Molnar, en dit is lekker om te sien dat die “jeugboek” deesdae met ’n meer volwasse en professionele – en minder guitige – baadjie spog.

Skaf gerus aan vir die Kerskous.

 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top