Leestyd: ’n mamma antwoord haar dogtertjie

  • 4

Foto: Canva.com

Leestyd: ’n Mamma antwoord haar dogtertjie

Mamma, hoeveel kolletjies 
het ’n liewenheersbesie? 
Soveel soos jy kan tel 
op elke spesie.

Maar wat beteken 
dié spesie-woord? 
Besies se kleure en kolle 
lyk anders by elke soort.

Is die mamma ’n ladybird 
en die pappa ’n liewenheer? 
Eintlik is hulle eenders, 
maar hý’s die meneer.

Waar kom die naam 
ladybird dan vandaan? 
Want sy dra Maria 
se mantel en faam.

Maar Maria dra blou 
en Rooikappie rooi? 
Ja, in jou prentjiesboeke 
lyk albei so mooi.

Waarom kan mens hulle 
dan nooit ooit vang nie? 
Want hulle flits ver weg 
sodat ons kan verlang.

En hoe lyk die bababesies – 
het hulle ook dotjies? 
Eers is hulle eiertjies, 
nes ander goggôtjies.

Wat word van die rooietjies 
as hulle eendag doodgaan? 
Hulle gaan vir ewig lewe. 
En dié een se kolletjies?

Kyk, Mamma, daar’s sewe!

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top