Leeskringe in die Noord-Kaap: Boeke kan lewens verander

  • 3

"Wanneer ons bymekaar kom om die boeke te bespreek, voel ek weer lus om aan te gaan met die lewe,” vertel Eveline Beukes van Kalksloot. Eveline was ’n huisvrou toe die leesklub in Kalksloot in 2010 begin is. Aanvanklik het LAPA Uitgewers altesaam 48 boeke vir elk van agt leeskringe geskenk, maar toe die projek in 2013 deur die ATKV oorgeneem is, was daar al in 20 gemeenskappe rondom Upington sulke leeskringe gevestig. Eveline se verhaal is een van die vele suksesverhale van dié projek.

Kort na die leesprojek in Kalksloot begin is, begin werk sy as tuisversorger, terwyl sy as fasiliteerder van die Kalksloot-leesklub optree. Lesers kan by haar tuisbiblioteek boeke uitneem, en een keer per maand kom die groep bymekaar en gesels lekker oor die stories, die karakters en soms sommer net oor die lewe. Maar dis nie al nie – agt van die lesers van Kalksloot-leesklub begin saam na ure klasse bywoon om hul matriek te verwerf en op dié manier hul lewensgehalte te verbeter.

In 2016 nader die Departement van Sport, Kuns en Kultuur Eveline om voltyds by hulle te begin werk in ’n biblioteek wat hulle by die skool inrig. Hierdie vrou, wat nog altyd gestreef het na beter en meer in die lewe, wat droom van sukses, is nou ’n beroepsvrou. En kon onlangs haar eie blinknuwe kar koop.

Met die aanvang van die leesprojek was dit ’n uitdaging om gemeenskappe te identifiseer wat by die projek kon baat. Die einddoel was aanvanklik die opheffing van vroue wat nie toegang tot boeke en biblioteke het nie, maar mans en tieners het net soveel aan die projek deelgeneem. Om ’n kultuur van lees en boekbesprekings te vestig was ’n groot uitdaging. Lees is een aspek wat spontaan gebeur, maar die gedagte van besprekings het tyd geneem om te vestig en sommige groepe is steeds nie gemaklik daarmee nie.

Die gesprek kring vinnig uit na allerlei kwessies waarmee die gemeenskap geraak word en krisisse in die deelnemers se lewe. Hoewel dit ideaal sou wees dat die lesers identifiseer met die karakters in die verhaal, lei die gesprekke tot ’n gevoel van samehorigheid en voel die lede na afloop van so ’n gesprek weer by magte om hul eie krisisse die hoof te bied.

Teen die einde van 2013 was daar meer as 500 aktiewe lesers wat ook boekbesprekings bywoon. Maar die behoefte het gaandeweg tussen lesers ontstaan om hul eie stories te begin skryf. Selfs in Korrektiewe Dienste, waar ’n paar vroue in die gevangenis ywerig lees, is daar die behoefte om deur die skryfproses hul emosies en trauma te verwerk. Skryfwerkswinkels met ’n fokus op die terapeutiese waarde van skryfkuns het op dié manier spontaan begin plaasvind. Bundels met lesers se eie verhale in is as gemeenskapspublikasies gepubliseer, onder meer in Stroopsoet bitterheid, en ander verhale.

Op Bo-Gariep duskant Groblershoop het Valerie Titus in 2011 ’n leesklub met ’n groepie vroue en tieners begin. In hierdie gemeenskap is lae geletterdheid saam met armoede en werkloosheid ’n groot probleem. Valerie het haarself egter ten spyte van die feit dat hulle afgesny is van die hulpbronne en geleenthede, bemagtig deur in te skryf vir ’n vroeë-kinderontwikkeling-kursus. Vandag het sy ’n groepie leerders by Laerskool Gariep vir wie sy elke dag lessies leer en voorlees.

"Wanneer ons lees en die boeke bespreek, sien jy hoe die karakters optree en hoe jy uitdagings in jou eie lewe kan aandurf. Ook die kinders sien hoe grootmense lees en raak nuuskierig, sodat hulle self ook begin lees," vertel Isabella Abrahams van Raaswater.

Die oudste leser in die Noord-Kaap-leesprojek is die 86-jarige ouma Roset van Rooyen van Curriescamp. Van die ander ouer lesers is ongelukkig nie meer saam met ons nie, maar hulle was ’n ywerige groepie bejaardes wat nie geskrik het vir ’n goeie spanningsverhaal nie.

Liefdesverhale is ’n groot gunsteling, maar smaak verskil, sê Lucy Goliath van Rosedale. In die romanzas van Lapa word die held so lieflik en wonderlik voorgestel en raak hulle weer verlief, "maar ai, sodra ek die boek toemaak en weer realiteit in die gesig staar ..." lag sy. Daarom dat sy spanningsverhale bo liefdesverhale verkies – dit daag haar uit om te raai wie die skuldige is of wie die moord gepleeg het. Dis ook hierdie soort boeke, meen Lucy, wat geleentheid vir lewendige boekbesprekings bied.

Geestelike boeke in die gemeenskappe wat uitdagings soos armoede, lae geletterdheidsvlakke en geweld in die gesig staar, bied ’n toevlug en is in aanvraag.

Warmzand is ’n gemeenskap tussen Keimoes en Kakamas. Die Warmzand-lesers is so ywerig dat ek al versoek is om boodskappe aan Deon Meyer en Martin Steyn te stuur insake hul produksie. Die lesers lees heelwat vinniger as wat boeke geskryf kan word!

In hierdie leesklub is dit veral die mans wat aktief lees, hoewel hulle slegs boeke by die huisbiblioteek uitneem, maar selde boekbesprekings bywoon. Dis steeds vreemd vir mans om rondom ’n koppie tee oor die karakters in ’n boek te gesels, en sommige van hulle is die broodwinners en kan slegs snags lees.

In Augrabies lees Amerlise voor vir die bejaardes wat glad nie self kan lees nie. Hierdie voorleesmetode, wat ook vir die kleintjies gebruik word, bied ure se ontvlugting en genot aan beide die leser en die persone vir wie sy voorlees.

Op Vredesvallei bestaan die groep lesers uit Xhosa- en Nama-huistaalsprekers wat ywerig aan gesprekke deelneem en graag self ook skryf. Collin Vass het al van sy gedigte in die plaaslike koerant, Die Gemsbok, sien verskyn en is besig met ’n kinderstorie.

Wat begin het as ’n projek om mense in afgeleë gebiede van boeke te voorsien, om lees te bevorder en op dié manier geletterdheid aan te moedig, het vir seker tot ’n suksesverhaal  gegroei.

Lewens word verander ... een op ’n slag.

  • 3

Kommentaar

  • Adinda Vermaak

    Anzil, jy is iemand uitsonderlik! Baie, baie dankie vir wat jy met jou geesdrif en dryfkrag en inspirasie vir so baie mense doen - en ook vir Afrikaans.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top