Leeskring = ouwêreldse "edutainment"

  • 7

"Edutainment: noun. The process of entertaining people at the same time as you are teaching them something" (Cambridge English Dictionary).

Ek weet nie of enigiemand die Afrikaanse woord opvoedvermaak vir edutainment gebruik nie, maar dis in elk geval nie reg vir hierdie storie nie.

Blykbaar het Walt Disney al in 1954 sy films as edutainment beskryf. Ander beskou Robert Heyman as die vader van die woord. Hy het in 1973 multimediafilms vir die National Geographic Society gemaak waarin vermaak met leer gekombineer is.

Hoe ook al, storievertellers, skrywers, lesers weet van altyd af dat dit ’n wenresep is: die meesleurende verhaal, die betowering van woorde, die karakters op wie jy verlief raak of wat jou die harnas injaag, die emosies wat na vore kom – die hele towertapyt wat jou op ’n reis neem na verre plekke en avonture is die ideale manier om nuwe dinge te leer ken, insluitend meer van jouself.

Dis waarvan leeskringe aanmekaargesit is: boekwurms wat vriendskap vind in gedeelde boekvreugde en wat wil leer om hulle leesplesier uit te brei met nuwe skrywers, nuwe boeke, nuwe maniere van lees en verstaan. Erika Theron verwoord dit so: "Ek dink Afrikaanse leeskringe is die hartklop van die Afrikaanse leeswêreld en het ʼn uiters betekenisvolle bydrae tot die instandhouding van die Suid-Afrikaanse boekebedryf en sommer die boekebedryf in die algemeen. Dit maak vir die lede deure oop na verskillende denkwêrelde en ook na die internasionale letterkunde."

Toe Mabel Malherbe in 1912 die Afrikaans-Hollandse Leesunie gestig het, die heel eerste Afrikaanse leeskring in Suid-Afrika, was dit omdat sy besef het dat Afrikaanse vroue te min lees, en feitlik geen Afrikaanse of Nederlandse boeke nie. ’n Leeskring sou hiermee kon help en ook as stimulus dien vir nuwe Afrikaanse boeke om gepubliseer te word. Tee en koek was nie op háár agenda nie. Selfs vandag is dit maar net die manier om ’n genoeglike oggend of middag af te rond, al is daar mense wat die teendeel dink en verkondig.

Reg van die begin af was dit ’n voorvereiste vir lidmaatskap dat jy bereid moet wees om ’n boek te bespreek. Aanvanklik was dit nogal ’n gedoente, want hierdie vroue kon ook nie behoorlik Afrikaans skryf nie. Daar was die enkele uitsonderings, soos mev Jan Celliers en mev Gustav Preller, soos hulle destyds genoem is. Die res het hulle praatjies in Engels geskryf en dit dan in Afrikaans vertaal, selfs mev Malherbe. Volgens ou notules van die bestuur is daar soms hewig gedebatteer of iemand "geskraap" moet word omdat sy weier om haar kant te bring.

Vandag is geen leeskring meer so streng daarmee nie, maar meestal is dit steeds gewone lede wat die leiding neem. Menige leeskring het ’n skrywer of letterkundige in eie geledere, of ken ten minste sulke kenners. Dan is dit iets spesiaal, byna soos ’n middag by ’n kunstefees. Dit maak ook sin op ’n plek soos Pretoria waar ons nie naby ’n fees is nie.

Maar vir die res van ons bly die reis na die hart van ’n boek ’n uitdaging. Jy lees die boek drie, vier maal, lees elke resensie, peins oor die invloed van die skrywer se oeuvre en lewe, gaan luister na die skrywer, leer nuwe terme ken, bespreek dit met man en kinders. As plek as karakter deel is van jou boek, baljaar jy op die internet, versamel hulpmiddels om dit interessant te maak en oefen desnoods voor die spieël. In dieselfde tyd kon jy 10 ander boeke gelees het!

Maar jy vergeet hierdie avontuur nooit: Die vreugde wanneer die onderneming suksesvol verloop en ’n lewendige bespreking ontlok, bly nog baie lank by jou.

Connie Luyt sê hiervan: "Vir my is dit nie net in die bespreking van bepaalde boeke nie, die manier waarop die boek ontleed is, die insigte wat verkry word nie, maar is dit ook telkens ’n openbaring van my medeleeskringlede se besonderse manier om ’n boek te benader."

***

Dit is wat ’n paar lede te sê gehad het oor ’n bespreking wat vir hulle ’n persoonlike belewenis was:

Linda Zöllner oor Günther Grass se Im Krebsgang wat sy in November 2004 bespreek het:

"Mabel Malherbe pak soms uitdagende boeke aan. Min was vir my egter so uitdagend soos Günther Grass, Nobel-pryswenner in 2000, se Im Krebsgang! Die aanleiding tot die keuse van een van die skrywer se boeke was die poging om die boek in Afrikaans te vertaal en dit is gepubliseer onder die titel Kreeftegang. Toe blyk dit ongelukkig ’n onleesbaar swak vertaling te wees, en leeskringlede slaan oor na die Engelse vertaling, Crabwalk, en dié wat kan, lees dit in die oorspronklike Duits. Die boek dek ’n besonder interessante tema: die sink van die passasierskip die Wilhelm Gustloff in die Oossee deur ’n Russiese duikboot op 30 Januarie 1945. Dit is tot op hede die grootste skeepsramp ooit, maar die gebeurtenis het heeltemal verlore geraak in die na-oorlogse geskiedskrywing. Grass het die stuk geskiedenis weer oop geskryf. Al het Grass ’n besonder moeilike skryfstyl met lang, lang sinne, het die lesers aanhou lees, omdat die geskiedenis so interessant was. Ek het dus gevind dat byna almal die boek gelees het, in watter taal ook al.

"Die bespreking na my lesing was besonder lank en nogal uitdagend vir my wat voor gestaan het en die vrae van links en regs moes beantwoord. ’n Paar vrae het oor die vertalings gegaan, soos: 'In die Engelse vertaling is die woord so en so, teenoor die oorspronklike Duitse woord, en die Afrikaanse vertaling is totaal verkeerd ...' Ek moes op my voete dink!"

***

Helena Goosen het die interessante opdrag gehad om te kyk na intertekstualiteit by Die kremetartekspedisie deur Wilma Stockenström en Wonderboom deur Lien Botha vir die Februarie 2017-byeenkoms.

"Ek het die meeste genot daaruit geput, en dit baie bevredigend gevind, om die wel en wee van twee 'boomvroue' uit verskillende tydvakke te ontsluit. Om onderlinge ooreenkomste en verskille in hul menswees en leefwêrelde uit te lig en die rol van ’n ikoniese boom in elkeen se lewe aan te toon:

"In Die kremetartekspedisie vind ’n naamlose slavin ’n heenkome in die hol stam van ’n reusekremetart in die 15de eeu in ongerepte Oos-Afrika. Haar eindelose binnegesprekke vertel van haar veelbewoë lewe as slavin.

"Wonderboom is ’n surrealistiese, distopiese roman waarin Magriet Vos hunker na ’n wildevy, die Wonderboom van haar vandaankomplek in die Noorde van Pretoria.

"Nie een van die vroue ontkom aan haar lot nie: Die slavin sterf aan die boesem van haar aartsmoeder, die kremetart. En op reis na háár wonderboom, raak Magriet geleidelik haar geheue kwyt ..."

***

Anna Strydom het Buys van Willem Anker in Junie 2016 bespreek en haar bewondering vir die boek so verklaar:

"Ek het die navorsing vir die bespreking van Buys baie interessant gevind, hoofsaaklik om die volgende redes: Die polemiek oor die feitelikheid van fiksie teenoor die eksaktheid van die geskiedenis (wat stof vir nog ’n bespreking is). Ek was ook gefassineer deur Anker se ryke verbeelding en die skepping van ’n baie verwikkelde hoofkarakter wat beurtelings brutaal en dan weer ontroerend teer kon optree – ek glo nie dat ek Buys die gesinsman en minnaar ooit sal kan vergeet nie. Voeg daarby die taalvaardigheid wanneer Anker Buys oor die veld en natuur laat praat en my bewondering ken geen perke nie. Die metaforiese rol van die honde is ook ’n besondere en essensiële deel van hierdie unieke boek in Afrikaans. Les bes: Nie een van die dikwels brutale sekstonele verval in ’n najaag van die sensasionele nie!"

***

Connie Luyt was in onlangse tye bekoor deur The garden of evening mists deur Tan Twan Eng wat sy in Mei 2014 bespreek het:

"Die boek het op soveel vlakke tot my gespreek – van die begin af: On a mountain above the clouds once lived a man who had been the gardener of the Emperor of Japan. Hoe kan dit anders as ’n towerboek wees? Skoonheid en smart, liefde en haat, lig en donker verpak in die mooiste taal en met ’n Suid-Afrikaanse konteks daarby ook nog!"

***

Ek self (en my familie) was op ’n besonderse reis saam met Dan Sleigh en 1795 van die dag toe ek en my man in die berg bokant Kalkbaai gestap het en hy sê: "Dis natuurlik net hier waar die pandoers vir die Engelse lê en wag het." Ons het die skiereiland en die Weskus deurkruis en ek het elke denkbare boek en internetbron gefynkam.

Maar daardie lofsang het ek reeds gesing:

1795 deur Dan Sleigh: ’n lesersindruk

Die Mabel Malherbe-leeskring is vanjaar 80 jaar oud. Ons verwelkom alle interessante inligting oor die leeskring of oudlede. Stuur dit na mabelmalherbe.leeskring@gmail.com.

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Madelief Mulder

    Baie dankie vir hierdie artikel van hoogstaande kwaliteit. Daar is soveel deeglike navorsing gedoen om al die kosbare bydraes kort en bondig, dog BAIE interessant en boeiend aan te bied. Geluk hiermee.

  • Avatar
    Martha Pretorius

    Baie dankie vir ’n uitstekende artikel. Ekself kan ook getuig dat my betrokkenheid by ’n leeskring vir my oor die jare uiters verrykend en vormend was. Ek is, helaas, baie bekommerd oor die toekoms van leeskringe soos ons dit tans nog ken. Meeste leeskringe ervaar krimpende getalle terwyl aandbyeenkomste die uitsondering eerder as die reël geword het. Soos wat die samelewing in sy geheel dalk herontwerp moet word na COVID-19, sal ons dalk ook gedwing word om byeenkomste rondom boekbesprekings anders te hanteer. Dalk moet ons solank begin dink aan alternatiewe!

  • Dankie Monica! So lekker om te sien dat jy nou so betrokke is in letterkunde wêreld. Willem Anker is my kleinnefie, maar tot my eie ontsteltenis het ek nog steeds nie “Buys” gelees nie!

  • Ek moes al drie keer na 'n ander provinsie verhuis en was so gelukkig om op elke nuwe blyplek by 'n leeskring te kon aansluit! My huidige leeskring het nou al drie virtuele byeenkomste agter die rug. Een voordeel van ons Zoom-vergaderings is dat lede wat verhuis het, o.a. na ander provinsies, ook kon saam kuier!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top