“’n Gekoer oor die koningshuis”

  • 1

Die afgelope tyd het baie skrywers van koerantrubrieke hulle oor die Zuma-skildery uitgelaat. Almal van hulle moet kort-kort iets kry om oor te skryf en sommige van hulle oorleef deur verfraaiend verder te hekel aan wat in die mode is. In min gevalle word iets van werklike belang gesê.

Op die oomblik is daar ’n ander tema wat rubriekskrywers kan help om die koerantkolomme te vul, naamlik die herdenking van koningin Elizabeth II se troonbestyging sestig jaar gelede. Henry Jeffreys doen dit onder die opskrif: "’n Gekoer oor die koningshuis" (Die Burger, 6 deser, p 8). Sy rubriek word eufemisties "Middelgrond" genoem, maar die lesers weet al dat hulle links moet kyk om te sien op watter middelgrond Jeffreys hom bevind. Onderaan sy rubrieke word hy telkens "’n onafhanklike ontleder" genoem.

Jeffreys maak beswaar teen "die beheptheid met die Britse koningshuis in voormalige kolonies." Volgens hom berig joernaliste tans "al swymelend oor die Britse koningshuis." Daar is glo ’n "diepgesetelde beheptheid met die gewraakte ou koninkryk." Nadat van "die koloniale juk" ontslae geraak is, het die eerste Amerikaanse president, George Washington, die voorstel dat hy as koning van die VSA gekroon moes word "met minagting verwerp." Hy het glo "die idee van ’n monargie intens verpes" omdat hy "’n deurdrenkte republikein" was.

Nelson Mandela word as "ons eie weergawe van hul Washington" voorgehou. Jeffreys het dit egter teen "Madiba" se skynbare bewondering vir koningin Elizabeth II en wyle prinses Diana. Laasgenoemde was met een van die koningin se "kroos" getroud. Mandela se besoek aan die Britse koningshuis is destyds "deur die Britse en die Suid-Afrikaanse media opgeslurp en met oorgawe aan hul eweneens swymelende gehore opgedis."

Jeffreys sluit sy rubriek soos volg af: "Hierdie beheptheid met die Britse koningshuis, simbool van ons gedeelde koloniale verdrukking en uitbuiting, bly vir my een van die onverklaarbare verskynsels van ons tyd. Baie soos die bruin stem wat ná apartheid die ou NP in die Wes-Kaap aan die bewind gebring het."

Ek gaan nou probeer vasstel waar Jeffreys se middelgrond in hierdie geval is. Hy is klaarblyklik ten gunste van ons veelgeroemde jong demokrasie. Al kritiseer hy Mandela ligweg, is hy ongetwyfeld ’n groot bewonderaar van ons eerste swart staatshoof. Dit is waarom hy Mandela goedsmoeds met iemand met die statuur van Washington vergelyk. Soos ander bruines wat tydens ons sogenaamde donker verlede van slawerny, kolonialisme en apartheid wit wou wees, wil hy veral sedert 1994 (generies) swart wees om by die huidige kleurgebaseerde bevoordeling te baat. Sy anti-Westerse en pro-swart gesindheid word duidelik in sy kleredrag weerspieël.

Tans word daar weer hard deur bruines geskreeu dat hulle in dieselfde mate as swartes in die nuwe Suid-Afrika bevoordeel moet word. Daar mag eintlik nie ’n onderskeid tussen bruin en swart gemaak word nie, want dit herinner glo aan apartheid. Dieselfde bruines wat tydens apartheid daarop aangedring het dat alle rassediskriminasie afgeskaf moet word, is nou ten gunste van rassediskriminasie, mits hulle in dieselfde mate as swartes daarby baat. Ek wag steeds op bruines wat hulle openlik teen die huidige diskriminasie teen wittes uitspreek omdat hulle werklik die einde van alle rassediskriminasie begeer.

Jeffreys verfoei die koningskap, ’n baie ou Westerse instelling. Maar mag daar maar in hierdie era van politieke korrektheid net so smalend na die Khoisan se kapteins en die swartes se stamhoofde verwys word? Die koloniale era word ’n "juk" genoem en hoogs eensydig as ’n tydperk van verdrukking en uitbuiting voorgestel. Was dit dan nie ook ’n tyd van ontwikkeling, van heelwat heilsame beskawende invloede en van onmiskenbare vooruitgang op vele terreine nie?

Dit is maklik om sinies oor aspekte van die Britse koningshuis, die Britse aristokrasie en Britsheid as sodanig te wees. Dit is ewe maklik om aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis vir kritiek uit te sonder. Maar as ’n rubriekskrywer groter insig toon en oor meer ewewig as ongekwalifiseerde minagting beskik, sou hy besef dat Britte soms ’n navolgenswaardige voorbeeld gestel het, bv met beskaafde gedrag. Is dit nie ’n onomstootlike feit dat koningin Elizabeth II oor ’n tydperk van ses dekades haar lofwaardig gedra het nie?

Jeffreys het dikwels net lof gehad vir die die klipgooiery, vandalisme en erger van die UDF, waarvan hy volgens eie erkenning trots deel was. Dit is bedenklike gedrag wat heeltemal vreemd aan koningin Elizabeth II en haar "kroos" is. In hierdie opsig is die beheptheid met die Britse koningshuis nie so onverklaarbaar soos Jeffreys voorgee nie. As hy tot groter objektiwiteit in staat was, sou hy hom nie so snedig en neerhalend uitgelaat het nie. Hy sou besef het dat hier ’n voorbeeld gestel word waarby hy kan leer.

Bruines is deesdae in die voordelige situasie dat as daar stemming vir die bevoordeling van die nasate van die slawe van twee eeue gelede gemaak word, hulle sodanige afstammelinge wil wees. As daar gebaat kan word by inheemsheid word die uitheemsheid van die slawe as vergete agtergelaat en wil die bruines eerder die Khoisan as hulle voorsate hê. Die mate van blankheid by bruines, wat voorheen gebruik is in ’n poging om dieselfde status as wittes te bekom, word deesdae verswyg, want dit dui op sommige van hulle voorsate se destydse bevoordeling, wat bruines se huidige sug na bevoordeling ondermyn.

Waarom die bruines vir die NP pleks van die ANC gestem het (en hulle deesdae eerder vir die DA stem) is nie so onverklaarbaar as wat Jeffreys dit wil hê nie. Sedert 1652 is die bruines in vele opsigte (positief) deur die wittes beïnvloed. Hulle is nie in ’n vergelykbare mate (bv kultureel) deur die swartes beïnvloed nie. Die kloof tussen die bruines en swartes is groter as die kloof tussen die bruines en wittes. Hierdie situasie word nie opgehef deur bruines generies swart te verklaar nie. Dat bruines kultureel beter aansluiting by wittes vind, blyk bv uit hoe baie ontwikkelde bruines hulle deesdae graag in tradisioneel wit woongebiede vestig; daar is geen (noemenswaardige) intog van bruines in swart woongebiede nie.

Die kern van hierdie saak word deur Jeffreys (opsetlik) misgekyk. Hy kan nie op oorgeërfde koninklikheid of aristokrasie aanspraak maak nie. Ek ook nie. Maar ek het voorheen oor ’n soort aristokrasie geskryf wat binne bereik vir ons albei is (SêNet, 12.04.2011). Dit is aangeleerde veredeling of fatsoenlikheid wat meritokraties (of elitisties) tot uitdrukking kom. Hoewel dit in beginsel binne almal se bereik is, is dit in die praktyk net vir ’n minderheid beskore. Hieruit volg dat daar nie so iets soos ’n klaslose samelewing is nie.

Wat ons albei (en teoreties almal) kan doen, is om onsself deur eie inspanning tot aristokratiese (dus beskaafde) gedrag in die beste (Westerse) sin van die woord te ontwikkel. Dit is immers in die Weste waar daar benydenswaardige voorspoed is. Dít berus nie (uitsluitlik) op die Weste se uitbuiting van nie-Westerse lande nie. Dit berus (hoofsaaklik) op eie vermoëns. Sulke kreatiewe vermoëns behoort wêreldwyd aangemoedig te word. Die onontbeerlike beginpunt is die kultivering van die mens se gees; ’n aristokrasie van die gees wat in gedrag tot uiting kom; ’n geestelike verruiming wat nie oorgeërf word nie maar met toewyding aangeleer kan word.

Volgende keer skryf ek oor nog ’n plaaslike politieke kommentator.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • Johannes

     
    Baie dankie vir jou nugtere en insiggewende brief.
     
    Ek geniet die inhoud van elke brief wat jy op hiedie forum publiseer.
     
    Enjee
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top