Laurie en Frits Gaum: Praat Verby Grense

  • 4

George verwys na wat Chris Jones en die Gaums oor gays te sê het. Hy verkwalik hulle omdat Bybelse begronding vir hulle argumente ontbreek. Hulle hoofregverdiging vir hulle nie-Bybelse standpunt is dat wat twee millennia gelede gegeld het nie sonder meer op die hede van toepassing gemaak kan word nie (SêNet 29 Mei). Die Jones/Gaums-standpunt is 'n glybaan waarop baie religieuse en politieke dinge saam met die badwater uitgegooi word. George het veral Jones se standpunt belig. Ek bepaal my by die Gaums.

Ek het al na Laurie Gaum verwys (SêNet 27.03.2012), na aanleiding van George Claassen en Frits Gaum se boek, God? (2012): "By Laurie Gaum funksioneer die gayverskynsel soos 'n ideologie wat alles deursuur. Hy verklaar openlik dat hy die Bybel 'doelbewus vanuit die perspektief van my ervaring, en dan juis my gay-ervaring' lees. Hy noem dit ''n bevrydingsteologiese keuse' (p 191, 199). 'Ek [is] gay gemaak ... na die beeld van God ... Ek gebruik 'n teologiese begrip om met trots my seksuele identiteit te kommunikeer' (p 194)."

Wat Laurie in daardie boek aan sy pa, Frits, meedeel, is feitlik woordeliks dieselfde as wat hy reeds in 2009 aan sy pa geskryf het, naamlik in: Praat Verby Grense, uit die e-posse van Laurie Gaum & Frits Gaum (Kaapstad: Umuzi, 2010, 111p). Die outeurs se doel is om veral by die Bybel "verby te kom" (p 24, 58). Dit is immers twee predikante wat gedagtes uitruil. Die teks word aangebied as 'n gesprek per e-pos tussen vader en seun. Die boek is eintlik 'n poging enersyds om aan Laurie die geleentheid te gee om sy leefwyse te regverdig en andersyds om Frits die kans te bied om groter begrip vir gays te wek. Die seun word nie as 'n verlore seun voorgestel nie. Hy word nie verwyt omdat hy nie, soos sy broer, 'n kleinkind vir Frits verwek nie. Dit is veel eerder die pa as die seun wat in die beskuldigdebank staan; ook "die kerk" aan wie die boek opgedra word (p 5). Frits verklaar (trots) dat Laurie as predikant "die gay kwessie soos niemand anders nie, op die tafel geplaas het" (p 38).

Die e-posse van vader en seun word om die beurt aangebied. Dit is 'n selfbewuste opstelling, 'n gemaakte gesprek waarin hulle dikwels eerder met die lesers as met mekaar praat, bv wanneer die een die ander oor 'n saak inlig waarvan hy reeds kennis dra. Dit word 'n eksegese ten behoewe van diegene wat nie die gayverskynsel en die plaaslike politiek (reg) verstaan nie. Soms wek die teks 'n ekshibisionistiese indruk. Albei is die hele tyd bewus daarvan dat hulle besig is om 'n teks met die oog op publikasie te skep. Laurie skryf: "Ons boek sukkel om te 'gebeur'" (p 105). In hierdie opsig is die gebrek aan spontaneïteit steurend. Byvoorbeeld, aan die einde van 'n e-pos vra die een 'n vraag aan die ander, wat die inhoud van die terugvoer help bepaal. Klaarblyklik is baie beplanning vooraf en heelwat redigering agterna deur die outeurs gedoen.

Hoewel die gayverskynsel die spil is waarom die gesprek draai, word gays as veronregtes/benadeeldes of gemarginaliseerdes/uitgeworpenes voorgestel, gevolglik word ander soortgelykes (slawe, armes, vroue, swartes) ook in die gesprek betrek en bv rassediskriminasie, apartheid en vreemdelingehaat in die proses verdoem. Vir Laurie gaan dit om 'n "genormaliseerde samelewing" waarin daar "gelykberegtiging" is (p 32). Volgens Frits is dit bv "baie hardebaard vleisbraaiers en stoere rugbykykers" wat gaywees as "'n kortpad hel toe" voorstel (p 24). Die afwysing van gays spesifiek deur Afrikaners word dus ook aan die orde gestel.

Let op hoe Frits verby die Bybel (probeer) kom: "Op die oog af lyk dit of die Bybel van selfdegeslag seks niks wil weet nie. Ses, sewe tekste en Skrifgedeeltes word graag aangehaal as onomstootlike bewyse dat die Bybel homoseksualiteit afwys. Maar algaande het ek al hoe beter verstaan dat daardie Bybeldele niks [!] oor homoseksualiteit as sodanig sê nie (dis in elk geval 'n 19de eeuse begrip) [maar 'n aktiwiteit wat reeds millennia lank voorkom]. Die Bybel spreek hom nié uit oor aangebore homoseksualiteit en selfdegeslag verhoudings wat as lewensverbintenisse bedoel is nie" (p 24-25). Nêrens in die teks wend die outeurs egter 'n poging aan om tussen aangebore en aangeleerde homoseksualiteit te onderskei en hulle verskillend te takseer nie. Die naaste wat daaraan gekom word, is wanneer Laurie skryf: "Daar is ... verskillende gay identiteite" (p 31).

Frits skryf: "Wat die Bybel sê, is vir my belangrik. Ek wou veral nie omdat ek in 'n bepaalde situasie beland het, die Bybel laat buikspreek om my te pas nie (soos in die verlede met apartheid gedoen is). Uiteindelik het ek volkome tevredenheid gekry om die redes wat ek gegee het [p 24-25 hierbo] ... en daar is ook ander. Maar hoewel my omstandighede met jou as my seun beslis 'n rol gespeel het - dis juis daardie omstandighede wat my gedruk het om oor die saak na te dink en na te vors - is dit nie my omstandighede wat bepalend was vir hoe ek uiteindelik die kwessie van homoseksualiteit in die lig van die Bybel verstaan het nie. Ek het heeltyd regtig probeer om te verstaan wat die Bybel daaroor sê en nié sê nie ... vir die tyd toe dit geskryf is, vir vandag" (p 58).

Laurie skryf: "Ek dink ek het my versoen met my gay-wees" (p 16). "Ek het myself ... met die genade van God aanvaar as gemaak na God se beeld" (p 21). "'n Mens kan nie aanhou om 'n konfrontasie met jou menswees te systap nie. Dit doen ook oneer aan die Skepper wat jou aanmekaar gesit het soos jy is" (p 33). Ook "dat 'n mens jou gay-wees omhels en dit met jou geloof en alles wat jy is, integreer" (p 21). Gaywees is "iets waaraan jy ... niks kan verander nie" (p 34).

Vir Laurie het sy selfaanvaarding "om geïntegreerd te lewe" as resultaat (p 33). Frits stem hiermee saam: Ons moet "ons spiritualiteit en ons seksualiteit met mekaar integreer, want dit alles maak my 'ek is' uit" (p 55). Gaywees word deur Laurie 'n "viering", "skat", "lewenspassie" (p 20) en "seën" genoem (p 21). "Ek wil aan die evangelie getrou probeer bly, en ek meen dat 'n kerk wat onreg blindelings toelaat, nie die implikasies van die evangelie vir hulle tyd goed genoeg verstaan nie" (p 42-43). Die tydgebondenheid pleks van die ewige waarheid van die Bybel word deur albei outeurs beklemtoon.

Later in die gesprek word die Bybel as bepalende faktor verder afgeskaal en word Laurie se subjektivisme bepalend. Hy "lees en interpreteer [die Bybel] in die eerste plek vanuit 'n 'hermeneutiek van suspisie'" (p 63); hy vertrou dus nie sonder meer die Bybel nie. Dit gaan vir hom om die "eintlike bedoeling" van die Bybel vas te stel (p 64). Die vraag is natuurlik hoe hy dit objektief kan vasstel. "Dis juis my gay ervaring wat ek in my lees en interpretering van die Bybel indra. Dan word die Bybel nie meer iets waarmee ek oor die kop geslaan word as gevolg van sommige mense se keuse om dit te bly interpreteer sodat dit my uitsluit nie. Dan kan geloof ook vir my 'goed' wees omdat dit my help lewe. Dan het dit 'n bevrydingsdimensie vir mense wat verdruk of veronreg word - wat in my geval nie binne die heteronormatiewe magsverhouding val nie. So word die evangelie ook vir my die 'goeie nuus' wat vrymaak" (p 50-51).

Laurie: "Daar [word] soveel op die letter van die wet gekonsentreer ... dat die breër boodskap daarvan eintlik heeltemal verlore raak. Dit word soms gebruik om mense mee oor die kop te slaan sodat die 'goeie nuus'-dimensie daarvan verlore raak - dit wat die oorspronklike doel daarvan was. Die 'evangelie' raak dus soek, terwyl die Bybel as papierpous misbruik word" (p 66). Abraham Kuyper word soos volg deur Laurie aangehaal: Jesus "never takes his place with the wealthier, but always stands with the poorer" (p 63). Sodanige eietydse bevrydingsvertolking kan natuurlik meebring dat verkondig word dat God nie net veral oor bv die armes begaan is nie, maar ook eerder oor die gays as die nie-gays.

Paulus se 1 Korintiërs 14:34 lui: "Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê." Volgens Laurie is hierdie teksverse "klaarblyklik konteks- en tydgebonde ... Aan die deurlopende Bybelse waardes moet ons by uitstek uitvoering gee, nie aan bepaalde geïsoleerde tekste nie ... dit [is] so belangrik dat 'n mens van die begin af bewus raak van die feit dat jy 'n bril op het - die bril van subjektiwiteit waarmee jy lees en interpreteer. Jy moet die bril kan afhaal en goed daarna kyk om van die vooroordele bewus te word waarmee jy 'n teks benader en interpreteer. Wanneer daar volhardend gekies word om bepaalde Bybeldele so te interpreteer dat dit sekere mense uitsluit, sê dit dus baie oor die leser se eie instelling wat byvoorbeeld kies om die patriargale konteks van Bybelse tye net so op alle tye van toepassing te bly maak" (p 65). Die sug na inklusiwiteit en die tydgebondenheid van die Bybel word hiermee deur Laurie blykbaar tot dogmas verhef. "Ek [gebruik] die posisie van die verdrukte as vertrekpunt - 'n posisie dus buite die heteronormatiewe magstruktuur" (p 66-67; ook p 51 hierbo). Dit hou myns insiens die moontlikheid/gevaar van eerder eksklusiwiteit as inklusiwiteit in.

Frits lewer sinvolle kritiese kommentaar op Laurie se homoseksuele bril: "'n Mens ... moet ... probeer om die teks sónder 'n bril te lees en verstaan. Dit help nie as jy jou subjektiewe bril erken, maar die Bybel ewe getroos met die einste bril op jou neus, verder lees nie" (p 68-69). Laurie antwoord: "'n Mens kan nie die Bybel sonder 'n 'bril' lees nie, Pa. Al probeer jy. Daar bestaan nie iets soos objektiwiteit nie" (p 75). Frits se standpunt is dat die "bril van geloof" (p 69, 71) noodsaaklik is, dus dat daar eerder (of ook) 'n God-bepalendheid as bloot menslike subjektiwiteit by vertolking aanwesig behoort te wees.

Om gaywees aanvaarbaar vir christen-gelowiges te maak, skram albei die outeurs weg van spesifieke teksverse, wat as verouderd verwerp word, of daar word beweer dat die oorspronklike bedoeling anders was. Die outeurs gee voorkeur aan wat algemene christelike waardes genoem kan word, wat in groter mate as tekste volgens eie voorkeur geskep en vertolk kan word; vandaar Laurie se duidelike voorkeur vir subjektiwiteit: "Daarom beklemtoon ons eerder die groot waardes in die hart van die Bybel en die evangelie - liefde, gelykheid, geregtigheid en nie-diskriminasie - as enkele opmerkings van Paulus" (p 65). Na aanleiding van die Belhar-belydenis noem Laurie die waardes van "eenheid, versoening, geregtigheid en gehoorsaamheid" (p 66).

'n Kafeteria-benadering van tekste hou egter wesenlike gevare vir kerkgenootskappe in, want dan staan dit elke lidmaat vry om daardie tekste wat hom pas te aanvaar en daardie tekste waarvan hy nie hou nie te verwerp. Laurie stel dit onomwonde dat hy "nie fundamentalisties of biblisisties (letterlik, op die letter af)" is nie (p 67). Op hierdie manier beland die Gaums midde-in die eietydse politiek. Soos met seksualiteit, volg hulle ook in die politiek die mode, met Laurie wat baie meer radikaal as Frits is.

Frits is 'n oudlid van die Afrikaner Broederbond, 'n rustende lid van die Afrikanerbond en 'n eertydse ondersteuner van apartheid. Daar is nog gesonde reste in hom oor. Hy het dit bv teen "die onregverdige afskaling en uitrangering van Afrikaans" (p 61). Hy betreur die "verengelsing en veramerikaansing en marginalisering en emigrering van Afrikaners (p 72). Hy toon aan dat apartheid in beginsel nie (net) sleg was nie, dat die "ideaal ... nie onchristelik en immoreel" was nie (p 73), dat dit eerder die toepassing was wat gebreke gehad nie. Die demokratiese Suid-Afrika kan in die praktyk ook blyk "onchristelik en immoreel" te wees (p 73). "'n Voortbestaan in geregtigheid" moet vir "ál die mense van Suid-Afrika" geld (p 74); dus ook vir die wittes.

Volgens Frits het apartheid egter op "'n dwaalspoor" beland (p 37). Hy vind dit dus nodig om daarvoor verskoning te vra. In die nuwe Suid-Afrika is hy ten gunste van die aanvaarding van die Belhar-belydenis en kerkvereniging. "Die NG Kerk is steeds deel van die kerk van die Here (al was dit soms net-net)" (p 38). Hy begeer 'n verdraagsame, nie-diskriminerende, regverdige, oop samelewing. "Liefde-vir-die-naaste" beteken "verantwoordelikheid vir mekaar" (p 17). Sy hersiene politiek bring mee dat hy goedkeurend verwys na Denis Hurley, Willie Jonker, Johan Heyns, Beyers Naudé, Allan Boesak (met sy Swart Messias, p 102), Nico Koopman, John de Gruchy en Desmond Tutu. Omtrent al mense wat nie sy wie-is-wie-lys ongekwalifiseerd haal nie, is Nico Smith (p 57, 61-62) en Willie Esterhuyse (p 59, 97): "By Willie, lyk dit my, is dit eerder 'n 'wegkeer' as 'n 'bekeer'" (p 100).

Die ander lid van die tweegesprek is Laurie met sy jeugdige voortvarendheid. Hy het as predikant gekies om eerder in bruin en swart gemeentes te dien. Dit was 'n uitdrukking van sy "solidariteit met die stemloses" (p 39). "Dit is so dat ek geïnspireer word deur radikale teologie ... Die bevrydingsteologie se praktiese gerigtheid staan my ook aan en ek leer daaruit hoe om my Bybel 'van onder af' te lees, vanuit my konteks en 'n ernstige opneem van my ervaring, en om myself so te bemagtig" (p 50). Die benadering "van onder af" gaan dus uit "van die menslike ervaring" (p 108) en verwys na bv "die Belydenis van Belhar se voorkeur vir die noodlydendes, die arme en die veronregte" (p 65). Frits werp teë: "Maar is die doel van 'n gelowige lees van die Bybel dan nie juis om daarna te strewe om te hoor wat 'van Bo af' oor 'n bepaalde saak gesê word nie?" (p 59).

Naas "solidariteit" en "bemagtig" is Laurie ook lief om ander woorde, soos "uitdagings" (p 39) en "progressiewe waardes" (p 53), uit die woordeskat van die linkse politiek te gebruik, asook 'n rits ander: rassisme, uitbuiting, diskriminasie, onmoederlikheid, liefdeloosheid, sonde, weerloosheid (selfs "weerlose Moeder Afrika", p 111), geregtigheid, gelykheid, ens. Vir apartheid met sy uitsluitings het hy geen goeie woord nie. Slawerny word meerdere kere genoem. Hy probeer om feminisme en kerkvereniging te bevorder. Naas die name wat hierbo by Frits se neo-verligtheid genoem is, verwys Laurie ook goedkeurend na Russel Botman en Martin Luther King jr; selfs: "Obama gee hoop" (p 105).

Laurie se oriëntasie is "ekumenies" (p 39), dus interkerklik. Die konteks waarin hy verkies om te werk, is "multi-kultureel, veeltalig en gay vriendelik" (p 41). Die glybaan waarop hy hom bevind, is nie net van wit na nie-wit en weg van die NG Kerk nie, maar ook al hoe meer weg van eksklusiewe christelike religie. "Vir my het God die afgelope paar jaar verander. God het baie groter geword. Daarom kan God nie vir my net die God van die Christene wees nie" (p 76). "God is vir my baie aards" (p 77). Dit is immers op aarde waar bevrydingsteoloë dinge volgens hulle siening wil verander. "Jesus is vir my my Broer die Bevryder" (p 86).

By Laurie vloei religie en politiek dus ineen. Dit lyk asof sy homoseksualiteit en politiek (in daardie volgorde) in oorheersende mate sy religie bepaal. Hy verwys bv na "my kamerade in die stryd om geregtigheid" (p 86). Hy neem hierdie posisie in na aanleiding van Desmond Tutu wat gesê het "dat God nie 'n Christen is nie" (p 79). Tutu se inklusiewe standpunt is dat die hemel nie net vir christene beskore is nie. Laurie: "Ek dink ook nie die kerk - enige kerk - 'besit' God nie" (p 87).

Laurie: "Indien jy mense teen die agtergrond van hul konteks 'lees', kan jy duidelik sien hoe hulle besluite deur hul eie omstandighede bepaal word" (p 91). "Ek stem saam met Boesak wanneer hy ... sê dat die Westerse Jesus van die antieke belydenisskrifte geen voet in Afrika het nie" (p 66). Dit kan as regverdiging vir Laurie se ekumeniese geneigdheid gebruik word. Kontekstualisering (wat 'n vorm van uitsluiting kan wees) word dikwels gebruik om bv Boesak se Swart Messias te regverdig. Maar dan kan kontekstualisering met dieselfde mate van regverdiging deur die Afrikaanstalige kerke vir hulle andersheid gebruik word. Frits erken dit eintlik: "Die kontekstualisering van die evangelie sodat dit kan wortelskiet in die leef- en dinkwêreld van mense met verskillende kulture en agtergronde" is nie sonde nie. "Inteendeel, dis evangelies!" (p 47). Waarom moet Afrikaanse kerke in die ban van die VGK gedwing word as die VGK reeds oorgretig Engels probeer wees?

Frits erken "die VGK dra ook skuld" (p 95) vir die huidige kerklike verdeeldheid. Wat my hinder, is dat Laurie, soos wat Boesak graag met smaak doen, die skuld vir die kerkverdeling in 1857 aan die "swakheid van sommige" toeskryf (p 40, 91). Maar hy noem St Stephen's as "die enigste swart gemeente in die wit NG Kerk" (p 91). Dit is so omdat die 1857-skeiding vrywillig was; elke gemeente kon self besluit. Wat ek afkeur, is dat mense soos Laurie en Boesak hierdie feit opsetlik verswyg en op die VGK-trant voortgaan om verpligte kerkvereniging te vereis. Waar is die veelgeroemde vryheid in hierdie geval?

Die Afrikaans-argument in die voorlaaste paragraaf hierbo sal waarskynlik min indruk op Laurie maak. Iemand wat hom van die Afrikaner distansieer, is geneig om Afrikaans te minag. Laurie vind dit in orde om woorde soos die volgende in sy andersins Afrikaanse teks te gebruik: "blaming game" (p 15), "sidestep" (p 21), "PRO" (p 33), "anyway", "sanity" en "insane" (p 34), "retreats" (p 41), "legacy" en "grapple" (p 50), "challenge" (p 68), "straight" en "township" (p 107).

Die indruk wat die boek wek, is dat die Gaums nogal tevrede met hulleself is; dat albei outeurs suksesvol probeer het om hulle ego's te beskerm. Met oorbekende politieke ondertone skryf Laurie oor sy pa: "Jy kan hom dalk nog uit die kerk kry, maar nie die kerk uit hom nie" (p 35). Frits stem (hartlik) saam: "Dit sal nogal meer vat as 'n paar dominees om my uit die kerk te kry (of die kerk uit my!)" (p 38). Bowenal wil albei blykbaar graag hê dat die Gaums se wil geskied.

Johannes Comestor

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Trienie, dankie vir jou ondersteuning. Ons stem sekerlik dikwels nie saam nie, maar jy is by uitstek die persoon wat besef dat iedere sodanige skrywe heelwat tyd en moeite van my verg.

     

    Johannes Comestor  

  • Johannes Comestor,
    Baie dankie vir  jou  gereelde bydraes op hierdie forum. Soos altyd, vind ek  jou slotsom ook hier in die kol!
    Groete,
    Et1

  • Dis 'n verrassing! Die dag wat ek my storie en kommentaar oor gays afsluit (Chris Jones se Forum artikel - 29 Mei) kom Johannes met hierdie bydrae.

    As iemand wat nog nie die Gaum boek gelees het nie, het ek vermoed dat hierdie bekende gay propagandiste 'n boek van gehalte sou skryf, maar nou lyk dit of dit nie die moeite werd sal wees om tyd daaraan te bestee nie. Johannes het, soos altyd, deeglik te werk gegaan.

    Wat aansluit by die punt wat ek reg van die begin af gemaak het, is: Die outeurs se doel is om veral by die Bybel "verby te kom". George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top