Laurens van der Post, ’n storieverteller

  • 0

In die ou Suid-Afrika was Laurens van der Post (1906-1996) bekend vanweë sy kritiek, veral in die buiteland, op apartheid en Afrikaners. In die nuwe Suid-Afrika het hy "Oom Lourens" geword wat toe skielik nie geskroom het om Afrikaans in die openbaar te praat nie en bowendien ’ n positiewe gesindheid teenoor die land openbaar het. Hy was ook bekend as ’n vertroueling van die Britse koningshuis, veral van prins Charles.

Dosente in antropologie het studente egter afgeraai om Van der Post se talle uitsprake oor die Boesmans ernstig te bejeen. Justin Cartwright (SêNet, 5.04.2012) se pa het Van der Post as ’n jong joernalis geken en hom toe al as ’n versinner ("fabulist") beskou (This Secret Garden, London: Bloomsbury, 2008, p 207). Selde het ’ n biografie die openbare beeld van sy onderwerp so ingrypend verander soos JDF Jones se deeglike werk, Storyteller: The Many Lives of Laurens van der Post (London: Scribner, 2002, 509p).

Die rede waarom Van der Post soveel sukses met sy selfbeeldskepping behaal het, is omdat hy oor ’n "spellbinding gift" (p 1), naamlik "mesmerising" (p 2), beskik het. Hy was ’n "enchanter", ’n "storyteller of genius" (p 1), maar ook ’n "master fabricator": "we discover the storyteller’ s tales about himself to be inaccurate, embellished, exaggerated, distorted" (p 4). "His inventions were always designed to enhance his own distinction and position himself at the centre of events" (p 5). Geen wonder dat Van der Post biografiese werk oor homself ontmoedig het nie. In 1969 het Frederic Carpenter sy beskeie poging in hierdie verband gepubliseer, maar daarna sou meer as dertig jaar verloop voordat Jones se gemagtige biografie verskyn.

Van der Post is as Lourens in Philippolis in die Vrystaat gebore. Van vaderskant was hy Nederlands maar daar was geen adellikheid daarin soos hy beweer het nie. Van moederskant was hy Duits. Daar was feitlik geen sprake van die Franse Hugenote bloed waarop hy aanspraak gemaak het nie. Sy oupas het nie aan die kant van die Boere geveg soos hy te kenne gegee het nie, maar hulle (soos Laurens) by die Engelse geskaar. Hy het nie ’n Boesman as kinderoppaster gehad soos hy voorgegee het nie. Sy pa was lid van die Vrystaatse Volksraad, maar nie die eerste minister soos Laurens aangevoer het nie. Sy pa het wel in die Anglo-Boere-oorlog teen die Engelse geveg en nooit trou aan die Britse bewind gesweer nie.

Maar sy pa se invloed op Laurens was gering omdat hy oorlede is toe hierdie 14de kind van hom sewe jaar oud was. Dit was erg oordrewe van Laurens om te beweer dat sy pa die eerste Afrikaanse romans geskryf het. Laurens het nooit Sotho leer praat nie, maar "he was always tempted to romanticise his African background for the European reader" (p 102). Sy pa se dood het veroorsaak dat hy nie universiteit toe kon gaan nie. Laurens beweer egter hy "became so expert in the classics that he lost any interest in going to university" (p 106). Sy matriekpunte was baie middelmatig.

Hy het ’n joernalis in Durban geword. "Here Laurens learned to juggle his Afrikaner background with his English aspirations" (p 114). Naas koerantwerk het hy saam met Roy Campbell en William Plomer kortstondig die literêre tydskrif Voorslag gepubliseer. Saam met Plomer het hy ’n besoek van twee weke aan Japan gebring en Japannees geleer. Maar "he had been captured by English literature, and to a British colonial the only place to go was England, the centre of his cultural world" (p 131). In 1928 is Laurens in Engeland met Marjorie Wendt (1905-1995) getroud. Hulle het twee kinders gehad: John (1928-1984) en Lucia (gebore in 1936). In 1953 het hy ook ’n dogter by ’ n 14-jarige verwek.

In Engeland het Laurens kennis met lede van die Bloomsbury Group gemaak, bv Virginia Woolf, Maynard Keynes en EM Forster. Die Woolfs se Hogarth Press het Laurens se eerste boek, In a Province (1934), gepubliseer. Teen hierdie tyd was Laurens reeds politiek-verlig. "Nationalism means nothing to me" (p 132). "The future civilisation of South Africa is ... neither black nor white but brown" (p 135). In 1936 het hy Ingaret Giffard (1902-1997), ’n getroude vrou, op ’n skeepsreis tussen Suid-Afrika en Engeland ontmoet en hulle het verlief op mekaar geraak. Hoewel Laurens Suid-Afrika periodiek besoek het, het hy sedert 1931 nie hier gewoon nie.

In 1938 het Laurens met die oog op die naderende oorlog en ook omdat hy as soldaat by die Britse weermag wou aansluit sy vrou en twee kinders na die veiliger Suid-Afrika gestuur. Sy verhouding met Ingaret kon toe ongesteurd voortgesit word. Sy oorlogservaring het in 1941 in Abessinië begin, maar hy het malaria opgedoen en is na Kartoem in die Soedan gestuur om te herstel. Later word hy op Java deur die Japannese gevange geneem.

Daar is twyfel oor die militêre rang wat Laurens aan homself toegeskryf het en ook in hoeverre hy werklik gevaar geloop het om terreggestel te word. Tog is die krygsgevangenisskap in Indonesië blykbaar die roemrykste deel van sy lewensloop. Met sy charisma en goeie insig het hy sy medegevangenes bemoedig, bv deur hulle te leer om op die omstandighede in die kamp te fokus en nie te hunker na die moontlikhede daarbuite nie. Na die Britse besetting en die einde van die oorlog het hy bykans twee jaar in Indonesië aangebly en hom aan die kant van die Indonesiese nasionaliste teen die Nederlandse bewind geskaar.

In 1949 het Laurens namens die Britse regering twee maande lank ondersoek ingestel na landbou-ontwikkeling in Njassaland (Malawi) en in 1950 vyf weke lank in Betsjoeanaland (Botswana). Oor eersgenoemde het hy ’n boek, Venture to the Interior (1952), gepubliseer, waarmee hy bekendheid as skrywer en ontdekkingsreisiger verwerf het. Na sy besoek aan Botswana het hy as Boesman- en Kalahari-kenner bekend geword. Hy het hom eintlik as ’ n kenner van die hele Afrika voorgedoen: "There was hardly a mile of it I haven’ t walked, or a corner of it I have not looked into" (p 186). Doris Lessing "wrote that white African writers used the continent as a peg to hang their egos on - and they included Laurens and herself" (p 227).

Vir Laurens was dit maklik en lonend om later aansluiting by allerhande ekologiese bewegings te vind, dus om ’n pleitsbesorger vir die nuwe groenmode te word. Hy het hieroor sowel fiksie as nie-fiksie gepubliseer. Al sy boeke dank baie aan sy ryke verbeelding. Hy het ook geld met BBC-radio- en -televisiewerk verdien. Sy manuskripte het baie aan die redigering van Ingaret te danke gehad. Leonard Woolf het sy Engelse prosa "rather purpley" genoem (p 198) en Norah Smallwood het na sy "painterly descriptions" verwys (p 225).

Van sy boek, The Lost World of the Kalahari (1958), is gesê: "The book was a heavy doughnut, with excellent jam in the middle but an awful lot op dough" (p 227). [Wie sou eerste met hierdie vergelyking gewees het? Oor die indruk wat ’n resensie van een van sy vrou, Vita Sackville-West, se boeke by hom gewek het, het Harold Nicolson in 1934 geskryf: "A sort of warm doughnut inside for the rest of the day, sweet outside, soft all round, with a fid of jam in its little gentle belly" (Harold Nicolson, Diaries and Letters, 1930-1939, ed by Nigel Nicolson, London: Collins, 1966, p 174).]

Laurens het periodiek ’n drankprobleem gehad en dikwels nagelaat om spertye na te kom. Van die idees wat hy verkondig het, is gebaseer op dié van Carl Jung. Laurens "travel[led] the world with his version of a Jungian interpretation of the Bushmen and their folk-tales" (p 323). In 1976 het hy ’n boek gepubliseer wat skynbaar oor Jung handel. "The problem with Jung and the Story of Our Time, as many Jungians have complained, is that it is first and foremost a book about Laurens" (p 324).

Met sy familie in Suid-Afrika het Laurens min te make gehad en selfs ook met sy eie kinders en kleinkinders. Maar in sy ouderdom het hy die ondersteuning van sy dogter geniet. Sy sê: "He hadn’ t been much of a father ... He couldn’ t stand the fact that we knew he wasn’ t perfect ... He couldn’ t bear criticism" (p 250).

Hoewel Laurens teen apartheid was, was hy nie ten gunste van buitelandse inmenging in Suid-Afrika se sake nie. "The world is applying a degree of censure to us in South Africa which it is not applying either to itself or to any other country in the world" (p 265). Hy het ’n "multi-racial, federal South Africa" voorgestaan (p 263) maar nie ’ n stelsel van een mens, een stem nie omdat minderheidsgroepe dan gedomineer sou word. Hoë opvoedkundige kwalifikasies moet vir stemreg vereis word. Hy was teen rasgemengde huwelike gekant en het eintlik paternalisties en politiek-konserwatief gebly. Laurens: "The world has created a dangerous myth out of [Nelson] Mandela. They have made him into a God, much as they made Hitler and Stalin into Gods" (p 412). "Dear God, if ever there has been a god with clay feet, he [Nelson Mandela] is one" (p 431).

Hy was ook teen Afrika-nasionalisme: "It was a legend ... that the white man was exploiting the black" (p 254). "If we are interested in preserving the civilised values, we must get the African to defend and uphold them as we do" (p 255). "I feel myself to have become a kind of improvised footbridge across the widening chasm between Europe and Africa" (p 259). Uit gewoonte het hy die voorstelle van akademici, bv oor politieke sake, verwerp. Sy biograaf noem dit Laurens se "intellectual inferiority complex" (p 258), wat spruit uit die feit dat hy nooit universitêre onderrig ontvang het nie. Laurens verwys na die "confused, muddled and unworthy scramble out of Africa by the British, French and Belgians" (p 278). "Laurens is dismissive of the new black leadership in Africa, and does not disguise his criticisms of the European powers for handling over independence too soon" (p 371).

Die kern van sy biograaf Jones se betoog is: " Throughout his life Laurens consciously understood that he was not interested in the literal truth. Put more bluntly, he was a compulsive liar. [Laurens:] ’ I have no moral objection to lies but they must be well done and contain imaginative qualities’ ... ’ There is an undeniable charm in the company of wholehearted liars ... People who tell extravagant lies with obvious relish may be ridiculed, but they are seldom disliked: for their lies are not so much a calculated attempt to deceive their hearers, as an effort to escape from themselves. They are perverted fictionists, their lies being the product of a seething imagination which cannot find scope in ordinary affairs’ " (p 359).

Laurens: "Art is never straight realism. It is what the human being has experienced, the base material of his life put through the crucible of the imagination and alchemically transformed into the poem , the story, the drama, the novel" (p 363). Jones: "Laurens’ s fantasies were never without a distant base in reality. His skill was to develop, and exaggerate, a true experience" (p 444). "Laurens told stories - inventions - lies - constantly throughout his long life" (p 445). "He was truly a great storyteller. He was also a great liar ... He invented most of his own biography. He was a plagiarist - his books are heavily derivative of Conrad, Rider Haggard, Buchan, yet he achieved his own ’ tone of voice’, his own ornate and recognisable prose style" (p 451).

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top