Langsame intimiteit: wat jy weet en wat jy wys

  • 2

“I draw the face of someone I love. I draw blood from a vein. I draw my own breath. Every moment I am drawing in a world that is drawing with me. If I do not draw, I die.”
– Ernst van der Wal

Dit het lank gevat voor ek kon begin skryf oor die Slow intimacy-konferensie, wat van 12 tot 14 Oktober in Stellenbosch plaasgevind het. Om alles te verwerk wat ek tydens die konferensie ingeneem het, moes (as jy die tema van die konferensie in ag neem) noodwendig ’n langsame proses wees. Ek moes uiteindelik my rekenaar eenkant sit en met die hand skryf – ’n stadiger proses sodat my woorde nie vinniger op die papier verskyn as wat my brein daarmee vorendag kan kom nie.

“Intimacy doesn’t belong in the world of the rational. Intimacy is black lava, madness, fluidity, fragility, desperation, conflict, strangeness, queerness, that which often cannot be captured in words; in language.”
– Lou-Marié Kruger

Voordat ek kon begin skryf, moes ek my afvra wát ek weet, nadink oor wat ek tydens die konferensie geleer het, en oorweeg hóé ek in my intieme interaksie met die leser van my artikel gaan wys wat ek weet. Ek moes myself in die proses oorgee aan die idee van “not knowing”. Ek moes gemaklik raak met die idee dat sekere kompleksiteite van die begrip intimiteit (intimacy) in die breë en langsame intimiteit (slow intimacy) in die besonder altyd buite my bereik, en daarom buite my begrip, sal wees. Die wete dat dit ook die geval is vir selfs navorsers wat hulle daagliks op die onderwerp toespits, stel my gerus oor die gapings in my kennis. Laastens moes ek besef dat dit onmoontlik sal wees om die volle inhoud en ervaring van die konferensie in ’n verslag weer te gee, en dat my subjektiewe ervaring waarskynlik ligjare verskil van dié van elke ander persoon wat die konferensie bygewoon het.

Amanda Gouws en Lou-Marié Kruger

Wat die sameroepers, Amanda Gouws (Departement Politieke Wetenskap) en Lou-Marié Kruger (Departement Sielkunde) van die Universiteit Stellenbosch (US), met hierdie konferensie reggekry het, is iets besonders. Hulle het die kunstenaars, akademici, skrywers, lukrake bywoners (soos ek) en die klankman omskep in ’n gemeenskap; ’n groep mense wat in hulle gedeelde ervaring van die aanbiedings tydens die konferensie baie van hulleself gegee het, en ook baie van diegene rondom hulle ingeneem het (en nie net omdat baie van ons vir die eerste keer sedert die beëindiging van die maskerdraery vir so ’n lang tyd aaneen dieselfde lug as ander mense in- en uitgeasem het nie).

“...  the intimacy of a group of strangers sitting together in a room, drawing on each other, each inhaling the exhalation of someone else.”
– Ernst van der Wal

Amanda Gouws sê oor die tema: “Slow intimacy kan beskou word as die keersy van slow violence – om mens te wees, om weerloos te wees, om onsself oop te stel vir die menslikheid van ander, en om deur ander spesies en planetêre verbintenisse by die postmenslike betrokke te raak. Die konferensie is dus ons manier om betrokke te raak by die globale konteks van brutaliteit, sosiale uitsluiting, toenemende armoede en onbestendigheid. Dis asof die wêreld op die oomblik sy asem ophou in die aangesig van potensieel apokaliptiese gebeure.”

Die konferensie is geborg deur Amanda Gouws se SARChI Leerstoel in Genderpolitiek.

Die lense waardeur daar na die onderwerp van langsame intimiteit gekyk is, was hoofsaaklik dié van kritiese feminisme en genderstudie. Jy sal nie sommer ’n Departement Feminisme by ’n universiteit opspoor nie. Dit beteken dat navorsers uit verskeie velde – soos letterkunde, sielkunde, filosofie, teologie, politieke wetenskap, geskiedenis, kuns, regte – byeengekom het om vanuit die perspektief van hul onderskeie vakgebiede na die onderwerp van langsame intimiteit te kyk. Die gevolg was geweldig uiteenlopende aanbiedings wat jou laat dink én laat voel het; iets wat ongewoon is as jy bekend is met die verrigtinge van ’n tipiese akademiese konferensie. Die multimodale aard van die konferensie is verder aangevul met drie kunsuitstallings met dieselfde tema, ’n dokumentêre film, beeldmateriaal van diepseeswem en voorlesings deur skrywers. Lees hier meer oor die konferensieverrigtinge.

In haar konseptualisering van die begrip langsame intimiteit beskryf Lou-Marié Kruger dit as “subtle and complex ways of knowing”. Om nog dieper te grawe en by die kern van die begrip uit te kom, stel sy die volgende vrae: Wie is jy? Wie was jy? Wie is ek wanneer ek by jou is? Wat weet ek van jou? Wat kan ek wys van wat ek weet? Hoe kan ek wys wat ek weet?

In haar hooftoespraak op die eerste dag van die konferensie gebruik die digter en akademikus Gabeba Baderoon ’n tuin as baie treffende metafoor vir intimiteit – hoe kos, grond en sand ’n geskiedenis het waaraan ons almal deel het. As skrywer van die digbundel A history of intimacy (Kwela, 2018) was sy die ideale persoon om met haar akademiese indrukke, persoonlike geskiedenis en aandoenlike voorlesings die toon aan te gee vir die aanbiedings wat sou volg.

Gabeba Baderoon lees die titelgedig uit A history of intimacy.

Familiale intimiteit

Wat my telkens verbaas het tydens die konferensie, was die weerloosheid van die sprekers en die vrygewigheid waarmee hulle hulself blootgestel het deur hulle persoonlike ervarings met akademiese inhoud te verweef en daardeur die gehoor in te lig én aan te raak. Die drie aanbiedings wat vir my uitgestaan het in hierdie opsig, het familiale intimiteit op die voorgrond gestel.

“As a lawyer, first I’ll give the facts, and then I’ll add the truth.”
– Pierre de Vos

Pierre de Vos het in sy aanbieding “The week that I learned to love my sisters” op ’n humoristiese en hartverskeurende manier vertel van sy en sy susters se ervaring in die week voor sy pa se dood. Sy vertelling van sy suster se oproep aan Avbob om solank begrafnisreëlings te tref – waarin sy vir hulle gesê het hulle is “carefully optimistic” dat hulle pa teen die Vrydagaand sou sterf – het die tipe lag in die gehoor uitgelok wat jy kry wanneer mense weet iets is eintlik ontsettend hartseer. Die verhaal van sy verhouding met sy susters, en veral met sy pa, het ’n baie relatable beeld geskep van die komplekse aard van intieme familiale verhoudings in ’n Afrikaanse gesin. Dalk het ek die hardste gelag omdat die mate waartoe ek my met sy verhaal kon vereenselwig, my ongemaklik gemaak het. Ek het later ook waarskynlik die hardste gehuil – oor my eie pa, oor ouers wat sterf sonder om hulle kinders ooit werklik te aanvaar, en oor ’n dominee wat by ’n begrafnis nie die oorledene se naam kan onthou nie.

Sally-Ann Murray het vertel van die uitdagings van ’n intieme verhouding met iemand op die outistiese spektrum, in haar geval haar kind, wat ook genderdisforie beleef. Hoe bou en behou jy ’n naby intieme verhouding met iemand wat nie die vermoë het om jou toenaderings te kan eggo nie? En hoe maak jy ’n transgender kind groot ten spyte van al die uitdagings wat die mediese industrie en ander mense se oordeel, onder andere, vir beide ouer en kind bied?

“When I’m with my mother, I think I know how it feels to be a tree.”
– Lou-Marié Kruger

Lou-Marié Kruger se voorlesing van ’n elegie aan haar ma het op my, as iemand wat self ’n sagte plekkie vir bome het, ’n diep indruk gelaat. Haar ma het ’n diepgewortelde liefde vir bome gehad. Sy het bome geplant waar sy ook al gegaan het. Sy het konstant aan haar bome gedink, hulle versorg, water gegee, gesnoei, oor hulle gepraat en vir besoekers gewys. Daar is te veel metafore en simboliek aan bome gekoppel vir my om hierop uit te brei, maar die voorlesing het my bewus gemaak van die skakel tussen intimiteit, die stadige tempo waarteen bome groei, en watter effek liefde, aandag en toewyding op beide kan hê.

Joy Watson lees ’n uittreksel uit “The ties that bind”, ’n artikel wat sy vir Daily Maverick geskryf het.

Die intimiteit van kos

Die afdeling op die program oor die intimiteit van kos het my geweldig geïnteresseer, dalk omdat ek uit ’n huis kom waar die intimiteit tussen my, my suster en my ma dikwels neerslag gevind het in saam kosmaak, saam eet en saam kookprogramme kyk. Dit het ook die keersy van die gebrek aan intimiteit met my pa sigbaar gemaak, aangesien hy nooit gehelp het om kos te maak nie en selde saam met ons geëet het. Familiebyeenkomste en kuiers by my ouers word rondom etes gestruktureer. My ma, omtrent ’n week voordat ons kom kuier: Wat wil julle eet wanneer julle hier is? My pa, in Februarie: So, wat gaan ons Kersfees eet? Vir my lyk intimiteit in my gesin soos ’n volgepakte yskas, kreunende spensrakke, ’n drukkoker wat stoom uitblaas en ’n uitgewerkte spyskaart wat voor ’n naweek op die Weskus via WhatsApp ontvang word.

Hierdie rol van kos, waarmee baie mense hulle sal kan vereenselwig, is egter net ’n druppel in die emmer wanneer daar na die intimiteit van kos gekyk word.

Juliana Claassens van die Fakulteit Teologie aan die US het in haar aanbieding die uitbeelding van kos in Hooglied en Jeannette Winterson se Written on the body verken. In albei tekste word die menslike liggaam deur beelde van kos beskryf. Ook die seksuele, die intieme, die uitdrukking van liefde en uiteindelik die donker kant van iets soos geweld teen die liggaam word uitgebeeld deur kosmaak, die deel van ’n maaltyd en die samesyn (of eensaamheid) wat daarmee gepaard gaan.

Vasu Reddy slaan die spyker op die kop wanneer hy in sy aanbieding, “Edible intimacies: Thinking through food, cooking and gender” sê: “Food is deeply entangled in so many domains of thought.” In sy bespreking, verdeel in die afdelings “ingestion”, “ruminations/chewing”, “ingredients/genre” en “digestion/conclusion”, besin hy krities oor kos in die Suid-Afrikaanse konteks. Hy raak verskeie belangrike punte aan, soos die oordra van resepte na volgende geslagte; die skakel tussen die taal van kos en letterkunde; die medisinale waarde van kos; die kombuis as sentrale ruimte (veral in die performatiwiteit van genderrolle); volhoubare koshulpbronne; armoede; kos wat gemors word; kos by troues, begrafnisse en ander geleenthede; en die liggaamlike ervaring van kos (ruik en proe).

Liefde en geweld

“Love resides in what is referred to as botho – understood as simply being human. Its core is that my very human existence makes no sense without your existence.”
– Kopano Ratele

Kopano Ratele lewer die hooftoespraak op die tweede dag van die konferensie. Die titel van sy toespraak was “We can change how we love, but not without changing how we fight.”

Sy uitgangspunt is dat die meeste mense liefde as politieke rolspeler onderskat. Sommige mense het die wanpersepsie dat iets meetbaar moet wees om begryp te kan word, en daarom het ons nie vertroue in liefde nie. Hy glo liefdeloosheid speel ’n groot rol in baie van die geweld wat deur mans teen vroue gepleeg word.

“Since we learn to love, we can change how we think of love, and we can change how we love.”
– Kopano Ratele

Charla Smith sluit in haar aanbieding “Violence as slow not-knowing”, waarin die fokus op vrouemoord val, aan by Ratele se idee van liefdeloosheid se rol in geweld. Sy merk tereg op dat baie vroue in dieselfde mate as mans liefdeloosheid ervaar of verwaarloos word, maar nie geneig is om dieselfde tipe geweld as mans te pleeg nie. Sy voel daar moet iets in die konstruk van manlikheid wees waaraan ons moet aandag gee. Haar gevolgtrekking is dat mans onderwerp word aan meer onrealistiese verwagtinge as vroue. Hulle word gesien as rasioneel, selfonderhoudend, onafhanklik en beheersd. Gehegtheid aan, of afhanklikheid van, ander wat in intieme verhoudings teëgekom word, ondermyn daardie konstruk en moet verbloem word, dikwels deur middel van geweld.

“For men to get to a point where they can admit the need for love and care would mean to forsake the illusion of mastery and control. The loss of this mastery too often results in violence in a futile effort to restore it.”
– Charla Smith

Sy stel voor dat kritiese denke van ’n vroeë ouderdom af aangemoedig word om hierdie verskynsel die hoof te bied. Hierdie denke kan gebruik word “to unmake and remake the masculine subject more realistically as a frail, dependent, needy being, just like the rest of us”.

’n Dokumentêre film deur Siona O’Connell en Vasu Reddy oor die Indiese LGBTQI+-gemeenskap in Durban wat tydens die konferensie vertoon is, sluit goed aan by die onderwerp van liefde en geweld.

Dood, verlies en rou

Die dood word geïmpliseer wanneer daar ook al van lewe gepraat word. Dit beteken dat die idee van die dood eksplisiet én implisiet teenwoordig was in al die aanbiedings tydens die konferensie. Hier wil ek gou stilstaan by Amanda Gouws se aanbieding oor nekropolitiek voordat ek dit aan die skrywers Michiel Heyns, Jacques Coetzee, Paula Fourie en Athol Fugard oorlaat om verder oor die tema te besin.

Amanda het gepraat oor die politiek rondom wanneer mense na dooie liggame kyk. Sy gebruik die voorbeeld van Alan Kurdi, ’n tweejarige Siriese vlugteling wie se lyk op ’n strand uitgespoel het. Dié beeld het soos ’n veldbrand op die internet versprei. Verskeie verwerkings en meme van die foto het aanlyn gesirkuleer, die meeste daarvan onsmaaklik en makaber. Gouws stel dan die stadige kennismaking met die dood teenoor die spoed waarteen dit gebeur wanneer beelde so vinnig versprei, iets wat met globalisering en die ontwikkeling van tegnologie aan die orde van die dag is.

Michiel Heyns lees voor uit Each mortal thing, sy jongste roman wat in 2023 verskyn.

Jacques Coetzee, die ontvanger van vanjaar se Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, An illuminated darkness (uHlanga, 2020), gee ’n kort inleiding, waarna hy van sy gedigte voorlees.

Athol Fugard lees ’n gedeelte uit Dry remains, ’n projek waaraan hy en Paula Fourie al 10 jaar lank werk.

Verteenwoordigings van intimiteit

Kuns en letterkunde is slegs twee van die legio maniere waarop intimiteit verbeeld, uitgebeeld of verteenwoordig kan word. In hierdie verband wil ek stilstaan by twee aanbiedings oor kuns, gevolg deur ’n voorlesing deur Joan Hambidge.

Ernst van der Wal se aanbieding “Drawing as intimation (or infatuations with lines, contours and shades)” was veelvlakkig, maar genuanseerd, en eintlik ’n kunswerk op sigself. Hy het gepraat oor sy obsessie met klein foto’s uit byvoorbeeld anatomiehandboeke wat hy versamel. Hy wil dit naby aan hom hou. Hy bestudeer dit. Wanneer hy teken, is hy bewus van die nabyheid van verskillende liggame; die self en die ander; die menslike en niemenslike. Sy beeld van papier as ’n tipe membraan is besonder treffend. ’n Meer raak beskrywing van die intimiteit van kuns en die skeppingsproses sal jy nie sommer elders kry nie.

“I see, I desire, I lose, I draw ... And I draw ... And I draw ...”
– Ernst van der Wal

Ernst van der Wal. Untitled, 2020. Sketse van ’n virus soos deur ’n mikroskoop gesien en ’n hemelliggaam deur ’n teleskoop.

In haar aanbieding “Dressing up the self” het Stella Viljoen gekyk na Zanele Muholi se selfportrette in Afro-kamp-kostuums teenoor, of in reaksie op, werke deur kunstenaars soos Cindy Sherman, wat in selfportrette tradisioneel vroulike genderrolle uitbeeld.

“Muholi queers memorial photography and renders it feminist; a means of both grieving the slow violence enacted upon queer women and the failures of a feminism that refused to see this.”
– Stella Viljoen

Joan Hambidge het die Slow intimacy-konferensie bestempel as waarskynlik die interessantste konferensie wat sy tot dusver in haar loopbaan bygewoon het. Sy lees haar vertaling van ’n gedig deur Sylvia Plath.

Die Slow intimacy-kunsuitstallings I, II en III kan nog tot op 28 Oktober in Stellenbosch by GUS, IS Art en Oude Leeskamer onderskeidelik besigtig word. Hier is enkele van die kunswerke wat geskep is in reaksie op die idee van langsame geweld en as produk van die intieme skeppingsproses.

Die foto’s van die kunswerke word met toestemming geplaas.

Sitaara Stodel. Follow the moon, 2021. Gevonde foto’s en goue gare op Fabriano. 280 x 280 mm.

Sitaara Stodel. Duty, 2021. Gevonde foto’s, goue gare en goue viniel op argivale monteerkarton. 495 x 420 mm. Geraam.

Katherine Bull. Heart.

Katherine Bull. Oracle #2.

Asemahle Ntlonti. Butha 1, 2021.

Bongani Mashange. Relic, 2020.

Sivan Zeffertt. Contradictory and simultaneous I, 2022.

Die konferensie word afgesluit met ’n video van ’n onderhoud met Maurice Sendak, skrywer van Where the wild things are, en die gehoor word weggestuur met woorde wat ná die video aanhou eggo: “Live your life, live your life, live your life.”

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie vir die sensitiewe samevatting en deel van gevoelens, emosies, denke en refleksie. Waardeer dit.

    Johan Anker

  • Joan Hambidge

    'n Belangrike kongres. Die allerbeste in my lang loopbaan as akademikus: op alle vlakke was dit belangrik. Die grein van melancholie en verdriet. Die samespel tussen teorie en bydraes wat beskou kan word as 'n teaterstuk.
    Ms. Loff som dit goed op. Daar was pyn en ellende. Maar ook heling en 'n samespraak tussen oud en jonk. En verskillende ras- en genderposisies.
    Kongresse is dikwels net akademikaans. Hierdie een was sowel teoreties as persoonlik. Dalk 'n bewys dat kreatiewe insette tog belangrik is by sodanige kongresse?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top