Eendag, as ek groot is,
en ek dood is,
gaan ek na die plaas van my geboorte terug.
Dan lê ek in my skelet
met die hoëveldgras in my gesig en die wind wat deur my ribbebene suis en fluit
dan weer, oor my werwels, by my hol oogkaste uit.
Die sand tussen my toonbeentjies is koel
Met die ryp op my skedel kan ek die bloekomblare met my benerige vingerpunte voel.
Elke brakgat, draaipan, klipplaat en wilgerboom sal ek groet.
Ek sal liggies my voorvadergeeste by die kerkhof ontmoet.
As die maan rooi opkom
agter die sandmielieland en die spookstronkvuur
angstig in die stil stoof spoeg, spitsel en skiet,
hoor ek die sinkplate ritsel en sug: “Als is verniet …”
En die tarentaal by die waenhuis skreeu: “Verdriet! Verrrrdrrriiiieeeet!!”

