Lammervanger
Frans van Rensburg
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799345087
Klik hier en koop Lammervanger nou by kalahari.net!
Lammervanger, ’n roman deur Frans van Rensburg, uitgegee deur LAPA Uitgewers, maak gebruik van interessante tydspronge van die verlede na die hede, asook spronge van die aardse wêreld na die wêreld van die dooies. Laasgenoemde wêreld is egter nog nie die hemel of die hel nie, dit is ’n soort tussenstasie, limbo, waar die hoofkarakter, Johannes van Staden, kan kies om te vertoef om eers te sien wat die gevolge van sy dood vir die agtergeblewenes is voordat hy, as gelowige, na die hemel kan aanbeweeg.
Die sentrale tema is die mag van geld, die houvas wat die rykes op die armes kan hê. Watter aalmoese, gunste en gawes hulle kan besluit om aan die behoeftiges uit te deel, in hoe ’n mate hulle diegene, wat hulle dankbaarheid daarvoor moet toon, kan manipuleer.
Johannes kom uit ’n armlastige huis waar sy pa sy werk verloor het en die Van Stadens van daar af die bestaan van knegte en bediendes ingaan. Die seun is egter ambisieus. Hy het aspirasies om eendag geld te hê, en hy wil uiteindelik op universiteit gaan studeer. Hy wil homself verbeter. Dit is juis dié ambisie wat van hom die lam maak wat gevang gaan word deur ’n ryk, slinkse man wat met hom kan toor en hom misbruik. Dié man, Alfred Botha, regsgeleerde, ryk boer en eienaar van die plaas Diepergrond, kom vir Johannes voor as “vasberade, geleerd, ryk”. Johannes bewonder hom. Hy word deur die ryk man met homoseksuele behoeftes gebruik, maar hy laat dit toe, omdat hy voordeel daaruit wil trek.
Alfred eien vir homself die reg toe om eerstens vir Johannes, maar ook sy eggenotes en ander mense, te misbruik. Hy koop hulle met geskenke en geld, en uiteindelik verwoes hy verskeie lewens.
Die ryk man wat as weldoener van die arm Van Stadens na vore kom, bied vir die pa, Sewes, en die ma, Christine, werk aan. Sy gaan werk glad as huisbediende vir sy vroue, eers vir Willemien, en vervolgens vir Wilma. Sewes, die sukkelaar, herinner sy seun gedurig dat hy nederig dankbaar moet wees teenoor Alfred. Die pa en die nuwe vaderfiguur is teenoorgesteldes.
Die mag- en manipulasiespel begin gou, as Johannes maar vyftien jaar oud is en drie maande nadat die Van Stadens vir hulle brood van Alfred afhanklik raak. As Alfred die seun kry om hom te help om ’n koei te help kalf, word die kind bemors en moet dan sy klere uittrek om te laat skoonmaak. Alfred is die ene besorgdheid. Maar dan gebeur iets wat die seun aan die man “verbind”. En Johannes sê vir homself dat hy weet hy sal vir die man moet “sorg”. Wat hy ook besef, is: ”Wanneer jy dit een keer toelaat, is daar nie sommer kans vir omkeer nie.”
Johannes hou vier jaar vol met die sogenaamde geheim. Hy gaan vasbyt, want hy hoop dat Alfred vir sy studies sal betaal.
Wanneer Johannes se ma hom saam met Alfred in die bed betrap, is dit vir die seun die einde van die pad. Hy het gawe Willemien, Alfred se vrou, verraai, en ook sy ouers. Hy het skande oor hulle gebring. Sy vernedering en skuldgevoel is so groot dat hy selfmoord pleeg met Willemien se slaappille en ’n aantal biere.
Nou begin sy reis na die tussenwêreld van die dooies, waar hy alles kan aanskou wat steeds op aarde gebeur, met almal wat verbintenisse met hom gehad het. Hy kan in dié parallelle bestaan selfs na die plekke gaan waar hy gewoon het, soos ’n replika van die padkamp op Carolina waar hy jare gelede in nederige omstandighede grootgeword het. Hy kan emosies ervaar en sy nuwe liggaam kan koud en warm kry. Wroeging en spyt word deel van dié tussenbestaan.
Hy hoop Alfred sal na sy ouers omsien, maar tevergeefs. Hy sien nou die waarheid agter alles en weet byvoorbeeld dat Willemien geweet het van die verhouding tussen hom en haar man.
“Jy kan nie van die verlede ontsnap nie, nie eers deur die dood nie,” is die les wat hy nou leer.
Die padkamp-mense suip nog en slaan mekaar, en hy aanskou al die veragtelikhede. Hy sien hoe sy gelowige ma, wat nie wil hê sy pa moet ooit uitvind wat die rede vir sy selfmoord was nie, al swaarder kry. Die huigelary van Alfred, dominee Vlok en ander, sien hy ook.
Johannes, wat homself as ’n kind van die Here beskou, ten spyte van sy sondes, stel sy vertrek na die hemel uit, sodat hy kan seker maak dat almal wat hy agtergelaat het, sy dood aanvaar en met hulle lewens aangaan.
“Hier” waar hy nou is, gaan hy niemand vertel wat gebeur het nie. “Hier” oordeel niemand meer nie. Hy het selfs geld in sy sak. Hy wonder egter of hy die regte ding gedoen het om selfmoord te pleeg. Die pyn en hartseer wat dit sy ouers aandoen, bring verwydering tussen hulle. Sy pa word ’n werklose suiplap en uiteindelik ’n boemelaar. Sy ma verloor die min wat sy het en doen al meer vernederende werk. Naderhand moet sy bedel om te lewe.
Johannes bly by die Church of the Resurrection, jaar in en jaar uit. Hy maak tuin, en speel die voyeur, roep herinneringe op wat pynlik is. Sien geheimenisse wat wys hoe laakbaar mense kan optree, veral Alfred. Hy was selfs begaan dat sy ou liggaam wat agtergelaat is, ’n behoorlike begrafnis moet kry. Hy kan aanskou en al smag hy om mense te waarsku of te troos, kan hy nie. Hy kan slegs toekyk. Die lewe was nie regverdig nie, maar die dood is ook nie regverdig nie, besef hy. Hy kan nie van sy bekommernis oor die mense op aarde ontsnap nie.
Iets wat hy nou kan sien, is hoeveel mense die man wat hom met sy magspel verwoes het, in dieselfde bed verlei het waarin hy self die laaste keer gelê het. Sy gewete het hom so gepla, maar hy was nie die enigste slagoffer nie.
Hy wil lewe. Hy sien selfs hoe hy sy LLB-graad behaal, lank nadat hy dood is. Hy “lewe” deur ander, deur vriende. Sy aardse luste en begeertes verlaat hom nie. Die feit dat hy niks kan verander of regstel nie, is vir hom “om van gek te word”, veral ten opsigte van sy ma, vir wie hy lief is en jammer kry. Hy sien die hel op aarde, maar hy is self in ’n soort hel van hulpeloosheid en eensaamheid.
Wat hy ook in sy tussenwêreld leer, is dat niemand op aarde beter is as hy nie – “nie eens diegene op aarde met geld nie”.
Hy skryf te laat sy selfmoordbrief wat alles sou verduidelik het. Hy wag jare na sy dood nog vir vrede. Die einde het ’n verrassing wat oop is vir interpretasie.
Dié roman is boeiend geskryf en laat jou met die wete dat die mens maar ’n kwesbare wese is, hulpeloos en uitgelewer aan die genade. Jy kan tyd nie terugdraai nie, sê dit vir jou. Jy leef ewig met die gevolge van jou dade, en kan nie vergeet wat ander aan jou doen nie. Vrede is nie iets wat jy maklik kry nie, selfs nie in die dood nie.

