in die skemer het elke oggend
vir ’n volle een sekond,
sulke slierte geel kwyl
in die mond.
tref en trappend
gehelm,
sole vasgegespe
in staalspore –
dan skop ons die sagte lies
van die môre
oop
dun continentals,
duitse handgemaakte binnebande
gesmee aan die aangepaste
trekfiets, en ek vertrek
uit klanklose ure
in die dou
van ’n koorsige dag,
volle lyf ingesmeer,
seemsleer beboud,
knieg en rug krom
gespan.
’n golwende pretrit,
as man-en-masjien
met silwer speke flitsend
deur horisontale strepe son
versnel.
die adidas-donkerbril
weerkaats die skrik
van ’n hadida
se blougrys
vlerke.
die gestreepte teerpad word ’n aanloopbaan.
terwyl afgerigte bulhonde blaf en grom,
benoud agter duiwelsvurkskanse
in hul slymerige woede verstik
pruttende kolosse 4x4’s
met versoete dieseldampe
peul telkens en ontydig
uit versteekte stegies uit.
voorstedelike struikrowers sluip stil
op soek na piece jobs, of gom
in swartsakke.
(en kyk net
hoe beny hulle my
nokiaanse seine
en digitale tissot
wat seker soos ’n stophorlosie
vir hulle moet lyk.
maar almal koes
as ek verby hulle ry
en probeer die pepper spray
in hul gesigte vermy.)
dit voel weer vanoggend
soos langverwagte Kersfees
vir ’n kind!

