Laingsburgers onthou die vloed van Sondag 25 Januarie 1981

  • 0

Dis al meer as 45 jaar na die Laingsburgvloed, steeds lê die onthou nog vlak en die rofie bo-oor die ontworteldheid wat die vloed veroorsaak het, is in vele gevalle steeds nerfdun. Sarie Marais-Nell onthou haar oorlewingsmiddag op ’n huis se dak en gesels met drie ander persone wat die vloed oorleef het.

Wat niemand vir ’n droë Karoodorp kon uitdink nie, het op Sondag 25 Januarie 1981 gebeur: Daar was net te veel water. Toe die Buffelsrivier rondom 16:30 reeds drie rye Laingsburghuise weggespoel het en vele drenkelinge wild weggesleur is, het nóg ’n hoër golf bo-op hierdie siedende watermassa aangedruis gekom.

As 19-jarige het ek op ’n dak gesit met die gewaarwording dat elke huis tussen my en die rivier se gewone roete reeds weggespoel is. Waar ek, my ma en ons bejaarde niggie wat ons wou kom red, op die nok van haar dak sit, is daar orals rondom ons wílde water wat reeds aan ons voete lek. Intussen hoor en voel ons hoe meubelstukke donderend teen mure onder ons stamp. Sou hierdie huis dalk soos die ander rondom ons inmekaartuimel? Sal ons ook in hierdie vreeslike water beland?

Die sewe uur op die dak het baie tyd gebied vir beloftes aan God – as Hy my sal spaar. Tyd vir opsies oorweeg: Sal ek net myself red, of my ma probeer help as die huis padgee?

Ek het heeltyd gewéét as net ek oorleef, sou ek lewenslank skuldig voel.

Buitendien: Hoe red mens jouself as die vloedwater propvol meubels en boomstamme is, moordwapens wat rondom hierdie huis maal?

Intussen kom daardie bitter hoë watergolf bo-op die dakhoogte water uit die noorde aangestorm. Met ’n geel karavaantjie hoppend op die oopgespreide dak van ’n huis.

Toe ons driestuks en ’n hondjie iewers na 21:00 van die dak gered word, bedek hoë moddermure elke venster van die huis.

Kort daarna staan ek kaalvoet op veilige grond, terwyl ’n helder wete soos ’n kleed oor my vou: Al wat ek nou besit, is die klere aan my lyf, my bietjie lewenskennis, my godsdiens en familie.

Die volgende oggend ontstel die prentjie by ons woonhuis my: Groot hoeveelhede modder en slik hou ons voordeur regop, met my matras vasgedruk tussen die voordeur en ons huis se dak. As dit ’n nagvloed was, was die sterftesyfer van 104 mense veel hoër.

Die vloed het my geleer van dankbaarheid en om materialisme soos die pes te vermy. Watter hulp bied besittings wanneer die dood in jou oë kyk?

Flip van der Westhuizen

In 1981 was Flip van der Westhuizen ’n 31-jarige spoorwegwerker op Laingsburg. Met die vloedwater op sy hoogste, het hy vanaf die spoorlyn gestaan en afkyk oor die dorp onder water: “Ek kon duidelik sien Laingsburg lê binne-in die rivier se pad. Met twee riviere wat aan die onderkant van die dorp tegelyk by die Buffelsrivier aansluit, het die treinbrug die watervloed soos ’n damwal gekeer. By daai opdamming het die water see gemaak, met vloedwater wat 400 meter weerskante van die rivier rondstorm. Rondom 17:00, met die rivier op sy heel hoogste, toe maak die rivier boepens. Dit het soos onheil gevoel. Mens kon sien hier gaan iets vreesliks gebeur. Ek het gevoel na wegvlug.”

Foto: Flip van der Westhuizen was 31 tydens die vloed en onthou die verwoesting haarfyn.

Die “boepens” is veroorsaak deur 8 000 ton water per sekonde wat teen 21 km/h deur die dorp gewoed het. Kort hierna het die opvulwalle weerskante van die treinbrug weggespoel – en ’n sterk suigreaksie in die onderste deel van die dorp veroorsaak. Dié suigreaksie het die laaste huise laat kantel en drenkelinge wat ure lank vasgeklou en probeer oorleef het, wild weggesleur. Meestal met noodlottige gevolge.

“Toe die brug breek, kom hang ’n dónker wolk oor alles. Toe ek weer kan sien, lê daar net modder. Orals waar huise was, is dit léég.

“Prentjies in my kop wat my jarelank sleg laat slaap het, is byvoorbeeld ’n vrou wat by ’n voordeur uitgly; daarna ook ’n reuseteddie op ’n matras by dieselfde voordeur uit. Mens voel hartseer en magteloos. Niemand kon iemand in daai water gaan help nie.”

As 76-jarige verklaar hy: “Ek kan die vloed nooit vergeet nie. Die Here het die vloed gestuur, maar ek wil dit nie weer sien nie.”

Die Jordaan-gesin

Die Jordaan-gesin was een van vele gesinne vir wie niks wou reg loop nie op die vloeddag in 1981.

Hulle huis in Krigestraat was, soos vele huise rondom hulle, onder die 1934-vloedlyn gebou en teenaan die samevloeiing van die Baviaans-, Wilgehout- en die Buffelsrivier.

Vroegoggend, kort voor al drie riviere op dieselfde tyd sou piek, was daar ’n vreugdevolle kanoroeiery in die straat voor hulle huis. Maar teen donkeraand het die Jordaan-pa Johan, bewend in ’n weldoener se te groot klere, gevrees vir sy gesinslede se lewens. Eers het hy gesien hoe sy oudste seun Wouter deur reusebranders van die N1-brug afgeslaan en weggespoel word. Na vele ontberinge in die vloedwater, is Johan broekloos uit die wilde rivier gered. Hy het sy vrou Trusty en hul twee jongste kinders Karen en Alex laas gesien in die onderste deel van die dorp in ’n huis waar almal geglo het hulle veilig sal wees. Die watermassas het egter die teendeel uitgeskree.

Iewers in die nag sonder maan kon Johan en die dorp se informele reddingspanne na Trusty en hul kinders gaan soek – en almal lewend vind.

Weens die weer kon geen vliegtuig of helikopter op Sondag 25 Januarie van Kaapstad- of George-lughawe opstyg nie. Lugverkeer Laingsburg toe was eers die Maandagoggend moontlik.

Sy dogter Karen (destyds 19) vertel: “Ek, Alex en ’n jong seun Eddie was op die huis se dak, eers vol grappies en uiteindelik vreesbevange. My ma, so naby aan haar dood weens die hoë watervlak onder in die huis, het net oorleef omdat die treinbrug se sykante op daardie stadium padgegee en die water gesak het.

“Daardie aand het ons báie oor Wouter gehuil. My ma het getroos, gesê Wouter is ’n Christen; as hy dood is, is hy in die hemel. Dan luister ons na haar, en huil weer. Alles vreeslik hartseer.”

Trusty het op die vloedoggend ’n paar stukkies klere in ’n rugsakkie gegooi. Daarom kon sy vroeg die volgende oggend in haar nagrok deur die stukkende dorp stap en Pep Stores se bestuurder opklop; sy moes ’n skoon rok kry.

Daardie Maandagmiddag was Wouter een van slegs 11 persone wat lewend uit Laingsburg se opgaardam, 21 km suid van die dorp, gered en per helikopter in die dorp afgelaai is.

Stephan Groenewald

Sy graad 7-skoolboeke is pas oorgetrek. Stephan Groenewald en sy familie moes kort na middagete vlug toe vloedwater deur hul vensters bars. Buite hul huis in die boonste deel van die dorp was die water reeds vloedsterkte.

Na die vloed moes Stephan Groenewald (12) sy ma se dood en vele ander verliese hanteer. Intussen het hy dit sy taak gemaak om hulle kat by hul gewese huis kos te gee; die kat wou nie by die tydelike tentdorp bly nie.

“Ter wille van oorlewing moes ons, ons tasse los en aan bure se heinings vasklou. Solank ons parallel met die vloedwater beweeg, oorleef ons. Sodra mens dwarsoor die stroom probeer wegbeweeg van die rivierkant af, was die water verskriklik sterk.

“Sonder enige vooraf waarskuwing sit ek en my pa in ’n boom met hierdie watermassa tot by ons skouers; en dit binne die dorre Karoo!”

Terwyl sy matriekbroer Wolfaard bo-op hulle huis veiligheid vind, skuil sy ma en huisvriende Nico en Ansie Mans naby Stephan-hulle in ’n boom.

Surrealistiese beelde boer nog steeds in sy agterkop: meubels, troeteldiere en houtbalke wat verbydryf, die wegklap van stukke boumateriaal uit vrees dat dit hul boom omknak.

Huise wat rondom hulle inmekaarsak; drenkelinge wat in die water beland in ’n dorp waar almal mekaar ken; die boom waarin sy ma sit wat eensklaps verdwyn.

Toe Stephan-hulle laatmiddag uit die boom klim, sak hy heupdiepte in die modder weg voordat reddende hande hom met ’n tuinslang uitsleep.

Dieselfde aand word sy ma se liggaam gevind; Ansie is nooit opgespoor nie. Nico is elders in die dorp gered.

“Omdat dakhoogte modder en slik agtergebly het, kon ek Maandagoggend direk op ons huis se dak opstap! Ons kat het teruggekom huis toe, maar hy het aanhoudend uit die tentdorp weggeloop huis toe. Ek het hom elke dag by ons verspoelde huis gaan kos gee.

“Ek was bly toe my pa weer trou met ’n wonderlike vrou, want hy het regtig swak kos gemaak. Trauma soos die Laingsburgvloed het ’n permanente invloed op jou lewe. Dit het enersyds my geloof bevestig in die inherente goedheid van mense wat ons fisies en emosioneel ondersteun het. Die vloed het my gewys ons almal het ’n onuitputbare drang en vermoë om te oorleef in die groot en klein uitdagings op ons pad. Wanneer ons in ’n werklike groot krisis kom, kan ons dit wel hanteer en oorkom.

“25 Januarie 1981 sal altyd deel van my wees, en die spreekwoord ‘time is a healer’ is wel waar.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top