Laatnagvrese

  • 0

Wessel Pretorius (1949–2012)

Wessel, dis nou drie dae na jou dood
& die koerante swyg in al hulle kolomme
oor die dertiende van die derde
toe jy die onderspit gedelf het.
Die media voel fokkol vir digters.
Nou sit ek teen dagbreek heeltemal nugter
& half verleë, & ek skaam my vir my kollegas.
Ons twee was op die beste van tye haaks
(darem nooit slaags, behalwe in woorde)
maar ’n digter verdien ’n send-off.
Laatnagverse & ander vrese bly
’n befokte boek; ons sal ver
na nóg een soos jy moet soek:
jy is ’n original, met jou ingat, ougat, taalspel,
met jou liefdes & jou (dronk)verdriet.
Alles is verniet, & níks is verniet.
Trust jou om die dertiende
vir jou flatline op die Styx te kies.
Wás die lewe maar soos ’n LP
wat op ál die regte plekke vashaak,
daardie spesiale blikke & oomblikke
waaraan mens bly vasklou
as die naald gly oor die blinkswart strook
om in die voltrekte stilte te bly hakkel?

Met jou kroeg- & ploegpraatjies opgedroog,
& jou vrytyd verby, is dit saktyd
& jy is gans uit jou plek. (Boer jy
nou saam met Carl Ziervogel
& voer daai groen gesprek
wat net in begraafplase gedy?)
Ek hoop jy het op jou nul-uur
weer daardie voël soos ’n telefoon hoor sing.
Tussen die eerste & die laaste reëls van ’n gedig,
tussen verloor & vind – dáár lê die ding.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top