Aangesien my brief so sterk bewoord was gaan ek tog die moeite doen om ’n paar persone te antwoord. Ek sou eerstens sê dat my oorspronklike brief slegs ’n opinie was, my opinie na nog ’n week van dieselfde lae standaard. As sulks is dit natuurlik in geheel aanvegbaar.
Wouter, ek het myself nog nooit voorgehou as ’n hoge intellektuele soort nie. Ek is immers so dom en kommin soos grond. My opinie oor jou en JC se boekbesprekings moet dus in daardie lig gelees word. My dagtaak verg gelukkig geen besonderse intellek nie en hoewel ek kranig lees, kom ek nooit uit by enige van die mense waaroor jy skryf nie. In alle geval behoort jy bewus te wees van "die dood van die outeur" besin dus of dit enigsins die moeite werd is om lang besprekings te plaas oor boeke wat jy in my baie nederige opinie net half verteer het. Terloops gaan dit ook vir JC. Jou interpretasie is slegs so geldig soos my opinie dat dit ondeurdag is. Verder is jou skryfstyl onsamehangend. Dit is ongelukkig so. Dit wil my voorkom asof jou brein heelwat vinniger as jou vingers is. Hoekom plaas jy hoge intellektuele goed as jy dit nie op ’n logiese wyse kan uiteensit nie. Ek is seker dat jou skrywes nie die paal sou haal as dit op eerstejaarsvlak voorgelê word vir punte nie. Nie dat ek my ooit naby sulke instansies sou kon begewe nie – ek is mos maar effe stadig, so ek spekuleer maar net. Verder gee jy die liberales op hierdie forum ’n slegte naam as jou ondeurdagte argumente geen water hou nie en dit maklik maak vir die konserwatiewes om almal oor dieselfde kam te skeer – "bloody agent."
Hans, wat jou betref, het ek my sê gesê. Ek staan daarby. Al wat ek sou byvoeg is dat die bevryding van SA-vroue slegs beteken dat die middeljarige blanke man ook dieselfde soort bevryding behoort te verkry, en nie dat vroue na dieselfde haglike situasie as ons afgetrek behoort te word nie. Wees eerder bly oor dit al voel dit onregverdig.
Wat die redaksie van SêNet betref, ek hou vol dat daar ’n totale gebrek aan respek vir die gemiddelde bydraer en leser van SêNet is. Neem byvoorbeeld die onlangse geval waar daar eensydig en totaal onverwags aangekondig is dat net tien briewe ’n dag geplaas sal word. Nou goed dan, dit is hulle goeie reg, maar dit wys ook hoe baie die gemeenskap hier waardeer word. My opinie is dat ons tans bloot verdra word. Ek sou ook dink dat die totale besoekers na die blad in die laaste twee jaar na ’n nuwe laagtepunt gesink het. Dus die rede vir die besluit. Kommersieel is dit net nie vir hulle die moeite werd nie. Ek sou geensins verbaas wees om te hoor dat SêNet gesluit sal word wanneer Maggie se kontrak afloop nie. Natuurlik bloot spekulasie aan my kant. Ek het ook ’n vermoede dat daar in die laaste tyd ook nie soveel aandag gegee is aan die anonimiteit van skrywers nie. Joan B het iewers al soveel te kenne gegee as ek my nie misgis nie. Ek is sekerlik verkeerd, maar wonder tog? Ek dink net dat SêNet geen respek meer vir die forum het nie.
Vandaar my besluit.
Laaste groete,
"koos sas"

